UIT ONS ARGIEF
Hulle het hulle beste gegee
Toe die Tweede Wêreldoorlog in 1945 geëindig het, was baie van Duitsland verwoes. Stede was vernietig, skole was leeg, hospitale was onbruikbaar en bomme wat nie ontplof het nie, het oral rond gelê. Daar was ook ’n tekort aan kos, en dit het gemaak dat die pryse baie hoog was. Byvoorbeeld, op die swartmark het 500 gram botter dieselfde gekos as ses weke se inkomste!
Onder dié wat geraak is, was daar honderde Getuies van Jehovah wat jare lank in tronke en konsentrasiekampe was as gevolg van hulle geloof. Hulle is in 1945 vrygelaat met net die tronkklere aan hulle liggaam. Ander Getuies het eiendom en besittings verloor. Party was so honger dat hulle gedurende Christelike vergaderinge flou geval het.
Getuies in ander lande help dadelik
Jehovah se Getuies in ander dele van die wêreld het dadelik gehelp deur kos en klere te voorsien. Die broers by die wêreldhoofkwartier in die Verenigde State het die takkantoor in Bern, Switserland, gevra om die broers in Duitsland te help. Nathan H. Knorr, ’n verteenwoordiger van die hoofkwartier, het Europa besoek om die noodlenigingswerk te organiseer en vinnig te laat gebeur.
Nathan H. Knorr praat in 1947 met broers in Wiesbaden, Duitsland. Bo hom is die jaarteks in Duits: “Loof Jehovah, alle nasies”
Die Getuies in Switserland was vrygewig en het kos, klere en geld geskenk. Die items was eers na Bern gestuur, waar dit gesorteer en verpak was voordat dit na Duitsland gestuur is. Getuies in ander lande, insluitende Swede, Kanada en die Verenigde State, het ook met die noodlenigingswerk gehelp. Dit het Jehovah se knegte nie net in Duitsland gehelp nie, maar ook in oorloggeteisterde lande in Europa en Asië.
Ongelooflike resultate
Binne ’n paar maande het die takkantoor in Switserland koffie, melk, suiker, pap, droë vrugte, groente en geblikte vleis en vis gestuur. Geld was ook geskenk.
Die Getuies in Switserland het ook vyf ton klere, insluitende jasse, klere vir vroue en manspakke gestuur. Die Wagtoring van 15 Januarie 1946 het gesê: “Die broers het net hulle beste gegee. Hulle het ’n groot opoffering gemaak om hulle Duitse broers te help.”
Die Getuies in Switserland het ook omtrent 1 000 paar skoene geskenk. Die skoene was eers nagegaan om seker te maak dat dit in ’n goeie toestand is voordat dit gestuur is. Die broers en susters in Wiesbaden, Duitsland, wat die items uitgepak het, was verbaas oor die gehalte en verskeidenheid. Een Getuie het geskryf: “Ek is seker dat daar nie ’n winkel in Duitsland is wat so ’n groot verskeidenheid het nie.”
Noodlenigingsvoorraad is tot Augustus 1948 gestuur. Altesaam het die Getuies in Switserland 444 kratte met noodlenigingsvoorraad, wat 25 ton geweeg het, na hulle broers in Duitsland gestuur. Soos genoem is, is die Getuies in Switserland nie die enigstes wat betrokke was by hierdie noodlenigingswerk nie. Maar hulle was onder die kleinste groepe wat betrokke was. Op daardie stadium was daar net 1 600 Getuies in Switserland!
‘Julle moet liefde vir mekaar hê’
Jesus Christus het gesê: “So sal almal weet dat julle my dissipels is – as julle liefde vir mekaar het” (Johannes 13:34, 35). Liefde het Jehovah se knegte beweeg om hulle heel beste te gee, nie net dinge wat hulle nie nodig gehad het nie (2 Korintiërs 8:1-4). ’n Brief van Zürich het genoem dat “’n hele paar van die broers wat behoeftig was, maar wat nog steeds wou help, [hulle] rantsoenkaarte en geld gegee het”.
Jehovah se knegte in Duitsland het vinnig herstel van vervolging en die verwoesting van oorlog. Een rede hiervoor is die goed georganiseerde en vrygewige hulp wat aan hulle gegee is deur hulle mede-aanbidders wat opregte selfopofferende liefde getoon het.