Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g95 1/22 bl. 11-15
  • Joshua se geloof—’n oorwinning vir kinderregte

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Joshua se geloof—’n oorwinning vir kinderregte
  • Ontwaak!—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Onverskrokke dokter
  • Joshua het die lewe liefgehad en het harte geroer
  • Vertroulike gesprekke
  • Ondersteuning van die gemeenskap
  • Twee beangste harte vind vrede
  • Die regsvertakkings
  • Laat Josua jou help om Jehovah moedig te dien!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Josua 1:9 – “Wees moedig en sterk”
    Verduidelikings van Bybelverse
  • Wat Josua onthou het
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Hy wil hê dat ons suksesvol moet wees
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
Sien nog
Ontwaak!—1995
g95 1/22 bl. 11-15

Joshua se geloof—’n oorwinning vir kinderregte

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN KANADA

“DIT was die eerste keer dat die regsbeginsel ten opsigte van volwasse minderjariges op appèlhofvlak ter sprake gekom het. En sommige sê dat die uitspraak nie net duidelike riglyne vir dokters en hospitale in New Brunswick uiteensit nie, maar moontlik ook elders in Kanada.”—Canadian Medical Association Journal.

Die bogenoemde tydskrif verwys na ’n saak waar New Brunswick se Mediese Toestemmingswet vir Minderjariges ter sprake was en wat sê dat, as twee dokters ’n minderjarige onder 16 as volwasse verklaar en hy sy siekte en die voorgeskrewe behandeling verstaan, hy die reg het om, soos enige volwassene, mediese behandeling te aanvaar of te weier. Aangaande die 15-jarige Joshua Walker, wat akute miëlogene leukemie gehad het, het hoofregter W. L. Hoyt van die New Brunswick se Appèlhof die volgende geskryf: “Hier is oorweldigende bewys dat Joshua volwasse genoeg is en dat die voorgeskrewe behandeling, onder die omstandighede, in sy belang en tot sy verdere gesondheid en welsyn is. . . . Na my mening was die aansoek [om as ’n volwasse minderjarige verklaar te word] onnodig.” Hoofregter Hoyt het in sy beslissing ook gesê dat die Kanadese gemene reg “die regsbeginsel van ’n volwasse minderjarige erken”.

Een van Joshua se advokate, Daniel Pole, het gesê dat die geskrewe beslissing van die Appèlhof “’n toonaangewende uitspraak regoor Kanada gaan wees”. Aangesien dit ’n buitengewone geval was, het die hof met vyf regters in plaas van die gewone drie gesit. “In epogmakende situasies”, het Daniel Pole gesê, “sit die hof gewoonlik met ’n voltallige regsbank. Dit kan wees dat hulle dit as ’n belangrike beslissing vir Kanada beskou.” Hy het te kenne gegee dat die beslissing ’n presedent skep wat die weg baan vir volwasse minderjariges om namens hulleself op te tree en dat “daar geen rede is dat dit weer in die hof ter sprake moet kom nie. Dit het baie vir ander jong persone tot stand gebring.” Daniel Pole het die verreikende waarde van hierdie hofoorwinning verder beklemtoon deur te sê: “Dit is ’n geweldige regverdiging vir die regte van kinders of jongmense wat in staat is om te besluit wat hulle ten opsigte van hulle liggaam sal toelaat.”

Onder die opskrif “’n ‘Minderjarige’ oorwinning” het ’n hoofartikel in die Telegraph Journal gesê: “Die Appèlhof van New Brunswick se beslissing dat die 15-jarige Joshua Walker die reg het om tot mediese behandeling in te stem of om dit te weier, is ’n oorwinning nie net vir Jehovah se Getuies nie, maar vir ons almal. . . . Die besluite wat ’n individu neem, kan soms vir die gemeenskap te moeilik lyk om te aanvaar, veral as die lewe of dood van ’n jongmens op die spel is. Maar wat selfs moeiliker sou wees om te aanvaar, is ’n gemeenskap wat die liggaam en siel van sy burgers voortdurend skend. Joshua Walker het sy deel bygedra om ons daarteen te beskerm.”

’n Onverskrokke dokter

Joshua is van die begin van sy siekte af deur dr. Mary Frances Scully, ’n spesialis in hematologie en pediatriese onkologie, gediagnoseer en behandel. Haar werk sluit die diagnose en behandeling van kanker onder kinders in.

