Jongmense vra . . .
Waarom moet ek moeite doen vir ander?
“WIE se belange kom eerste in jou lewe?” ’n Ontwaak!-verslaggewer het hierdie vraag aan ’n groep jongmense in ’n besige straat gevra. “My eie”, het Mike gesê. “Ek sorg eerste, laaste en altyd vir myself.” Sewentienjarige Susie het gesê: “As ek tussen my gesin se welstand en myne moet kies, sal myne eerste kom.”
Dit is ongelukkig ’n algemene gevoel. ’n Boek genaamd The Postponed Generation meld ’n studie van 1125 studente waartydens twee sosioloë probeer uitvind het of jongmense hoofsaaklik oor hulleself of oor die gemeenskap besorg is. Die uitslag? Ongeveer 80 persent “sorg vir hulleself, sonder gevoel vir of verpligting teenoor die gemeenskap”.
Dit is dan geen wonder nie dat min mense gewillig is om moeite te doen vir ander, om ongerief te verduur of uit hulle pad te gaan vir iemand anders as hulleself. Boeke wat weinig meer is as planne vir die ontwikkeling van egosentriese gedrag, soos The Art of Selfishness en Looking Out for Number One word treffers. Soos die Bybel voorspel het, is mense vandag “liefhebbers van hulleself”.—2 Timotheüs 3:1, 2.
Maar hoe reageer jy op ander se behoeftes? Raak jy kwaad of is jy ontevrede as jy jou byvoorbeeld klaarmaak om te gaan sit en na jou geliefkoosde televisieprogram te kyk en Ma of Pa vra jou om winkel toe te gaan? Skop jy teen die gedagte om takies by die huis te verrig, jou klere of woonruimte met ’n broer of ’n suster te deel, of om iemand eenvoudig ’n guns te doen wanneer dit “ongeleë” is? Dan is dit tyd dat jy ’n paar veranderinge aanbring. Maar waarom? En nog belangriker, hoe?
Die oorsaak van selfsug
God se wet vir sy volk is: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Mattheüs 22:39). Dit beteken dat ons verplig is om bedagsaam, onselfsugtig, gevoelig vir ander se behoeftes te wees. Ons voldoen nogtans nie altyd aan hierdie ligtende ideaal nie, en die Bybel help ons verstaan waarom. In Genesis 8:21 sê dit: “Die versinsels van die mens se hart is sleg van sy jeug af.”
Ons voorvader Adam het nie omgegee hoe sy opstandige daad ander sou raak nie. Dit behoort ons dan nie te verbaas dat ons, sy nageslag, met ’n selfsugtige trek gebore word nie. (Vergelyk Psalm 51:7.) Dit kom verbasend vroeg in die lewe te voorskyn. Die tydskrif Parents sê: “Klein kindertjies is almal egosentries. . . . Hulle stel net in jou belang wanneer jy iets vir hulle doen.” As selfsug geïgnoreer word, kan dit ’n permanente karaktereienskap word.
Nog ’n eienskap wat verhinder dat iemand moeite doen vir ander is luiheid. (Spreuke 21:25). Wanneer luiheid heers, sal ’n mens vreemde verskonings uitdink om dit te vermy om dinge te doen. Spreuke 22:13 sê: “Die luiaard sê: Daar is ’n leeu buitekant; ek kan in die middel van die strate gedood word!”
Wat dit beteken om ander te help
Die gelykenis van die barmhartige Samaritaan wat in Lukas 10:29-37 opgeteken is, toon dat dit ware selfopoffering kan vereis om ander te help. In antwoord op die vraag: “Wie is my naaste?” het Jesus vertel van ’n Joodse man wat deur rowers geslaan is en vir dood agtergelaat is. Ondanks rassespanninge wat tussen Jode en Samaritane bestaan het, is ’n Samaritaanse man beweeg om moeite te doen vir die misdaadslagoffer. Hy het die man se wonde versorg en van sy eie wyn en olie daarvoor gebruik. Toe het hy die man versigtig op sy pakdier gehelp en hom na ’n herberg geneem. Hy het die herbergier ongeveer twee dae se loon betaal en belowe om enige bykomende onkoste te betaal.
Hierdie roerende illustrasie toon wat dit wesenlik beteken om moeite te doen vir ander: om die inisiatief te neem, om jouself ander se naaste te maak. Dit beteken dat ’n mens gewillig moet wees om tyd, energie en koste op te offer. Kom ons bespreek ’n paar maniere om dit te doen.
Doen moeite vir jou gesin
Jou gesinslede—ouers, broers, susters—is die heel naaste aan jou. Maar jy meen dalk dat die wat naaste aan jou is, moet verstaan hoe besig jou lewe is en nie onredelike eise aan jou moet stel nie. Die Bybel maan nietemin: “Wees gasvry jeens mekaar sonder om te murmureer” (1 Petrus 4:9). Probeer om die skynbare ongerief wat dit tot gevolg kan hê nie as ’n las te beskou nie, maar as ’n geleentheid om die gesinsband te versterk.
Eddie sê: “Ma se rooster het haar dikwels uitgeput. Maar ek sal nooit die uitdrukking op haar gesig vergeet wanneer sy die deur oopgemaak het en gesien het die skottelgoed is skoon, die vloere is gewas en die tafel is vir aandete gedek nie. Ek moet erken dat ek daardie tye baie graag voetbal wou speel, maar omdat ek moeite gedoen het, is ons gesin hegter saamgebind.” Kan jy aan maniere dink om moeite te doen vir jou gesinslede?
Wees vriendelik teenoor mede-Christene
Die apostel Paulus het gesê: “Laat ons dan, terwyl ons geleentheid het, aan almal goed doen, maar die meeste aan die huisgenote van die geloof” (Galasiërs 6:10). Dit maak ’n mens baie gelukkig wanneer jy jou ten behoewe van mede-Christene inspan.—Handelinge 20:35.
Kyk byvoorbeeld na sestienjarige Chris, een van Jehovah se Getuies. Hy verrig graag takies vir ’n bejaarde lid van die plaaslike gemeente. Sy het hom eenkeer gebel om haar te kom help. Die hysbak in haar woonstelblok het nie gewerk nie, en omdat sy nie vyf stelle trappe kon klim nie, was sy gestrand. Toe hy daar aankom, het Chris gesê: “Klim op my rug, dan dra ek Tannie boontoe as Tannie nie omgee nie.” So het hulle tot op die vyfde verdieping geklim! Vermoeiend? Ongetwyfeld. Maar Chris is nie net met die dankbaarheid van sy bejaarde vriendin beloon nie, maar ook met die wete dat sy optrede God behaag het!
Maar jy hoef nie op sulke buitengewone situasies te wag om te wys dat jy vir ander omgee nie. Party jongmense is byvoorbeeld geneig om voor en na Christenvergaderinge saam te drom en ouer mense uit te sluit. Dit is strydig met die Bybel se raad om ouer mense met ‘respek te behandel’ (Levitikus 19:32, NAV). Soms is ’n vriendelike groet of ’n kort gesprek al wat nodig is om ’n bejaarde op te beur. ‘Maar dit is vir my moeilik om met oumense te praat’, maak jy dalk beswaar. ‘Ons het min gemeen.’
Doug, wat nou as ’n ouere man in die Christengemeente dien, vertel graag: “Toe ek 19 was, was my beste vriende oud genoeg om my ouers of grootouers te wees. Hulle het werklik baie tot my geestelike groei bygedra!” Doen gerus ’n bietjie moeite en stel jou dit ten doel om met party ouer mense vriende te maak, miskien by julle volgende Christenvergadering. Jy sal gewoonlik vind dat julle baie meer gemeen het as wat jy besef het! En soos Doug, sal jy vind dat jy uit hulle waardevolle ondervinding in die lewe kan leer.
Help “die wat buite is”
In Kolossense 4:5 het die apostel Paulus gesê: “Wandel in wysheid teenoor die wat buite is, en koop die tyd uit.” Jehovah se Getuies toon dat hulle besorg is oor ander deur die Bybel se boodskap te verkondig (Mattheüs 24:14). Jongmense wat hulle verpligting teenoor God ernstig opneem, word beweeg om soveel moontlik in hierdie werk te doen.
“Ek span my in die predikingswerk in omdat ek Jehovah liefhet”, sê Tamitha. Hoewel sy net 11 jaar oud is, bestee sy elke maand baie ure aan die predikingswerk. “Die predikingswerk gee my ook die geleentheid om liefde aan my naaste te betoon.” Pleks van betalende werk te soek, het duisende Christenjeugdiges dit hulle loopbaan gemaak om ander as voltydse evangeliedienaars te dien, en hulle werk dikwels deeltyds om hulleself te onderhou. Ander dien vrywillig as sendelinge of werkers by verskeie takkantore van die Wagtoringgenootskap.
Dit strek jou tot voordeel as jy gee
“Mense het ander mense nodig ter wille van hulle gesondheid”, het die tydskrif American Health gesê. Navorsers beweer selfs dat mense wat moeite doen vir ander gesonder is. Maar Jesus Christus het op nog ’n voordeel gewys toe hy gesê het: “Gee, en aan julle sal gegee word” (Lukas 6:38). Die vrygewige mens wen ander se liefde; hy word sonder uitsondering ook vrygewig behandel!—Vergelyk Spreuke 11:25.
Hou dus aan om te gee, om moeite te doen vir ander. Wanneer jou selfsugtige trek hom ook al openbaar, moet jy onthou dat God se Woord sê: “Laat niemand sy eie voordeel soek nie, maar elkeen die voordeel van ’n ander” (1 Korinthiërs 10:24). Sodoende sal jy nie net die vriendskap van ander verkry nie, maar die goedkeuring van die allerhoogste God.
[Prent op bladsy 18]
Dit maak ons baie gelukkig as ons moeite doen vir ander