UIT ONS ARGIEF
Mense word regoor die wêreld gehelp om te leer lees en skryf
Agostinho, wat in Brasilië woon, sê: “Ek het op ’n plaas in die platteland grootgeword. Ons was baie arm. Ek moes skool verlaat sodat ek kon werk en vir ons gesin help sorg.” Agostinho was eers 33 jaar oud voordat hy geleer lees en skryf het. Hy sê: “Om te leer lees en skryf het my gehelp om meer selfvertroue te hê.”
Agostinho is een van meer as ’n kwartmiljoen mense wat Jehovah se Getuies oor die afgelope 70 jaar gehelp het om te leer lees en skryf. Hoekom bied Jehovah se Getuies sulke klasse aan? Hoe is mense deur sulke opvoeding gehelp?
Dit is moeilik om dinge te leer as ’n mens nie kan lees en skryf nie
Teen 1935 het Jehovah se Getuies in 115 lande gepreek. Om mense te bereik wat ander tale praat, het sendelinge opnames van vertaalde Bybeltoesprake gespeel. In party gevalle kon hulle lektuur in plaaslike tale aanbied. Hoewel baie mense baie in die Bybel belanggestel het, het ongeletterdheid ’n hele paar van hulle gekeer om meer te leer.
Omdat mense nie die Bybel self kon lees nie, het hulle gesukkel om te leer hoe om volgens Bybelwaarhede te lewe (Josua 1:8; Psalm 1:2, 3). Dit was ook vir hulle moeilik om hulle Christelike verantwoordelikhede na te kom. Byvoorbeeld, as ouers nie kon lees nie, het hulle gesukkel om vir hulle kinders te leer wat die Bybel sê (Deuteronomium 6:6, 7). En vir nuwe Getuies wat nie kon lees nie, sou dit ’n uitdaging wees om die Bybel te gebruik wanneer hulle ander probeer leer.
’n Kampanje om mense te help lees en skryf
Gedurende die 1940’s en die 1950’s was Nathan H. Knorr en Milton G. Henschel twee van dié wat die leiding geneem het onder Jehovah se Getuies. Hulle het na verskillende lande gereis om te help om die predikingswerk te organiseer. In lande waar ongeletterdheid algemeen was, het hulle die plaaslike takkantore aangemoedig om lees-en-skryf-klasse in die gemeentes aan te bied.
’n Leeshulp in Cinyanja is vrygestel by ’n byeenkoms in Chingola, Zambië, 1954
Takkantore het instruksies na die gemeentes gestuur oor hoe hulle die klasse moet aanbied. In party lande het die regering bestaande programme gehad wat hulle kon gebruik. Byvoorbeeld, in Brasilië het die takkantoor voorrade en handboeke van die regering gekry en dit na die gemeentes gestuur. In ander lande moes die Getuies hulle eie lees-en-skryf-program ontwikkel.
Mans en vroue, jonk en oud, kon die lees-en-skryf-klasse bywoon. Die doel was om mense te leer lees in hulle moedertaal – selfs al het dit beteken dat daar ’n paar tale in een gemeente geleer word.
’n Program wat mense help
Hoe is mense gehelp deur hierdie lees-en-skryf-program? ’n Getuie van Mexiko vertel: “Nou kan ek die Bybel verstaan, en dit kan nou my hart raak. Omdat ek geleer het om te lees, het dit my meer selfvertroue gegee om met my bure te praat, en ek kon meer mense met die Bybel se boodskap bereik.”
Die lees-en-skryf-program het mense gehelp om meer as net die Bybel te verstaan. Isaac van Burundi vertel: “Om te leer lees en skryf het my gehelp om bouvaardighede aan te leer. Ek werk nou in die boubedryf en hou toesig oor groot bouprojekte.”
Chichewa word geleer by ’n Koninkryksaal in Lilongwe, Malawi, 2014
Jesusa van Peru was 49 jaar oud toe sy lees-en-skryf-klasse begin bywoon het. Sy sê: “As ’n huisvrou moet ek die pryse en die name van goed in die mark sien. In die verlede was dit ’n probleem. Danksy die lees-en-skryf-klas het ek nou meer vertroue wanneer ek inkopies gaan doen vir my gesin.”
Oor die jare het amptenare in verskillende lande Jehovah se Getuies geprys vir die werk wat hulle doen om mense te leer lees en skryf. Vandag bied Jehovah se Getuies nog steeds lees-en-skryf-klasse aan en gebruik hulle programme en hulpmiddele wat oor die jare beter gemaak is. Hulle het ook amper 224 miljoen brosjures in 720 tale ontwerp en gedruk. Hierdie brosjures help mense om te leer lees of dit help mense wat ’n beperkte opvoeding het.a
a Voorbeelde hiervan is die brosjure Lê jou toe op lees en skryf wat in 123 tale beskikbaar is en die brosjure Luister na God wat in 610 tale beskikbaar is.