Die gewone behandeling vir Joshua se tipe leukemie is chemoterapie en bloedoortappings. Joshua se gesin is Jehovah se Getuies en om skriftuurlike redes weier hulle bloedoortappings. Die Goddelike raadsbesluit aan Christene is: “Onthou [julle] van afgodsoffers en van bloed en van wat verwurg is en van hoerery” (Handelinge 15:20, 29). Joshua het van die begin af ’n vasbeslote standpunt ingeneem om getrou te bly aan Jehovah se wet om ‘hom van bloed te onthou’.

Dr. Scully het op die hospitaalkaart geskryf dat Joshua “heeltemal vasbeslote” hieroor is. Dr. Dolan, hoof van die hospitaal se onkologieafdeling vir volwassenes, het persoonlik met Joshua gepraat. Hy en dr. Scully het albei tot die gevolgtrekking gekom dat Joshua ’n volwasse minderjarige was. Die Walkers se huisdokter, dr. Lordon, het Joshua ook as ’n volwasse minderjarige beskou. Met drie dokters, en nie net die vereiste twee nie, wat Joshua as ’n volwasse minderjarige verklaar het, was hy onder die Mediese Toestemmingswet vir Minderjariges geheel en al bekwaam om sy eie behandeling te kies. Geen regsgeding behoort nodig te gewees het nie.

Die situasie het ongelukkig nie so gebly nie. Die hospitaal, wat Joshua reeds as ’n volwasse minderjarige beskou het, wou dit deur ’n regterlike beslissing laat staaf om hulleself te beskerm. Die uitslag van ’n lang en veeleisende hofondersoek was dat die regter beslis het dat Joshua nie die reg het om behandeling te weier nie. Daar is onmiddellik appèl teen hierdie beslissing aangeteken met die uitslag soos ons in die eerste paragraaf gemeld het.

Deur Joshua se beproewing heen het dr. Scully by haar weiering gebly om Joshua onder geen omstandighede bloed toe te dien tensy hy van plan verander en daartoe instem nie. Die Canadian Medical Association Journal het oor haar standpunt geskryf en haar as volg aangehaal: “My grootste bekommernis was dat Joshua of sy gesin so ontsteld sou wees dat hulle net sou weggaan sonder enige alternatief.” Die artikel sê verder: “Ander dokters het later vir haar gesê dat hulle beslis sou geweier het om [Joshua] te behandel. Maar daardie gedagte het nog nooit by haar opgekom nie.” Haar redelike en eerbare standpunt was vir Joshua en sy gesin baie bemoedigend.

Joshua het die lewe liefgehad en het harte geroer

Joshua Walker het die lewe liefgehad; hy wou nie sterf nie. Sy familie wou nie hê hy moes sterf nie. In baie lande het Jehovah se Getuies, sy geestelike broers, gehoop dat hy sou herstel en sou leef. Joshua was gewillig om sy situasie te aanvaar; sy geloof in God het hom daarvan oortuig dat hy in die opstanding sal terugkeer. Hy het onderskraging in Jesus se woorde gevind: “Daar kom ’n uur wanneer almal wat in die grafte is, [die] stem [van die Seun van God] sal hoor en sal uitgaan.”—Johannes 5:25, 28, 29.

Ondersteuning het uit baie oorde gekom. Die Evening Times Globe het gesê: “Albei sy ouers het gister beklemtoon dat hulle Joshua nie in die steek laat nie. Hulle het hom na die Streekshospitaal gebring om die beste mediese behandeling moontlik te kry, sonder bloed. ‘Ons sou hom by die huis gelos het as ons wou hê hy moes sterf’, het die vader geredeneer. ‘Ons wil nie hê Josh moet sterf nie. Ons doen enigiets moontlik op mediese gebied om hom aan die lewe te hou. En dit is wat enigeen vir enige van hulle geliefdes sou doen. Ons is nie hier om te kyk hoe hy sterf nie. Ons is hier om hom beter te laat word sodat hy hier kan uitloop en kan teruggaan na sy treine, na die Koninkryksaal, na sy vergaderinge en sy bediening, en miskien na ’n bietjie basketbal.’”

Sy gesin het hom beslis in alle opsigte ondersteun. ’n Koerant het die volgende gesê: “Terwyl een van hulle ’n beurt gekry het om Joshua geselskap te hou, het die ander gesinslede in ’n nabygeleë wagkamertjie vergader, party van hulle steeds in oorjasse en met losgemaakte maskers wat om hulle nekke gehang het. Dit is dieselfde toneel wat hom sedert 31 Maart daar ontvou het toe Joshua vir die eerste keer na [die] hospitaal gekom het. Oor ’n tydperk van drie weke was Joshua nie vir ’n oomblik alleen sonder ’n gemaskerde gesinslid in sy hospitaalkamer nie. . . . Albei ouers het dikwels by Joshua oornag, terwyl hulle in ’n bed langsaan hulle jongste seun geslaap het. [Die ma het gesê:] ‘Ons is hier nodig, en ek sal enigiets vir Josh doen, vir enige van my kinders.’ ‘Ek sal in die parkeerterrein sit as ek moet’, het die pa gesê.”

Vertroulike gesprekke

Saans wanneer sy ma of pa by hom was, was daar geleenthede vir intieme gesprekke. Een nag het hy gesê: “Ma, skryf asseblief die volgende neer: Al julle jongmense, nader asseblief tot Jehovah sodat, as enigiets ooit met julle sou gebeur, julle julle onkreukbaarheid aan hom sal behou. Wanneer ek beter is, beloof ek dat ek meer sal doen om Jehovah se naam bekend te maak. Julle jongmense wat goeie gesondheid geniet, moet meer doen as julle kan.”

Een nag toe Josh in die hospitaal was, het hy gesê: “Ma, baie keer wanneer Ma badkamer toe gaan of wanneer Ma vir Pa gaan roep, kom die dokters in en dan sê hulle: ‘Josh, jy het ’n bloedoortapping nodig. Daarsonder sal jy sterf. Ons wil jou help.’ ‘Dan moet julle asseblief my wense oor bloed respekteer’, antwoord ek hulle dan. Ek het vir een dokter wat my wou ompraat om bloed te neem, gesê: ‘Julle dink miskien ek is mal, maar ek is by my volle positiewe. Ek wil net volgens Jehovah se wet oor bloed lewe. Hy weet wat die beste vir ons is. Dit is vir my eie beswil om eerbied vir die heiligheid van lewe te hê, en as ek sterf, sal ek weer leef.’”

Een dokter, die hoof van pediatrie, dr. Garry, het vir Josh se ouers gesê: “Wees trots op Josh. Hy het geloof wat ek nog nooit vantevore in my lewe gesien het nie.” Hy het hulle albei omhels en vir hulle gesê: “Julle is ’n moedige gesin.”

Een aand, nadat die gesin slegte nuus oor Josh se toestand ontvang het, was sy broer Jeff en sy suster Janice by hom in die hospitaal. Jeff het gehuil, en Josh het vir hom gesê: “Jeffrey, moenie huil nie. Wat ook al gebeur, ek is ’n oorwinnaar. Moenie oor my bekommerd wees nie.” Daarmee het hy bedoel dat, as hy van sy siekte herstel het, hy ’n oorwinnaar was; as hy nie herstel het nie en gesterf het en in die Paradysaarde opgewek word, dan was hy ongetwyfeld ’n oorwinnaar!

Toe ’n beenmurgoorplanting ter sprake gekom het, was sy broer Jerry die eerste om sy beenmurg aan te bied. Voorheen het Josh se broers John en Joe hom altyd naggesoen. Toe hy 13 geword het, het hy sy ma gekry om vir hulle te sê dat hy te oud daarvoor was. Maar toe hulle tydens sy siekte, hoewel hy al 15 was, weer daarmee begin het en hom omhels en saam met hom gebid het, het Josh vir sy ma gesê dat dit nou in die haak was—dit het getoon dat hulle hom nog liefhet.

Ondersteuning van die gemeenskap

Jerry en Sandra, Joshua se ouers, sê dat die ondersteuning van die gemeenskap oorweldigend was en uit alle oorde gekom het. In Mei 1994 het ’n koerant gesê: “Joshua ontvang gemiddeld 20 kaartjies per dag. Hulle kom selfs van plekke so ver as Roemenië en Mexiko. Hy ontvang ook telefoonoproepe en fakse van plekke so ver as Alberta en Washington. Daarbenewens is daar talle vrugtemandjies [en] tientalle blommerangskikkings aan hom gestuur. . . . Toe sy toestand . . . verbeter het, het die verpleegsters ’n Hawaise fees ter ere van hom gereël. Hulle het grasrompe uit vullissakke gemaak en die hoeladans in sy kamer uitgevoer. ‘Hy het so geskater van die lag dat ek gedink het hy gaan huil’, het Sandra gesê.’”

Josh se pa, Jerry, het nog detail bygevoeg: “Ons kon nie al die kinderbesoekers van die skool in die hospitaalkamer laat inkom nie. Toe het die skoolhoof gekom en verslae oor Josh gekry. Die leerlinge het vir Josh ’n legkaart met 1 000 stukke van ’n spoorwegtoneel gestuur—Josh is versot op treine. Die polisie wou ’n fondsdans reël om met sekere kostes te help, maar ons het nie daartoe ingestem nie. Die sosialestudieklas by die skool het menseregte bespreek en elkeen in daardie klas het vir Josh geskryf om hulle daaroor toe te spreek en sy gevoelens aan hulle te verduidelik.”

Gedurende al hierdie tyd het die koerante uitvoerig hieroor berig—berigte met foto’s op die voorblad van verskeie dagblaaie. Skoolhoofde het bulletins oor Joshua se gesondheid oorgedra. Hy het uitnodigings ontvang om besprekings te hou wanneer hy herstel het, en skole het besprekings oor die besonderhede van die saak gehou.

“Het julle ’n groot verandering in Joshua opgemerk toe hierdie siekte hom getref en sy lewe bedreig het?” het Ontwaak! gevra. Josh se pa, Jerry, het geantwoord: “Daar was ’n geweldige verandering in hom, en feitlik oornag. Josh was vroeër ’n onbesorgde jong seun wat soms raad nodig gehad het wat 15-jariges gewoonlik nodig het. Ek het al met ontsag na hom gesit en kyk. Dit is byna asof hy oornag grootgeword het. Een aand wou sy advokaat met hom praat, en Joshua het my gevra om uit te gaan. Een oomblik was hy die klas se grapmaker; die volgende oomblik was hy volwasse en het hy met advokate en regters gepraat. ’n Krisis kan dinge uit die diepte van die hart te voorskyn bring wat ’n mens nooit kon raai daar is nie.”

Dr. Scully het ’n pragtige huldeblyk aan Joshua gebring. Sy het vir sy ma gesê: “Van al die pasiënte wat ek tot nog toe behandel het, is hy die vriendelikste, bedagsaamste, beleefdste en simpatiekste mens wat ek nog ontmoet het. Hy is baie moedig en ’n jong man wat ons nooit sal vergeet nie. Hy is ’n baie liefdevolle mens. Julle kan trots op hom wees, mev. Walker.”

Binne ’n paar weke het die leukemie verander. Die kort periodes van remissie was verby; die kanker was terug. Dr. Scully het vir die gesin gesê dat Josh moontlik nie baie langer sal leef nie—miskien weke, dalk ’n paar maande. Die volgende aand, in die teenwoordigheid van Joshua se ouers, het dr. Scully vir Joshua gesê dat die kanker terug was en dat dit moontlik teen daardie tyd ook in die maag was. Joshua het gesê: “O nee, dis nie terug nie—is dokter seker?” Dr. Scully het gesê: “Josh, die uitslag van jou bloedtoets lyk nie te goed nie.” Kort daarna het Jerry die kamer verlaat, en toe dr. Scully.

Twee beangste harte vind vrede

Josh se ma het die toneel beskryf: “Daar was stilte. Ek het ’n stoel nader aan sy bed getrek en sy hand geneem. Ek het hom gevra of hy bekommerd of terneergedruk was oor wat die dokter gesê het. Hy het geantwoord: ‘Ek het nog nie daaraan gedink om te sterf en so gou weg te gaan nie. Maar, Ma, moenie bekommerd wees nie. Ek is nie bang om dood te gaan nie, nog minder is ek bang vir die dood. Sal Ma by my wees wanneer ek sterf? Ek wil nie alleen sterf nie.’ Ek het begin huil en hom omhels. Hy het ook gehuil en gesê: ‘Ma, ek is in Jehovah se hande.’ Toe: ‘Ek wil hê julle moet almal in die waarheid bly sodat julle my in die opstanding kan terugverwelkom. Ek kan Ma met alle sekerheid sê: Ek weet dat Jehovah my beslis in die opstanding gaan terugbring. Hy het my hart gelees en ek het hom waarlik lief.’

“Ek het weer begin huil. Ek het vir hom gesê hoe lief ons hom het en hoe trots ons op hom was vir die 16 jaar wat ons hom hier gehad het—en bowenal hoe Jehovah met goedkeuring op hom neergekyk het. Hy het gesê: ‘Ma, ek weet.’ Ek het vir hom gesê: ‘Josh, hoe ek dit ook al haat om jou te laat gaan, sal dit selfsugtig van ons wees om te wil hê dat jy moet bly.’ Hy het gesê: ‘Ma, ek weet, en glo my ek is halfmoeg daarvan om terug te baklei.’”

Die regsvertakkings

Daniel Pole, een van Joshua se advokate, saam met ander prokureurs, het aandag geskenk aan die geskille wat deur die saak van Joshua Walker geopper is. Wat is ’n volwasse minderjarige onder die Mediese Toestemmingswet vir Minderjariges? Sluit die instemming tot behandeling die reg in om dit te weier? Is die argument van parens patriae, waarin die regering vir iemand optree wat nie bevoeg is om vir homself op te tree nie, hier van toepassing? Het die individu die wetlike reg om te bepaal wat met sy eie liggaam gedoen kan word? Is sy liggaamlike integriteit onskendbaar? En wat van die Kanadese gemene reg? Is dit in hierdie geval van toepassing? Ten slotte, was dit hoegenaamd nodig vir Joshua Walker se saak om in die hof ter sprake te kom?

Is hierdie geskille deur die geskrewe beslissing van die Appèlhof geskik? Ja, dit is. Met die afsluiting van die verhoor het die hof van vyf regters verdaag en daarna na die hofsaal teruggekeer en die eenstemmige beslissing van die regters mondelings soos volg gegee:

“Die appèl is toegestaan. Die beslissing van J. Turnbull [die laerhofregter] is nietig verklaar. Joshua Walker is onder die bepalings van die Mediese Toestemmingswet vir Minderjariges as ’n volwasse minderjarige verklaar en sy ouers se toestemming ten opsigte van sy behandeling word nie vereis nie. Die kwessie van koste sal in ons geskrewe uitspraak gedek word.”

Is die Kanadese gemene reg op hierdie saak van toepassing? Ja. Die gedrukte verslag van die verhoor sê: “In Kanada erken die gemene reg die regsbeginsel van ’n volwasse minderjarige, naamlik, een wat in staat is om die aard en gevolge van die voorgeskrewe behandeling te verstaan. . . . New Brunswick het die gemene reg in die mate gekodifiseer soos dit in die Mediese Toestemmingswet vir Minderjariges uitgedruk is.”

Ten slotte, was dit nodig dat Joshua se saak in die hof ter sprake gekom het om hom wetlik in staat te stel om bloedoortappings te weier? Nee. “Solank daar aan die bepalings van die Wet voldoen word, is dit onnodig om so ’n aansoek te doen.”

Hoofregter W. L. Hoyt het afgesluit: “Die aansoek was met goeie bedoelings en met groot omsigtigheid gedoen. Die gevolg van die aansoek was nietemin om Joshua en sy gesin by ’n ongevraagde regsgeding te betrek. Om daardie rede is hulle na my mening op kostedekking van die Hospitaal geregtig.”

Joshua is op 4 Oktober 1994 oorlede.

[Lokteks op bladsy 12]

‘Die uitspraak sit duidelike riglyne vir dokters en hospitale uiteen.’—Canadian Medical Association Journal

[Lokteks op bladsy 13]

“’n Oorwinning nie net vir Jehovah se Getuies nie, maar vir ons almal.”—Telegraph Journal

[Lokteks op bladsy 14]

“Ek wil net volgens Jehovah se wet oor bloed lewe.”—Joshua Walker

[Lokteks op bladsy 15]

“Hy het geloof wat ek nog nooit vantevore in my lewe gesien het nie.”—Dr. Garry

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel