Op soek na die water van die lewe
MEER as tweeduisend jaar gelede het ’n florerende stad van 30 000 mense in die Arabiese Woestyn bekendheid verwerf. Ondanks die gebied se strawwe klimaat, waar die gemiddelde reënval net 150 millimeter per jaar is, het die inwoners van Petra geleer om met min water klaar te kom. En Petra het ryk en voorspoedig geword.
Die Nabatese inwoners van Petra het nie elektriese waterpompe gehad nie. Hulle het nie groot damme gebou nie. Maar hulle het geweet hoe om hulle water op te vang en te bewaar. ’n Reusagtige netwerk van klein opgaardamme, walle, kanale en opvangbakke het hulle in staat gestel om die water wat versigtig opgevang is, by hulle stad te kry en hulle lappies grond daarmee nat te lei. Skaars ’n druppel is gemors. Hulle putte en opvangbakke is so goed gebou dat die hedendaagse Bedoeïene dit nog gebruik.
“Waterkunde is die onsigbare prag van Petra”, sê een wateringenieur vol verwondering. “Hulle was absoluut briljant.” Deskundiges in Israel het in onlangse tye die spesiale tegnieke probeer leer van die Nabateërs, wat ook gewasse verbou het in die Negeb, waar die reënval selde meer as 100 millimeter per jaar is. Landboukundiges het die ruïnes ondersoek van duisende klein Nabatese plase wie se eienaars die winterreën op ’n vindingryke wyse in kanale na hulle klein terraslanderye gelei het.
Lesse wat by die Nabateërs geleer is, help boere alreeds in die droogtegeteisterde Sahel-state van Afrika. Moderne metodes van waterbewaring kan egter net so doeltreffend wees. Op Lanzarote, een van die Kanariese Eilande, wat naby die kus van Afrika is, het boere geleer hoe om druiwe en vye te verbou waar daar feitlik geen reën is nie. Hulle plant die wingerdstokke of vyebome onder in ’n ronde gat en bedek dan die grond met ’n laag vulkaniese as om verdamping te voorkom. Genoeg dou kan dan na die wortels deursyfer om ’n goeie oes te verseker.
Eenvoudige oplossings
Soortgelyke verhale van mense wat hulle by droë klimate aanpas, kan regoor die wêreld gevind word—soos onder die Bishnoi-volk, wat in die Thar-woestyn van Indië woon; die Turkana-vroue van Kenia en die Navaho-Indiane van Arizona, VSA. Hulle tegnieke om reënwater op te vang, wat oor baie eeue geleer is, is baie nuttiger in die landbou as die indrukwekkende hipertegnologiese oplossings.
Die 20ste eeu was ’n tyd waarin baie damme gebou is. Magtige riviere is opgedam, en enorme besproeiingstelsels is ontwikkel. Een wetenskaplike skat dat 60 persent van die wêreld se strome en riviere al op die een of ander manier beheer is. Hoewel sulke projekte sekere voordele gebring het, wys ekoloë op die skade wat aan die omgewing aangerig is, om nie eens te praat van die uitwerking op die miljoene mense wat hulle huise verloor het nie.
Maar ten spyte van die goeie bedoelings vind boere wat die water dringend nodig het, selde by hierdie projekte baat. Die voormalige eerste minister van Indië, Rajiv Gandhi, het na besproeiingsprojekte daar verwys en gesê: “Ons het 16 jaar lank baie geld uitgegee. Die mense het niks teruggekry nie, geen besproeiing, geen water, geen verbeterde produksie, geen hulp in hulle daaglikse lewe nie.”
Eenvoudige oplossings is daarenteen nuttiger en minder skadelik vir die omgewing. Klein poele en damme wat deur plaaslike gemeenskappe gebou is, is baie suksesvol in China, waar sesmiljoen al gebou is. In Israel het mense gevind dat hulle met ’n bietjie vindingrykheid dieselfde water eers kan gebruik vir wasdoeleindes, dan vir sanitasie en ten laaste vir besproeiing.
Nog ’n praktiese oplossing is drupbesproeiing, wat die grond bewaar en net 5 persent van die water gebruik wat in tradisionele metodes nodig is. Verstandige gebruik van water beteken ook dat gewasse gekies moet word wat vir ’n droë klimaat geskik is, soos sorghum of giers, en nie gewasse, soos suikerriet of mielies, wat baie besproeiing nodig het nie.
Met ’n bietjie inspanning kan huishoudelike gebruikers en die nywerheid ook minder water gebruik. ’n Kilogram papier kan byvoorbeeld met omtrent een liter water gemaak word as die fabriek se water hersirkuleer word—’n besparing van meer as 99 persent. Mexikostad het gewone toilette vervang met ’n soort wat net ’n derde soveel water as die gewone gebruik. Die stad het ook ’n inligtingsveldtog geborg om waterverbruik drasties te verminder.
Wat nodig is vir sukses
Oplossings vir die waterkrisis—en die meeste omgewingsprobleme—vereis ’n verandering van gesindhede. Mense moet saamwerk pleks van selfsugtig te wees, redelike opofferings maak waar nodig en vasbeslote wees om die aarde vir sy toekomstige inwoners te bewaar. In hierdie verband verduidelik Sandra Postel, in haar boek Last Oasis—Facing Water Scarcity: “Ons het ’n wateretiek nodig—’n gids tot regte gedrag in die lig van ingewikkelde besluite oor natuurlike stelsels wat ons nie ten volle kan verstaan nie.”
So “’n wateretiek” vereis natuurlik meer as net ’n plaaslike poging. Lande sowel as hulle buurlande moet saamwerk, aangesien riviere nie deur landsgrense gekeer word nie. “Besorgdheid oor die hoeveelheid water en die gehalte daarvan—wat nog altyd afsonderlik behandel is—moet nou as ’n wêreldaangeleentheid gesien word”, sê Ismail Serageldin in sy verslag Beating the Water Crisis.
Maar om lande te kry om oplossings vir wêreldaangeleenthede te vind, is nie ’n maklike taak nie, soos die VN se sekretaris-generaal Kofi Annan erken. “In vandag se wêreld wat deur globalisasie gekenmerk word”, sê hy, “is die beskikbare meganismes vir wêreldwye optrede nog in wording. Dit is hoog tyd dat ons groter betekenis gee aan die gedagte van ’n ‘internasionale gemeenskap’.”
Dit is duidelik dat genoeg goeie water—hoewel dit noodsaaklik is—nie al is wat nodig is om ’n gesonde en gelukkige lewe te lei nie. Mense moet eerstens erken dat hulle ’n verpligting het teenoor die Een wat vir ons water en die lewe self gegee het (Psalm 36:10; 100:3). En pleks van kortsigtig te wees en die aarde sowel as sy hulpbronne uit te buit, moet hulle dit ‘bewerk en bewaak’, soos ons Skepper ons eerste ouers beveel het om te doen.—Genesis 2:8, 15; Psalm 115:16.
’n Beter soort water
Aangesien water so noodsaaklik is, is dit nie verbasend dat die Bybel dit ’n simboliese betekenis gee nie. Trouens, om die lewe te geniet soos ons veronderstel was, moet ons die bron van hierdie simboliese water erken. Ons moet ook leer om die gesindheid te weerspieël van die eerste-eeuse vrou wat vir Jesus Christus gesê het: “Meneer, gee my hierdie water” (Johannes 4:15). Kyk byvoorbeeld wat gebeur het.
Jesus het by ’n diep put naby hedendaagse Nabloes gaan sit—blykbaar is dit dieselfde put wat mense van regoor die wêreld vandag nog besoek. ’n Samaritaanse vrou het ook na die put toe gekom. Soos baie vroue van die eerste eeu het sy ongetwyfeld gereeld hierheen gekom om toe te sien dat daar genoeg water in haar huis is. Maar Jesus het gesê dat hy vir haar “lewende water” kon gee—’n bron van water wat nooit sou opraak nie.—Johannes 4:10, 13, 14.
Dit het natuurlik die vrou se belangstelling gewek. Maar die “lewende water” waarvan Jesus gepraat het, was natuurlik nie letterlike water nie. Jesus het die geestelike voorsienings in gedagte gehad wat mense kan help om vir ewig te lewe. Daar is egter ’n verband tussen simboliese en letterlike water—ons het albei nodig om die lewe ten volle te geniet.
By meer as een geleentheid het God vir sy volk voorsiening gemaak toe hulle te min water gehad het. Hy het op wonderdadige wyse water voorsien vir die groot skare Israelitiese vlugtelinge wat op pad na die Beloofde Land deur die Sinai-woestyn moes trek (Exodus 17:1-6; Numeri 20:2-11). Elisa, ’n profeet van God, het die put van Jerigo gereinig wat besoedel was (2 Konings 2:19-22). En toe ’n oorblyfsel van berouvolle Israeliete van Babilon af na hulle tuisland teruggekeer het, het God hulle na “waters in die woestyn” gelei.—Jesaja 43:14, 19-21.
Ons aarde het dringend ’n onuitputlike watervoorraad nodig. Aangesien ons Skepper, Jehovah God, in die verlede waterprobleme opgelos het, sal hy dit dan nie weer in die toekoms doen nie? Die Bybel verseker ons dat hy dit sal doen. God beskryf toestande onder sy beloofde Koninkryk en sê: “Ek sal riviere op die kaal heuwels oopmaak en fonteine in die laagtes; Ek sal die woestyn ’n waterplas maak en die dor land waterbronne . . . sodat hulle almal saam kan sien en beken en opmerk en verstaan dat die hand van die HERE dit gedoen het.”—Jesaja 41:18, 20.
Die Bybel belowe ons dat mense dan ‘geen honger en geen dors sal hê nie’ (Jesaja 49:10). Danksy ’n nuwe wêreldregering sal die waterkrisis beslis opgelos word. Hierdie regering—die Koninkryk, waarvoor Jesus ons leer bid het—sal heers “deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid” (Jesaja 9:5, 6; Matteus 6:9, 10). Gevolglik sal mense in alle wêrelddele uiteindelik ’n ware internasionale gemeenskap word.—Psalm 72:5, 7, 8.
As ons nou na die water van die lewe soek, kan ons die vooruitsig hê om die tyd te sien wanneer daar genoeg water vir almal sal wees.
[Prente op bladsy 10]
Bo: Die eertydse inwoners van Petra het geweet hoe om water te bewaar
Onder: ’n Nabatese waterkanaal in Petra
[Erkenning]
Garo Nalbandian
[Prent op bladsy 10]
Boere op een van die Kanariese Eilande het geleer hoe om plante te kweek waar daar feitlik geen reën is nie
[Prente op bladsy 13]
Wat het Jesus bedoel toe hy hierdie vrou “lewende water” belowe het?