Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w21 Februarie bl. 14-19
  • Die hoofskapreëling in die gemeente

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die hoofskapreëling in die gemeente
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan(Studie-uitgawe) — 2021
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • HOE MOET ONS SUSTERS IN DIE GEMEENTE SIEN?
  • IS ELKE BROER DIE HOOF VAN ELKE SUSTER?
  • WATTER GESAG HET GESINSHOOFDE EN OUERMANNE?
  • RESPEKTEER CHRISTUS AS HOOF VAN DIE GEMEENTE
  • ‘Die hoof van elke man is die Christus’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan(Studie-uitgawe) — 2021
  • Ondersteun susters in jou gemeente
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2020
  • Behandel jy vrouens soos Jehovah hulle behandel?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2024
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan(Studie-uitgawe) — 2021
w21 Februarie bl. 14-19

STUDIEARTIKEL 7

Die hoofskapreëling in die gemeente

“Die Christus [is] die hoof van die gemeente . . . , die liggaam wat hy gered het.” – EF. 5:23.

LIED 137 Getroue vroue, Christensusters

IN HIERDIE ARTIKELa

1. Wat is een rede hoekom Jehovah se familie verenig is?

ONS is baie bly om deel te wees van Jehovah se familie. Hoekom is daar vrede en eenheid in ons familie? Een rede is omdat ons almal ons bes doen om die hoofskapreëling wat Jehovah ingestel het te respekteer. Hoe beter ons die hoofskapreëling verstaan, hoe meer verenig sal ons wees.

2. Watter vrae sal ons in hierdie artikel bespreek?

2 In hierdie artikel gaan ons die hoofskapreëling in die gemeente bespreek. Ons sal ook die volgende vrae beantwoord: Wat is die rol van susters in die gemeente? Is dit waar dat elke broer die hoof van elke suster is? Het ouermanne dieselfde soort gesag oor broers en susters as wat ’n gesinshoof oor sy vrou en kinders het? Eerstens sal ons bespreek hoe ons susters in die gemeente moet sien.

HOE MOET ONS SUSTERS IN DIE GEMEENTE SIEN?

3. Hoe kan ons meer waardering hê vir die werk wat ons susters doen?

3 Ons waardeer ons susters wat hard werk om vir hulle gesin te sorg, die goeie nuus te verkondig en die gemeente te ondersteun. Ons sal hulle selfs meer waardeer as ons nadink oor hoe Jehovah en Jesus hulle sien. Ons sal ook leer hoe ons vrouens moet behandel deur te kyk na hoe die apostel Paulus hulle behandel het.

4. Hoe wys die Bybel dat Jehovah vrouens sowel as mans waardeer?

4 Die Bybel wys dat Jehovah vrouens sowel as mans waardeer. Dit wys byvoorbeeld dat Jehovah in die eerste eeu heilige gees aan vrouens sowel as mans gegee het en hulle die krag gegee het om wonderwerke te doen, soos om in verskillende tale te praat (Hand. 2:1-4, 15-18). Jehovah het mans en vrouens met heilige gees gesalf om saam met Christus te regeer (Gal. 3:26-29). Vrouens sowel as mans het die hoop om vir ewig op die aarde te lewe (Op. 7:9, 10, 13-15). En mans en vrouens het die opdrag gekry om die goeie nuus te verkondig en ander te leer (Matt. 28:19, 20). Byvoorbeeld, die boek Handelinge praat van ’n suster met die naam Priscilla. Sy en haar man, Aquila, het die waarheid duideliker aan Apollos, ’n geleerde man, verduidelik. – Hand. 18:24-26.

5. Hoe wys Lukas 10:38, 39, 42 dat Jesus vrouens gerespekteer het?

5 Jesus het vrouens gerespekteer. Hy was nie soos die Fariseërs, wat neergesien het op vrouens nie. Hulle het nie met vrouens in die openbaar gepraat nie en hulle sou nooit met hulle oor die Skrif praat nie. Maar Jesus het belangrike waarhede met vrouens sowel as mans bespreek.b (Lees Lukas 10:38, 39, 42.) Hy het vrouens ook toegelaat om saam met hom op predikingsreise te gaan (Luk. 8:1-3). En Jesus het hulle die voorreg gegee om vir die apostels te sê dat hy opgewek is. – Joh. 20:16-18.

6. Hoe het die apostel Paulus gewys dat hy vrouens gerespekteer het?

6 Die apostel Paulus het Timoteus herinner om vrouens te respekteer. Paulus het vir hom gesê om “ouer vrouens soos ma’s” en “jonger vrouens soos susters” te behandel (1 Tim. 5:1, 2). Paulus het baie gedoen om Timoteus te help om sterk geloof te hê, maar hy het erken dat dit Timoteus se ma en ouma was wat hom eerste “die heilige geskrifte” geleer het (2 Tim. 1:5; 3:14, 15). In Paulus se brief aan die Romeine het hy sekere susters by die naam gegroet. Hy het nie net die werk gesien wat die susters gedoen het nie, maar hy het ook gesê dat hy daardie werk waardeer. – Rom. 16:1-4, 6, 12; Fil. 4:3.

7. Watter vrae sal ons nou bespreek?

7 Die vorige paragrawe wys dat die Bybel nie sê dat susters minder belangrik as broers is nie. Ons liefdevolle en vrygewige susters help die gemeente baie, en die ouermanne maak staat op hulle om vrede en eenheid in die gemeente te bevorder. Maar ons moet nog steeds die volgende vrae beantwoord: Hoekom verwag Jehovah dat susters soms ’n hoofbedekking dra? Net broers word as ouermanne en bedieningsknegte aangestel, so beteken dit dat elke broer die hoof van elke suster in die gemeente is?

IS ELKE BROER DIE HOOF VAN ELKE SUSTER?

Jesus sit op sy hemelse troon terwyl strale van Jehovah se heerlikheid op hom skyn. Onder hom is ’n prent van ’n gemeentelike vergadering, ’n gesinsaanbiddingaand en ’n suster wat alleen studeer. Die prente word herhaal by paragraaf 8 en 11-14.

8. Is elke broer volgens Efesiërs 5:23 die hoof van elke suster? Verduidelik.

8 Die antwoord is nee! ’n Broer is nie die hoof van alle susters in die gemeente nie – Christus is. (Lees Efesiërs 5:23.) In die gesin het die man gesag oor sy vrou. ’n Gedoopte seun is nie die hoof van sy ma nie (Ef. 6:1, 2). En in die gemeente het die ouermanne net beperkte gesag oor broers en susters (1 Tess. 5:12; Heb. 13:17). Enkelvrouens wat nie meer by hulle ma en pa bly nie hou aan om hulle ouers en die ouermanne te respekteer. Maar net soos die mans in die gemeente, het hulle net een hoof, Jesus.

’n Suster studeer alleen.

Enkelpersone wat nie meer by hulle ouers bly nie, is onder Jesus se hoofskap (Sien paragraaf 8)

9. Hoekom moet susters soms ’n hoofbedekking dra?

9 Dit is waar dat Jehovah mans aangestel het om die leiding in die gemeente te neem, en hy het nie vrouens hierdie gesag gegee nie (1 Tim. 2:12). Hoekom nie? Vir dieselfde rede dat hy Jesus as hoof van die man aangestel het – sodat daar orde in sy familie kan wees. As ’n suster iets moet doen wat gewoonlik deur ’n broer gedoen moet word, dan verwag Jehovah dat sy ’n hoofbedekking moet dra (1 Kor. 11:4-7).c Jehovah vra susters om dit te doen, nie om hulle te verneder nie, maar sodat hulle kan wys dat hulle die hoofskapreëling wat hy ingestel het, respekteer. Met dit in gedagte, kom ons bespreek nou die volgende vraag: Watter gesag het gesinshoofde en ouermanne?

Wanneer moet ’n suster ’n hoofbedekking dra?

’n Suster hou ’n velddiensreëling. Sy sit en dra ’n hoofbedekking.

As ’n suster wil weet of sy ’n hoofbedekking moet dra, moet sy die volgende drie vrae beantwoord:

  1. 1. Gaan sy in die openbaar bid of uit die Bybel onderrig terwyl daar ’n gedoopte broer by is? – 1 Kor. 11:4, 5.

  2. 2. Selfs al is daar nie ’n gedoopte broer nie, sou hierdie toewysing gewoonlik deur ’n gedoopte broer gedoen word? – 1 Tim. 2:11, 12; Heb. 13:17.

  3. 3. As sy getroud is, is haar man daar terwyl sy hardop vir ander bid of vir hulle uit die Bybel leer? – 1 Kor. 11:3.

As die antwoord op enige van hierdie vrae ja is, dan moet ’n suster ’n hoofbedekking dra. As die antwoord op al hierdie vrae nee is, dan hoef sy nie ’n hoofbedekking te dra nie.e

WATTER GESAG HET GESINSHOOFDE EN OUERMANNE?

10. Hoekom sal ’n ouerman dalk reëls vir die gemeente wil maak?

10 Ouermanne is lief vir Christus, en hulle is lief vir die “skapies” wat Jehovah en Jesus onder hulle sorg geplaas het (Joh. 21:15-17). Omdat ’n ouerman vir die gemeente omgee, dink hy dalk dat hy soos ’n pa vir hulle is. Hy dink dalk dat as ’n gesinshoof die reg het om reëls te maak om sy gesin te beskerm, kan ’n ouerman reëls maak wat hy dink God se skapies sal beskerm. En party broers en susters moedig ouermanne dalk aan om as hulle geestelike hoof op te tree deur hulle te vra om vir hulle besluite te maak. Maar het ouermanne in die gemeente en gesinshoofde dieselfde gesag?

’n Ouerman gee ’n toespraak by ’n gemeentelike vergadering.

Ouermanne sorg geestelik en emosioneel vir die gemeente. Jehovah het hulle die verantwoordelikheid gegee om die gemeente rein te hou (Sien paragraaf 11-12)

11. Hoe is die gesag wat gesinshoofde het, soortgelyk aan die gesag wat ouermanne het?

11 Die apostel Paulus het gewys dat die gesag wat ’n gesinshoof het op sekere maniere soortgelyk is aan die gesag wat ouermanne het (1 Tim. 3:4, 5). Byvoorbeeld, Jehovah wil hê dat gesinslede die hoof van die gesin moet gehoorsaam (Kol. 3:20). En hy wil hê dat persone in die gemeente ouermanne moet gehoorsaam. Jehovah verwag dat gesinshoofde en ouermanne seker moet maak dat persone oor wie hulle toesig hou ’n sterk verhouding met hom het. Hulle moet ook emosioneel sorg vir persone oor wie hulle toesig hou. En net soos ’n goeie gesinshoof, maak ouermanne seker dat hulle broers en susters in die gemeente help wat hulp nodig het (Jak. 2:15-17). En Jehovah verwag dat ouermanne en gesinshoofde ander moet help om sy wette te gehoorsaam. Hy waarsku hulle ook om nie “verder [te] gaan as die dinge wat geskryf is nie”. – 1 Kor. 4:6.

’n Broer hou gesinsaanbidding.

Gesinshoofde is deur Jehovah die gesag gegee om die leiding in hulle gesin te neem. ’n Liefdevolle gesinshoof sal eers met sy vrou praat voordat hy besluite maak (Sien paragraaf 13)

12-13. Volgens Romeine 7:2, hoe verskil die gesag wat gesinshoofde het van die gesag wat ouermanne het?

12 Maar die gesag wat ouermanne het verskil ook baie van die gesag wat gesinshoofde het. Byvoorbeeld, Jehovah het ouermanne as regters aangestel, en hy het hulle die verantwoordelikheid gegee om sondaars wat nie jammer is nie, uit die gemeente uit te sit. – 1 Kor. 5:11-13.

13 Maar Jehovah het gesinshoofde gesag gegee wat hy ouermanne nie gegee het nie. Byvoorbeeld, hy het gesinshoofde die gesag gegee om reëls vir sy gesin te maak en om seker te maak dat hulle hierdie reëls gehoorsaam. (Lees Romeine 7:2.) ’n Gesinshoof het byvoorbeeld die reg om te besluit hoe laat sy kinders saans by die huis moet wees. Hy het ook die reg om sy kinders te dissiplineer as hulle nie gehoorsaam is aan hierdie reël nie (Ef. 6:1). ’n Liefdevolle gesinshoof praat natuurlik eers met sy vrou voordat hy reëls vir die gesin maak, want die twee van hulle is “een vlees”. – Matt. 19:6.d

RESPEKTEER CHRISTUS AS HOOF VAN DIE GEMEENTE

Jesus sit op sy hemelse troon terwyl strale van Jehovah se heerlikheid op hom skyn.

Jesus, onder Jehovah se hoofskap, gee leiding aan die Christengemeente (Sien paragraaf 14)

14. (a) Wat sê Markus 10:45 wat wys dat Jesus die regte persoon is om hoof oor die gemeente te wees? (b) Wat is die verantwoordelikhede van die Bestuursliggaam? (Sien die venster “Wat is die verantwoordelikhede van die Bestuursliggaam?”)

14 Jehovah het deur middel van die losprys die lewens gekoop van elkeen in die gemeente en van enige een wat geloof in Jesus stel. (Lees Markus 10:45; Hand. 20:28; 1 Kor. 15:21, 22). So dit wys dat Jesus, wat sy lewe vir ons opgeoffer het, die regte een is om hoof oor die gemeente te wees. Dit is hoekom Jesus die reg het om reëls te maak oor wat elke persoon, elke gesin en die hele gemeente moet doen. En hy het die reg om seker te maak dat ons gehoorsaam is aan hierdie reëls (Gal. 6:2). Maar Jesus maak nie net reëls nie. Hy sorg vir ons en is lief vir elkeen van ons. – Ef. 5:29.

Wat is die verantwoordelikhede van die Bestuursliggaam?

Lede van die Bestuursliggaam hou ’n vergadering.

Die Bestuursliggaam is nie die meesters oor die geloof van hulle broers en susters nie (2 Kor. 1:24). Hulle erken dat Jesus Christus die hoof van die Christengemeente is, en hulle stem heelhartig saam met wat Jesus vir sy dissipels gesê het: “Julle almal is broers” (Matt. 23:8). Hulle is ook baie lief vir hulle broers en susters en doen hulle bes om vir hulle te gee wat hulle nodig het. Onder die hoofskap van Jesus, help die Bestuursliggaam om Jehovah se volk regoor die wêreld te organiseer. Hulle stel Takkomiteelede en kringopsieners aan (Ef. 4:7-13). En kringopsieners stel gemeentelike ouermanne aan (Hand. 14:23; Tit. 1:5). Die Bestuursliggaam neem ook hulle verantwoordelikheid ernstig op om vir hulle broers en susters opleiding uit God se Woord te gee wat hulle nodig het om na aan Jehovah te bly. Die Bestuursliggaam doen dit deur middel van briewe, gedrukte riglyne en publikasies, JW Broadcasting®-programme sowel as skole, vergaderinge en byeenkomste (Hand. 15:22-35). Die Bestuursliggaam is baie lief vir hulle broers en susters. So wanneer daar ’n natuurramp of ander ernstige situasie is, kontak hulle onmiddellik die tak wat na daardie gebied omsien om seker te maak dat die broers die hulp ontvang wat hulle nodig het.f

15-16. Wat leer jy uit wat Marley en Benjamin gesê het?

15 Susters wys dat hulle Christus respekteer wanneer hulle die leiding volg van die manne wat hy aangestel het. Baie susters stem saam met Marley, ’n suster wat in die Verenigde State bly. Sy sê: “Ek waardeer regtig my verantwoordelikhede as ’n getroude vrou en ’n suster in die gemeente. Ek moet die heeltyd hard daaraan werk om die gesag te respekteer wat Jehovah aan my man en die ouermanne gegee het. Maar my man en die broers in die gemeente het dit vir my makliker gemaak omdat hulle my respekteer en vir my sê dat hulle die werk waardeer wat ek doen.”

16 Broers wys dat hulle die hoofskapreëling verstaan deur susters te respekteer. Benjamin, ’n broer wat in Engeland bly, sê: “Ek het so baie by susters geleer uit die antwoorde wat hulle by die vergaderinge gee en hulle voorstelle oor hoe om te studeer en hoe om beter in die bediening te doen. Ek dink die werk wat hulle doen, is baie kosbaar.”

17. Hoekom moet ons die hoofskapreëling respekteer?

17 Wanneer almal in die gemeente – mans, vrouens, gesinshoofde en ouermanne – die hoofskapreëling verstaan en respekteer, is daar vrede in die gemeente. En nog belangriker, ons eer ons liefdevolle, hemelse Vader Jehovah. – Ps. 150:6.

HOE SAL JY ANTWOORD?

  • Hoe moet ons susters in die gemeente sien?

  • Is elke broer die hoof van elke suster? Verduidelik.

  • Hoe verskil die gesag wat gesinshoofde het van die gesag wat ouermanne het?

LIED 123 Lojaal onderdanig aan teokratiese orde

a Wat is die rol van susters in die gemeente? Is elke broer die hoof van elke suster? Het ouermanne en gesinshoofde dieselfde soort gesag? In hierdie artikel sal ons sien hoe die Bybel ons help om hierdie antwoorde te kry.

b Sien ook paragraaf 6 van die artikel “Ondersteun susters in jou gemeente”, in Die Wagtoring van September 2020.

c Sien die venster “Wanneer moet ’n suster ’n hoofbedekking dra?”

d Vir ’n bespreking oor wie moet besluit in watter gemeente ’n gesin sal dien, sien paragraaf 17-19 van die artikel “Respekteer die plek van ander in Jehovah se gemeente”, in Die Wagtoring van Augustus 2020.

e Vir meer inligting oor hierdie onderwerp, sien die boek “Hou julle in God se liefde”, bl. 209-212.

f Vir ’n verdere bespreking van die verantwoordelikhede van die Bestuursliggaam, sien Die Wagtoring van 15 Julie 2013, bl. 20-25.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel