Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • od hfst. 10 bl. 107-117
  • Maniere om jou bediening uit te brei

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Maniere om jou bediening uit te brei
  • Georganiseer om Jehovah se wil te doen
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • DIEN AS ’N GEMEENTELIKE VERKONDIGER
  • DIEN WAAR HULP NODIG IS
  • GETUIG IN ’N ANDER TAAL
  • PIONIERDIENS
  • VELDSENDELINGE
  • KRINGWERK
  • TEOKRATIESE SKOLE
  • BETHELDIENS
  • KONSTRUKSIEDIENS
  • WAT IS JOU GEESTELIKE DOELWITTE?
  • Dink aan diegene in die voltydse diens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2014
  • Voortdurende vermeerdering vereis die vereenvoudiging van prosedures
    Ons Koninkryksbediening—1986
  • Kan jy meer doen om Jehovah te eer?
    Ons Koninkryksbediening—1993
  • Opsieners wat as herders oor die kudde toesig hou
    Georganiseer om Jehovah se wil te doen
Sien nog
Georganiseer om Jehovah se wil te doen
od hfst. 10 bl. 107-117

HOOFSTUK 10

Maniere om jou bediening uit te brei

TOE die tyd gekom het vir Jesus om sy dissipels as Koninkryksverkondigers uit te stuur, het hy vir hulle gesê: “Die oes is groot, maar die werkers is min.” Daar was baie werk, en daarom het hy bygevoeg: “Smeek . . . die Meester van die oes om werkers in sy oes uit te stuur” (Matt. 9:37, 38). Jesus het vir die dissipels gesê hoe om hulle bediening uit te voer. Daar was ’n gevoel van dringendheid in sy woorde: “Julle [sal] beslis nie die kring van die stede van Israel . . . voltooi voordat die Seun van die mens kom nie.” – Matt. 10:23.

2 Daar is vandag ook baie om te doen in die veldbediening. Hierdie goeie nuus van die Koninkryk moet verkondig word voordat die einde kom, en daar is min tyd oor! (Mark. 13:10). Aangesien die veld die wêreld is, is ons in ’n soortgelyke situasie as Jesus en sy dissipels, maar daar is vandag selfs meer werk as destyds. Ons is min in vergelyking met die miljarde mense in die wêreld, maar ons kan seker wees dat Jehovah ons sal help. Die goeie nuus van die Koninkryk sal oor die hele aarde verkondig word, en op Jehovah se bestemde tyd sal die einde kom. Sal ons God se Koninkryk eerste in ons lewe stel sodat ons ons bediening ten volle kan uitvoer? Met dit in gedagte, watter teokratiese doelwitte kan ons nastreef?

3 Jesus het gewys wat Jehovah van Sy toegewyde knegte verwag toe hy gesê het: “Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag” (Mark. 12:30). Ons moet God heelhartig dien. Dit beteken dat ons die diepte van ons toegewydheid en die opregtheid van ons toewyding wys deur ons bes te doen in Jehovah se diens (2 Tim. 2:15). Afhangende van ons individuele omstandighede en vermoëns het ons elkeen geleenthede wat ons kan gebruik. Kyk na ’n paar van hierdie geleenthede, en besluit watter teokratiese doelwitte jy sal nastreef om jou bediening te vervul.

DIEN AS ’N GEMEENTELIKE VERKONDIGER

4 Almal wat die waarheid aanneem, het die voorreg om die goeie nuus te verkondig. Dit is die belangrikste werk wat Jesus sy dissipels gegee het om te doen (Matt. 24:14; 28:19, 20). ’n Dissipel van Jesus Christus begin gewoonlik met ander oor die goeie nuus praat sodra hy dit hoor. Dit is wat Andreas, Filippus, Kornelius en ander gedoen het (Joh. 1:40, 41, 43-45; Hand. 10:1, 2, 24; 16:14, 15, 25-34). Beteken dit dat iemand met ander oor die goeie nuus kan praat nog voordat hy gedoop is? Ja! Sodra iemand kwalifiseer om ’n ongedoopte verkondiger in die gemeente te wees, mag hy van huis tot huis begin getuig. Hy kan ook, afhangende van sy vermoë en omstandighede, aan ander aspekte van die veldbediening deelneem.

5 Nadat ’n verkondiger gedoop is, wil hy ongetwyfeld alles in sy vermoë doen om ander te help om oor die goeie nuus te leer. Mans sowel as vroue het die voorreg om aan die predikingswerk deel te neem. Ons is geseënd om selfs net ’n klein aandeel daaraan te hê om die belange van God se Koninkryk te bevorder. Enigiemand wat sy bediening kan uitbrei om aan ander aspekte van die diens deel te neem, sal waarlik gelukkig wees.

DIEN WAAR HULP NODIG IS

6 Jou gemeente se gebied word dalk dikwels gedek en ’n goeie getuienis word gegee. As dit die geval is, voel jy miskien dat jy jou bediening kan uitbrei deur na ’n gebied te trek waar hulp nodig is in die veld (Hand. 16:9). As jy op die oomblik ’n ouerman of ’n bedieningskneg is, is daar dalk ’n ander gemeente wat jou hulp sal waardeer. Julle kringopsiener sal moontlik voorstelle hê oor hoe jy ’n ander gemeente in die kring kan help. As jy op ’n ander plek in die land wil dien, kan die takkantoor vir jou die nodige inligting gee.

7 Wil jy in ’n ander land dien? Indien wel, moet jy baie goed daaroor nadink. Bespreek gerus die saak met die ouermanne in jou gemeente. So ’n skuif sal beslis ’n uitwerking hê op jou en enigiemand wat saam met jou gaan (Luk. 14:28). Maar as jy nie van plan is om lank te bly nie, sal dit moontlik die beste wees om dit te oorweeg om iewers in jou tuisland te dien.

8 In party lande is broers wat as opsieners dien, redelik nuut in die waarheid. Wanneer meer ervare ouermanne in die gemeente intrek, is nederige plaaslike broers bereid om hulle toe te laat om die leiding te neem. As jy ’n ouerman is en dit oorweeg om na so ’n land te trek, moet jy in gedagte hou dat jou doel nie is om in die plek van die plaaslike broers te dien nie. Dien eerder saam met hulle. Spoor hulle aan om uit te reik en gemeentelike verantwoordelikhede te aanvaar (1 Tim. 3:1). Wees geduldig as party dinge nie gedoen word soos dit in jou tuisland gedoen word nie. Gebruik jou ondervinding as ’n ouerman om jou broers werklik te help. As jy dalk eendag na jou tuisland moet terugkeer, sal die plaaslike ouermanne dan in ’n beter posisie wees om na die gemeente om te sien.

9 Voordat die takkantoor vir jou die name kan gee van gemeentes waar jy kan help, sal jou Gemeentelike Dienskomitee ’n aanbevelingsbrief moet instuur. Hierdie brief is nodig of jy as ’n ouerman, ’n bedieningskneg, ’n pionier of ’n verkondiger dien. Die dienskomitee sal die aanbevelingsbrief saam met jou navraag direk na die takkantoor stuur van die land waar jy wil dien.

GETUIG IN ’N ANDER TAAL

10 Om jou bediening uit te brei, sal jy dalk ’n ander taal wil leer, onder andere ’n gebaretaal. As dit jou doelwit is om in ’n ander taal te leer preek, kan jy gerus met die ouermanne en die kringopsiener praat. Hulle kan jou wenke en die nodige aanmoediging gee. Party kringe het, onder die toesig van die takkantoor, taalklasse georganiseer om bekwame verkondigers en pioniers op te lei om in ’n ander taal te preek.

PIONIERDIENS

11 Alle verkondigers moet weet wat die algemene vereistes is vir hulp-, gewone en spesiale pionierdiens sowel as vir ander vorme van voltydse diens. ’n Pionier moet ’n voorbeeldige gedoopte Christen wees wie se persoonlike omstandighede hom of haar toelaat om ’n vasgestelde aantal ure aan die verkondiging van die goeie nuus te bestee. Die Gemeentelike Dienskomitee keur aansoeke om hulp- en gewone pionierdiens goed, terwyl spesiale pioniers deur die takkantoor aangestel word.

12 Hulppioniers kan, afhangende van hulle omstandighede, vir ’n minimum van een maand, vir ’n aantal opeenvolgende maande of vir ’n onbepaalde tyd aangestel word. Baie Koninkryksverkondigers geniet dit om tydens spesiale geleenthede, soos gedurende die Gedenkmaalseisoen of die maand van die kringopsiener se besoek, as hulppioniers te dien. Party kies vakansiemaande. Gedoopte skoolgaande verkondigers wil dalk gedurende hulle skoolvakansie as hulppioniers dien. Verkondigers het die opsie van ’n verminderde uurvereiste as hulle gedurende Maart, April of die maand van die kringopsiener se besoek hulppionierdiens wil doen. Wat jou persoonlike omstandighede ook al is, die ouermanne sal jou aansoek vir hierdie diensvoorreg met graagte oorweeg as jy voorbeeldig is in jou morele waardes en gewoontes, kan reël om die vereiste aantal ure aan die veldbediening te bestee en glo dat jy een of meer maande as ’n hulppionier kan dien.

13 Om as ’n gewone pionier te dien, moet jy nou in ’n posisie wees om aan die jaarlikse uurvereiste te voldoen. As ’n gewone pionier sal jy ten nouste wil saamwerk met jou gemeente. Ywerige pioniers is ’n seën vir ’n gemeente omdat hulle entoesiasme vir die veldbediening wek en selfs ander aanspoor om pioniers te word. Maar voordat jy kan aansoek doen om ’n gewone pionier te word, moet jy ’n voorbeeldige verkondiger wees wat ten minste ses maande gedoop is.

14 Sekere gewone pioniers wat bewys het dat hulle doeltreffend is in die bediening, word gekies om as spesiale pioniers te dien. Hulle moet kan dien waar die takkantoor ook al besluit om hulle te stuur. Dit is dikwels ’n afgesonderde gebied, waar hulle belangstelling kan vind en nuwe gemeentes kan stig. Soms word spesiale pioniers na gemeentes gestuur wat hulp nodig het om hulle gebied te dek. In party gevalle word spesiale pioniers wat ook ouermanne is, gestuur om klein gemeentes te help, selfs waar daar nie eintlik meer werkers in die veld nodig is nie. Spesiale pioniers ontvang ’n klein toelaag om in hulle basiese behoeftes te voorsien. Party spesiale pioniers word tydelik aangestel.

VELDSENDELINGE

15 Die Dienskomitee van die Bestuursliggaam stel veldsendelinge aan, wat dan deur die plaaslike Takkomitee aangewys word om in digbevolkte gebiede te dien. Hulle help baie om die predikingswerk en die gemeente se bedrywighede te stabiliseer en te ondersteun. Veldsendelinge ontvang gewoonlik opleiding by die Skool vir Koninkrykspredikers. Hulle word blyplek gegee en kry ’n klein toelaag om in hulle basiese behoeftes te voorsien.

KRINGWERK

16 Diegene wat deur die Bestuursliggaam as kringopsieners aangestel word, kry opleiding en ondervinding deur eers as instaankringopsieners te dien. Hierdie manne is lief vir die bediening en vir hulle broers. Hulle is ywerige pioniers, goeie studente van die Bybel asook doeltreffende sprekers en onderrigters. Hulle stel ’n goeie voorbeeld daarin om die vrug van die gees te openbaar en hulle is gebalanseerd, redelik en het goeie oordeel. As die broer getroud is, is sy pioniervrou voorbeeldig in hoe sy haar gedra en ander behandel. Sy is doeltreffend in die predikingswerk. Sy verstaan ook haar rol as ’n onderdanige Christenvrou en praat nie vir haar man of oorheers nie gesprekke nie. Kringopsieners en hulle vrouens het ’n veeleisende rooster, en daarom moet diegene wat hierdie diensvoorreg nastreef, goeie gesondheid geniet. Pioniers kan nie vir kringwerk aansoek doen nie. Hulle vertel hulle kringopsiener eerder van hulle begeerte om kringwerk te doen, en hy sal hulle goeie wenke kan gee.

TEOKRATIESE SKOLE

17 Skool vir Koninkrykspredikers: Daar is ’n behoefte aan meer Koninkryksverkondigers om gebiede te dek wat selde gewerk word en om gemeentes geestelike ondersteuning te gee. Dit is waarom ongetroude broers, ongetroude susters en egpare aansoek kan doen om gespesialiseerde opleiding by die Skool vir Koninkrykspredikers te ontvang. Nadat hulle hulle opleiding voltooi het, word die gegradueerdes as gewone pioniers na gebiede in hulle tuisland gestuur waar daar hulp nodig is. Maar diegene wat hulle beskikbaar kan stel, kan ander toewysings in hulle tuisland of in ’n ander land ontvang. ’n Paar sal moontlik as tydelike of permanente spesiale pioniers aangestel word. Pioniers wat daarin belangstel om na hierdie skool te gaan, kan uitvind wat die vereistes is deur die vergadering hiervoor by die streekbyeenkoms by te woon.

18 Wagtoring-Bybelskool Gilead: Ongetroude broers, ongetroude susters en egpare wat gekies word om hierdie skool by te woon, kan Engels praat en dien as spesiale voltydse dienaars. Hulle het die potensiaal om die organisering van die veld of die takkantoor te verbeter en te stabiliseer. Hulle het reeds gewys dat hulle dit geniet om hulle broers te dien en dat hulle ander op ’n liefdevolle manier kan help om met skriftuurlike en teokratiese riglyne vertroud te raak en dit te volg. Die plaaslike Takkomitee nooi potensiële studente om aansoek te doen. Gegradueerdes van hierdie skool word na die veld of na die takkantoor van ’n ander land of van hulle tuisland aangewys.

BETHELDIENS

19 Dit is ’n groot voorreg om by Bethel te dien. Die naam Bethel beteken “Huis van God”, en dit is beslis ’n gepaste naam vir hierdie sentrums van teokratiese bedrywigheid. Broers en susters in Betheldiens verrig ’n noodsaaklike werk in verband met die vervaardiging, vertaling en verspreiding van Bybellektuur. Hulle diens is van onskatbare waarde vir die Bestuursliggaam, wat toesig en leiding vir gemeentes regoor die wêreld voorsien. Baie Betheliete wat vertalers is, woon en werk op plekke in die takkantoor se gebied waar hulle taal gepraat word. Dit maak dit vir hulle moontlik om te hoor hoe mense die taal van dag tot dag praat. Hulle kan ook self sien of mense die taal verstaan soos dit in die publikasies gebruik word.

20 Baie van die werk wat by Bethel gedoen word, is fisies veeleisend. Daarom is die meeste van dié wat na Bethel genooi word, toegewyde, gedoopte broers wat jonk, gesond en fisies sterk is. As daar ’n behoefte is by die takkantoor wat toesig hou oor julle land en jy graag by Bethel wil dien, kan jy meer omtrent die vereistes uitvind by die ouermanne in jou gemeente.

KONSTRUKSIEDIENS

21 Die bou van teokratiese fasiliteite is ’n vorm van heilige diens, en dit is soortgelyk aan die werk wat gedoen is om Salomo se tempel te bou (1 Kon. 8:13-18). Baie broers en susters toon uitsonderlike ywer deur hulle tyd en middele aan te bied om ’n aandeel aan hierdie werk te hê.

22 Is jy in ’n posisie om te help? As jy ’n gedoopte verkondiger is en bereid is om ’n aandeel aan hierdie werk te hê, sal die broers wat toesig hou oor die konstruksiewerk in jou omgewing jou hulp waardeer. Hulle sal bereid wees om jou op te lei, al het jy min vaardighede. Stel die ouermanne in jou gemeente gerus in kennis dat jy beskikbaar is om te help. Party gedoopte verkondigers wat aan die vereistes voldoen, kon selfs al in ander lande met die bou van teokratiese fasiliteite help.

23 Daar is baie geleenthede om aan die konstruksiediens deel te neem. Voorbeeldige gedoopte verkondigers met vaardighede wat in ’n posisie is om projekte in hulle omgewing te ondersteun, kan as vrywilligers onder die toesig van die Plaaslike Kantoor vir Ontwerp en Konstruksie dien. Ander kan tydelike ondersteuning aan meer verafgeleë projekte gee en word vir ’n tydperk van twee weke tot drie maande deur die takkantoor as konstruksievrywilligers aangestel. Dié wat vir ’n langer tydperk aangestel word, word konstruksieknegte genoem. ’n Konstruksiekneg wat ’n toewysing in ’n ander land ontvang, dien as ’n buitelandse konstruksiekneg. ’n Konstruksiegroep wat bestaan uit konstruksieknegte en konstruksievrywilligers neem die leiding op elke projek en word bygestaan deur vrywilligers onder die toesig van die Plaaslike Kantoor vir Ontwerp en Konstruksie sowel as vrywilligers uit gemeentes wat by die projek betrokke is. Konstruksiegroepe gaan van een projek na die ander binne die gebied onder die toesig van die takkantoor.

WAT IS JOU GEESTELIKE DOELWITTE?

24 As jy jou lewe aan Jehovah toegewy het, is dit jou begeerte om Jehovah vir ewig te dien. Maar watter geestelike doelwitte wil jy bereik? As jy geestelike doelwitte het, sal dit jou help om jou energie en ander middele verstandig te gebruik (1 Kor. 9:26). Dit bevorder geestelike groei en sal jou help om op die belangriker dinge te fokus terwyl jy uitreik na nog diensvoorregte. – Fil. 1:10; 1 Tim. 4:15, 16.

25 Die apostel Paulus het vir ons ’n goeie voorbeeld gestel om in ons diens aan God na te volg (1 Kor. 11:1). Paulus het hom kragtig ingespan in Jehovah se diens. Hy het besef dat Jehovah hom baie geleenthede gegee het. Aan die broers in Korinte het Paulus geskryf: “’n Groot deur wat tot bedrywigheid lei, is vir my oopgemaak.” Is dit nie ook in ons geval waar nie? Ja, daar is baie geleenthede vir ons om Jehovah saam met die gemeente te dien, veral terwyl ons die goeie nuus van die Koninkryk verkondig. Maar soos in Paulus se geval, is daar baie wat ons teëstaan terwyl ons deur daardie “groot deur” gaan (1 Kor. 16:9). Paulus was bereid om homself te dissiplineer. Let op wat hy gesê het: “Ek straf my liggaam en lei dit as ’n slaaf” (1 Kor. 9:24-27). Het ons dieselfde gesindheid?

As jy geestelike doelwitte het, sal dit jou help om jou energie en ander middele verstandig te gebruik

26 Almal word aangespoor om hard te werk om teokratiese doelwitte te bereik, afhangende van hulle persoonlike omstandighede. Baie dien vandag in die een of ander vorm van die voltydse diens omdat hulle vroeg in hulle lewe teokratiese doelwitte gestel het. Miskien toe hulle nog kinders was, het hulle ouers en ander hulle aangespoor om dit te doen. Daarom het hulle ’n baie bevredigende loopbaan in Jehovah se diens geniet – en hulle is nie oor enigiets spyt nie (Spr. 10:22). Ander goeie doelwitte wat ’n mens kan stel, is om elke week velddiens te doen, ’n tuisbybelstudie te begin en te hou en meer tyd te maak om vir vergaderinge voor te berei. Wat belangrik is, is dat ons standvastig bly en ons bediening ten volle uitvoer. As ons dit doen, sal ons Jehovah eer en ons uiteindelike doelwit bereik – om hom vir ewig te dien. – Luk. 13:24; 1 Tim. 4:7b, 8.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel