Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • Die wedergeboorte—Die weg na redding?
    Die Wagtoring — 2009 | April 1
    • Die wedergeboorte—Die weg na redding?

      HOE sou jy antwoord op die vraag: “Is jy weer gebore?” Miljoene gelowiges oor die hele wêreld sal met ’n besliste “Ja!” antwoord. Hulle glo dat om wedergebore te wees, ’n kenmerk van alle ware Christene en die enigste weg na redding is. Hulle het dieselfde beskouing as godsdiensleiers soos die teoloog Robert C. Sproul, wat geskryf het: “As ’n persoon nie wedergebore is nie, . . . is hy nie ’n Christen nie.”

      Is jy een van dié wat glo dat wedergeboorte jou op die weg na redding plaas? Indien wel, sal jy ongetwyfeld jou familielede en vriende wil help om daardie weg te vind en daarop te begin wandel. Maar om dit te kan doen, moet hulle eers verstaan wat die verskil is tussen iemand wat wedergebore is en iemand wat nie is nie. Hoe sou jy vir hulle verduidelik wat dit beteken om wedergebore te wees?

      Baie mense glo dat die uitdrukking “wedergebore” na iemand verwys wat ’n gelofte aflê om God en Christus te dien en wat gevolglik verander word van iemand wat geestelik dood is na iemand wat geestelik lewend is. Trouens, ’n woordeboek wat tans in gebruik is, definieer iemand wat wedergebore is as “iemand, gewoonlik ’n Christen, wat sy verbintenis tot sy geloof hernieu of bevestig het, veral ná ’n intense godsdienstige ervaring”.—Merriam-Webster’s Collegiate Dictionary—Eleventh Edition.

      Sal jy verbaas wees om te hoor dat die Bybel nie met hierdie definisie saamstem nie? Wil jy graag weet wat God se Woord werklik omtrent die wedergeboorte leer? Jy sal beslis daarby baat vind om hierdie onderwerp van naderby te ondersoek. Waarom? Want ’n juiste begrip van wat dit beteken om wedergebore te wees, sal jou lewe en jou toekomsverwagtinge beïnvloed.

      Wat leer die Bybel?

      Die enigste plek in die hele Bybel waar die uitdrukking “wedergebore”, oftewel “weer gebore”, gevind word, is in Johannes 3:1-12, wat ’n interessante gesprek tussen Jesus en ’n godsdiensleier in Jerusalem beskryf. Jy sal hierdie hele Bybelverslag in die bygaande venster vind. Ons moedig jou aan om dit noukeurig deur te lees.

      In die verslag beklemtoon Jesus verskeie aspekte van die “nuwe geboorte”.a Trouens, Jesus se bespreking help ons om hierdie vyf belangrike vrae te beantwoord:

      ◼ Hoe belangrik is die nuwe geboorte?

      ◼ Kan ons self besluit om die nuwe geboorte te ondergaan?

      ◼ Wat is die doel daarvan?

      ◼ Hoe gebeur dit?

      ◼ Watter verandering in ons verhouding met God bring dit teweeg?

      Kom ons ondersoek hierdie vrae een vir een.

      [Voetnoot]

      a Die term “nuwe geboorte” word gevind in 1 Petrus 1:3, 23. Dit is nog ’n Bybelterm wat die ervaring om “weer gebore” te word, beskryf. Albei terme word afgelei van die Griekse werkwoord gen·naʹo.

