Die rol wat dans in aanbidding gespeel het
DIE danskuns het sy oorsprong in die ou tyd gehad en van die vroegste tye af is dit deur bykans alle rasse gebruik as ’n manier om aan emosies uiting te gee, veral in aanbidding.
Nadat Israel die geloofversterkende vertoning van Jehovah se krag gesien het toe hy die Egiptenare vernietig het, het dansers hulle opregte lof en dank aan Jehovah betuig. Terwyl die manne dus saam met Moses ’n oorwinningslied gesing het, het Mirjam onder begeleiding van tamboeryne die vroue in danse voorgegaan.—Exodus 15:1, 20, 21.
’n Ander oorwinningsdans wat ’n bewys van diepliggende godsdiensgevoelens was, was dié van Jefta se dogter wat uitgekom het om Jehovah saam met haar vader te loof omdat hy die Ammoniete in haar vader se hand gegee het (Rigters 11:34). Die vroue van Israel het, terwyl hulle op die musiek van luite en tamboeryne gedans het, Saul en Dawid terugverwelkom ná Jehovah se oorwinning oor die Filistyne (1 Samuel 18:6, 7, vgl. NW). Dans het deel uitgemaak van sekere jaarlikse feeste wat met die aanbidding van Jehovah verband gehou het.—Rigters 21:19-21, 23.
Dit was ’n grootse geleentheid toe die verbondsark uiteindelik in Jerusalem aangekom het, veral vir koning Dawid, wat deur ’n uiters uitbundige dans aan sy emosies uiting gegee het. “Met volle oorgawe het Dawid voor die Here gedans . . . terwyl hy spring en dans voor die Here.”—2 Samuel 6:14-17, NAV.
Dans het ook vir die heidense nasies ’n godsdienstige betekenis gehad. Die optogte van eertydse Babilon en ander nasies was gewoonlik van ’n godsdienstige aard en daar is dikwels tydens hierdie geleenthede danse uitgevoer as deel van die optog. Die danse in Griekeland het gewoonlik die een of ander legende uitgebeeld wat verband gehou het met hulle gode wat self in dansposisies uitgebeeld is. Vrugbaarheidsdanse was bedoel om die geslagsdrifte van deelnemers sowel as waarnemers op te wek.
Die Kanaäniete het kringdanse om hulle afgode en heilige boomstamme uitgevoer en die vrugbaarheidsmagte van die natuur vereer. Die aanbidding van Baäl het met wilde, onbeteuelde danse gepaardgegaan. Só ’n skouspel is in Elia se tyd gelewer toe die priesters van Baäl hulleself tydens die demoniese dans met messe gesny het terwyl hulle om die altaar “rondgespring” het (1 Kon 18:26-29). Toe die Israeliete die goue kalf gemaak het, het hulle hulle ook aan ’n soort heidense dans voor hulle afgod oorgegee en sodoende Jehovah se veroordeling verdien.—Exodus 32:6, 17-19.
In Israel is daar meestal in groepe, veral deur vroue, gedans. Wanneer mans ook aan die dans deelgeneem het, was hulle in afsonderlike groepe; die geslagte het blykbaar nie saam gedans nie.
In die Christelike Griekse Geskrifte word die woord or·kheʹo·mai met “dans” vertaal. Jesus Christus het sy geslag met die kindertjies vergelyk wat hy op die markpleine sien speel en dans het (Mattheüs 11:16-19). Maar in Jesus se illustrasie van die verlore seun word ’n ander Griekse woord, kho·rosʹ, gebruik waarvan die Afrikaanse woord “koor” afgelei is. Hierdie Griekse woord het betrekking op ’n dansgeselskap, klaarblyklik ’n dansgroep wat as vermaak vir só ’n feestelike geleentheid gehuur is.—Lukas 15:25, NW.