Ons beskou die wêreld
Hedendaagse “galeislawe”
“Tienduisende matrose op handelskepe word soos slawe behandel”, sê die International Herald Tribune. ’n Verslag deur die Internasionale Skeepvaartkommissie het getoon dat hierdie matrose “aan onveilige toestande blootgestel word, buitensporige lang ure werk, nie hulle lone ontvang nie, te min kos kry en verkrag en geslaan word”. Die matrose van party skepe loop gevaar om gebrandmerk of selfs oorboord gegooi te word as hulle kla of na vakbonde vir hulp gaan. Die vernaamste slagoffers van hierdie “hedendaagse slawerny” is van ontwikkelende lande afkomstig. Weens ekonomiese probleme in hulle eie land, is daar vir baie van hulle geen ander manier om geld te verdien nie. Volgens die skrywer van die verslag is hulle dus “kwesbaar . . . [en word hulle] bedrieg en beroof”.
“Die natuur se geheime” gaan verlore
“Die VN skat dat tot 90% van die wêreld se tale gedurende die volgende eeu kan uitsterf, en daarmee saam heelwat waardevolle kennis oor die natuur”, sê ’n berig van BBC News. Inheemse tale is dikwels ’n skatkis vir die bewaring van tradisies, liedjies en verhale wat van geslag tot geslag oorgedra word en wat ’n mens waardevolle lesse oor die plaaslike omgewing en die dierelewe leer. Die Turkanavolk van noordwestelike Keinia bestudeer byvoorbeeld al lank die gedrag van sekere voëls om te voorspel wanneer dit gaan reën. Dit help hulle om te bepaal wanneer hulle hulle gewasse moet plant. As hulle taal uitsterf, sal baie geslagte se kennis verlore gaan. Daar het glo alreeds 234 inheemse tale uitgesterf, en ’n verdere 2 500 is op die randjie van uitsterwing. “Die natuur se geheime, wat in die liedjies, verhale, kuns en handwerk van die inheemse volke opgesluit is, kan vir ewig verlore gaan”, sê die VN-verslag, wat waarsku dat dit gepaard kan gaan met ’n toename in misoeste.
Papier word nog steeds verkies
Daar is meer as ’n kwarteeu gelede voorspel dat al hoe minder papier gebruik sou word namate rekenaars algemene kantoortoerusting word en inligting elektronies geberg kan word. Tog bly die aanvraag na papier toeneem. Volgens die koerant Vancouver Sun het Kanadese in 1999 in werklikheid 25 persent meer kopieer- en fakspapier as in 1992 gebruik. Dit is “66 pond (30 kilogram) papier per jaar vir elke Kanadees, insluitende kinders”. Een opname onder kantoorwerkers het getoon dat mense nog steeds ’n harde kopie wil hê, al word rekenaars aanvanklik gebruik om na inligting te kyk. Dit is ook waar van diegene wat rekenaars by die huis het, sê die Sun. Kinders is deesdae “van die grootste papiergebruikers”, want hulle wil alles uitdruk wat hulle skep of op die rekenaarskerm sien.
Die bedreiging van georganiseerde misdaad
“Internasionaal georganiseerde misdaad is nou ’n groter bedreiging vir die veiligheid van gewone mense as wat oorlog is.” Volgens die nuusdiens Agence France-Presses was dit ’n punt wat by ’n onlangse konferensie oor transnasionale misdaad na vore gekom het. In ’n toespraak by die konferensie in Tokio het Pilla Arlacchi, die ondersekretarisgeneraal van die VN se Buro vir Dwelmbeheer en Misdaadvoorkoming, gesê: “Die graad en omvang van internasionale misdaad is nou heeltemal onaanvaarbaar vir staatsamptenare en die algemene bevolking.” Hy het gesê dat die handel in mense die snelgroeiendste misdaad van alle internasionale misdade is en dat tot ’n miljoen vroue en kinders deur kriminele groepe oor grense gesmokkel word met groot winste wat gemaak word. “Geen land kan transnasionale, georganiseerde misdaad op sy eie hokslaan nie”, het Boenmei Iboeki, die voormalige politieke hoof van Japan se polisiedienste, gesê. “Dit is waarom plaaslike en wêreldwye wetstoepassing al hoe noodsaakliker word.”
Rommel in ons ruimte
Sedert die mens ongeveer 40 jaar gelede begin het om die buitenste ruimte te verken, het hy die deel om die aarde in ’n rommelwerf omskep. Volgens The News van Mexikostad is byna 4 000 vuurpyle al gelanseer en het dit “meer as 23 000 ‘waarneembare’ voorwerpe in die ruimte [agtergelaat], waarvan elkeen groter as ’n krieketbal is”. Hiervan word ongeveer 6 000 as “rommel” beskou, wat na raming gesamentlik 1 800 ton weeg. Botsings tussen ruimtevoorwerpe het sowat 100 000 kleiner brokstukkies veroorsaak. Hoewel hierdie brokstukkies nie ’n gevaar vir die aarde inhou nie, hou dit wel ’n groot gevaar vir ruimtevaart in weens die spoed waarteen dit beweeg. ’n Baie klein stukkie metaal wat teen ’n spoed van 50 000 kilometer per uur beweeg, kan ’n ruimtestasie se venster laat kraak, ’n gat in ’n sonpaneel veroorsaak of ’n ruimtevaarder se pak tydens ’n ruimtewandeling skeur. “NASA is besig om Projek Orion te ontwikkel, ’n ‘kosmiese besem’ om die atmosfeer se rommel weg te vee”, sê The News. “Die idee is om die rommel met lasers te skiet, . . . sodat hulle in die boonste laag van die Aarde se atmosfeer sal beland waar hulle dan behoort op te brand sonder om enige skade te veroorsaak.”
Haweloosheid neem toe
“Die VN het in die Universele Verklaring van Menseregte van 1948 beskryf hoe noodsaaklik dit is om voldoende behuising te hê, maar meer as ’n halfeeu later is die reg op ’n veilige woning glad nie gewaarborg nie”, sê BBC News. ’n Onlangse VN-verslag skat dat 100 miljoen mense regoor die wêreld haweloos is—waaronder meer as 30 miljoen kinders—en waarsku dat die situasie besig is om te vererger. Die VN skryf die probleem in ontwikkelende lande hoofsaaklik toe aan vinnige verstedeliking. Daarbenewens leef sowat 600 miljoen mense in Suidoos-Asie en Afrika in oorvol, armoedige huise wat sonder die nodige sanitêre geriewe en water toegerus is. Welvarende lande ondervind dieselfde probleem. In die Verenigde State leef tot 700 000 mense op straat. In sekere dele van Wes-Europa is 12 uit elke 1 000 mense haweloos.
“Aan die uitsterf”?
“Sakkerollery is aan die uitsterf in Osaka,” Japan, omdat “jongmense nie meer daarin belangstel om die vaardigheid aan te leer nie”, berig Asahi Evening News. Volgens ’n plaaslike polisiebeampte neem dit ’n paar jaar voordat ’n mens bedrewe in hierdie soort diefstal word. Dit lyk of jong misdadigers makliker maniere verkies om te steel. Gevalle waar grypdiewe met ’n handsak weghardloop, is byvoorbeeld vinnig aan die toeneem. ’n Derde van al die verdagtes wat verlede jaar in verband met sakkerollery in die Osaka-prefektuur in hegtenis geneem is, was 60 jaar of ouer. Die oudste, ’n 78-jarige man, is vir die 12de keer gearresteer toe hy ’n brilkassie uit ’n bejaarde vrou se handsak gesteel en op heterdaad betrap is. “Sy oë is so swak dat hy ’n brilkassie gesteel en gedink het dat dit ’n beursie is”, het ’n speurder gesê.
Rolmodelle agter die wiel
“Ouers moet besef dat hulle rolmodelle vir hulle kinders kan wees nog voordat die kinders ’n rybewys het en terwyl hulle leer bestuur”, sê Susan Ferguson van die Versekeringsmaatskappy vir Hoofwegveiligheid. Soos berig is in die tydskrif New Scientist, het sy en haar kollegas die ongeluksrekord van 140 000 Amerikaanse gesinne nagegaan en ouers vergelyk met hulle kinders wat tussen 18 en 21 is. Die kinders van ouers wat binne vyf jaar drie of meer motorongelukke gehad het, se kanse was 22 persent groter om self by ’n ongeluk betrokke te wees as die kinders van ouers wat geen ongelukke gehad het nie. Dit was ook die geval met verkeersoortredings, soos om die snelheidsgrens te oorskry of om deur ’n rooi verkeerslig te ry. In hierdie gevalle was die kanse 38 persent groter dat die kinders hulle ouers se voorbeeld volg. “Ouers moet ’n voorbeeld stel”, sê Jane Eason van Brittanje se Vereniging vir die Voorkoming van Ongelukke. “Dit is nooit te vroeg om mense omtrent padveiligheid te leer nie.”
“Die wêreld se grootste lewende organisme”
“Die wêreld se grootste lewende organisme, ’n fungus wat Armillaria ostoyae genoem word, kruip ongesiens deur die immergroen woude van oostelike Oregon”, sê die tydskrif National Wildlife. “Die fungus is ten minste 2 400 jaar oud en strek oor ’n oppervlak van meer as [900 hektaar]—of byna 1 700 rugbyvelde—volgens die wetenskaplikes aan die Amerikaanse Bosboudepartement wat dit ontdek het.” Die fungus leef onder die grond, sprei stadig uit en gebruik dikwels boomwortels om van boom tot boom te versprei. Maar die fungus het ’n “donker kant”, sê die bosbouers. “Armillaria veroorsaak ’n wortelsiekte wat bome uiteindelik kan laat sterf”, berig die tydskrif.