Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w99 8/15 bl. 30-31
  • Vrae van lesers

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vrae van lesers
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Soortgelyke materiaal
  • Insig in die nuus
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Die huwelik—’n gawe van ’n liefdevolle God
    ‘Hou julle in God se liefde’
  • Berei vir ’n suksesvolle huwelik voor
    Die geheim van gesinsgeluk
  • Die huwelik – ’n Gawe van God
    Hoe om in God se liefde te bly
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
w99 8/15 bl. 30-31

Vrae van lesers

Hoe ernstig moet Christene ’n verlowing beskou?

’n Verlowing is ’n rede tot blydskap, maar dit is ook ’n ernstige saak. Geen ryp Christen moet ’n verlowing ligtelik opneem en meen dat hy dit sommer te eniger tyd sonder goeie rede kan verbreek nie. Die verlowingstyd is ook ’n tyd wanneer die paartjie mekaar beter kan leer ken voordat hulle trou.

Terwyl hierdie onderwerp bespreek word, moet ons in ag neem dat sosiale gebruike met betrekking tot die huwelik, asook die stappe wat daartoe lei, grootliks verskil van plek tot plek en van tyd tot tyd. Die Bybel gee voorbeelde hiervan.

Lot se twee dogters, wat “geen man beken het nie”, was op die een of ander manier verloof aan twee mans van daardie stad. Lot se ‘skoonseuns sou met sy dogters trou’, maar die Bybel sê nie vir ons waarom of hoe hulle verloof geraak het nie. Was die dogters volwassenes? Het hulle die grootste seggenskap in die keuse van ’n huweliksmaat gehad? Het hulle in die openbaar verloof geraak? Ons weet nie (Genesis 19:8-14). Ons weet wel dat Jakob sy eie ooreenkoms met Ragel se vader aangegaan het om met Ragel te trou nadat hy sewe jaar vir hom gewerk het. Hoewel Jakob van Ragel as “my vrou” gepraat het, het hulle in al daardie jare geen geslagsomgang gehad nie (Genesis 29:18-21). Nog ’n voorbeeld is dié van Dawid wat eers ’n oorwinning oor die Filistyne moes behaal voordat hy met Saul se dogter kon trou. Nadat Dawid aan Saul se eis voldoen het, kon hy met die dogter Migal trou (1 Samuel 18:20-28). Daardie “verlowings” het van mekaar verskil en is ook anders as wat vandag in baie lande algemeen is.

Die Mosaïese Wet het voorskrifte oor die huwelik en verlowings gehad. ’n Man kon byvoorbeeld meer as een vrou hê; hy kon ’n egskeiding op verskeie gronde verkry, hoewel ’n vrou dit klaarblyklik nie kon doen nie (Exodus 22:16, 17; Deuteronomium 24:1-4). ’n Man wat ’n maagd verlei het wat nie verloof was nie, moes met haar trou as haar vader ingestem het, en hy kon nooit van haar skei nie (Deuteronomium 22:28, 29). Ander wette was op die huwelik van toepassing, soos wanneer geslagsomgang vermy moes word (Levitikus 12:2, 5; 15:24; 18:19). Watter voorskrifte was op verlowings van toepassing?

’n Verloofde Israelitiese vrou het volgens die wet ’n ander status gehad as ’n vrou wat nie verloof was nie; sy is in sekere opsigte as getroud beskou (Deuteronomium 22:23-29; Matteus 1:18, 19). Israeliete kon nie aan sekere familielede verloof raak of met hulle trou nie. Hulle was gewoonlik bloedverwante, maar party verlowings en huwelike is weens erfregte verbied. (Levitikus 18:6-20; sien Die Wagtoring van 15 Junie 1978, bladsye 19-22.) Dit is duidelik dat knegte van God ’n verlowing nie ligtelik moes opneem nie.

Israeliete moes al hierdie voorskrifte van die Wet onderhou, maar Christene is nie onder daardie Wet met sy voorskrifte oor verlowings of die huwelik nie (Romeine 7:4, 6; Efesiërs 2:15; Hebreërs 8:6, 13). Trouens, Jesus het geleer dat die Christenstandaard in verband met die huwelik verskil het van die Wet s’n (Matteus 19:3-9). Nogtans het hy nie afbreuk gedoen aan die erns van die huwelik of van ’n verlowing nie. Wat dus van die onderwerp onder bespreking, naamlik verlowings onder Christene?

In baie lande kies mense hulle eie huweliksmaat. Wanneer ’n man en vrou belowe om met mekaar te trou, word hulle as verloof beskou. Gewoonlik is geen ander formele stap nodig om die verlowing te bevestig nie. Op party plekke is dit wel algemeen vir ’n man om vir sy toekomstige vrou ’n ring te gee as bewys dat hulle verloof is. Of dit is gebruiklik om die verlowing vir familielede en vriende aan te kondig, soos by ’n familie-ete of ’n ander klein samekoms. Dit is persoonlike keuses, nie skriftuurlike vereistes nie. Die verlowing is in werklikheid die ooreenkoms tussen die twee.a

’n Christen moet hom nie oorhaastig in ’n hofmakery, verlowing of die huwelik begewe nie. Ons publiseer Bybelse materiaal wat ongetroudes kan help om te besluit of dit verstandig is om iemand die hof te begin maak of om verloof te raak of te trou.b ’n Belangrike element van die raad is dat ’n Christenhuwelik permanent is.—Genesis 2:24; Markus 10:6-9.

Twee Christene behoort mekaar redelik goed te ken voordat hulle daaraan begin dink om verloof te raak. Elkeen kan vra: ‘Is ek werklik seker van die ander een se geestelikheid en toegewydheid aan God? Kan ek my voorstel dat ek God ’n leeftyd saam met hierdie persoon gaan dien? Is ons genoeg aan mekaar se karaktertrekke blootgestel? Is ek seker dat ons altyd goed bymekaar sal pas? Weet ons genoeg omtrent mekaar se verlede asook huidige omstandighede?

Wanneer twee Christene verloof is, het hulle en ander die volste reg om te verwag dat hulle gaan trou. Jesus het gemaan: “Laat julle woord Ja eenvoudig Ja beteken, julle Nee, Nee” (Matteus 5:37). Christene wat verloof raak, moet dit bedoel. Maar in ’n seldsame geval vind ’n verloofde Christen dalk uit dat iets ernstigs voor die verlowing nie genoem is nie of weggesteek is. Dit is dalk ’n belangrike feit omtrent die ander een se verlede, selfs kriminele of onsedelike dade. Die Christen wat dit uitvind, moet besluit wat hy gaan doen. Die twee sal die saak dalk deeglik bespreek en besluit om verloof te bly. Of hulle sal moontlik ooreenkom om die verlowing te verbreek. Hoewel so ’n besluit ’n persoonlike saak is—nie iets waarin ander hulle moet inmeng, waaroor hulle moet bespiegel of wat hulle moet veroordeel nie—is dit ’n baie gewigtige besluit. Aan die ander kant sal die een wat van die ernstige kwessie uitvind dalk voel dat hy die verlowing moet verbreek, al wil die ander persoon dit voortsit.—Sien “Vrae van lesers” in Die Wagtoring van 15 September 1975.

Daar bestaan goeie rede waarom sulke kwessies opgelos moet word voordat hulle die huwelik betree. Jesus het gesê dat por·neiʹa, growwe geslagsonsedelikheid deur die ander huweliksmaat, die enigste skriftuurlike grondslag vir egskeiding is wat ’n mens vrystel om weer te trou (Matteus 5:32; 19:9). Hy het nie gesê dat ’n wettige huwelik deur ’n egskeiding beëindig kan word as ’n mens uitvind dat daar ’n ernstige probleem of oortreding voor die troue was nie.

In Jesus se dag was daar byvoorbeeld beslis die moontlikheid om melaatsheid op te doen. Sou ’n Joodse man wat uitgevind het dat sy huweliksmaat (wetend of onwetend) melaats was toe sy met hom getrou het ’n grondslag vir egskeiding hê? ’n Jood onder die Wet kon om dié rede skei, maar Jesus het nie gesê dat dit vir sy volgelinge gepas was nie. Kyk byvoorbeeld na ’n paar hedendaagse situasies. ’n Man wat met sifilis, genitale herpes, HIV of ’n ander ernstige, oordraagbare siekte besmet is, trou miskien sonder om daardie feit bekend te maak. Dalk het hy voor of gedurende die verlowing deur geslagsonsedelikheid besmet geraak. Wanneer die vrou later van sy siekte of vorige onsedelikheid (selfs van onvrugbaarheid of impotensie) te wete kom, verander dit nie die feit dat hulle nou getroud is nie. ’n Slegte verlede voor die troue is nie ’n skriftuurlike grondslag om die huwelik te beëindig nie, net soos dit ook nie sou wees as sy voor die troue die een of ander siekte opgedoen het of selfs as sy verswyg het dat sy ’n ander man se baba verwag nie. Hulle is nou getroud en het hulle tot mekaar verbind.

Sulke droewige situasies is weliswaar seldsaam, maar hierdie voorbeelde moet die basiese punt net meer beklemtoon: ’n Verlowing is nie iets wat ligtelik opgeneem moet word nie. Voor en gedurende die verlowing moet Christene probeer om mekaar goed te leer ken. Hulle moet eerlik wees oor wat die ander een wil weet of ’n reg het om te weet. (In party lande word daar volgens wet vereis dat paartjies ’n mediese ondersoek moet ondergaan voordat hulle trou. Ander sal dalk vir hulle eie inligting so ’n ondersoek laat doen.) Die vreugde en erns van ’n verlowing sal dus aan ’n eerbare doel beantwoord terwyl die twee die selfs vreugdevoller en ernstiger verbintenis van die huwelik nader.—Spreuke 5:18, 19; Efesiërs 5:33.

[Voetnote]

a In party gemeenskappe reël ouers nog die verlowing tussen hulle kinders. Dit word moontlik gedoen ’n hele ruk voordat die twee kan trou. Intussen word hulle as verloof, of aan mekaar beloof, beskou, maar hulle is nog nie getroud nie.

b Sien Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, hoofstukke 28-32, en Die geheim van gesinsgeluk, hoofstuk 2, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel