Leif Eriksson—Het hy Amerika ontdek?
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN DENEMARKE
WIE het Amerika ontdek? Niemand weet werklik vir seker nie. Die antwoord hang baie af van hoe jy “ontdek” en “Amerika” definieer. Hierdie uitgestrekte land was immers al eeue lank bewoon voordat Europeërs selfs geweet het dat dit bestaan. Vroeg in 1493 het Christophorus Columbus na Europa toe teruggekeer met eerstehandse inligting oor sy eerste seevaart na die Amerikas. Hy het eintlik by die eilande van die Wes-Indies aangedoen. Maar hy was nie die eerste Europeër wat hierdie merkwaardige nuwe wêreld bereik het nie. ’n Groep blonde Skandinawiërs het blykbaar 500 jaar vroeër die Noord-Amerikaanse vasteland bereik.
Die Noord-Atlantiese Oseaan was waarskynlik duisend jaar gelede net so koud en onvoorspelbaar soos wat dit vandag is. ’n Seeman dink dalk dat hy die oseaan se veranderende winde en seestrome verstaan, maar mis en stormweer kan dit vir hom weke lank onmoontlik maak om te bepaal waar hy is. Volgens een van die ou Noorse sagas is dit presies wat een somer met die jong Bjarni Herjolfsson, ’n ervare seevaarder en avonturier, gebeur het. Hy het verdwaal—maar hy het heel moontlik ’n vasteland ontdek!
Dit was tydens die Vikingera toe die Nore hulle mag oor die seë en in Europa uitgebrei het. Hulle smal, seewaardige skepe kon enige plek van die kus van Noorweë af tot langs die strande van Noord-Afrika en tot op die riviere van Europa gesien word.
Volgens die Saga of the Greenlanders het Bjarni ’n lang seereis na Noorweë onderneem. Terwyl die winter van 986 G.J. nader gekom het, het hy met ’n vol vrag na Ysland toe teruggekeer. Maar tot sy verbasing het hy uitgevind dat sy vader Ysland met ’n vloot skepe onder leiding van Rooi Erik verlaat het. Hulle het weggegaan om hulle in ’n groot land te gaan vestig wat Erik wes van Ysland ontdek het. Om dit selfs groter aantrekkingskrag te gee, het Erik die eiland Groenland genoem. Die jong Bjarni het vasbeslote na Groenland vertrek. Maar toe het die windrigting verander. Die seevaarders is deur mis omring. “HulIe het dae lank nie geweet waar hulle is nie”, sê die saga wat hierbo genoem word.
Toe die seemanne uiteindelik land sien, het dit nie met die beskrywing van Groenland ooreengekom nie. Die kus het ruig, heuwelagtig en bebos gelyk. Hulle het noordwaarts met die kus aan hulle linkerkant gevaar. Toe hulle weer land sien, het dit net so min na Groenland gelyk as toe hulle die eerste keer land gesien het. Maar ’n paar dae later was die land anders—bergagtiger en daar was meer gletsers. Toe het Bjarni en sy bemanning ooswaarts na die oop see gedraai en uiteindelik Groenland en die Noorse kolonie van Rooi Erik gevind.
Leif Eriksson begin sy vaart
Dit is miskien hoe Europeërs in die begin—sonder om aan wal te stap—die vasteland gesien het wat later as Noord-Amerika bekend geword het. Die verslag van wat Bjarni gesien het, het die belangstelling van sy mede-Noormanne in Groenland gewek. Hulle koue land het min bome gehad, en hulle moes op dryfhout staatmaak of timmerhout ten duurste van oorsee af invoer sodat hulle hulle skepe en huise kon bou en herstel. Maar blykbaar net oorkant die water na die weste toe was ’n woudryke land met tallose bome!
Leif Eriksson, ’n seun van Rooi Erik, was veral nuuskierig oor hierdie nuwe land. Leif is beskryf as “’n groot, sterk en wyse man met ’n indrukwekkende voorkoms”. Om en by die jaar 1000 het Leif Eriksson Bjarni se skip gekoop, en met ’n bemanning van 35 het hy vertrek om die kuste te vind wat Bjarni gesien het.
Drie nuwe lande
As die sagas akkuraat is, het Leif eers ’n graslose land gevind, met groot gletsers wat die hooglande bedek het. Omdat daardie land soos ’n groot plat rots gelyk het, het Leif dit Helluland genoem—wat “Plaatklipland” beteken. Dit was moontlik op hierdie tydstip dat Europeërs vir die eerste keer in Noord-Amerika voet aan wal gesit het. Geskiedkundiges meen vandag dat Helluland die Baffin-eilande in noordoostelike Kanada was.
