Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g95 6/8 bl. 17-19
  • Waarom jou liggaam slaap nodig het

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom jou liggaam slaap nodig het
  • Ontwaak!—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die rol van slaap
  • Hoeveel slaap?
  • Gevare weens ’n gebrek aan slaap
  • Hoe om ’n goeie nagrus te kry
  • Hoe kan ek genoeg slaap kry?
    Jongmense vra
  • Slaap—Luukse of noodsaaklikheid?
    Ontwaak!—2003
  • Hoe jy die slaap kan kry wat jy nodig het
    Ontwaak!—2004
  • Slaap—Hoe belangrik is dit?
    Ontwaak!—2011
Sien nog
Ontwaak!—1995
g95 6/8 bl. 17-19

Waarom jou liggaam slaap nodig het

“WAT ek tog nie sou gee vir ’n goeie nagrus nie!” Dit is deesdae ’n algemene klagte. Baie mense dryf hulleself voortdurend, en die daaglikse stres en spanning van die moderne lewe het hulle nadraai.

Dokters, polisiemanne, brandweermanne, vragmotorbestuurders, skofwerkers, moeders met jong kinders en baie ander is onder dié wat maklik die slaap ontneem kan word wat hulle liggaam nodig het. Die miljoene mense wat die frustrasies ondervind wat met ’n gebrek aan slaap gepaardgaan, stel intens daarin belang om te weet hoe om ’n diep, verkwikkende slaap te geniet.

Die rol van slaap

Slaap, of ten minste ’n rusperiode, is blykbaar universeel onder lewende wesens. As jy al troeteldiere soos katte, honde of voëls gehad het, het jy sonder twyfel opgemerk dat katte en honde gereeld in ’n bondeltjie gaan lê en aan die slaap raak en dat voëls stil word en gaan slaap wanneer dit donker word. Feitlik alle diere, voëls en insekte het ’n behoefte aan slaap, of ten minste aan tye van verminderde bedrywigheid. Vir mense is slaap ’n absolute noodsaaklikheid.

Party dink slaap is bloot ’n rusperiode. Maar dit is meer as dit. “Slaap is eintlik ’n ingewikkelde proses van spiere wat saamtrek en ontspan, pols en bloeddruk wat styg en daal en die verstand wat sy selfvervaardigde rolprente maak”, sê The Toronto Star. “Wanneer ’n mens aan die slaap raak”, sê The World Book Encyclopedia, “neem alle bedrywighede af en ontspan die spiere. Die hartklop en asemhaling word stadiger.”

Hoewel wetenskaplikes, dokters en navorsers slaap al baie dekades lank bestudeer, is daar nog basiese raaisels oor die noodsaaklike rol daarvan. Hierdie ondersoekers het nog nie eers ontdek wat slaap eintlik is of waarom ons slaap nie. Dr. Eliot Phillipson van die slaapnavorsingslaboratorium by Toronto se Queen Elizabeth-hospitaal sê: “Ons weet nie watter kritieke biologiese gebeure waardeur ons verkwik word gedurende slaap plaasvind nie.”

Gedurende slaap vind veranderinge in die liggaam plaas wat ons immuunstelsel beïnvloed. Liggaamsdele ontspan en rus, wat die slytasie van die dag se bedrywighede teëwerk. Die algemene skoonmaakwerk wat deur die bloedstroom gedoen word, word doeltreffend verrig, en die chemiese balans word herstel. Slaap kan dus vergelyk word met ’n nagspan wat inkom om dinge vir die volgende dag te herstel en skoon te maak.

Een van die belangrikste funksies van slaap is om die senuweestelsel kans te gee om van sy gebruik gedurende die dag te herstel. Soos The World Book Encyclopedia sê: “Slaap gee weer energie aan die liggaam, veral aan die brein en die senuweestelsel.”

Hoeveel slaap?

Die meeste volwassenes het elke nag sewe of agt uur slaap nodig. Party het minder nodig, ander meer. Daar is sommige wat sê dat hulle redelik goed regkom met vier of vyf uur, hoewel party van hulle dalk gedurende die dag ’n uiltjie knip. Babas het baie meer slaap as volwassenes nodig.

Veral wanneer mense ouer word, vind hulle moontlik dat hulle verskeie kere gedurende die nag wakker word. Party voel miskien dat dit ’n teken is van die begin van ernstige slaapprobleme. Maar hoewel ouer mense dalk nie dieselfde gehalte slaap het as toe hulle jonger was nie, het eksperimente getoon dat dit nie rede tot kommer is as ’n mens ’n paar keer gedurende die nag wakker word nie. Gewoonlik is hulle net kort rukkies wakker, dalk net ’n paar minute, voordat hulle weer aan die slaap raak.

Maar ongeag hoe oud jy is, jy moet nie verwag om heelnag ewe vas te slaap nie. Slaap gaan deur siklusse van dieper slaap wat met ligter slaap afgewissel word. ’n Mens kan in die verloop van ’n nag etlike van hierdie siklusse hê.

Gevare weens ’n gebrek aan slaap

“Navorsers raak al hoe meer besorg oor die aantal mense wat veels te min slaap kry. ’n Langdurige tekort aan slaap, waarsku hulle, kan nadelige gevolge vir ons sowel as die mense om ons hê”, berig The Toronto Star.

“Mense wat nie slaap kry nie, verloor energie en raak opvlieënd. Ná twee dae sonder slaap vind ’n mens dat langdurige konsentrasie moeilik word. . . . Baie foute word gemaak, veral in roetinetake, en soms dwaal jou aandag. . . . Mense wat langer as drie dae nie geslaap het nie, vind dit baie moeilik om helder te dink, te sien en te hoor. Party ondervind periodes van hallusinasies, waartydens hulle dinge sien wat nie werklik bestaan nie”, sê The World Book Encyclopedia.

Toetse het bevind dat proefpersone ná vier dae van slapeloosheid net ’n paar roetinetake kon verrig. Die take wat aandag of selfs minimale vlugheid van verstand vereis, het ondraaglik geword. Die verlies van konsentrasie en vlugheid van verstand was nie die ergste faktore nie. Ná vier en ’n half dae was daar tekens van delirium, en die persoon se visuele wêreld het heeltemal grotesk geword.

’n Tekort aan slaap kan tot groot probleme lei. Meer as een slaperige persoon het al agter die stuurwiel aan die slaap geraak terwyl hy ’n motor bestuur het en het in ’n noodlottige ongeluk betrokke geraak. Slapeloosheid kan ook tot gesins- en huweliksprobleme aanleiding gee, aangesien ’n volgehoue gebrek aan slaap ’n mens meer liggeraak en moeiliker kan maak om mee oor die weg te kom. Dit is belangriker om ’n goeie nagrus te kry as wat party dalk besef.

Hoe om ’n goeie nagrus te kry

Die slaapspesialis dr. Jeffrey J. Lipsitz van die Slaapafwykingsentrum van Toronto gee die volgende wenke om ’n goeie nagrus te kry. Slaap in ’n veilige, stil, donker omgewing en op ’n gemaklike bed. Moenie laat in die dag dut nie, selfs al het jy die vorige nag sleg geslaap; probeer om wakker te bly en om op jou gewone tyd bed toe te gaan. Vermy kafeïen voor slapenstyd. Moenie die bed gebruik om te lees of TV te kyk nie. Vermy swaar oefening en groot maaltye net voor slapenstyd. Behou vaste slaapure, aangesien dit jou liggaam sal help om ’n bestendige slaap-ontwaak-ritme te verkry.

Kom in die gewoonte om te ontspan voordat jy bed toe gaan. Moenie dinge doen wat geneig is om jou opgewonde en wakkerder te maak nie. Vermy byvoorbeeld opwindende rolprente, TV-programme of leesstof. Stimulerende gesprekke net voordat jy bed toe gaan, kan jou ook wakker hou.

Vir party help dit om ’n lou bad (nie warm nie) te neem of om iets ligs te lees wat nie stimulerend is nie. So ook slaaphulpmiddels soos warm melk, karringmelk, ’n bietjie wyn, of kruietee van hop, kruisement of kamille—maar nie tee wat kafeïen bevat nie.

Daar is egter oor die algemeen eenstemmigheid dat dit moontlik nie genoeg is om bloot te ontspan voordat jy bed toe gaan nie. ’n Gesonde, gebalanseerde lewe met gereelde oefening en wat vry is van sorge en frustrasies weens hebsug, jaloesie, vyandigheid en ambisie dra by tot die vermoë om ’n goeie nagrus te geniet. So ook ’n lewe vry van die oormatige gebruik van kos en drank en ’n lewe vry van die ongelukkigheid wat deur onsedelikheid veroorsaak word.

Die bevrediging van ons geestelike behoefte kan ook ’n belangrike rol daarin speel dat ons ’n diep en rustige slaap geniet. Dit sal ons help om die ingewikkelde wêreld waarin ons lewe te verstaan en om ’n gebalanseerde, bevredigende lewenswyse na te streef. ’n Wyse dienaar van God spoor ons aan om insig te verkry en om aan die wysheid van Jehovah vas te hou, want dit sal tot “’n aangename en gelukkige lewe” lei. Dan voeg hy by: “Jy sal nie bang wees wanneer jy gaan slaap nie, en jy sal deur die nag vas slaap.”—Spreuke 3:21-24, Today’s English Version.

[Lokteks op bladsy 18]

Die meeste volwassenes het elke nag sewe of agt uur slaap nodig

[Prent op bladsy 18]

’n Langdurige tekort aan slaap kan nadelige gevolge hê

[Prent op bladsy 18]

Baie mense vind dit uiters moeilik om aan die slaap te raak

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel