Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • mrt artikel 32
  • Beskerm jouself teen valse inligting

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Beskerm jouself teen valse inligting
  • Nog onderwerpe
  • Soortgelyke materiaal
  • Kinders en sosiale media – Deel 1: Moet my kind sosiale media gebruik?
    Hulp vir die gesin
  • Hoe affekteer sosiale media my?
    Jongmense vra
  • Pasop vir valse inligting
    Ons Christelike lewe en bediening – Vergaderingwerkboek – 2023
  • Is sosiale media besig om jou kind skade aan te doen? – Hoe die Bybel ouers kan help
    Nog onderwerpe
Sien nog
Nog onderwerpe
mrt artikel 32
’n Man oorweeg allerhande bronne van inligting.

Beskerm jouself teen valse inligting

Daar was nog nooit soveel inligting beskikbaar soos vandag nie, en dit sluit inligting in wat jou veilig en gesond kan hou. Maar wanneer jy na inligting soek, moet jy versigtig wees vir valse inligting, soos:

  • Misleidende nuus

  • Valse berigte

  • Samesweringsteorieë

Byvoorbeeld, gedurende die COVID-19-pandemie het die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies gewaarsku teen ’n gevaarlike epidemie – valse inligting. “Daar is al hoe meer skadelike gesondheidsraad en bedrieglike mediese behandelings”, het hy gesê. “Jy hoor allerhande leuens op televisie en oor die radio. Wilde samesweringsteorieë, stories wat nie op feite gebaseer is nie, is oral op die Internet. Haat is aan die orde van die dag, en dit is algemeen om dinge oor mense en groepe te sê wat vol haat is en hulle naam deur die modder sleep.”

Valse inligting is natuurlik niks nuuts nie. Maar die Bybel het voorspel dat “goddelose mense en bedrieërs” in ons dag “al hoe slegter [sal] word, terwyl hulle ander mislei en self mislei word” (2 Timoteus 3:1, 13). En as gevolg van die Internet kan ons valse nuus nou al hoe makliker en vinniger kry – en onopsetlik versprei. En dit kan daartoe lei dat ons e-posse, sosiale media en kanale waardeur ons nuus kry, vol is van verdraaide feite en halwe waarhede.

Hoe kan jy jouself beskerm teen misleidende inligting en samesweringsteorieë? Kom ons kyk na ’n paar Bybelbeginsels wat kan help.

  • ’n Man dink oor dinge wat hy gesien en gehoor het.

    Moenie alles glo wat jy sien of hoor nie

    Wat die Bybel sê: “Iemand wat onervare is, glo elke woord, maar die verstandige persoon dink mooi voordat hy iets doen.” – Spreuke 14:15.

    Ons kan maklik mislei word as ons nie versigtig is nie. Dink byvoorbeeld aan prente met byskrifte of kort video’s wat oral aanlyn versprei word, veral deur sosiale media. Sulke items, wat gewoonlik memes genoem word, is dikwels veronderstel om grappig te wees. Maar prente en videogrepe kan maklik verander word of uit konteks geneem word. Mense kan selfs video’s maak van regte mense wat dinge doen of sê wat hulle nooit gedoen of gesê het nie.

    “Die meeste valse inligting wat navorsers op sosiale platforms teëkom, bevat media wat die konteks verdraai, soos ‘memes’.” – Axios Media.

    Vra jou af: ‘Is dit nuus wat op feite gebaseer is of is dit net ’n meme?’

  • ’n Vergrootglas.

    Kyk waar dit vandaan kom en wat die inhoud daarvan is

    Wat die Bybel sê: “Maak seker van alles.” – 1 Tessalonisense 5:21.

    Voordat jy ’n storie glo of aanstuur, selfs ’n storie wat gewild is of herhaaldelik in die nuus is, moet jy seker maak dat dit waar is. Hoe?

    Stel vas hoe betroubaar die bron is. Nuusmedia-maatskappye en ander organisasies kan ’n storie aanpas om by hulle kommersiële of politieke standpunt te pas. Vergelyk dit wat jy in een nuusbron sien met ander bronne. Partykeer kan vriende onopsetlik valse inligting aanstuur deur e-posse of deur sosiale media. Daarom moet jy nie ’n nuus-item vertrou tensy jy kan uitvind waar dit vandaan kom nie.

