Sedelike norme wat geluk bring
WAT sal ’n kind doen as hy voor ’n tafel vol voedsame kos en lekkers neergesit word? As niemand hom reghelp nie, sal hy waarskynlik kies om te eet waarvan hy die meeste hou—bes moontlik die lekkers—totdat hy naar word.
Wat sedes betref, staan die mens voor ’n klomp keuses. Wat wil hy die graagste hê? ’n Gelukkige gesinslewe en ’n veilige toekoms of, ongeag die gevolge, ’n lewe wat elke dag om plesier draai? Wat hy ook al kies, sy keuse sal sy lewenswyse bepaal en sy toekoms beïnvloed—ten goede of ten kwade.
Die gevolge
Die vrugte van die geslagsrevolusie en onbeperkte vryheid was nog nooit goed nie. Mense wat na goeddunke gehandel het, het hulself ’n klomp ongewenste probleme op die hals gehaal: gebroke huisgesinne, ongewenste swangerskappe, die dood weens Vigs en ander seksueel oorgedraagde siektes, geskende lewens weens dwelmmisbruik en ander ongewenste gevolge. Hierdie slegte gevolge pas die beskrywing wat in die Bybel, in Spreuke 16:25, opgeteken is: “Daar is ’n weg wat vir ’n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood.”—Sien ook Galasiërs 5:19-21.
Die algemene selfsug en vryheid sonder aanspreeklikheid pas ook die beskrywing van ons tyd wat in 2 Timotheüs 3:1-4 gevind word: “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God.”
Die grondslag vir die beste sedes
Al hierdie dinge toon hoe nodig ons ’n bron van norme het wat bo die mens s’n verhewe is sodat ons verstandig kan optree in hierdie kritieke tye. Jeremia, een van die Bybelskrywers, het dit erken toe hy gesê het: “Ek weet, o HERE, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie.”—Jeremia 10:23.
Maar wie kan die grondslag vir die beste sedelike norme lê? In sy boek Cours de philosophie verduidelik Franse professor Armand Cuvillier dat hy, soos die meeste filosowe, “die mens as die fundamentele norm” geneem het. Tog herinner hy ons daaraan dat alle sedelike gedragsreëls wat op die mens gegrond is gebrekkig is en na alle waarskynlikheid later deur ander vervang sal word.
Die vervaardiger van ’n masjien is dikwels die geskikste persoon om dit die beste te laat werk. Dit is dieselfde met God en die mens. As die mens se Skepper is Jehovah in die beste posisie om hom te toon watter norme hy behoort te hê, en waarom. In die Bybel noem Jehovah homself die Een wat ‘ons leer wat heilsaam is, wat ons lei op die weg wat ons moet gaan’.—Jesaja 48:17.
Oudmodiese norme?
Is die Bybel se sedelike norme prakties vir ons tyd? Meer as 1900 jaar gelede het die apostel Paulus ’n lys eienskappe gegee wat van God se dienaars vereis word. Hy het “liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing” genoem. Is hierdie eienskappe enigsins minder waardevol vandag? Beslis nie! Hoewel toestande verander het, is hierdie verhewe beginsels steeds die beste.—Galasiërs 5:22.
Dieselfde kan gesê word van dinge wat die Bybel verbied. Waarom het God byvoorbeeld die stede Sodom en Gomorra vernietig? Die dissipel Judas het verduidelik dat Hy dit gedoen het omdat die inwoners “hulleself aan geslagsonsedelikheid en perversie oorgegee het”. Judas voeg by dat hulle vernietiging “’n permanente waarskuwing” is. Aangesien hierdie verslag en ander soortgelyke verslae ‘tot ons lering geskrywe is’, “as ’n waarskuwing aan ons”, is die sedelesse wat dit inhou steeds geldig.—Judas 7, Phillips; Romeine 15:4; 1 Korinthiërs 10:11.
Norme wat jou gelukkig maak
Jy moet in gedagte hou dat die Bybel uniek is. Aanvaar dit, “nie as die woord van mense nie, maar, soos dit waarlik is, as die woord van God” (1 Thessalonicense 2:13). Van al die miljoene boeke in die wêreld is net die Bybel ‘deur God geïnspireer, en dit kan dinge regstel’ (2 Timotheüs 3:16, NW). Net die Bybel kan ons van die beste norme voorsien en toon hoe dit tot ewige lewe in ’n nuwe wêreld lei. Dit is beslis verstandig om dit te ondersoek.
Dit is presies wat ’n jong man genaamd Joël gedoen het. ’n Paar jaar gelede het hy saam met ander jongmense in die strate van sy tuisdorp in Frankryk rondgeloop—gewapend. Hy was bekend vir sy humeur en was ’n dwelmsmous en ’n koppelaar. Joël het kennis opgedoen van die Bybel en die hoop wat dit bied. Mettertyd het hy geheel en al verander en gebruike wat die Bybel veroordeel, laat vaar. Etlike van sy gewese vriende het besef dat hy die waarheid gevind het en het dus ook drastiese veranderinge in hulle lewe aangebring en is as Getuies van Jehovah gedoop.
Die meeste mense wat Getuies van Jehovah word, het natuurlik nie ’n lewe gelei wat so ver van Bybelbeginsels verwyderd was soos dié van Joël en sy vriende nie. Maar almal wat Getuies word, is bereid om die norme waarvolgens hulle leef te heroorweeg—selfs al was dit nie op sigself sleg nie—en hulle is oortuig dat hulle ’n stel norme gevind het wat hulle gelukkig kan maak.
Dwarsdeur die wêreld probeer bykans viermiljoen Getuies om elke dag volgens hierdie beginsels te leef, in watter land of soort gemeenskap hulle hul ook al bevind. Hulle stel ook God se Koninkryksbelange eerste deurdat geestelike norme voorrang in hulle lewe geniet. Aanvaar gerus hulle uitnodiging om jou te help om die voordele te ondersoek wat ook jy uit hierdie norme kan put. “Groot vrede” word beloof aan diegene wat hierdie keuse maak.—Psalm 119:165; Mattheüs 6:33.
[Prent op bladsy 9]
Mense het norme nodig wat bo menslike filosofie verhewe is