Hoe om ’n suksesvolle huwelik op te bou
DIE huwelik kan met ’n reis vergelyk word, ’n avontuur met baie verrassings—party wonderlik en ander onaangenaam. Onverkende “terrein” kan onverwagte hindernisse bied, en party kan onoorkombaar lyk. Nietemin lê baie hierdie reis suksesvol en vreugdevol af, met slegs klein haakplekkies in hulle huwelik. Ja, sukses in die huwelik word nie juis gemeet aan die hoogte- en laagtepunte van die reis nie, maar aan hoe egpare hierdie goeie en slegte tye hanteer.
Wat dink jy kan die reis deur die huwelik suksesvoller en genotvoller maak? Baie paartjies voel dat hulle ’n ‘padkaart vir die huwelik’ nodig het om hulle die weg te wys. Die betroubaarste en gesaghebbendste “kaart” vir die huwelik word voorsien deur die Insteller van die huwelik—Jehovah God. Sy geïnspireerde Woord, die Heilige Bybel, is egter nie ’n gelukbringer nie. Dit bevat eerder praktiese riglyne wat egpare moet volg indien hulle ’n suksesvolle huwelik wil hê.—Psalm 119:105; Efesiërs 5:21-33; 2 Timoteus 3:16.
Kom ons identifiseer party van die skriftuurlike padwysers—noodsaaklike Bybelbeginsels—wat jou op die weg na ’n suksesvolle en gelukkige huwelik kan lei.
▸ Beskou die huwelik as heilig. “Wat God . . . onder een juk saamgevoeg het, moet geen mens skei nie” (Matteus 19:6). Die Skepper het die huweliksreëling ingestel toe hy die eerste man, Adam, aan sy vrou, Eva, voorgestel het (Genesis 2:21-24). Christus Jesus, wat tydens sy voormenslike bestaan ’n ooggetuie hiervan was, het bevestig dat Adam en Eva se huwelik bedoel was om die begin van ’n blywende verhouding te wees. Hy het gesê: “Het julle nie gelees dat hy wat hulle geskep het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie en gesê het: ‘Daarom sal ’n man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en die twee sal een vlees wees’? Sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees. Wat God dan onder een juk saamgevoeg het, moet geen mens skei nie.”—Matteus 19:4-6.
Toe Jesus gesê het ‘wat God onder een juk saamgevoeg het’, het hy nie geïmpliseer dat huwelike in die hemel gesluit word nie. Hy het eerder bevestig dat die huweliksverhouding deur God self ingestel is en dus as heilig beskou moet word.a
Mans en vrouens wil natuurlik nie in ’n koue, liefdelose verhouding “saamgevoeg” wees nie. Hulle wil eerder ’n gelukkige huwelik hê waarin albei maats kan floreer. Hulle kan gelukkig “saamgevoeg” wees indien hulle die Skepper se praktiese raad volg wat in die Bybel gevind word.
Omdat ons almal onvolmaak is, is misverstande en meningsverskille onvermydelik. Dikwels hang ’n suksesvolle huwelik egter nie soseer af van hoe goed die huweliksmaats bymekaar pas nie, maar van hoe hulle verskille hanteer. Een van die noodsaaklikste vaardighede in die huwelik is dus die vermoë om meningsverskille op ’n liefdevolle manier uit te stryk, want die liefde “bind alles saam in volmaakte harmonie”.—Kolossense 3:14, English Standard Version.
▸ Praat op ’n respekvolle manier. “Daar is een wat onnadenkend praat soos met swaardsteke, maar die tong van die wyses is genesing” (Spreuke 12:18). Navorsers het gevind dat die meeste gesprekke eindig soos dit begin. As ’n gesprek dus op ’n respekvolle manier begin, is dit waarskynliker dat dit ook so sal eindig. Aan die ander kant weet jy hoe seer dit kan maak wanneer ’n geliefde onnadenkend met jou praat. Wend derhalwe self ’n biddende poging aan om met waardigheid, respek en geneentheid te praat (Efesiërs 4:31). “Al sien ons mekaar se swakhede raak”, verduidelik ’n Japannese vrou genaamd Haroeko,b wat al 44 jaar getroud is, “probeer ons om mekaar in woord en gesindheid te respekteer. Dit het ons gehelp om ’n suksesvolle huwelik op te bou.”
▸ Kweek goedhartigheid en medelye aan. “Word goedhartig teenoor mekaar, vol tere medelye” (Efesiërs 4:32). Wanneer daar sterk meningsverskille is, kan woede maklik tot verdere woede lei. Annette, wat in Duitsland woon en al 34 jaar gelukkig getroud is, sê: “Dit is nie maklik om kalm te bly wanneer ’n mens gespanne is nie—jy sê dikwels iets wat jou huweliksmaat omkrap, en dit maak dinge net erger.” Maar deur goedhartig en medelydend te probeer wees, kan jy baie doen ’n vreedsame huwelik te bevorder.
▸ Lê nederigheid aan die dag. “[Julle moet] niks uit twisgierigheid of uit egotisme doen nie, maar met ootmoed die ander hoër as julleself ag” (Filippense 2:3). Baie konflikte begin omdat getroudes uit trots probeer om hulle maat vir probleme te blameer pleks van om na maniere te soek om dinge vir mekaar te verbeter. Ootmoed, of nederigheid, kan jou help om die drang te onderdruk om tydens meningsverskille daarop aan te dring dat jý reg is.
▸ Moenie oorhaastig aanstoot neem nie. “Moenie haastig wees in jou gees om aanstoot te neem nie” (Prediker 7:9). Probeer die neiging vermy om jou maat se beskouing verkeerd te bewys of om ’n verdedigende houding in te neem wanneer jou maat iets bevraagteken wat jy gesê of gedoen het. Luister eerder na jou maat en erken wat hy of sy sê. Dink mooi voordat jy antwoord. Baie paartjies leer te laat in die lewe dat dit ’n groter oorwinning is om ’n hart te wen as om ’n argument te wen.
▸ Weet wanneer om stil te bly. “Elke mens moet gou wees om te hoor, stadig om te praat, stadig om toornig te word” (Jakobus 1:19). Goeie kommunikasie is ongetwyfeld een van die belangrikste padwysers op die weg na huweliksgeluk. Waarom sê die Bybel dan dat daar “’n tyd [is] om stil te bly”? (Prediker 3:7). Dit is moontlik ’n tyd om aandagtig en met ’n duidelike doel voor oë te luister—’n noodsaaklike deel van kommunikasie wat behels dat jy uitvind hoe jou huweliksmaat werklik voel en waarom hy of sy so voel.
▸ Luister met meegevoel. “Wees bly saam met mense wat bly is; huil saam met mense wat huil” (Romeine 12:15). Meegevoel is ’n onontbeerlike deel van betekenisvolle kommunikasie omdat dit jou in staat stel om jou huweliksmaat se diepste emosies te voel. Dit kan help om ’n atmosfeer te skep waarin albei maats se opinies en gevoelens met respek en waardigheid behandel word. “Wanneer ons oor ons probleme praat”, sê Nella in Brasilië, wat al 32 jaar getroud is, “luister ek altyd baie aandagtig sodat ek kan verstaan wat Manuel dink en hoe hy voel.” Wanneer jou huweliksmaat praat, is dit “’n tyd om stil te bly” en met meegevoel te luister.
▸ Maak dit ’n gewoonte om waardering uit te spreek. “Toon dat julle dankbaar is” (Kolossense 3:15). Sterk huwelike word gekenmerk deur mans en vrouens wat seker maak dat hulle maat voel hulle word waardeer. Maar in die daaglikse roetine van die getroude lewe verwaarloos party huweliksmaats hierdie noodsaaklike aspek van kommunikasie en neem hulle eenvoudig aan dat hulle huweliksmaat voel dat hy of sy waardeer word. “Die meeste paartjies”, sê dr. Ellen Wachtel, “kan mekaar laat voel dat hulle waardeer word as hulle maar net daaraan dink om dit te doen.”
Veral vrouens het hulle man se liefdevolle versekering en woorde van waardering nodig. Mans, julle kan baie doen om julle huwelik en die welsyn van julle vrou—en julle eie—te verbeter, deur ’n punt daarvan te maak om waardering vir julle vrou se positiewe dade en eienskappe uit te spreek.
Dit is noodsaaklik om mekaar deur middel van woorde en dade te verseker. Wanneer julle, mans, julle vrou teer soen, liefdevol aan haar raak of hartlik vir haar glimlag, sê dit meer as net: “Ek is lief vir jou.” Dit verseker haar dat sy spesiaal is vir jou en dat jy haar nodig het. Bel haar of stuur vir haar ’n elektroniese boodskap en sê vir haar: “Ek mis jou” of: “Hoe gaan dit met jou?” As jy sulke uitdrukkings begin verwaarloos het sedert julle dae van hofmakery, is dit die moeite werd om weer in die gewoonte te kom om dit te doen. Hou aan om uit te vind wat jou huweliksmaat se hart raak.
Die moeder van koning Lemuel van eertydse Israel se woorde is so gepas: “Haar man bewonder haar: ‘Daar is baie knap vrouens, maar jy oortref hulle almal!’” (Spreuke 31:1, 28, 29, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling). Wanneer laas het jy jou vrou geprys? Of, as jy ’n vrou is, jou man?
▸ Wees vergewensgesind. “Laat die son nie ondergaan terwyl julle in ’n ergerlike gemoedstemming is nie” (Efesiërs 4:26). In die huwelik kan jy nie van jou eie foute of dié van jou huweliksmaat wegkom nie. Daarom is dit noodsaaklik om bereid te wees om te vergewe. Clive en Monica, in Suid-Afrika, wat 43 jaar gelede getroud is, het hierdie Bybelse raad baie nuttig gevind. “Ons probeer om die beginsel in Efesiërs 4:26 toe te pas”, verduidelik Clive, “en om gou te wees om mekaar te vergewe, in die wete dat God bly is daaroor. Dan voel ons goed omtrent die situasie, gaan ons bed toe met ’n skoon gewete en slaap ons lekker.”
’n Eertydse spreuk maak hierdie wyse opmerking: “Dit is mooi . . . om die oortreding oor te sien” (Spreuke 19:11). Annette, wat vroeër gemeld is, stem saam en sê: “Dit is onmoontlik om ’n goeie huwelik te hê sonder om te vergewe.” Sy verduidelik waarom: “Anders bou gegriefdheid en wantroue op, en dít is soos gif vir ’n huwelik. Deur vergifnis word die huweliksband versterk en word julle verhouding hegter.”
As jy jou huweliksmaat se gevoelens seergemaak het, moet jy nie bloot tot die slotsom kom dat hy of sy mettertyd beter sal voel nie. As jy wil vrede maak, vereis dit dikwels dat jy een van die moeiliker dinge doen wat huweliksmaats moet doen: Erken dat jy ’n fout begaan het. Vind nietemin ’n manier om op ’n nederige wyse iets te sê soos: “Ek’s jammer, my skat. Ek het ’n fout gemaak.” As jy nederig om verskoning vra, sal dit respek wen, jou help om ’n verhouding op te bou waarin daar vertroue is en jou groter gemoedsrus gee.
▸ Bly toegewyd aan jou maat en aan jou huwelik. “[Die man en vrou is] nie meer twee . . . nie, maar een vlees. Wat God dan onder een juk saamgevoeg het, moet geen mens skei nie” (Matteus 19:6). Julle het ’n plegtige belofte voor God en die mens en teenoor mekaar afgelê om bymekaar te bly, ondanks enige probleme wat kan ontstaan.c Toegewydheid is egter nie bloot ’n wetlike verpligting nie. Dit spruit eerder uit opregte, hartgrondige liefde en is ’n weerspieëling van respek en eer vir mekaar en vir God. Moet dus nooit jou heilige huweliksverhouding ondermyn deur te flankeer nie; jy moet net vir jou maat oë hê.—Matteus 5:28.
▸ Selfopoffering lei tot groter toegewydheid. “Julle [moet] nie uit persoonlike belangstelling ’n oog op net julle eie sake hou nie, maar ook uit persoonlike belangstelling op dié van die ander” (Filippense 2:4). Een van die maniere om ’n sterker huweliksband te smee, is om jou huweliksmaat se behoeftes en voorkeure bo jou eie te stel. Premji, wat al 20 jaar getroud is, maak ’n punt daarvan om sy vrou, wat voltyds werk, met die huiswerk te help. “Ek help Rita om te kook, skoon te maak en ander dinge te doen, sodat sy die tyd en energie kan hê om te doen wat sy geniet.”
Inspanning bring belonings mee
Soms kan die harde werk wat dit verg om ’n gelukkige huwelik op te bou, party laat voel dat hulle wil tou opgooi. Maar moenie dat probleme jou jou huwelik laat prysgee, asook alles wat jy reeds daarin belê het nie—die afstand wat julle reeds saam in julle reis afgelê het.
“As jy jou werklik inspan en toon dat jy wil hê dat jou huwelik ’n sukses moet wees, kan jy Jehovah se seën geniet”, sê Sid, wie se huwelik al 33 jaar lank floreer. As julle mekaar lojaal deur die moeilike tye ondersteun en die goeie tye saam geniet, sal dit julle ’n bevredigende reis deur ’n suksesvolle huwelik verseker.
[Voetnote]
a Jesus het gesê dat hoerery—geslagsomgang buite die huwelik—die enigste grondslag is om ’n huwelik te ontbind met die reg om weer te trou.—Matteus 19:9.
b Party name in hierdie artikel is verander.
c Die Bybel toon dat ’n onskuldige maat die reg het om te besluit om van ’n owerspelige maat te skei of nie (Matteus 19:9). Sien die artikel “Die Bybelse beskouing: Egbreuk—Moet dit vergewe word of nie?” in die Ontwaak! van 8 Augustus 1995.
[Lokteks op bladsy 6]
Die Bybel is soos ’n padkaart vir die reis deur die huwelik
[Venster/Prent op bladsy 7]
Wanneer julle ’n probleem moet bespreek
◼ Kies ’n tyd wanneer nie een van julle moeg is nie.
◼ Moenie kritiseer nie; wees positief teenoor mekaar.
◼ Moenie mekaar in die rede val nie; maak beurte om te luister en te praat.
◼ Erken jou maat se gevoelens.
◼ Betoon meegevoel teenoor mekaar, selfs wanneer julle nie saamstem nie.
◼ Wees redelik en buigsaam.
◼ Vra nederig om verskoning wanneer jy ’n fout begaan het.
◼ Spreek jou waardering en geneentheid uit.
[Venster/Prente op bladsy 8]
Vir ’n suksesvolle huwelik
◼ Bly getrou by Bybelwaarhede wat die huwelik versterk.
◼ Ruim tyd in vir jou huwelik en jou maat.
◼ Bevorder hartlikheid, liefde en geneentheid.
◼ Wees betroubaar en toegewyd.
◼ Wees goedhartig en respekvol.
◼ Deel die werklas by die huis.
◼ Dra by tot gesprekke wat albei huweliksmaats geniet.
◼ Lag en ontspan saam.
◼ Werk voortdurend daaraan om julle huwelik te versterk.
[Venster/Prent op bladsy 9]
Om oor te peins
◼ Waaraan moet ek die hardste in my huwelik werk?
◼ Watter stappe sal ek neem om dit te doen?