Was daar ’n aardwye vloed?
’N VLOED wat die hele wêreld tot niet gemaak het, sou nooit deur die oorlewendes vergeet word nie. Hulle sou hulle kinders en hulle kindskinders daarvan vertel. Sem het nog 500 jaar ná die Vloed geleef om die gebeurtenis aan baie geslagte te vertel. Hy het net tien jaar voor die geboorte van Jakob gesterf. Moses het die ware verslag in Genesis bewaar. ’n Ruk ná die Vloed, toe godtartende mense die Toring van Babel gebou het, het Jehovah hulle taal verwar en hulle “oor die hele aarde” verstrooi (Genesis 11:9). Dit was doodnatuurlik dat hierdie mense verhale van die Vloed saam met hulle geneem het en dat vaders dit aan hulle seuns sou vertel. Die feit dat daar nie net ’n paar nie, maar moontlik honderde verskillende verhale oor daardie groot Vloed is, en dat sulke verhale onder die tradisies van talle primitiewe rasse regoor die wêreld gevind word, is ’n kragtige bewys dat al hierdie mense ’n gemeenskaplike oorsprong gehad het en dat hulle vroeë voorvaders daardie Vloedervaring in gemeen gehad het.
Hierdie volksoorleweringe van die Vloed stem met party belangrike kenmerke van die Bybelse verslag ooreen: (1) ’n plek van toevlug vir ’n paar oorlewendes, (2) ’n andersins aardwye vernietiging van lewe deur water en (3) ’n saad van die mensdom is bewaar. Die Egiptenaars, die Grieke, die Chinese, die Druïdes van Brittanje, die Polinesiërs, die Eskimo’s en Groenlanders, die Afrikane, die Hindoes asook die Amerikaanse Indiane—hulle almal het hulle Vloedverhale.
The International Standard Bible Encyclopedia (Deel 2, bladsy 319) sê: “Vloedverhale is onder byna alle nasies en stamme ontdek. Hoewel hulle die algemeenste op die vasteland van Asië en die eilande net suid daarvan sowel as op die Noord-Amerikaanse vasteland voorkom, is hulle op al die vastelande aangetref. Daar is altesaam tot 270 verhale bekend . . . Die universaliteit van die verslae oor die vloed word gewoonlik aanvaar as bewys van die universele uitwissing van die mensdom deur ’n vloed en die verspreiding van die mensdom van een plek af en selfs uit een familie. Hoewel nie al die tradisies moontlik na dieselfde vloed verwys nie, verwys die oorgrote meerderheid blykbaar wel daarna. Die bewering dat baie van hierdie vloedverhale weens kontak met sendelinge ontstaan het, is sonder grondslag omdat die meeste van hulle deur antropoloë ingesamel is wat nie daarin belanggestel het om die Bybel te verdedig nie.”
In vervloë tye het party primitiewe volke (in Australië, Egipte, Fidji, die Genootskapseilande, Peru, Mexiko en ander plekke) ’n moontlike oorblyfsel van hierdie tradisies oor die Vloed bewaar deur in November ’n ‘Voorouerfees’ of ’n ‘Fees van die dooies’ te vier. Sulke gebruike het ’n kennis weerspieël van die verwoesting wat deur die Vloed veroorsaak is. Volgens die boek Life and Work at the Great Pyramid is die fees in Mexiko op die 17de November gevier omdat hulle “’n tradisie gehad het dat die wêreld voorheen op daardie tyd vernietig is; en hulle het gevrees dat ’n soortgelyke ramp die mensdom teen die einde van ’n kringloop sou uitwis” (Deur professor C. Piazzi Smyth, Edinburg, 1867, Deel II, bladsye 390, 391).
Die boek The Worship of the Dead sê: “Almal vier hierdie fees [van die dooies] . . . op of om en by dieselfde dag waarop die Vloed, volgens die Mosaïese verslag, plaasgevind het, nl. die sewentiende dag van die tweede maand—die maand wat naastenby met ons November ooreenkom” (Deur J. Garnier, Londen, 1904, bladsy 4). Interessant genoeg sê die Bybel dat die Vloed “in die tweede maand, op die sewentiende dag van die maand”, begin het (Genesis 7:11). Daardie “tweede maand” kom ooreen met die laaste deel van Oktober en die eerste deel van November op ons kalender.
Fossieloorblyfsels
Die fossieloorblyfsels van talle diere kan verdere bewys lewer van ’n aardwye vloed. Die oorblyfsels van mammoete en renosters is in verskillende dele van die aarde gevind. Party hiervan is in Siberiese kranse gevind; ander is in ys in Siberië en Alaska bewaar. Trouens, party het nog onverteerde kos in hulle maag of selfs ongekoude kos tussen hulle tande gehad, wat aandui dat hulle skielik gesterf het. Daar word geskat, na aanleiding van die handel in ivoortande, dat tienduisende bene van sulke mammoete al gevind is.
Die fossieloorblyfsels van baie ander diere, soos leeus, tiers, bere en elke, is in dieselfde strata gevind, wat moontlik aandui dat hulle almal tegelykertyd uitgewis is. Party het op sulke vondste gedui as definitiewe fisiese bewys van ’n vinnige verandering in die klimaat en skielike vernietiging wat deur ’n universele vloed veroorsaak is. Ander is egter ten gunste van verduidelikings dat die dood van hierdie diere nie met ’n aardwye ramp verband hou nie. Bewyse dat die Vloed wel plaasgevind het, hang nie van sulke fossiele en gevriesde diereoorblyfsels af nie.
Skriftuurlike bevestiging
Die kragtigste bewys van die historisiteit van die Vloed is die steun wat ander Bybelskrywers onder inspirasie daaraan gegee het. Een voorbeeld is Jesaja (Jesaja 54:9). Esegiël onderskryf ook die historisiteit van Noag (Esegiël 14:14, 18, 20). Petrus verwys dikwels na die verslag van die Vloed in sy briewe (1 Petrus 3:20; 2 Petrus 2:5). Paulus getuig van die groot geloof wat Noag aan die dag gelê het deur die ark vir die oorlewing van sy huisgesin te bou (Hebreërs 11:7). Lukas plaas Noag in die geslagslyn van die Messias se voorvaders.—Lukas 3:36.
Wat Jesus oor die dae van die Vloed gesê het, soos deur Lukas en Matteus opgeteken is, is selfs betekenisvoller. Jesus se woorde is nie slegs ’n onderskrywing van die geloofwaardigheid van die Vloedverslag nie, maar toon die sinnebeeldige en profetiese betekenis van daardie eertydse gebeure. In antwoord op die dissipels se vraag: “Wat sal die teken van u teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel van dinge wees?” het Jesus onder andere gesê: “Want net soos die dae van Noag was, só sal die teenwoordigheid van die Seun van die mens wees. Want soos hulle in daardie dae voor die vloed was—hulle het geëet en gedrink, manne het getrou en vroue is in die huwelik gegee, tot die dag dat Noag in die ark ingegaan het; en hulle het geen ag daarop geslaan totdat die vloed gekom en hulle almal weggesleur het nie—só sal die teenwoordigheid van die Seun van die mens wees.”—Matteus 24:3, 37-39; Lukas 17:26, 27.
Daar is dus oorvloedige bewyse in die geïnspireerde Heilige Skrif self om die egtheid en betroubaarheid van die Vloedverslag te steun. Dit berus nie op die blote tradisies van mense, op die volksoorleweringe van primitiewe volke of op geologiese en argeologiese vondste nie.
As jy enige Bybelvrae het nadat jy hierdie tydskrif gelees het, kan jy gerus met Jehovah se Getuies in jou omgewing in aanraking kom of jy kan aan die uitgewers van hierdie tydskrif skryf. (Sien bladsy 5.)