Valentynsdag—Waar het dit vandaan gekom?
HET jy al ooit ’n valentyn, ’n kaartjie of ’n geskenk, gestuur of ontvang? In baie lande is dit die gebruik om hulle uit te stuur vir die 14de Februarie, Valentynsdag. Dit is glo ’n dag wat deur minnaars gevier word. Maar hoe het hierdie gebruik begin?
Brewer’s Dictionary of Phrase and Fable sê: “Valentyn, St. ’n Priester van Rome wat in die tronk gesit is omdat hy vervolgde Christene gehelp het. Hy het ’n bekeerde geword, en . . . hy is doodgeslaan. Sy dag is 14 Februarie. . .
“Die antieke gebruik om Valentyne te kies het slegs toevallig ’n verband met [die] heilige omdat dit wesenlik ’n reliek van die ou Romeinse Lupercalieë is . . . of omdat dit met die paarseisoen van voëls geassosieer word. Dit is gekenmerk deur die gee van geskenke, en deesdae word ’n kaartjie gestuur waarop cupido’s, deursteekte harte, ens. uitgebeeld word.”
En wat het Cupido met Valentynsdag te doen? Dieselfde bron sê: “Cupido (Lat[yn] cupido, begeerte, liefde). Die Romeinse god van liefde, wat met die Griekse Eros gelykgestel word. Hy word gewoonlik voorgestel as ’n pragtige seun met vlerke, wat geblinddoek is en ’n pyl en boog dra.”
The World Book Encyclopedia verskaf verdere inligting en gee verskeie teorieë oor die oorsprong van die Valentynsdaggebruike. “Volgens een verhaal het die Romeinse keiser Claudius II jong mans in die derde eeu n.C. verbied om te trou. Die keiser het gedink dat ongetroude mans beter soldate maak. ’n Priester met die naam Valentyn was ongehoorsaam aan die keiser se bevel en het jong paartjies in die geheim getrou. . . . Baie verhale sê dat Valentyn op 14 Februarie, ongeveer 269 n.C., tereggestel is. In 496 n.C. het St. Pous Gelasius I 14 Februarie as St. Valentynsdag verklaar.”
Ongeag wat die ware oorsprong van die gebruik is, dit is duidelik dat dit in antieke heidense opvattings en in die Christendom se benoeming van sogenaamde “heiliges” gewortel is. Valentynsdag is ook nog ’n verskoning om ’n dikwels oningeligte publiek kommersieel uit te buit.—2 Korinthiërs 6:14-18.
As jy, nadat jy hierdie tydskrif gelees het, enige Bybelvrae het, kan jy gerus met Jehovah se Getuies in verbinding tree by ’n Koninkryksaal in jou gebied, of jy kan aan die uitgewers van hierdie tydskrif skryf. (Sien bladsy 5.)
[Foto-erkenning op bladsy 32]
Dover Publications, Inc.