Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 10/22 bl. 3-4
  • ’n Wêreldwye probleem

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Wêreldwye probleem
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Kulturele verskille
  • Selfmoord—’n plaag onder jongmense
    Ontwaak!—1998
  • Waarom mense nie meer kans sien vir die lewe nie
    Ontwaak!—2001
  • Selfmoord—Die verborge epidemie
    Ontwaak!—2000
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 10/22 bl. 3-4

’n Wêreldwye probleem

“Selfmoord is ’n ernstige openbare gesondheidsprobleem.”—David Satcher, Amerikaanse geneesheer-generaal, in 1999.

MET hierdie woorde het ’n geneesheer-generaal van die Verenigde State vir die eerste keer in die geskiedenis ’n openbare aangeleentheid van selfmoord gemaak. In daardie land vind daar nou meer selfmoorde as moorde plaas. Dit is nie verbasend nie dat die Amerikaanse Senaat die voorkoming van selfmoord tot ’n nasionale prioriteit verklaar het.

Tog is die selfmoordsyfer in die Verenigde State, wat 11,4 per 100 000 in 1997 was, minder as die wêreldwye selfmoordsyfer wat in 2000 deur die Wêreldgesondheidsorganisasie bekend gemaak is—16 per 100 000. In die afgelope 45 jaar het selfmoordsyfers wêreldwyd met 60 persent toegeneem. In een jaar neem daar nou sowat ’n miljoen mense regoor die wêreld hulle eie lewe. Dit kom neer op ongeveer een selfmoord elke 40 sekondes!

Syfers kan egter nie die volle verhaal vertel nie. In baie gevalle ontken gesinslede dat die persoon selfmoord gepleeg het. Volgens skattings is daar boonop tussen 10 en 25 selfmoordpogings vir elke geslaagde selfmoord. Volgens een opname het 27 persent van hoërskoolleerlinge in die Verenigde State erken dat hulle gedurende die vorige jaar selfmoord ernstig oorweeg het; 8 persent van die groep met wie ’n onderhoud gevoer is, het gesê dat hulle selfmoord probeer pleeg het. Ander studies het bevind dat 5 tot 15 persent van volwassenes al die een of ander tyd selfmoordgedagtes gehad het.

Kulturele verskille

Mense se beskouing van selfmoord verskil grootliks. Party beskou dit as ’n misdaad, ander as ’n lafhartige uitweg en ander weer as ’n eerbare manier om vir ’n fout om verskoning te vra. Party beskou dit selfs as ’n edele manier om ’n saak te bevorder. Waarom is daar soveel uiteenlopende beskouings? Kultuur speel ’n groot rol. Trouens, The Harvard Mental Health Letter gee te kenne dat kultuur dalk selfs “’n rol speel in die waarskynlikheid dat mense selfmoord sal pleeg”.

Neem byvoorbeeld ’n land in Sentraal-Europa—Hongarye. Dr. Zoltán Rihmer verwys na die hoë selfmoordsyfer daar as Hongarye se “hartseer ‘tradisie’”. Béla Buda, die direkteur van Hongarye se Nasionale Instituut vir Gesondheid, het gesê dat Hongare te maklik selfmoord pleeg, feitlik om enige rede. “Hy het kanker—hy weet hoe om ’n einde daaraan te maak”, is, volgens Buda, ’n algemene reaksie.

In Indië was daar vroeër ’n godsdiensgebruik wat sutti genoem is. Hoewel hierdie gebruik, waarvolgens ’n weduwee haar op haar man se lykstapel werp, al lank verbode is, het dit nog nie heeltemal uitgesterf nie. Toe een vrou na bewering op hierdie manier selfmoord gepleeg het, het baie van die plaaslike inwoners die tragedie opgehemel. Volgens India Today was daar in daardie deel van Indië “in [25 jaar] ongeveer 25 vroue wat hulle op hulle mans se lykstapels verbrand het”.

In Japan is dit opmerkenswaardig dat selfmoord drie keer meer lewens eis as verkeersongelukke! “Japan se tradisionele kultuur, wat selfmoord nog nooit veroordeel het nie, is bekend vir ’n uiters ritualistiese en goed gevestigde vorm van buikoopsnyding (seppoekoe of harakiri)”, sê Japan—An Illustrated Encyclopedia.

Inazo Nitobe, wat later die ondersekretaris-generaal van die Volkebond geword het, het in sy boek Bushido—The Soul of Japan hierdie kulturele beheptheid met die dood verduidelik. Hy het geskryf: “[Seppoekoe] het in die Middeleeue ontstaan en was ’n manier waarop krygsmanne vir hulle misdade boete kon doen, vir foute om verskoning kon vra, hulle skande kon ontduik, hulle vriende kon vergoed of hulle opregtheid kon bewys.” Hoewel hierdie ritualistiese vorm van selfmoord oor die algemeen iets van die verlede is, maak party mense nog steeds daarvan gebruik, ter wille van die impak wat dit op die gemeenskap het.

In die Christendom is selfmoord daarenteen lank as ’n misdaad beskou. Teen die sesde en sewende eeu het die Rooms-Katolieke Kerk diegene wat selfmoord gepleeg het, geëkskommunikeer en geweier om vir hulle ’n begrafnisdiens te hou. Op party plekke het godsdiensywer tot eienaardige gebruike gelei in verband met mense wat selfmoord gepleeg het—die lyk is onder andere opgehang, en daar is selfs ’n houtpen deur die hart gesteek.

Vreemd genoeg kon mense wat selfmoord probeer pleeg het, die doodstraf kry. ’n Negentiende-eeuse Engelsman is opgehang omdat hy selfmoord probeer pleeg het deur sy keel af te sny. Sodoende het die owerheid bereik wat die man self nie kon regkry nie. Hoewel die straf vir selfmoordpogings deur die jare heen verander het, het die Britse Parlement eers in 1961 verklaar dat selfmoord en selfmoordpogings nie meer ’n misdaad is nie. In Ierland was dit nog tot 1993 ’n misdaad.

Vandag beveel party skrywers selfmoord aan as ’n alternatiewe uitweg. ’n Boek wat in 1991 uitgegee is en handel oor ondersteunde selfmoord vir mense wat terminaal siek is, het maniere voorgestel om ’n mens se lewe te beëindig. Later het al hoe meer mense wat nie terminaal siek was nie, een van die maniere gebruik wat voorgestel is.

Is selfmoord werklik die oplossing vir ’n mens se probleme? Of is daar goeie redes om te bly lewe? Voordat ons hierdie vrae bespreek, kom ons ondersoek eers wat tot selfmoord aanleiding gee.

[Lokteks op bladsy 4]

In een jaar neem sowat ’n miljoen mense regoor die wêreld hulle eie lewe. Dit kom neer op een selfmoord byna elke 40 sekondes!

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel