Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 2/22 bl. 12-17
  • Aangemoedig deur my gesin se lojaliteit aan God

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Aangemoedig deur my gesin se lojaliteit aan God
  • Ontwaak!—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Vervolg weens ons geloof
  • ’n Toets vir my pa
  • My ma se leed
  • Ek betree die voltydse bediening
  • Inhegtenisneming en aanhouding
  • Die bediening ná my aanhouding
  • ’n Kosbare diensvoorreg
  • Ek het op Jehovah se liefdevolle sorg vertrou
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Hoe kan ek Jehovah vergoed?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Ek wag geduldig op Jehovah van my jeug af
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Ek kom my belofte na om God te dien
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 2/22 bl. 12-17

Aangemoedig deur my gesin se lojaliteit aan God

SOOS VERTEL DEUR HORST HENSCHEL

“Wees bly as jy hierdie brief ontvang, want ek het tot die einde toe volhard. Ek gaan binne twee uur tereggestel word.” Dit was die woorde waarmee my pa sy laaste brief aan my begin het. Op 10 Mei 1944 is hy tereggestel omdat hy geweier het om in Hitler se leër te dien. Sy lojaliteit aan God, sowel as dié van my ma en my suster Elfriede, het ’n diepgaande uitwerking op my lewe gehad.

OMSTREEKS die tyd toe ek gebore is, in 1932, het my pa die publikasies van Jehovah se Getuies begin lees. Hy het onder andere die huigelary van die geestelikes gesien. Hy het gevolglik glad nie meer in die kerke belanggestel nie.

Kort nadat die Tweede Wêreldoorlog in 1939 uitgebreek het, is my pa vir diens in die Duitse leër opgeroep. “Volgens die Bybel moet ek nie gaan nie”, het hy vir my ma gesê. “Hierdie bloedvergieting is nie reg nie.”

“Hulle sal jou doodmaak as jy nie gaan nie”, het my ma geantwoord. “Wat sal dán van jou gesin word?” My pa het dus ’n soldaat geword.

Later het my ma, wat tot op daardie tydstip nie die Bybel gestudeer het nie, met Jehovah se Getuies in aanraking probeer kom, wat destyds iets baie gevaarliks was om te doen. Sy het Dora ontmoet, wie se man in ’n konsentrasiekamp was weens sy geloof. Dora het vir my ma ’n eksemplaar van Die Wagtoring gegee, maar uitdruklik vir haar gesê: “Onthou dat ek doodgemaak kan word as die Gestapo (geheime polisie) uitvind dat ek dit vir jou gegee het.”

My ma het later nog publikasies van Jehovah se Getuies ontvang en die Bybelwaarhede wat dit bevat het, begin waardeer. Max Ruebsam, van nabygeleë Dresden, het ons mettertyd tuis in Meissen begin besoek. Hy het sy lewe in gevaar gestel om die Bybel met ons te studeer. Trouens, hy is kort daarna in hegtenis geneem.

My ma het deur haar Bybelstudie geloof in Jehovah opgebou, haar lewe aan hom toegewy en in Mei 1943 haar toewyding deur waterdoop gesimboliseer. Ek en my pa is ’n paar maande later gedoop. My 20-jarige suster, Elfriede, wat in Dresden gewerk het, is omtrent dieselfde tyd gedoop. Reg in die middel van die Tweede Wêreldoorlog het ons al vier dus ons lewe aan Jehovah toegewy. In 1943 het my ma geboorte gegee aan ons babasussie, Renate.

Vervolg weens ons geloof

Voordat ek gedoop is, het ek my aan die Hitler-jeugbeweging onttrek. Wanneer ek geweier het om “Heil Hitler” te sê, wat daagliks by die skool vereis is, het my onderwysers my geslaan. Ek is egter baie bly dat ek, danksy my ouers se ondersteuning, getrou gebly het.

Maar daar was tye wanneer ek weens liggaamlike straf of uit vrees “Heil Hitler!” gesê het. Ek het dan in trane huis toe gegaan, en my ouers het saam met my gebid sodat ek moed kon skep en die vyand se aanvalle in die vervolg kon weerstaan. Ek het meer as een keer uit vrees daarvan weggeskram om te doen wat reg is, maar Jehovah het my nooit verlaat nie.

Op ’n dag het die Gestapo gekom en ons huis deursoek. “Is jy een van Jehovah se Getuies?” het ’n Gestapo-agent my ma gevra. Ek kan nog goed onthou hoe sy teen die deurkosyn geleun het en ferm “Ja” gesê het—al het sy geweet dat dit uiteindelik tot haar inhegtenisname sou lei.

Twee weke later, terwyl my ma besig was om na Renate om te sien, wat nog nie eers ’n jaar oud was nie, het die Gestapo gekom om haar in hegtenis te neem. My ma het geprotesteer: “Ek voed net my kind!” Maar die vrou wat saam met die polisieman gekom het, het die baba uit haar arms gevat en haar beveel: “Maak klaar! Jy moet gaan.” Dit was beslis nie maklik vir my ma nie.

Aangesien my pa toe nog nie in hegtenis geneem is nie, het ek en my babasussie by hom gebly. Een oggend, omtrent twee weke nadat my ma weggeneem is, het ek my pa styf vasgedruk voordat ek skool toe gegaan het. My pa is daardie dag in hegtenis geneem omdat hy geweier het om na die leër terug te keer. Toe ek dus daardie middag by die huis kom, was hy weg, en ek het hom nooit weer gesien nie.

My grootouers en ons ander familielede—wat almal teen Jehovah se Getuies gekant was en waarvan sommige lede van die Nazi-party was—het toesig oor my en my babasussie verkry. Hulle het my nie toegelaat om die Bybel te lees nie. Maar nadat ek in die geheim ’n Bybel van ’n buurvrou gekry het, het ek dit gelees. Ek het ook voor my sussie se bed gekniel en gebid.

My suster Elfriede het intussen toetse van haar geloof verduur. Sy het geweier om aan te hou werk by ’n fabriek in Dresden wat krygsvoorraad vervaardig het, maar sy het wel daarin geslaag om werk in Meissen te kry waar sy na parke en tuine moes omsien. Wanneer sy na die kantoor gegaan het om haar salaris te kry, het sy geweier om “Heil Hitler!” te sê. Sy is uiteindelik in hegtenis geneem en in die tronk gesit.

Elfriede het ongelukkig witseerkeel en skarlakenkoors opgedoen, en sy is ’n paar weke nadat sy gevange geneem is oorlede. Sy was maar net 21. In een van haar laaste briewe het sy Lukas 17:10 aangehaal: “Wanneer julle alles gedoen het wat aan julle opgedra is, sê: ‘Ons is nikswerd slawe. Wat ons gedoen het, is wat ons behoort te gedoen het.’” Haar lojaliteit aan God het vir my ’n versterkende hulp gebly.—Kolossense 4:11.

’n Toets vir my pa

Terwyl my pa in die gevangenis was, het my oupa—my ma se pa—hom besoek om hom te probeer oorhaal om van plan te verander. My pa is met vasgekettingde hande en voete voor hom gebring. My pa het die voorstel dat hy ter wille van sy kinders militêre diens moet doen met beslistheid verwerp. Een van die tronkwagte het vir my oupa gesê: “Al het hierdie man ook tien kinders gehad, sou hy nie anders opgetree het nie.”

My oupa het vreeslik kwaad by die huis aangekom. “Die misdadiger!” het hy geskreeu. “Die nikswerd! Hoe kan hy sy eie kinders in die steek laat?” Al was my oupa omgekrap, was ek bly om te hoor dat my pa standvastig gebly het.

My pa is uiteindelik ter dood veroordeel en onthoof. Die een of ander tyd daarna het ek daardie laaste brief van hom gekry. Omdat hy nie geweet het waar my ma aangehou is nie, het hy aan my geskryf. Ek het opgegaan na my kamer op die solder en daardie eerste woorde gelees wat aan die begin van hierdie artikel aangehaal is. Ek was hartseer en het gehuil, maar ek was bly dat hy aan Jehovah getrou gebly het.

My ma se leed

My ma is na ’n tronk in die suide van Duitsland gestuur totdat sy verhoor sou word. ’n Wag het eendag na haar sel gekom en op ’n vriendelike manier gesê dat sy moet bly sit. Maar my ma het opgestaan en gesê: “Ek weet dat my man doodgemaak is.” Later het hulle sy bloedbevlekte klere aan haar gestuur, wat ’n stille getuienis was van die marteling wat hy voor sy dood moes verduur.

Op ’n ander keer is my ma na die tronkkantoor ontbied en kortaf meegedeel: “Jou dogter is in die tronk dood. Hoe moet sy begrawe word?” Die aankondiging was so skielik en onverwags dat my ma eers nie geweet het wat om te sê nie. Maar haar sterk geloof in Jehovah het haar onderskraag.

My familielede het oor die algemeen goed vir my en my suster gesorg. Hulle het ons baie vriendelik behandel. Trouens, een van hulle het na my onderwysers gegaan en hulle gevra om geduldig met my te wees. Die onderwysers het dus ook baie vriendelik geword en my nie gestraf wanneer ek hulle nie met “Heil Hitler!” gegroet het nie. Maar die doel van al hierdie vriendelikheid was om my van my Bybelse oortuiging te laat afsien. En, tot my spyt, was dit in sekere mate geslaagd.

Net ’n paar maande voordat die oorlog in Mei 1945 tot ’n einde gekom het, het ek vrywillig ’n paar samekomste van die Nazi-jeugorganisasie bygewoon. Ek het vir my ma geskryf en haar hiervan vertel, en sy het uit my briewe afgelei dat ek my doelwit om Jehovah te dien, laat vaar het. Sy het later gesê dat hierdie briewe vir haar baie meer verpletterend was as die nuus van my pa en Elfriede se dood.

Die oorlog het kort daarna tot ’n einde gekom, en my ma het uit die tronk gekom. Met haar hulp het ek my geestelike ewewig herwin.

Ek betree die voltydse bediening

Laat in 1949, vier jaar nadat die Tweede Wêreldoorlog tot ’n einde gekom het, het ’n reisende opsiener die Bybelteks in Maleagi 3:10 bespreek: “Bring die hele tiende na die skathuis, sodat daar spys in my huis kan wees; en beproef My tog hierin, sê die HERE van die leërskare.” Dit het my beweeg om ’n aansoekvorm vir die voltydse predikingswerk in te vul. Ek het dus op 1 Januarie 1950 ’n pionier geword, soos voltydse bedienaars genoem word. Ek het later na Spremberg verhuis waar daar meer pioniers nodig was.

In Augustus daardie jaar is ek genooi om by die takkantoor van Jehovah se Getuies in Maagdenburg, Oos-Duitsland, te dien. Maar net twee dae nadat ek daar aangekom het, op 31 Augustus, het polisiemanne by ons perseel ingehardloop en beweer dat daar misdadigers wegkruip. Die meeste van die Getuies is in hegtenis geneem en in die tronk gesit, maar ek het daarin geslaag om weg te kom en na Wes-Berlyn te reis waar die Wagtoringgenootskap ’n kantoor gehad het. Daar het ek hulle vertel wat in Maagdenburg gebeur het. Hulle het my terselfdertyd vertel dat baie Getuies oor die hele Oos-Duitsland in hegtenis geneem word. Trouens, ek het uitgevind dat die polisie in Spremberg op soek was na my!

Inhegtenisneming en aanhouding

Ek is na Oos-Berlyn gestuur om daar pionierdiens te doen. Terwyl ek ’n paar maande later besig was om as ’n koerier Bybellektuur van Wes-Berlyn na Oos-Duitsland te neem, is ek in hegtenis geneem en na die stad Cottbus geneem waar ek verhoor en tot 12 jaar tronkstraf gevonnis is.

Ek is onder andere van oorlogstokery beskuldig. Met my verhoor het ek in my finale verklaring gesê: “Hoe kan ek, as een van Jehovah se Getuies, skuldig bevind word aan oorlogstokery terwyl my pa geweier het om aan die oorlog deel te neem omdat hy een van Jehovah se Getuies was en toe om daardie rede onthoof is?” Maar daardie mense het natuurlik nie in die waarheid belanggestel nie.

Die gedagte dat ek op 19-jarige ouderdom 12 jaar lank moes tronk toe gaan, was baie onaangenaam. Nogtans het ek geweet dat baie ander soortgelyke vonnisse ontvang het. Die owerheid het soms die Getuies van mekaar geskei; maar dan het ons Bybelwaarhede met ander gevangenes bespreek, en sommige het Getuies geword.

Ander kere is die Getuies in dieselfde selblok aangehou. Dan het ons ons daarop toegelê om ons Bybel beter te leer ken. Ons het hele hoofstukke uit ons kop geleer en selfs Bybelboeke in hulle geheel probeer memoriseer. Ons het vir ons sekere doelwitte gestel met betrekking tot wat ons elke dag moes doen en leer. Ons was soms só besig dat ons vir mekaar gesê het: “Ons het net nie tyd nie”, selfs al het ons die hele dag in ons selle deurgebring met geen ander werk om te doen nie!

Ondervragings deur die geheime polisie kon uitputtend wees. Dit kon dag en nag aanhou en met allerhande dreigemente gepaardgaan. Ek het eenkeer vreeslik moeg en moedeloos geword, sodat ek dit selfs moeilik gevind het om te bid. Ná twee of drie dae het ek, om geen besondere rede nie, ’n stuk karton waarop die tronkreëls geskryf was van my selmuur afgehaal. Toe ek dit omdraai, het ek gesien dat daar nog iets op geskryf was. Terwyl ek dit na die flou lig opgehou het, het ek dié woorde gesien: “Vrees geen mens wat liggaam doodmaak”, en “Soos die appels van my oë hoed ek my getroue kneg.” Hierdie woorde is nou deel van lied 27 in die liedereboek van Jehovah se Getuies!

Daar was klaarblyklik ’n ander broer in ’n soortgelyke situasie in hierdie sel, en Jehovah God het hom onderskraag. Ek het onmiddellik weer geestelike krag gekry en Jehovah gedank vir hierdie aanmoediging. Ek wil hierdie les nooit vergeet nie, want dit het my geleer dat niks onmoontlik is met Jehovah God se hulp nie, al laat my eie krag my in die steek.

My ma het intussen na Wes-Duitsland verhuis en het dus op daardie tydstip geen kontak met my gehad nie. Maar daar was Hanna, wat in dieselfde gemeente as ek grootgeword het en wat baie na aan ons gesin was. Sy het my besoek gedurende al daardie jare wat ek in die tronk was en ook aanmoedigende briewe vir my geskryf en waardevolle kospakkies gestuur. Ek het met haar getrou toe ek in 1957 uit die tronk vrygelaat is, nadat ek 6 jaar van my 12 jaar lange vonnis uitgedien het.

My dierbare vrou Hanna het getrou saam met my in ons verskillende toewysings gedien en my altyd ondersteun. Wat sy deur ons voltydse bediening heen om my onthalwe gedoen het, is iets waarvoor net Jehovah God haar kan vergoed.

Die bediening ná my aanhouding

Ek en Hanna het ons voltydse bediening as ’n egpaar begin by die kantoor wat toe deur die Wagtoringgenootskap in Wes-Berlyn gebruik is. My toewysing daar was konstruksiewerk as ’n timmerman. Later het ons saam pionierdiens in Wes-Berlyn gedoen.

Willi Pohl, wat destyds toesig gehou het oor ons werk in Wes-Berlyn, het my aangemoedig om voort te gaan om Engels te leer. “Ek het nie tyd nie”, het ek geantwoord. Maar hoe bly is ek tog dat ek gehoorsaam volgehou het met my studie van Engels! Ek is gevolglik in 1962 genooi om die tien maande lange kursus van die 37ste klas van Gileadskool in Brooklyn, New York, by te woon. Nadat ek op 2 Desember 1962 na Duitsland teruggekeer het, het ek en Hanna 16 jaar in die reisende werk deurgebring en gemeentes oral in Duitsland besoek. Toe, in 1978, is ons genooi om by die takkantoor in Wiesbaden te dien. Toe die takkantoor in die middel-tagtigerjare na ’n groot, nuwe fasiliteit by Selters verskuif is, het ons ’n aantal jare by daardie pragtige fasiliteit gedien.

’n Kosbare diensvoorreg

In 1989 het iets heeltemal onverwags gebeur—die Berlynse Muur het geval—en die Getuies in Oos-Europese lande het vryheid van aanbidding begin geniet. In 1992 is ek en Hanna na Lviv, in die Oekraïne, genooi om die vinnig toenemende aantal Koninkryksverkondigers in daardie gebied by te staan.

Ons is die daaropvolgende jaar gevra om na Rusland te gaan om met die organisering van die Koninkrykswerk daar te help. In Solnetsjnoje, ’n dorpie omtrent 40 kilometer buite St. Petersburg, is ’n kantoor toe ingerig om na die predikingswerk oor die hele Rusland en die meeste van die ander republieke van die voormalige Sowjetunie om te sien. Met ons aankoms was konstruksiewerk aan woongeboue sowel as aan ’n groot gebou vir kantore en stoorplek reeds aan die gang.

Ons was oorstelp van vreugde toe ons nuwe takfasiliteite op 21 Junie 1997 toegewy is. Altesaam 1492 mense uit 42 lande het in Solnetsjnoje bymekaargekom vir die spesiale program. Die volgende dag het ’n skare van 8400 in die Petrovsky-stadion in St. Petersburg byeengekom vir ’n oorsig van die toewydingsprogram sowel as aanmoedigende verslae deur besoekers van ander lande.

Watter wonderlike vermeerderings geniet ons tog nie in die 15 republieke van die voormalige Sowjetunie nie! In 1946 het ongeveer 4800 Koninkryksverkondigers in hierdie gebied gepreek. Byna 40 jaar later, in 1985, het die getal tot 26 905 gestyg. Vandag is daar meer as 125 000 Koninkryksverkondigers in die tien republieke van die voormalige Sowjetunie waarna die takkantoor hier in Solnetsjnoje omsien, en meer as 100 000 doen die predikingswerk in die vyf ander voormalige Sowjetrepublieke! Hoe verheug was ons tog om te hoor dat meer as 600 000 mense verlede Maart die herdenking van Christus se dood in die 15 voormalige Sowjetrepublieke bygewoon het!

Ek staan verbaas wanneer ek sien op watter wonderlike manier Jehovah God die insameling en organisering van sy volk in hierdie “laaste dae” gerig het (2 Timoteus 3:1). Soos die Bybelpsalmis sê, gee Jehovah sy knegte insig, onderrig hy hulle in die weg wat hulle moet gaan en gee hy raad met sy oog op hulle (Psalm 32:8, NW). Ek ag dit ’n groot voorreg om aan Jehovah se internasionale organisasie van mense te behoort!

[Prent op bladsy 13]

Saam met my twee susters in 1943

[Prent op bladsy 14]

My pa is onthoof

[Prent op bladsy 14]

My ma het my gehelp om my geestelike ewewig te herwin

[Prent op bladsy 15]

Saam met my vrou, Hanna

[Prent op bladsy 16]

Tydens die toewydingstoespraak in die Koninkryksaal in Rusland se takkantoor

[Prente op bladsy 17]

Binnehof en vensters van die eetsaal van ons nuwe takkantoor in Rusland

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel