Die agteruitgang in maniere
Miljoene mense het steeds goeie maniere. Miljoene ander vertrap dit.
BY DIE eeuwisseling was etiket, volgens The New Encyclopædia Britannica, uit die staanspoor nie wat dit behoort te wees nie: “Teen die einde van die 19de eeu en vroeg in die 20ste eeu het die elite die onderhouding van die onbeduidendste vereistes van etiket as ’n tydverdryf en terselfdertyd as ’n aktiwiteit vir die vroue beskou. Rituele wat al hoe buitensporiger geraak het, is saamgestel om vir die nuwe lede van die elite ’n gevoel van eksklusiwiteit te skep en om die onwaardiges, wat oningelig daaromtrent was, op ’n afstand te hou.”
Dit verskil hemelsbreed van wat goeie maniere behoort te wees. Amy Vanderbilt is ’n hoogaangeskrewe kenner op die gebied van maniere, en in haar New Complete Book of Etiquette skryf sy die volgende: “Die beste gedragsreëls kan in Hoofstuk 13 van Eerste Korinthiërs gevind word, wat die mooi redevoering oor die liefde deur St. Paulus is. Hierdie reëls het niks te doen met die fynere puntjies van kleredrag of met dié van oppervlakkige maniere nie. Dit het te doen met gevoelens en gesindhede, goedhartigheid en bedagsaamheid teenoor ander.”
Amy Vanderbilt het na die Bybelse gedeelte in 1 Korinthiërs 13:4-8 verwys wat sê: “Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie, handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie, is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles. Die liefde vergaan nimmermeer.”
Wat ’n seldsame verskynsel sou dit vandag tog wees om mense te sien wat sulke liefde betoon! Oral sou mense onberispelike maniere hê! Daar moet in die Christenhuis begin word om sulke maniere te onderrig en te leer. ’n Gesin is soos ’n delikate masjien waarvan die onderdele noue kontak met mekaar het. Slegs deskundige smering kan dit goed laat werk. As elkeen weet hoe om behulpsaam, beleef, vriendelik en hoflik te wees, sal dit baie daartoe bydra om ’n huis gelukkig te maak. As ons leer hoe om die algemene, alledaagse uitinge van beleefdheid en bedagsaamheid te gebruik—soos “Dankie”, “Asseblief”, “Vergewe my”, “Ek’s jammer”—sal dit baie help om vernietigende wrywing in ons verwantskappe uit te skakel. Hulle is klein woordjies met groot betekenisse. Almal kan hulle reg sê. Dit kos ons niks nie, maar daarmee kan ons vriende maak. As ons daagliks goeie maniere in ons huis aan die dag lê, sal ons nie daarvan vergeet wanneer ons buite die gesinskring beweeg en in die openbaar met ander mense omgaan nie.
Goeie maniere behels dat ons ander se gevoelens in ag neem, ander respekteer, hulle behandel soos ons wil hê hulle ons moet behandel. Baie het egter opgemerk dat maniere wesenlik agteruitgegaan het. Een skrywer het gesê: “Ons is nie meer beleef nie omdat individualisme die oorhand gekry het.” Die filosoof Arthur Schopenhauer het geskryf: “Selfsug is iets so afskuweliks dat ons hoflikheid uitgedink het om dit te verbloem.” Deesdae meen baie dat “hoflik” “swak” beteken en om ander eerste te stel lamsakkig is. Was die egoïstiese dekade van die sewentigerjare nie die begin van die teenswoordige “ek eerste”-lewenswyse nie? ’n Koerant van een van die groot stede het gesê: “Die probleem het die punt bereik waar alledaagse ordentlikheid glad nie meer as alledaags beskou kan word nie.”
Londen se Daily Mail berig dat kinders op vyf jaar reeds al hoe aggressiewer word, geen eerbied vir ander kinders se besittings het nie, geen respek vir volwassenes toon nie en vuil taal gebruik. Die meeste onderwysers met wie daar ’n onderhoud gevoer is, meen dat ouers hulle kinders bederf en dat dit die grondoorsaak vir die toename in onsosiale gedrag is. Van die onderwysers met wie daar in een meningspeiling ’n onderhoud gevoer is, het 86 persent die blaam op “die gebrek aan duidelike standaarde en verwagtings by die huis” geplaas. Twee-en-tagtig persent sê die afwesigheid van die ouerlike voorbeeld is ’n rede vir die gebrek aan maniere. Gebroke gesinne, egskeiding, saamwonery, oormatige televisiekykery, geen dissipline nie, geen strafmaatreëls nie—dit dra alles by tot die gesin se ondergang.
Een laerskoolhoof het gesê: “Ek is bekommerd oor die afwesigheid van respek onder hedendaagse kinders. Dit traak hulle nie as hulle hulle portuurs verneder of volwassenes beledig nie. . . . Hulle toon hulle oneerbiedigheid op talle maniere—afstootlike gebare, onbetaamlikhede, hulle weier om eenvoudige opdragte te gehoorsaam . . . , hulle wil alleen beheer oor die bal hê . . . [Daarenteen] is daar kinders uit sekere huise wat wel geneig is om ander te respekteer. Hulle hoef nie die onderwyser se witbroodjie te wees nie . . . , maar hulle tree beleef teenoor ander op. Hulle wag hulle beurt af terwyl ander indruk . . . Dit is óf [by die kinders] ingeskerp óf dit is nie.”
’n Ander laerskoolhoof, met jare lange ondervinding, sê verder: “Ons sien al hoe meer blatante gemeenheid. Op die speelgrond speel kinders nie meer soos voorheen nie; hulle dwaal in bendes rond. Hulle is gou om die swakkes uit te ken, die kinders wat nie ’n deel van die groep is nie, die kinders wat nie die regte tekkies of denims dra nie. Hulle maak sulke kinders hulle teiken, hulle bespot hulle; daar’s ’n ondertoon van bitsigheid hierin opgesluit. Ons het dit probeer stopsit, maar ons het nie veel sukses gehad nie.”
“Baie mense bestuur ongelooflik onbeskof”, sê professor Jonathan Freedman van die Universiteit Colombia. “Die hoofweë is amper soos ’n slagveld.” Die Monthly Letter van die Koninklike Bank van Kanada praat van “die meedoënlose slagting op die paaie” en kom tot die slotsom dat “die kern van die probleem onbeskofte gedrag is. Die hoflikheid, bedagsaamheid, geduld, verdraagsaamheid en respek vir menseregte wat nodig is om ’n beskawing te vorm, ontbreek skandelik.”
The New York Times beskryf New York-stad se strate as volg: “Dit is Motoriste vs. Ambulanse.” Al hoe meer motoriste in daardie stad weier om pad te gee vir noodvoertuie, soos ambulanse en brandweerwaens—wat die gevaar verhoog dat iemand wat ernstig siek of beseer is, sal sterf omdat die ambulans nie gou genoeg by hom kan uitkom of hom na ’n hospitaal kan vervoer nie. Kaptein Ellen Scibelli van die Mediese Nooddienste vertel van ’n man wat op Pelham Parkway in die Bronx gery het en geweier het om pad te gee vir ’n ambulans wat op pad was na iemand wat ’n hartaanval gehad het. “Hy was koppig en wou nie padgee nie, maar toe hy by sy huis aankom, het hy besef hoe dwaas dit was. Sy ma het ’n hartaanval gehad en die ambulans het by haar probeer uitkom.”
The New York Times International het vertel van ’n Engelse organisasie met die naam die Polite Society wat gestig is omdat “mense absoluut gemeen teenoor mekaar geword het en iets daaromtrent gedoen moet word”. In ’n rubriek in The Evening Standard het ’n joernalis wat aan die uitsaaiwese verbonde is, gekla: “’n Nasie wat eens vir sy hoflikheid bekend was, is besig om ’n land van onbeskofte mense te word.” ’n Skotse versekeringsmaatskappy “het tot die slotsom gekom dat 47 persent van alle padongelukke teruggevoer kan word tot ’n daad van onbeskoftheid”.
Televisie het grootliks tot die erosie van maniere bygedra, veral in die geval van kinders en tienderjariges. Hoe mense aantrek, hoe mense praat, hoe mense verhoudinge met ander hanteer, hoe mense probleme herhaaldelik met geweld oplos—televisie is ’n leermeester. As ons en ons kinders gereeld na fiktiewe en oppervlakkige televisieprogramme kyk, sal ons maniere uiteindelik die onbeskofte, oneerbiedige en sarkastiese gesindhede weerspieël van die karakters waarna ons kyk. Ouers word dikwels as die dommes en kinders as die slimmes uitgebeeld.
Die wêreld geniet dit om met harde, gebiedende dreigtaal te praat—hulle val ander in die rede en is trots daarop om baasspelerig, luidrugtig, minagtend, beledigend en uitdagend te wees. Onbeskofte gedrag was vroeër deur die gemeenskap oor die algemeen afgekeur, en die skuldige is verstoot. In die hedendaagse samelewing kan ’n onbeskofte daad gepleeg word sonder dat die oortreder gebrandmerk word. En as enigeen daarteen beswaar maak, kan hy onder die tong of die vuis deurloop! Sommige jeugdiges wat in lawaaierige groepe uitgaan, neem oor met hulle vuil taal en walglike gebare—in so ’n mate dat diegene wat na hulle kyk, aanstoot neem aan hulle onbeskofte gedrag—hulle doen dit alles opsetlik om aandag op hulle uitdagende rebelsheid te vestig en om volwassenes deur hulle flagrante onbeskoftheid te skok. Maar soos daar al tereg opgemerk is, “is onbeskoftheid ’n swakkeling se nabootsing van krag”.
Die wette wat die mens al opgestel het om die mensdom se gedrag te rig, sou ’n biblioteek vul; tog het dit nie die leiding voorsien wat die mensdom nodig het nie. Het ons nog meer wette nodig? Of miskien minder? Daar is al gesê: Hoe beter ’n gemeenskap is, hoe minder wette is nodig. Wat van net een wet? Hierdie wet, byvoorbeeld: “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle aan hulle ook doen; want dit is die wet en die profete.”—Mattheüs 7:12.
Gehoorsaamheid aan daardie wet sou die meeste van die huidige probleme uitskakel, maar om die behoeftes van die gemeenskap te bevredig, moet ’n belangriker wet bygevoeg word: “Jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele verstand en uit jou hele krag.”—Markus 12:30.
Die hedendaagse samelewing beskou albei hierdie Bybelse vereistes, tesame met enige ander riglyne wat in die Bybel vervat is, as onnodig. Die Bybel praat van sulke mense in Jeremia 8:9: “Die slim mense kom in die skande . . . hulle het die woord van die HERE verwerp, en watter wysheid sou hulle hê?” Hulle dink ook nie dat dit nodig is dat daar openbare eenstemmigheid hoef te wees oor die waardes wat tradisioneel as noodsaaklike riglyne vir ons erken is nie. Hulle nuwe moraliteit is ’n breë weg wat voorsiening maak vir enige alternatiewe lewenswyses wat individue dalk sou kies—die breë weg wat Jesus geïdentifiseer het as die pad wat na die verderf lei—en daar is baie wat daardeur ingaan.—Mattheüs 7:13, 14.
Die volmaakte voorbeeld
Jesus Christus, die een “wat in die boesem van die Vader is”, is ’n uitstekende voorbeeld vir ons om na te volg (Johannes 1:18). In sy omgang met mense was hy enersyds sag en medelydend, andersyds kragtig en ferm; tog was hy nooit onbeskof of onvriendelik teenoor enigiemand nie. In ’n kommentaar oor “sy buitengewone gawe om op sy gemak te wees met alle soort mense”, sê die boek The Man From Nazareth van Jesus: “Hy het in die openbaar sowel as privaat op gelyke voet met mans en vroue verkeer. Hy was op sy gemak met klein kindertjies in hulle onskuld en was vreemd genoeg ook tuis met bedrieërs, soos Saggeüs, wie se gewete hulle gekwel het. Gerespekteerde huisvroue, soos Maria en Martha, kon met natuurlike vrymoedigheid met hom gesels, maar courtisanes het hom ook opgesoek asof hulle seker was dat hy sou verstaan en hulle soos ’n vriend sou behandel . . . Sy buitengewone onbewustheid ten opsigte van die grense wat gewone mense ingeperk het, is een van sy kenmerkendste eienskappe.”
Jehovah God is altyd beleef wanneer hy met diegene onder hom handel en voeg dikwels “asseblief” by sy versoeke. Toe hy ’n seën oor sy vriend Abraham uitgespreek het, het hy gesê: “Slaan asseblief jou oë op en kyk van die plek waar jy is.” En weer: “Kyk asseblief op na die hemele en tel die sterre” (Genesis 13:14, NW; 15:5, NW). Toe God Moses ’n teken van Sy krag gegee het, het Hy gesê: “Steek asseblief jou hand in die boonste vou van jou kleed” (Exodus 4:6, NW). Baie jare later het Jehovah, deur sy profeet Miga, selfs vir sy eiesinnige volk gesê: “Hoor asseblief, julle hoofde van Jakob en julle aanvoerders van die huis van Israel. . . . Hoor dit asseblief, julle hoofde” (Miga 3:1, 9, NW). Het ons in hierdie opsig “navolgers van God” geword deur asseblief te sê wanneer ons met ander te doen het?—Efesiërs 5:1.
Watter riglyne of sedelike grondreëls bied wêreldwyse mense dus as plaasvervangers vir die Bybelse riglyne wat deur hulle as onaanvaarbaar verwerp word? Dit sal in die volgende artikel bespreek word.
[Lokteks op bladsy 4]
Alledaagse ordentlikheid kan glad nie meer as alledaags beskou word nie
[Lokteks op bladsy 5]
Die ambulans het by sy ma probeer uitkom
[Lokteks op bladsy 6]
‘Onbeskoftheid is ’n swakkeling se nabootsing van krag’
[Foto-erkenning op bladsy 3]
Left: Life; Right: Grandville