    Maak seker dat die inhoud nuut en akkuraat is. Soek na datums, feite wat bevestig kan word en sterk bewyse wat die inhoud ondersteun. Wees veral versigtig as dit lyk asof ingewikkelde inligting op ’n baie eenvoudige manier verduidelik word of as die berig so geskryf is dat dit ’n emosionele reaksie uitlok.

    “Om nóú seker te maak van jou feite, gaan binnekort dalk net so belangrik wees soos om jou hande te was.” – Sridhar Dharmapuri, ’n senior amptenaar vir voedselveiligheid en voeding vir die VN.

    Vra jou af: ‘Maak hierdie nuusberig dit moeilik om die verskil te sien tussen feite en opinies of stel dit net die een kant van die saak?’

  • ’n Afmerklysie.

    Laat jou lei deur feite, en nie deur persoonlike voorkeure nie

    Wat die Bybel sê: “Die een wat op sy eie hart vertrou, is dwaas.” – Spreuke 28:26.

    Ons is geneig om inligting te vertrou wat dinge bevestig wat ons graag wil glo. En Internet-maatskappye kan sien waarin ons belangstel en waarna ons op die Internet soek en pas dikwels ons kennisgewings op ons kanale vir nuus- en sosiale media daarvolgens aan. Maar dit wat ons graag wíl hoor, is nie altyd dit wat ons móét hoor nie.

    “Hoewel mense die vermoë het om hulle verstand en hulle logika te gebruik, speel ons wense, hoop, vrese en motiewe dikwels ’n groter rol, en dit maak dat ons meer geneig is om iets te glo wanneer dit verband hou met iets wat ons wil glo.” – Peter Ditto, sosiale sielkundige.

    Vra jou af: ‘Vertrou ek hierdie inligting net omdat dit iets is wat ek wil glo?’

  • Valse inligting word in ’n asblik gegooi.

    Moenie valse inligting verder versprei nie

    Wat die Bybel sê: “Jy mag nie ’n valse gerug versprei nie.” – Eksodus 23:1.

    Onthou, die inligting wat jy met ander deel, kan ’n uitwerking hê op wat hulle dink en doen. Selfs al gee ons nie aspris vir iemand die verkeerde inligting nie, kan dit baie slegte gevolge hê.

    “Die belangrikste reël is om nie oorhaastig te wees nie en te stop en jou af te vra: ‘Is ek seker genoeg hiervan dat ek dit met ander behoort te deel?’ As almal dit gedoen het, sou daar baie minder valse inligting aanlyn gewees het.” – Peter Adams, ’n senior visepresident van die News Literacy Project.

    Vra jou af: ‘Deel ek hierdie inligting omdat ek weet dat dit waar is?’

Die waarheid oor samesweringsteorieë

“Samesweringsteorieë speel nou moontlik ’n groter rol in wat mense dink en doen as ooit tevore”, sê Shauna Bowes, ’n navorsingsielkundige. Kyk wat jy moet weet oor samesweringsteorieë.

Wat is ’n samesweringsteorie? ’n Samesweringsteorie is ’n bewering dat bose en magtige groepe in die geheim saamgesweer het om ’n belangrike of tragiese gebeurtenis te veroorsaak.

Hoekom is hulle gevaarlik? Samesweringsteorieë kan maak dat mense hulle vertroue verloor in betroubare bronne van inligting, en party daarvan kan veroorsaak dat mense raad oor gesondheid en veiligheid ignoreer. Sulke teorieë kan lei tot diskriminasie en geweld teen die groep wat skynbaar by die sameswering betrokke is.

Hoekom is dit so gewild? Samesweringsteorieë raak veral gewild gedurende “tydperke wanneer mense oral baie bang en onseker is en deur moeilike tye gaan”, sê die Encyclopaedia Britannica, soos “wanneer daar oorlog en ekonomiese depressie is of ná natuurrampe, soos tsoenami’s, aardbewings en pandemies.” In sulke moeilike tye glo mense sulke teorieë omdat dit bevestig wat hulle glo of hulle help om te verstaan hoekom slegte dinge gebeur.

Hoe kan die Bybel jou help om jou teen samesweringsteorieë te beskerm? Die Bybel gee vir ons praktiese raad wat ons kan help om ons nie so baie te bekommer gedurende stresvolle tye nie. Die Bybel wys wat die eintlike oorsaak van vandag se probleme is en ook hoe dit opgelos sal word. Om meer uit te vind, kyk na die video Waarom moet jy die Bybel studeer?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel