Griekeland steun godsdiensregte
VERLEDE JAAR het die Griekse regering Jehovah se Getuies vir die eerste keer toestemming gegee om een van die juwele van sy sportfasiliteite vir ’n groot streekbyeenkoms te gebruik. Dit is die binnenshuise Olimpiese Sportsaal, wat sitplek vir sowat 20 000 het. Hierdie lugversorgde arena maak deel uit van die kompleks wat vir die Olimpiese Spele van 2004 in Atene gebruik sal word.
Dit is betekenisvol dat die Getuies in 1963 en in 1988 gereël het om groot sportfasiliteite in Atene vir hulle streekbyeenkomste te gebruik. Maar albei kere het die owerheid voor dreigemente van die Grieks-Ortodokse Kerk geswig en geweier om toe te laat dat die Getuies dit gebruik.
Sake verloop anders
In Februarie 2001 het die Getuies aansoek gedoen vir die gebruik van die Olimpiese Sportsaal—een van die min binnenshuise fasiliteite met genoeg sitplek vir almal. Maar hulle het gewonder of die geskiedenis hom sou herhaal. Soos verwag is, het die owerheid aanvanklik geweier.
Maar hooggeplaaste amptenare wat daarvoor bekend is dat hulle regverdig en onbevooroordeeld is, is onmiddellik genader. Sou hulle bereid wees om die grondwetlike reg van aanbidding en vreedsame vergadering te handhaaf? Sou hulle godsdiensdruk weerstaan? Hulle het, en ’n nuwe besluit het die vorige een ongeldig gemaak. Die Getuies kon toe hulle streekbyeenkoms by die Sportsaal vir 27-29 Julie 2001 reël.
Die owerheid het die Getuies terselfdertyd toestemming gegee om ’n ander staatsbestuurde binnenshuise sportfasiliteit te gebruik, die Palais de Sport in Tessalonika.
Hewige druk slaag nie
Terwyl die eerste dag van die streekbyeenkoms in Atene nader gekom het, was daar nog steeds verontrustende vrae: Sou die owerheid hulle verpligting nakom ondanks druk van die Ortodokse geestelikes? En sou die Getuies hulle byeenkoms sonder inmenging deur wettelose elemente kon geniet?
Die Ortodokse Kerk het nie afgesien van sy eeue oue taktiek om sy invloed te probeer gebruik om die streekbyeenkoms te ontwrig nie. TV-stasies het berig dat Ortodokse geestelikes geëis het dat geen melding van die streekbyeenkoms gemaak word nie. Maar op die ou end het die kerk se pogings misluk.
Dit is ironies dat die Ortodokse Kerk die Getuies daarvan beskuldig het dat hulle ’n geheimsinnige godsdiens is. Maar eintlik was dit die kerk wat die publiek in die duister probeer hou het oor wat in die Sportsaal gebeur. Gelukkig het moedige nuusmense van die media nie voor druk van die geestelikes geswig nie. Hulle het uitvoerig en eerlik oor die streekbyeenkoms berig gelewer.
Verder het duisende byeenkomsgangers die publiek oor die streekbyeenkoms ingelig en met hulle oor hulle godsdiensoortuigings gepraat. Oral waar die byeenkomsgangers gegaan het, is hulle aan hulle geel byeenkomslapelkaarte uitgeken. Baie mense wat nie Jehovah se Getuies is nie, is na die byeenkoms genooi en het die uitnodiging aanvaar, wat die laaste dag se bywoningsyfer in die Sportsaal tot 15 760 laat styg het. Gedurende die laaste twee naweke van Julie het streekbyeenkomste by die Palais de Sport in Tessalonika ’n gesamentlike bywoningsyfer van 13 173 gehad.
Waarnemers was beïndruk
Toe ’n groep van 2 604 vrywilligers—almal Getuies van Jehovah—op die Sportsaal toegesak en dit skoongemaak, geverf en vir die byeenkoms voorberei het, het arenabestuurders gesê: “Ons het hierheen gekom om met ons eie oë iets te sien wat nog nooit in hierdie plek gebeur het nie.” Iemand het opgemerk: “Julle moet elke jaar hierdie fasiliteit gebruik sodat dit heeltemal opgeknap kan word.”
Andreas Vardakis, die Sportsaal se direkteur van openbare sake, was beïndruk. “Julle het hierdie fasiliteit versier”, het hy gesê. “Ons het die personeel om na die plek om te sien. Maar julle bydrae het hierdie byeenkoms ’n sukses gemaak.”
Nadat ’n polisiehoof gedurende die byeenkoms besef het dat hy nie manne hoef te stuur om die vreedsame skare te beheer nie, het hy gesê: “Ek het nog nooit sulke beleefdheid en orde gesien nie!”
’n Byeenkomshoogtepunt
In die slottoespraak van die byeenkoms is daar aangekondig dat die Griekse Departement van Nasionale Onderwys en Godsdienste Jehovah se Getuies as “’n bekende godsdiens” erken het. Daarbenewens het die Departement amptelike erkenning verleen aan die nasionale hoofkwartier van Jehovah se Getuies in Atene. Die staatsdokument het deels gesê:
“Die administrasie beskou [die] Christengetuies van Jehovah as ’n bekende godsdiens . . . met al die regsgevolge wat daaruit voortspruit. Die genoemde artikel van die Grondwet beskerm die godsdiensvryheid, die metode en middele vir die beoefening van godsdiens en vrye keuse met betrekking tot die metode waarvolgens elke kerk of godsdiensvergadering bestuur en georganiseer word. Dit is duidelik dat hierdie beskerming ook geld vir die organisasie se persele en Marousi-fasiliteite [die takkantoor van Jehovah se Getuies as] ’n heilige en gewyde plek, wat aan die aanbidding van God gewy is. Hierdie fasiliteite word Bethel genoem, dit wil sê ‘Huis van God’.”
Jehovah se Getuies, sowel as alle ander mense wat ten gunste van godsdiensvryheid is, is dankbaar oor hierdie verloop van sake. Dit is hulle bede dat mense as gevolg hiervan ‘kalm en stil, met volkome godvrugtige toegewydheid en erns’ met hulle Christelike lewe sal kan voortgaan.—1 Timoteus 2:1, 2.
[Prente op bladsy 10]
Getuies kom by die Olimpiese Sportsaal byeen
[Erkenning]
Harry Bilios