Die Noorse ontdekkers het verder suid-waarts gevaar. Hulle het ’n tweede land ontdek wat plat en bebos was, met wit strande. Leif het dit Markland genoem, wat “Woudland” beteken en vandag meestal met Labrador vereenselwig word. Hulle het kort voor lank ’n derde en selfs meer belowende land ontdek.
Die saga sê voorts: “Hulle het die see ingevaar en was twee dae op see, terwyl ’n noord-oostelike wind gewaai het, voordat hulle land gesien het.” Hierdie nuwe land was so mooi dat hulle besluit het om huise te bou en die winter daar deur te bring. Gedurende die winter “het die temperatuur nooit onder vriespunt gedaal nie en het die gras net effens verdor”. Een van die mans het selfs later druiwe en wingerde gevind; daarom het Leif Eriksson die land Vinland genoem, wat moontlik “Wynland” beteken. Die volgende lente het die mans met hulle skepe vol van Vinland se oorvloed na Groenland toe teruggeseil.
Geleerdes sal vandag graag wil weet presies waar hierdie Vinland met sy groen weivelde en druiwe was, maar die ligging daarvan is nog steeds onbekend. Sommige navorsers vind dat topografiese kenmerke in Newfoundland ooreenkom met die beskrywings in eertydse sagas. ’n Terrein wat in Newfoundland opgegrawe is, toon dat Noormanne wel die eiland besoek het. Maar ander wetenskaplikes meen dat Vinland verder suid moes gewees het en dat die terrein in Newfoundland vir die Noormanne maar net ’n basiskamp of poort na ’n suideliker Vinland was.a
Watter bewyse is daar?
Niemand weet werklik hoe om die besonderhede van hierdie Noorse saga met vandag se aardrykskunde te versoen nie. Die vae en kriptiese besonderhede van die sagas fassineer geskiedkundiges al lank. Maar die mees afdoende bewys dat die Nore voor Columbus in Amerika was, is die terrein wat gedurende die 1960’s en 1970’s in Newfoundland naby die dorpie L’Anse aux Meadows opgegrawe is. Hierdie terrein bevat murasies wat sonder twyfel Noors is, sowel as ’n ystersmeltoond en ander voorwerpe wat uit die tyd van Leif Eriksson dateer. ’n Deense ontdekkingsreisiger wat in suidelike Newfoundland werk, het ook onlangs ’n sorgvuldig afgewerkte ballasklip gevind wat waarskynlik in ’n Vikingskip gebruik is.
Die seereise wat die Noormanne na nuwe lande in die verre weste onderneem het, is nie geheim gehou nie. Leif Eriksson het na Noorweë gereis om vir die Noorweegse koning te vertel wat hy gesien het. Toe Adam, ’n Duitse geskiedkundige wat hoof van ’n katedraalskool en uit Bremen afkomstig was, omstreeks 1070 na Denemarke gereis het om meer omtrent lande in die noorde te leer, het koning Sweyn van Denemarke hom van Vinland met sy uitstekende wyn vertel. Hierdie bietjie kennis is in die kroniek van Adam van Bremen opgeteken. Gevolglik het talle geleerdes in Europa te wete gekom van die westerse Iande wat deur Noormanne besoek is. Daarbenewens maak eertydse geskiedenisboeke van die 12de en 14de eeu oor Ysland melding van ’n paar Noorse seereise wat later na Markland en Vinland wes van Groenland onderneem is.
Christophorus Columbus het heel moontlik ook van die seereise geweet wat ongeveer 500 jaar voor sy tyd na Vinland onderneem is. Volgens een boek oor Vinland is daar aanduidings dat Columbus voor sy beroemde seereis van 1492/93 selfs na Ysland toe gereis het om daar die verslae te bestudeer.
Wat het van die Noormanne geword?
Daar is geen verslag van ’n permanente Noorse kolonie in Amerika nie. Hulle het dalk ’n kort rukkie sonder enige sukses probeer om hulle daar te vestig; maar die omstandighede was moeilik, en die Indiane—wat die Vikings Skraelings genoem het—was ’n gedugte vyand vir die indringers. In Groenland het die nakomelinge van Rooi Erik en sy seun Leif Eriksson ’n moeilike tyd deurgemaak. Die weer het al hoe onplesieriger geword en lewensmiddeIe skaarser. Ná vier of vyf eeue het die Nore blykbaar heeltemal uit Groenland verdwyn. Die laaste geskrewe verslag van Noormanne in Groenland is in verband met ’n troue wat in 1408 in ’n Groenlandse kerkie gehou is. Meer as ’n eeu later het ’n Duitse handelskip die Groenlandse kolonie heeltemal verlate gevind, met net die lyk van ’n man—met sy mes nog langs hom—wat nie begrawe is nie. Niks word daarna omtrent die Noormanne in Groenland gemeld nie. Eers in die 18de eeu het Noorweegse en Deense setlaars daar aangekom om ’n permanente kolonie te stig.
Dit was egter van Groenland af dat onverskrokke Noorse seevaarders gevaar het om na ’n nuwe wêreld te soek. ’n Mens kan jou nog steeds daardie moedige seevaarders voorstel wat hulle skepe met vierkantige seile oor onbekende waters stuur totdat hulle met verwondering na ’n vreemde kuslyn op die horison staar—hulle sou nooit kon raai dat Christophorus Columbus vyf eeue later die ontdekker van hierdie Nuwe Wêreld genoem sou word nie.
[Voetnoot]
a Sien die artikel “Waar is die legendariese Vinland?” in die Ontwaak! van 8 Julie 1999.
[Venster op bladsy 20]
HOE HET DIE VIKINGS KOERS GEHOU?
Die Noorse Vikings het nie kompasse gehad nie. Hoe kon hulle dan sulke uitstekende seevaarders wees? Wanneer hulle nie op die oop see was nie, het hulle al langs ’n kus geseil. Wanneer dit moontlik was, het hulle ’n seestraat by ’n punt oorgesteek waar ’n mens aan albei kante land kon sien. Hulle het boonop ook geweet hoe om die son en die sterre te volg. Hulle het byvoorbeeld die breedtegraad vasgestel deur ’n eenvoudige stelsel te gebruik wat bestaan het uit tabelle met syfers vir elke week van die jaar en ’n meetstok om die hoogte van die middagson bo die horison te bepaal. Omdat hulle geen stelsel gehad het om die lengtegraad uit te werk nie, het hulle verkies om reg oos of reg wes te seil wanneer hulle op die oop see was terwyl hulle ’n gekose breedtegraad gevolg het.
As hulle byvoorbeeld van Groenland af na ’n punt op Vinland se kus wou seil, het hulIe suidwaarts van Groenland af gevaar totdat hulle die regte breedtegraad bereik het; dan het hulle reg wes gedraai en die geskikte hawe gevind. Die Vikings het dit ook nuttig gevind om die voëls op die oop see dop te hou. Hulle was bedrewe daarin om na vlieënde voëls te kyk en dan te bepaal waar daar land was—asook watter soort land dit was. Hulle het soms kraaie saam met hulle geneem, want wanneer die voëls vrygelaat is, het hulle na die naaste kus gevlieg. Die Vikingbemanningslede het dan geweet waar om die naaste land te vind.
lets anders wat hulle gehelp het om koers te hou, was om die waterdiepte te bepaal. ’n Vikingseevaarder het ’n Iyn met ’n loodgewiggie in die water laat afsak. Dit het twee funksies verrig. Eerstens het dit hom in staat gestel om die diepte van die water te bepaal. Nadat die gewiggie die bodem bereik het, het die seevaarder die Iyn opgetrek en die lengte van sy uitgestrekte arms gebruik om die afstand te meet. Tot vandag toe nog meet seemanne diepte in terme van die 1,8 meter “vaam”, ’n term wat van ’n Oudnoorse woord afgelei is wat “uitgestrekte arms” beteken. Maar die loodgewiggie het ’n tweede funksie gehad. Dit is dikwels met ’n hol bodem gemaak wat met kersvet gevul is. Die gewiggie het derhalwe ’n monster van die seebodem saam opgebring. Die seevaarder het dan gekyk waaruit die monster bestaan en sy seekaarte geraadpleeg, wat die aard van die seebodem op verskeie plekke beskryf het. Hoewel hulle instrumente eenvoudig was, het die Vikings besonder goeie seevaarders geword.
[Erkenning]
Foto: Stofnum Arna Magnussonar, Iceland
[Kaart op bladsy 18]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
NIEU-SKOTLAND
Bjarni Herjolfsson vaar omstreeks 986 G.J. van Ysland af
NEWFOUNDLAND
LABRADOR
BAFFIN-EILAND
GROENLAND
Leif Eriksson vertrek omstreeks 1000 G.J. van Groenland af
GROENLAND
BAFFIN-EILAND
LABRADOR
NEWFOUNDLAND
[Erkenning]
Mountain High Maps Copyright 1997 Digital Wisdom, Inc.
[Prent op bladsy 18]
Links: ’n Voorstelllng van Rooi Erik se huis in Groenland
[Prent op bladsy 18]
’n Replika van ’n Vikingskip wat die roete van Leif Eriksson se seereis volg
[Erkenning]
Vikingskepe op bladsye 2 en 18: Foto’s: Narsaq Foto, Greenland
[Prent op bladsy 21]
Standbeeld van Leif Eriksson, Ysland
[Prent op bladsy 21]
L’Anse aux Meadows, Newfoundland
[Erkenning]
Parks Canada
[Foto-erkenning op bladsy 20]
Artefakte ten toon gestel by: Museum of National Antiquities, Stockholm, Sweden