      [Venster/Prent op bladsy 4]

      “Julle moet weer gebore word”

      “En daar was ’n man van die Fariseërs, Nikodemus was sy naam, ’n heerser van die Jode. Dié het in die nag na hom toe gekom en vir hom gesê: ‘Rabbi, ons weet dat u as ’n leermeester van God af gekom het, want niemand kan hierdie tekens doen wat u doen nie tensy God met hom is.’ Jesus het geantwoord en vir hom gesê: ‘Voorwaar, voorwaar, ek sê vir jou: Tensy iemand weer gebore word, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.’ Nikodemus het vir hom gesê: ‘Hoe kan ’n mens gebore word wanneer hy oud is? Hy kan tog nie ’n tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word nie, of hoe?’ Jesus het geantwoord: ‘Voorwaar, voorwaar, ek sê vir jou: Tensy iemand uit water en gees gebore word, kan hy nie in die koninkryk van God ingaan nie. Wat uit die vlees gebore is, is vlees, en wat uit die gees gebore is, is gees. Moenie jou verwonder omdat ek vir jou gesê het: Julle moet weer gebore word nie. Die wind waai waar dit wil, en jy hoor die geluid daarvan, maar jy weet nie waar dit vandaan kom en waarheen dit gaan nie. So is elkeen wat uit die gees gebore is.’ Nikodemus het geantwoord en vir hom gesê: ‘Hoe kan hierdie dinge gebeur?’ Jesus het geantwoord en vir hom gesê: ‘Is jy ’n leermeester van Israel en tog weet jy hierdie dinge nie? Voorwaar, voorwaar, ek sê vir jou: Ons praat oor wat ons weet en ons getuig van wat ons gesien het, maar julle neem die getuienis wat ons gee, nie aan nie. As ek julle aardse dinge vertel het en julle nogtans nie glo nie, hoe sal julle glo as ek julle hemelse dinge vertel?’”—Johannes 3:1-12.

  • Die nuwe geboorte—Hoe belangrik is dit?
    Die Wagtoring — 2009 | April 1
    • Die nuwe geboorte—Hoe belangrik is dit?

      GEDURENDE Jesus se gesprek met Nikodemus het hy herhaaldelik beklemtoon dat dit baie belangrik is om ’n nuwe geboorte te ondergaan, of om weer gebore te word. Hoe het hy dit duidelik gemaak?

      Let op hoe Jesus die belangrikheid van die nuwe geboorte in sy gesprek met Nikodemus beklemtoon het. Hy het gesê: “Tensy iemand weer gebore word, kan hy die koninkryk van God nie sien nie” (Johannes 3:3). Die uitdrukkings “tensy” en “kan . . . nie” beklemtoon die noodsaaklikheid van die nuwe geboorte. Ter toeligting: As iemand sê: “Tensy die son skyn, kan daar nie daglig wees nie”, bedoel hy dat sonskyn absoluut noodsaaklik is vir daglig. Op soortgelyke wyse het Jesus gesê dat wedergeboorte absoluut noodsaaklik is om God se Koninkryk te sien.

      Ten slotte het Jesus, asof hy enige oorblywende twyfel oor die onderwerp uit die weg wou ruim, gesê: “Julle moet weer gebore word” (Johannes 3:7). Dit is duidelik dat wedergeboorte volgens Jesus ’n vereiste—’n moet—is vir iemand om “in die koninkryk van God [in te gaan]”.—Johannes 3:5.

      Aangesien Jesus die nuwe geboorte so belangrik geag het, moet Christene seker maak dat hulle ’n juiste begrip van hierdie onderwerp het. Dink jy byvoorbeeld dat ’n Christen kan kies om weer gebore te word?

      [Lokteks op bladsy 5]

      “Tensy die son skyn, kan daar nie daglig wees nie”

  • Die nuwe geboorte—’n Persoonlike besluit?
    Die Wagtoring — 2009 | April 1
    • Die nuwe geboorte—’n Persoonlike besluit?

      WIE bring die nuwe geboorte teweeg? Wanneer party predikante dié wat na hulle luister, aanspoor om wedergebore Christene te word, haal hulle Jesus se woorde aan: “Julle moet weer gebore word” (Johannes 3:7). Hierdie predikante gebruik hierdie woorde as ’n bevel en sê in werklikheid: “Word wedergebore!” Hulle preek dus dat dit elke gelowige se eie besluit is of hy Jesus gaan gehoorsaam en die nodige stappe gaan doen sodat hy die nuwe geboorte kan ondergaan. Volgens hierdie redenasie is die nuwe geboorte ’n persoonlike keuse. Maar is hierdie beskouing in ooreenstemming met Jesus se woorde aan Nikodemus?

      ’n Noukeurige ondersoek van Jesus se woorde bring aan die lig dat Jesus nie geleer het dat ’n persoon self kan kies of hy die nuwe geboorte gaan ondergaan of nie. Waarom sê ons so? Die Griekse uitdrukking wat vertaal word met “weer gebore word”, kan ook weergegee word as “moet van bo gebore word”.a Volgens hierdie alternatiewe vertaling kom die nuwe geboorte “van bo”—dit wil sê “van die hemel” of “van die Vader” (Johannes 19:11; voetnoot in NW; Jakobus 1:17). Ja, dit word deur God teweeggebring.—1 Johannes 3:9.

      As ons die uitdrukking “van bo” in gedagte hou, is dit nie moeilik om te verstaan waarom ’n persoon nie sy eie nuwe geboorte kan teweegbring nie. Dink net aan jou fisiese geboorte. Het jy die keuse gemaak wat tot jou geboorte gelei het? Natuurlik nie! Jy is gebore omdat jy deur jou vader verwek is. Net so kan ons slegs die nuwe geboorte ondervind as God, ons hemelse Vader, ons nuwe geboorte teweegbring (Johannes 1:13). Die apostel Petrus sê dus tereg: “Mag die God en Vader van ons Here Jesus Christus geloof word, want ooreenkomstig sy groot barmhartigheid het hy ons ’n nuwe geboorte . . . gegee.”—1 Petrus 1:3.

      Is dit ’n bevel?

      Maar sommige wonder dalk: ‘As dit waar is dat niemand self kan besluit om weer gebore te word nie, waarom het Jesus dan beveel: “Julle moet weer gebore word”?’ Dit is ’n geldige vraag. As Jesus se woorde inderdaad ’n bevel is, beteken dit dat hy ons in werklikheid beveel om iets te doen waartoe ons nie in staat is nie. Dit klink nie redelik nie. Hoe moet die woorde julle moet “weer gebore” word, dan verstaan word?

      ’n Nadere ondersoek van hierdie frase in die oorspronklike taal bring aan die lig dat dit nie in die imperatief, of in die vorm van ’n bevel, uitgedruk word nie. Die frase is eerder ’n stelling. Met ander woorde, toe Jesus gesê het julle moet “weer gebore” word, het hy ’n feit genoem, nie ’n bevel gegee nie. Hy het gesê: “Dit is nodig dat julle van bo gebore word.”—Johannes 3:7, Modern Young’s Literal Translation.

      Kyk na die volgende vergelyking wat die verskil tussen ’n bevel en ’n stelling toelig. Stel jou ’n stad voor wat baie skole het. Een van hulle is ’n skool vir kinders van ’n inheemse gemeenskap wat in ’n gebied ver van die stad af woon. Op ’n dag sê ’n jong man wat nie aan die inheemse groep behoort nie, vir die skoolhoof van daardie skool: “Ek wil my by hierdie skool inskryf.” Die skoolhoof sê vir hom: “Om in te skryf, moet jy aan die inheemse groep behoort.” Die skoolhoof se woorde is natuurlik nie ’n bevel nie. Hy beveel nie die leerder: “Jy moet ’n lid van die inheemse groep word!” nie. Die skoolhoof noem eenvoudig die feit—die vereiste om daardie skool by te woon. Toe Jesus gesê het: “Julle moet weer gebore word”, het hy eweneens eenvoudig ’n feit genoem—die vereiste vir iemand om ‘in die koninkryk van God in te gaan’.

      Hierdie laaste gedagte—die Koninkryk van God—hou verband met nog ’n aspek van die nuwe geboorte. Dit handel oor die vraag: Wat is die doel daarvan? Om te weet wat die antwoord op hierdie vraag is, is die sleutel tot ’n juiste begrip van wat dit beteken om weer gebore te word.

      [Voetnoot]

      a Etlike Bybelvertalings gee Johannes 3:3 op hierdie manier weer. Byvoorbeeld, A Literal Translation of the Bible sê: “As iemand nie die geboorte van bo ontvang nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.”

      [Prent op bladsy 6]

      Watter ooreenkoms is daar tussen die nuwe geboorte en ’n fisiese geboorte?

  • Die nuwe geboorte—Wat is die doel daarvan?
    Die Wagtoring — 2009 | April 1
    • Die nuwe geboorte—Wat is die doel daarvan?

      BAIE mense glo dat ’n mens weer gebore moet word om ewige redding te ontvang. Maar let op wat Jesus self gesê het oor die doel van die nuwe geboorte. Hy het gesê: “Tensy iemand weer gebore word, kan hy die koninkryk van God nie sien nie” (Johannes 3:3). ’n Mens moet dus weer gebore word sodat hy in God se Koninkryk kan ingaan, nie sodat hy redding kan ontvang nie. ‘Maar’, sal party dalk sê, ‘verwys hierdie twee uitdrukkings—om in die Koninkryk in te gaan en redding te ontvang—nie na dieselfde beloning nie?’ Nee. Om die verskil te verstaan, moet ons eers kyk na die betekenis van die uitdrukking “koninkryk van God”.

      ’n Koninkryk is ’n regeringsvorm. Die uitdrukking “koninkryk van God” beteken dus “regering van God”. Die Bybel leer dat Jesus Christus, die “seun van die mens”, die Koning is van God se Koninkryk en dat Christus medeheersers het (Daniël 7:1, 13, 14; Matteus 26:63, 64). Daarbenewens het ’n visioen wat die apostel Johannes ontvang het, geopenbaar dat Christus se medeheersers persone is wat gekies is “uit elke stam en taal en volk en nasie” en wat “as konings oor die aarde [sal] heers” (Openbaring 5:9, 10; 20:6). God se Woord toon verder dat diegene wat as konings sal heers, ’n “klein kuddetjie” van 144 000 persone uitmaak “wat van die aarde gekoop is”.—Lukas 12:32; Openbaring 14:1, 3.

      Waar is die setel van God se Koninkryk? “Die koninkryk van God” word ook “die koninkryk van die hemele” genoem, wat toon dat Jesus en sy medekonings vanuit die hemel regeer (Lukas 8:10; Matteus 13:11). God se Koninkryk is dus ’n hemelse regering wat bestaan uit Jesus Christus en ’n groep medeheersers wat uit die mensdom gekies is.

      Wat het Jesus dan bedoel toe hy gesê het dat ’n persoon weer gebore moet word om “in die koninkryk van God [in te gaan]”? Hy het bedoel dat ’n mens weer gebore moet word om saam met Christus ’n heerser in die hemel te word. Eenvoudig gestel, die doel van die nuwe geboorte is om ’n beperkte groep mense voor te berei om vanuit die hemel te heers.

      Tot dusver het ons gesien dat die nuwe geboorte baie belangrik is, dat dit deur God teweeggebring word en dat dit ’n groep mense voorberei om vanuit die hemel te heers. Maar hoe vind die nuwe geboorte werklik plaas?

      [Lokteks op bladsy 7]

      Die doel van die nuwe geboorte is om ’n beperkte groep mense voor te berei om vanuit die hemel te heers

      [Prent op bladsy 7]

      God se Koninkryk bestaan uit Jesus Christus en ’n groep medeheersers wat uit die mensdom gekies is

  • Die nuwe geboorte—Hoe vind dit plaas?
    Die Wagtoring — 2009 | April 1
    • Die nuwe geboorte—Hoe vind dit plaas?

      JESUS het nie net die belangrikheid, die oorsaak en die doel van die nuwe geboorte met Nikodemus bespreek nie, maar ook die wyse waarop die nuwe geboorte plaasvind. Jesus het gesê: “Tensy iemand uit water en gees gebore word, kan hy nie in die koninkryk van God ingaan nie” (Johannes 3:5). ’n Persoon word dus deur middel van water en gees weer gebore. Maar waarna verwys die uitdrukking “water en gees”?

      “Water en gees”—Wat is dit?

      As ’n Joodse godsdiensgeleerde was Nikodemus ongetwyfeld bekend met die manier waarop die Hebreeuse Geskrifte die term “gees van God” gebruik—God se werkende krag, wat ’n uitwerking op mense kan hê sodat hulle spesiale dade kan verrig (Genesis 41:38; Eksodus 31:3; 1 Samuel 10:6). Toe Jesus dus die woord “gees” gebruik het, sou Nikodemus verstaan het dat hy na die heilige gees, die werkende krag van God, verwys.

      Wat van Jesus se verwysing na water? Kyk na die gebeurtenisse wat net voor en na die gesprek met Nikodemus opgeteken is. Dit toon dat Johannes die Doper sowel as Jesus se dissipels mense in water gedoop het (Johannes 1:19, 31; 3:22; 4:1-3). Hierdie gebruik het algemeen bekend geword in Jerusalem. Daarom sou Nikodemus, toe Jesus van water gepraat het, besef het dat Jesus nie na water oor die algemeen verwys nie, maar na waterdoop.a

      Gedoop “met heilige gees”

      As om ‘uit water gebore te word’ met waterdoop verband hou, wat beteken dit dan om ‘uit gees gebore te word’? Voor Nikodemus se gesprek met Jesus het Johannes die Doper gesê dat nie net water nie, maar ook gees by doop ’n rol sou speel. Hy het gesê: “Ek het julle met water gedoop, maar hy [Jesus] sal julle met heilige gees doop” (Markus 1:7, 8). Die Evangelieskrywer Markus beskryf die eerste keer toe so ’n doop plaasgevind het. Hy skryf: “Jesus het in die loop van daardie dae van Nasaret in Galilea af gekom en is deur Johannes in die Jordaan gedoop. En onmiddellik toe hy uit die water opkom, het hy gesien hoe die hemele oopgaan en die gees, soos ’n duif, op hom neerdaal” (Markus 1:9, 10). Toe Jesus in die Jordaan ondergedompel is, is hy met water gedoop. Die oomblik toe hy die heilige gees uit die hemel ontvang het, is hy met heilige gees gedoop.

      Ongeveer drie jaar ná sy doop het Jesus sy dissipels verseker: “Nie baie dae hierna nie sal julle in heilige gees gedoop word” (Handelinge 1:5). Wanneer het dit gebeur?

      Op Pinksterdag in die jaar 33 G.J. was daar omtrent 120 van Jesus se dissipels in ’n huis in Jerusalem bymekaar. “Skielik het daar ’n gedruis uit die hemel gekom soos dié van ’n voortstuwende, stywe bries, en dit het die hele huis gevul waarin hulle gesit het. En tonge soos van vuur het vir hulle sigbaar geword . . . , en hulle is almal met heilige gees vervul” (Handelinge 2:1-4). Op daardie selfde dag is ander in Jerusalem aangespoor om in water gedoop te word. Die apostel Petrus het vir ’n skare gesê: “Toon berou, en laat elkeen van julle in die naam van Jesus Christus gedoop word tot vergifnis van julle sondes, en julle sal die heilige gees as vrye gawe ontvang.” Wat was die reaksie? “Dié wat sy woord van harte aangeneem het, is . . . gedoop, en op daardie dag is omtrent drieduisend siele bygevoeg.”—Handelinge 2:38, 41.

      ’n Tweeledige proses

      Wat toon hierdie voorbeelde van doop omtrent die nuwe geboorte? Dit toon dat die nuwe geboorte deur middel van ’n tweedelige proses plaasvind. Let op dat Jesus eers met water gedoop is. Daarna het hy die heilige gees ontvang. Net so is die vroeë dissipels eers in water gedoop (sommige deur Johannes die Doper), en toe het hulle die heilige gees ontvang (Johannes 1:26-36). Die 3 000 bekeerlinge is eweneens eers in water gedoop, en daarna het hulle die heilige gees ontvang.

      Hoe moet ons verwag sal die nuwe geboorte in ons dag plaasvind, in die lig van die dope wat op Pinkster 33 G.J. plaasgevind het? Op dieselfde manier as in die geval van Jesus se apostels en die vroeë dissipels. Eerstens moet ’n persoon berou hê oor sy sondes, ’n verkeerde weg verlaat, sy lewe aan Jehovah toewy om hom te aanbid en te dien en sy toewyding deur middel van waterdoop bekend maak. Dan, as God hom kies om as ’n heerser in Sy Koninkryk te dien, word hy met heilige gees gesalf. Die eerste deel van hierdie tweeledige proses (doop met water) hang van die persoon af; die tweede deel (doop met gees) word deur God teweeggebring. Wanneer ’n persoon al twee dope ondergaan het, het hy die nuwe geboorte ondervind.

      Maar waarom het Jesus in sy gesprek met Nikodemus die uitdrukking “uit water en gees gebore” gebruik? Om te beklemtoon dat dié wat met water en gees gedoop word, ’n merkwaardige verandering sou ondergaan. Die volgende artikel bespreek hierdie aspek van die nuwe geboorte.

      [Voetnoot]

      a Op soortgelyke wyse het die apostel Petrus een keer by ’n doop gesê: “Kan enigeen water verbied?”—Handelinge 10:47.

      [Prent op bladsy 9]

      Johannes het berouvolle Israeliete met water gedoop

  • Die nuwe geboorte—Wat bring dit teweeg?
    Die Wagtoring — 2009 | April 1
    • Die nuwe geboorte—Wat bring dit teweeg?

      WAAROM het Jesus die uitdrukking ‘uit gees gebore’ gebruik toe hy oor die doop met heilige gees gepraat het? (Johannes 3:5). Wanneer die woord “geboorte” figuurlik gebruik word, beteken dit “die begin”, soos in die uitdrukking “die geboorte van ’n nasie”. Die term “nuwe geboorte” dui dus op ’n “nuwe begin”. Daarom beklemtoon die figuurlike uitdrukkings “gebore” en “nuwe geboorte” dat daar ’n nuwe begin sal wees in die verhouding tussen God en dié wat met heilige gees gedoop word. Hoe vind hierdie algehele verandering in die verhouding plaas?

      Toe die apostel Paulus verduidelik het hoe God mense voorberei om in die hemel te heers, het hy ’n illustrasie gebruik wat op die gesinslewe gebaseer is. Hy het aan Christene van sy dag geskryf dat hulle ’n “aanneming as kinders” sou ondervind en dat God hulle dus “soos seuns” kon behandel (Galasiërs 4:5; Hebreërs 12:7). Om te sien hoe die voorbeeld van aanneming ’n mens help om te verstaan watter soort verandering plaasvind wanneer iemand met heilige gees gedoop word, kan ons weer eens kyk na die illustrasie van die jong man wat hom wil inskryf by ’n skool vir leerders wat aan ’n inheemse gemeenskap behoort.

      ’n Verandering wat deur aanneming teweeggebring word

      In die illustrasie kan die jong man hom nie by die skool inskryf nie omdat hy nie deel van die inheemse gemeenskap is nie. Stel jou nou voor dat daar eendag ’n groot verandering plaasvind. Hy word wetlik aangeneem deur ’n gesinshoof wat aan die inheemse groep behoort. Wat beteken dit vir die jong man? Wel, aangesien hy as ’n seun aangeneem is, kan hy nou dieselfde regte as die ander jongmense in hierdie groep hê—insluitende die reg om by die skool in te skryf. Die aanneming het sy vooruitsigte heeltemal verander.

      Dit illustreer wat in ’n baie betekenisvoller sin gebeur met dié wat die nuwe geboorte ondervind. Kyk na ’n paar ooreenkomste. Die jong man in die illustrasie sal ’n plek in die skool gegee word, maar net as hy aan die toelatingsvereiste voldoen—naamlik dat hy aan die inheemse gemeenskap moet behoort. Maar op sy eie kan hy hierdie vereiste nie nakom nie. Net so sal sommige mense ’n plek in God se Koninkryk, of hemelse regering, gegee word, maar net as hulle aan die toelatingsvereiste voldoen—naamlik om “weer gebore” te word. Maar op hulle eie kan hulle hierdie vereiste nie nakom nie, want die nuwe geboorte hang van God af.

      Wat het die jong man se situasie verander? Die wetlike aannemingsproses. Hierdie proses het natuurlik nie die jong man se natuur verander nie. Ná sy aanneming was hy nog steeds dieselfde persoon. Nogtans het die jong man, nadat die wetlike vereistes vir aanneming nagekom is, ’n nuwe status ontvang. Ja, hy het ’n nuwe begin—oftewel ’n nuwe geboorte—ondergaan. Hy het sy pleegvader se seun geword, wat hom die reg gee om deel van sy gesin te wees en om die skool by te woon.

      Jehovah het eweneens die situasie van ’n groep onvolmaakte mense verander deur ’n wetlike proses aan die gang te sit om hulle as sy kinders aan te neem. Die apostel Paulus, wat aan daardie groep behoort het, het aan medegelowiges geskryf: “Julle het ’n gees van aanneming as kinders ontvang, en deur dié gees roep ons uit: ‘Abba, Vader!’ Die gees self getuig met ons gees dat ons God se kinders is” (Romeine 8:15, 16). Ja, deur middel van die aannemingsproses het daardie Christene deel van God se gesin, of “kinders van God”, geword.—1 Johannes 3:1; 2 Korintiërs 6:18.

      Hierdie aanneming deur God het natuurlik nie die natuur van die aangenome kinders verander nie, want hulle het onvolmaak gebly (1 Johannes 1:8). Soos Paulus verder verduidelik het, het hulle nietemin, nadat die wetlike vereistes nagekom is, ’n nuwe status ontvang. God se gees het terselfdertyd die oortuiging in hierdie aangenome seuns geplaas dat hulle saam met Christus in die hemel sou lewe (1 Johannes 3:2). Daardie vaste oortuiging wat die heilige gees hulle gegee het, het hulle ’n heel nuwe uitkyk op die lewe gegee (2 Korintiërs 1:21, 22). Ja, hulle het ’n nuwe begin ondervind—as ’t ware ’n nuwe geboorte.

      Die Bybel sê wanneer dit van God se aangenome seuns praat: “Hulle sal priesters van God en van die Christus wees en sal die duisend jaar lank saam met hom as konings heers” (Openbaring 20:6). God se aangenome seuns sal saam met Christus ’n plek as konings in God se Koninkryk, of hemelse regering, ontvang. Die apostel Petrus het vir medegelowiges gesê dat hulle “’n onverderflike en onbesmette en onverwelklike erfenis” sal ontvang wat vir hulle “in die hemele bewaar” word (1 Petrus 1:3, 4). Inderdaad ’n kosbare erfenis!

      Maar hierdie kwessie van heerskappy laat ook ’n vraag ontstaan. As diegene wat weer gebore word, as konings in die hemel gaan heers, oor wie gaan hulle heers? Hierdie vraag sal in die volgende artikel bespreek word.

      [Prent op bladsy 10]

      Wat het Paulus omtrent aanneming gesê?

Afrikaanse publikasies (1975-2025)
Meld af
Meld aan
  • Afrikaans
  • Deel
  • Voorkeure
  • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
  • Gebruiksvoorwaardes
  • Privaatheidsbeleid
  • Privaatheidsinstellings
  • JW.ORG
  • Meld aan
Deel