Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g02 2/22 bl. 7-9
  • ’n Gebalanseerde beskouing van werk

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Gebalanseerde beskouing van werk
  • Ontwaak!—2002
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Maak verstandige keuses
  • Maak ’n beter keuse
  • ’n Gebalanseerde beskouing van werk—Hoe om dit te verkry
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Geniet jou werk
    Hoe om in God se liefde te bly
  • Sien die goeie vir jou harde werk
    ‘Hou julle in God se liefde’
  • “Die hele verpligting van die mens”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
Sien nog
Ontwaak!—2002
g02 2/22 bl. 7-9

’n Gebalanseerde beskouing van werk

’N TOEGEWYDE leëroffisier het deur sy etenstyd gewerk om werk af te handel wat sy bevelvoerder dringend nodig gehad het. Toe sy kollegas ná middagete terugkom, het hulle gesien dat hy vooroor op die werk op sy lessenaar lê—hy was dood.

Minder as twee uur later was sy mede-offisiere verstom toe hulle bevelvoerder skakel en sê: “Dit is baie jammer van ———, maar ek het teen môreoggend ’n plaasvervanger nodig!” Dit het dié wat dit gehoor het, laat wonder: Het die offisier vir sy bevelvoerder net iets beteken weens die werk wat hy verrig het?

Hierdie ware ondervinding beklemtoon ’n werklikheid—dat ’n mens se waarde dikwels uitsluitlik aan jou bruikbaarheid vir jou werkgewer gemeet word. Dit laat ’n mens dalk vra: Lewe ek om te werk, of werk ek om te lewe? Watter aspekte van my lewe offer ek op vir my werk?

Maak verstandige keuses

Twee van die besluite wat party as die belangrikste in die lewe beskou, word dikwels impulsief geneem—die keuse van ’n huweliksmaat en die keuse van werk. Werk sowel as die huwelik is vroeër as iets permanents beskou. Daarom is die keuse daarvan sorgvuldig oorweeg. Ouer vriende of ouers se raad is dikwels gevra.

Deesdae lyk dit egter of baie ’n huweliksmaat feitlik uitsluitlik op grond van fisiese aantreklikheid kies, met die gedagte dat ’n ander maat gesoek kan word as dinge verkeerd sou loop. Baie kies ook ’n werk hoofsaaklik omdat dit aantreklik lyk, sonder om moontlike negatiewe aspekte in ag te neem. Of negatiewe moontlikhede word gou verwerp met die gedagte: ‘Ek sal dit die hoof kan bied.’

Vroue in armer lande reageer ongelukkig dikwels op aanloklike advertensies vir werk wat ’n wonderlike lewe êrens anders beloof. Maar wanneer hulle in die ander land aankom, word hulle baie keer na bordele toe gestuur, waar hulle bestaan as prostitute erger is as die lewe wat hulle vroeër gehad het. Hierdie verskriklike vorm van hedendaagse slawerny is volgens ’n artikel in World Press Review ’n “plaag wat nie sal verdwyn nie”.

Kan mense ook verlok word om ’n doodgewone werksaanbod te aanvaar en dan in ’n situasie beland waarin hulle voel dat hulle in slawerny is? Dit is presies wat al gebeur het! Party maatskappye bied hulle werkers byvoorbeeld merkwaardige luukshede. Dit sluit dalk eetkamers in wat deur familie en vriende gebruik kan word, gratis vervoerdiens en droogskoonmakery, tandartse by die werksplek, die gratis gebruik van gimnasiums en toelae vir etes by duur restaurante.

“Een maatskappy het selfs betaal sodat sy oorwerkte personeel van ’n maatsoekagentskap gebruik kon maak”, berig die joernalis Richard Reeves. Maar pas op! Hy verduidelik: “Hierdie firmas stel skemas in werking om jou lewe makliker te maak, op net een voorwaarde—dat jy jou lewe aan hulle oorgee; dat jy 18 uur per dag werk en naweke in die kantoor eet, oefen, speel, selfs slaap, in belang van hulle winste.”

Maak ’n beter keuse

’n Ou spreuk sê: ‘’n Lewende hond is beter daaraan toe as ’n dooie leeu’ (Prediker 9:4). So ’n spreuk laat die vraag ontstaan: Is my werk my lewe of my gesondheid werd? In antwoord hierop het baie hulle situasie weer in oënskou geneem en ’n manier gevind om hulle—sowel as hulle gesin as hulle een het—van genoeg te voorsien en ook om ’n gelukkige, sinvolle lewe te lei.

’n Beskeie lewenswyse is natuurlik dikwels nodig om dit te kan doen, en ’n mens moet moontlik besluit wat jou werklike behoeftes is en wat net onbelangrike begeertes is. Mense wat na posisie en aansien streef, verwerp dalk meer beskeie keuses en beskou selfs dié wat dit verkies as dwaas. Maar wat is werklik belangrik in die lewe? Het jy onlangs stilgestaan en hieroor gedink?

Wyse koning Salomo, wat die spreuk hierbo geskryf het, het op materiële gebied baie meer as seker enige ander mens bereik. Maar hy het opgesom wat werklik belangrik is en onder Goddelike inspirasie geskryf: “Die slot van die saak, nadat alles gehoor is, is: Vrees die ware God en onderhou sy gebooie. Want dit is die hele verpligting van die mens.”—Prediker 12:13.

Tog het Salomo waarde geheg aan werk. “Daar [is] niks beters nie”, het hy geskryf, “as dat [’n mens] eet en inderdaad drink en sy siel die goeie laat sien weens sy harde werk” (Prediker 2:24). Jesus Christus, die Grotere Salomo, heg ook waarde aan werk, en so ook sy hemelse Vader. “My Vader het tot nou toe aangehou werk, en ek hou aan werk”, het Jesus verduidelik.—Johannes 5:17; Matteus 12:42.

Die mens se lewensduur is weliswaar op die oomblik beperk (Psalm 90:10). Maar Christus het geweet dat blywende lewe op die aarde geniet sal word onder Koninkryksheerskappy, waarvoor hy sy volgelinge leer bid het. Daarom het hy ons in sy beroemde Bergpredikasie aangespoor: “Hou dan aan om eers die koninkryk en [God se] regverdigheid te soek, en al hierdie ander dinge sal vir julle bygevoeg word.”—Matteus 6:9, 10, 33.

Die Bybel belowe aangaande lewe onder daardie Koninkryksheerskappy: “Hulle sal beslis huise bou en dit bewoon; en hulle sal beslis wingerde plant en die vrug daarvan eet. Hulle sal nie bou sodat iemand anders dit bewoon nie; . . . die werk van hulle eie hande sal my uitverkorenes ten volle benut.”—Jesaja 65:21, 22.

Wat ’n wonderlike vooruitsig—om lewe te geniet wat tot onbepaalde tyd duur en sinvolle, bevredigende werk insluit! ’n Ernstige ondersoek van ons eie situasie sal dalk onthul dat ons vandag sekere aspekte van ons werk moet heroorweeg om moontlike gevare te vermy wat ons kans kan belemmer om “die werklike lewe”—toekomstige lewe onder God se Koninkryk—te geniet (1 Timoteus 6:19). Laat ons dus in ons werk, of wat ons ook al doen, toon dat ons respek het vir die Een wat ons lewe gegee het.—Kolossense 3:23.

[Prente op bladsy 8, 9]

Onder God se Koninkryk sal mense werk geniet wat veilig sowel as bevredigend is

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel