Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 6/8 bl. 20-21
  • Ontmoedig die Bybel vryheid van denke?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ontmoedig die Bybel vryheid van denke?
  • Ontwaak!—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ‘Jy moet Jehovah liefhê met jou hele verstand’
  • Die eerste verdedigingskans
  • ‘Alle dinge lê oop en bloot’
  • Ware vryheid van denke
  • ’n Vry volk maar met verantwoordelikheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Die vryheid wat aanbidders van Jehovah geniet
    Aanbid die enigste ware God
  • Dien Jehovah, die God van vryheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) — 2018
  • Moenie die doel van godgegewe vryheid mis nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
Sien nog
Ontwaak!—1994
g94 6/8 bl. 20-21

Die Bybelse beskouing

Ontmoedig die Bybel vryheid van denke?

DIE vlamme skiet die hoogte in terwyl die groot opelugvuur die kosbare boeke verteer waarmee die Duitse amptenare dit stook. Is dit ’n toneel uit Nazi-Duitsland? Ja, maar dit kan ook ’n toneel uit die jaar 1199 wees, toe ’n Rooms-Katolieke aartsbiskop beveel het dat alle Duitse Bybels verbrand word.

In werklikheid het gevalle van boekverbranding—wat ’n algemene simbool van die onderdrukking van vryheid van denke en spraak is—in baie lande en in baie eeue voorgekom. Dit het dikwels onder die aanstigting van godsdiensleiers geskied wat bang was vir die uitwerking wat vryheid van denke op die gewone mense sou hê.

Dit is dus geen wonder dat baie mense vandag aanneem dat die Bybel streng beperkings op vrye intellektuele ondersoek voorskryf nie. Maar is dit werklik die geval? Moedig die Bybel dit aan dat vryheid van denke aan bande gelê word?

‘Jy moet Jehovah liefhê met jou hele verstand’

Die Bybel ontmoedig nie die gebruik van die verstand nie. Trouens, Jesus het iedereen van ons aangemoedig om ‘Jehovah lief te hê met ons hele verstand’ (Markus 12:30, NW). Sy bediening toon dat hy ’n lewendige belangstelling getoon het in die gebeure van sy dag (Lukas 13:1-5), in die biologie (Mattheüs 6:26, 28; Markus 7:18, 19), in die boerdery (Mattheüs 13:31, 32) en in die menslike natuur (Mattheüs 5:28; 6:22-24). Sy illustrasies toon dat hy die beginsels in God se Woord en die denke en agtergrond van sy luisteraars duidelik verstaan het en dat hy sorgvuldig nagedink het oor hoe hy die twee met mekaar kon verbind.

Paulus het alle Christene vermaan om God met hulle “denkvermoë” te dien (Romeine 12:1, NW). Hy het die Thessalonicense aangespoor om nie ‘hulle denke deur geïnspireerde uitinge’ in die war te laat bring nie (2 Thessalonicense 2:2, NW). Hy het iets van die Griekse en Kretense digkuns geweet (Handelinge 17:28; Titus 1:12) en ook van krygstuig en -prosedures (Efesiërs 6:14-17; 2 Korinthiërs 2:14-16). En hy het op plaaslike gebruike gelet.—Handelinge 17:22, 23.

Hoewel Jesus en Paulus soveel vryheid van denke geniet het, het hulle nie gedink dat hulle volmag het om te besluit wat reg en wat verkeerd is nie. Jesus het nie die Bybel ten gunste van sy eie redenasie verwerp nie; hy het eerder herhaaldelik uit die Skrif aangehaal. Sy blitsvinnige en snydende antwoord toe Petrus hom aangemoedig het om ’n ander weg te oorweeg as die offerdood wat God se wil vir hom was, toon dat hy nie eers in daardie rigting wou dink nie (Mattheüs 16:22, 23). Paulus het insgelyks aan die Korinthiërs gesê: “Toe ek na julle toe gekom het, was dit nie met enige vertoon van hoogdrawendheid of wysbegeerte nie, maar net om aan julle te vertel wat God gewaarborg het” (1 Korinthiërs 2:1, The Jerusalem Bible). Net soos in die geval van Jesus was sy redenasie stewig op die Skrif gegrond.—Handelinge 17:2.

Die Bybel moedig ’n mens aan om jou denkvermoëns ten volle te gebruik, maar nie sonder perke nie. Die verantwoordelikheid om ons denke in ooreenstemming met dié van Jehovah te hou, berus egter by die individuele Christen, nie by die gemeente nie. Toe ’n aantal Efesiërs hulle beoefening van spiritisme in die openbaar verwerp en Christene geword het, het Paulus dit dus nie op hóm geneem om hulle boeke te verbrand nie, maar “heelparty van die mense wat toorkunste beoefen het, het hulle boeke gebring en voor almal verbrand” (Handelinge 19:19, NAV). Hoekom het hierdie Christene dit nodig geag om hulle eie boeke te verbrand?

Die eerste verdedigingskans

Dink na oor hierdie illustrasie. ’n Suksesvolle militêre verdediging bestaan dikwels uit etlike linies van verdedigingskanse. Geen bekwame generaal sal dink dat enige van hierdie skanse onbelangrik is en sonder ’n geveg oorgegee moet word nie. In die Christen se stryd teen sonde is daar ook verskeie skanse in sy verdediging.

Jakobus 1:14, 15 sê: “Elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word. Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde.” Die eerste stap wat tot sonde lei, is om in jou gedagte ’n verkeerde begeerte te koester. Die eerste skans wat ons dus vir verdediging moet opwerp, is om nie die verkeerde begeerte te koester nie—om ’n mens se gedagtes te beheers.

Dit is na aanleiding van hierdie verband wat daar tussen gedagtes en dade bestaan dat die Bybel ons waarsku: “Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie” (Kolossense 3:2). Wanneer Christene weier om hulle gedagtes te laat stilstaan by onsedelikheid, spiritisme of afvalligheid neem hulle die besluit, nie omdat hulle bang is dat hierdie idees dalk beter as Bybelwaarhede kan wees nie, maar omdat hulle enigiets wat hulle in ’n sondige weg kan insleep, wil vermy.

‘Alle dinge lê oop en bloot’

Nog ’n belangrike rede waarom ons ons denke moet beheers, is omdat ons Jehovah liefhet en ons sy vermoë om ons gedagtes te lees, respekteer. Veronderstel jy het ’n geliefde vriend of familielid wat pynlik bewus is van vuiligheid of stof. Sal jy ophou om jou vriend in jou huis in te nooi omdat jy nie bereid is om die ekstra skoonmaakwerk te doen wat jou huis dalk nodig het nie? Sou liefde jou nie beweeg om die ekstra poging aan te wend om jou huis skoon te hou nie? Psalm 44:21 toon hoe terdeë bewus Jehovah van ons diepste gedagtes is: “Hy ken die geheime van die hart.” Paulus het gesê ons moet van hierdie gedagtes rekenskap gee: “Daar is nie ’n skepping wat nie vir sy oë sigbaar is nie, maar alles lê naak en oop en bloot voor die oë van hom aan wie ons rekenskap moet gee.”—Hebreërs 4:13, NW; Psalm 10:4; Spreuke 6:16, 18.

Job het erken dat die mens vir sy gedagtes voor God aanspreeklik is. ‘Job het ’n brandoffer gebring, “want,” het Job gesê: “miskien het my kinders gesondig en God in hulle gedagtes gevloek”’ (Job 1:5, NAV). Om moedswillig oor ’n verkeerde weg te dink, kan op sigself deur Jehovah as ’n sonde beskou word.—Vergelyk Exodus 20:17.

Ware vryheid van denke

Die Bybel spoor elke Christen aan om hom dit ten doel te stel om “elke gedagte gevange [te] neem tot die gehoorsaamheid aan Christus” (2 Korinthiërs 10:5). Dit word bewerkstellig, nie deur beperkings wat deur godsdiensleiers opgelê word nie, maar deurdat iemand selfbeheersing beoefen en hy Jehovah en Sy beginsels liefhet en verstaan. Wanneer hierdie doel bereik word, bring dit ware vryheid van denke mee wat slegs beperk word deur Goddelike standaarde en wat verryk word deur vreugde in die wete dat ons, selfs wat ons gedagtes betref, vir Jehovah welbehaaglik is.

[Foto-erkenning op bladsy 20]

Uit die boek Bildersaal deutscher Geschichte

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel