“Word wakker, wêreld!”
MET hierdie verrassende titel op die eerste bladsy het Awake! op 22 Augustus 1946 (Ontwaak! van November 1946) die lig gesien. Sy sirkulasie was toe minder as 500 000 per nommer in tien tale. Vandag word meer as 13 miljoen in 67 tale gepubliseer. Maar waarom is hierdie tydskrif in die eerste plek gepubliseer? Hoe is dit veronderstel om jou, die leser, in jou daaglikse lewe te help?
Ontwaak! is die opvolger van die tydskrif Vertroosting (Consolation, 1937) en sy voorganger, The Golden Age (1919). Waarom is die Golden Age oorspronklik 73 jaar gelede nodig geag as ’n medetydskrif vir The Watch Tower?
Die eerste nommer van The Golden Age, 1 Oktober 1919, het gesê: “Die nasies is in ’n verknorsing op politieke, finansiële en sosiale gebied. Probleme waarvan die oplossings blykbaar buite die mag van menslike vernuf is, ontstaan daagliks.” Die tydskrif het nog ’n tydige opmerking gemaak: “Die lewenskoste styg oral al hoe meer en armoede en hongersnood staar baie mense in die gesig.” Is dit nie opmerklik dat dieselfde haglike toestande ons vandag in die gesig staar nie?
Hoewel die uitgewers van die Ontwaak! die aandag vestig op probleme wat die wêreld teister, wys hulle op die enigste ware en blywende oplossing—die regverdige heerskappy oor die mensdom deur God se Koninkryksregering in die hande van die verrese Christus Jesus. Die Hebreeuse sowel as die Christelike Griekse Geskrifte het die tyd voorspel wanneer daar “nuwe hemele en ’n nuwe aarde” sal wees, dit wil sê ’n nuwe geestelike heerskappy oor ’n nuwe mensegemeenskap hier op aarde (Jesaja 65:17; 2 Petrus 3:13; Openbaring 21:1-4). Terwyl die Ontwaak! sekulêre gebeurtenisse en wetenskappe bespreek, hou hy aan om taktvol op God se oplossing vir die mensdom se lyding te wys. Hy help sy lesers op ’n gereelde grondslag om opgewasse te wees teen elke dag se druk.
Ontwaak! bring onder andere verkwikking aan die neerslagtiges en dié wat deur hierdie sataniese stelsel waarin ons lewe, misbruik is. Ons kan waarlik soos daardie nommer van 1946 sê: “Hier is dan ’n tydskrif van die hoogste opvoedkundige waarde vir alle eerlike en opregte mense van alle rasse, gelowe en nasionaliteite.” As jy meer oor hierdie tydskrif wil weet, kan jy gerus in aanraking kom met Jehovah se Getuies by ’n Koninkryksaal in jou omgewing of aan die uitgewers van hierdie tydskrif skryf. Sien bladsy 5 vir inligting.