Hoe die Ontwaak! sy lewe gered het
“EK WOU nie langer ’n las vir my gesin wees nie; daarom het ek besluit dat selfmoord die uitweg is.” So skryf ’n man van Nepal. Hy sê verder: “Ek het ’n tou gereed gehou en op die plek en datum besluit. Maar ek het net ’n week voor daardie dag die Ontwaak! van 22 Februarie 2000 ontvang.”
Die voorbladartikels van daardie nommer was “Selfmoord—Wie loop die grootste risiko?” Die man skryf: “Dit het al my krag en moed geverg om dit te neem en te lees. Die verduideliking van die tien risikofaktore by selfmoord het ’n groot indruk op my gemaak en my van plan laat verander.” Hy het afgesluit: “Ek kan julle nie genoeg bedank vir wat julle vir my gedoen het nie. Deur hierdie artikel te skryf, het julle my lewe gered!”
Daar is baie faktore betrokke by vandag se stygende selfmoordsyfer. Een hiervan is dat so baie mense geen sin in die lewe kan sien nie. Die brosjure Wat is die doel van die lewe? Hoe kan jy dit vind? het baie al gehelp om te besef dat daar werklik ’n hoop op ’n beter lewe is. Jy kan hierdie brosjure aanvra deur die bygaande koepon in te vul en dit na die adres op die koepon of na die gepaste adres op bladsy 5 van hierdie tydskrif te pos.
□ Lewer asseblief die brosjure Wat is die doel van die lewe? Hoe kan jy dit vind? by my af.
□ Tree asseblief met my in verbinding in verband met ’n gratis tuisbybelstudie.