Is “persoonlike godsdiens” die antwoord?
NAMATE GEORGANISEERDE GODSDIENS sy houvas op die massas verloor, is dit glad nie verbasend dat baie mense hulle eie persoonlike godsdiens skep nie. Maar die vrae ontstaan: Kan dit werklik ’n mens se geestelike behoeftes bevredig? Is “persoonlike godsdiens” die antwoord?
Om hierdie vrae te beantwoord, moet ons eers kyk of persoonlike godsdiens werklik die toets kan deurstaan wat die eise van ons “denkvermoë”, een van die grootste gawes wat die mens besit, daaraan stel.—Romeine 12:1.
Iemand wat logies dink, is geneig om teenstrydighede te verwerp. Maar in ’n opname oor persoonlike godsdiens in Swede is die gevolgtrekking gemaak dat mense dikwels “verskillende (en moontlik logies onverenigbare) elemente van lewensfilosofieë heel spontaan kombineer om hulle eie filosofie te vorm”.
Byvoorbeeld, slegs 2 persent van diegene wat beweer het dat hulle “Christene op hulle eie manier” is, het van Jesus melding gemaak, al was dit net as ’n geskiedkundige persoon. En tog is geloof in reïnkarnasie dikwels genoem. Maar is dit logies om jouself ’n volgeling van Jesus Christus te noem terwyl jy sy lewe en leringe ignoreer—en selfs leerstellings aanvaar wat lynreg in stryd met dié van Christus is?a
Begrippe wat baie vaag en heeltemal ondefinieerbaar is, voldoen nie aan die eise van ons denkvermoë nie. Maar toe diegene met wie ’n onderhoud gevoer is, gevra is of hulle aan “God of ’n goddelike krag” glo, het die meeste geantwoord dat “Iets” soos dit dalk bestaan. Een persoon het gesê: “Ek glo aan iets bonatuurliks, maar nie noodwendig ’n Goddelike wese nie.” Diegene wat wel aan God geglo het, het gesê dat hy “’n redelik onbeduidende rol in hulle lewe speel”. Die verslag het persoonlike godsdiens dus as ’n “onsamehangende begripswêreld” beskryf en afgesluit deur een van die algemeenste antwoorde aan te haal: “Ek glo aan iets, maar ek is nie seker wat dit is nie.”
’n Studie van persoonlike godsdiens in Kanada het soortgelyke resultate opgelewer. Die tydskrif Alberta Report sê: “Ons sien nou hoe al hoe meer mense in byna enigiets denkbaar glo, sonder dat dit hoegenaamd sin maak. En wanneer ons dan probeer vasstel watter soort leiding hierdie persoonlike opvattings in mense se lewe voorsien, is daar werklik geen leiding nie. Daar is geen absolute gesag op sedelike gebied nie. Dit is dus eintlik kragteloos.” Die tydskrif het van “die gefragmenteerde god” gepraat omdat diegene wat sulke opvattings aanneem, “stukkies en brokkies van die tradisionele geloofsbelydenis uitsoek”. Klink dit vir jou redelik om godsdiensoortuigings—selfs ’n mens se toekomshoop—op sulke vae, ongegronde en gefragmenteerde idees te grond?
Ons behoefte aan omgang
Omgang, broederskap en solidariteit is iets wat al lank deur gelowiges op prys gestel word (Handelinge 2:42, 46). Maar hoe kan persoonlike godsdiens hierdie behoeftes bevredig, aangesien dit juis iets persoonliks is?
Laat persoonlike godsdiens, waar “elke mens sy eie kerk is”, nie bloot meer en erger godsdiensverdeeldhede onder mense ontstaan nie? “Godsdiens is nou ’n saak van persoonlike opinie . . . , en ons het derhalwe ’n land met nie net ’n paar honderd verskillende geloofsbelydenisse geword nie, maar met ’n paar miljoen”, het Alberta Report gesê. Dit is dus nie verbasend dat persoonlike godsdiens selfs al as ’n vorm van geestelike anargie beskryf is nie.
Wat van waardes?
Die Sweedse biskop Martin Lönnebo het in ’n onderhoud met die koerant Svenska Dagbladet gesê dat “persoonlike godsdiens nie ons era kan verryk nie en sukkel om sy waardes na ’n nuwe era oor te dra”. Hierdie mening word deels bevestig deur ’n algemene gesindheid wat Sweedse ouers oor die grootmaak van kinders het. Svenska Dagbladet som hulle gesindheid soos volg op: “Glo wat jy wil! En moenie jou kinders dwing om ’n keuse te maak nie. Maar laat hulle kies wanneer hulle oud genoeg is.”
Die koerant het toegegee dat dit as indoktrinasie beskou kan word as godsdienswaardes by kinders ingeskerp word. Maar die koerant het die gevolgtrekking gemaak: “Dit is dalk ’n goeie ding as godsdienswaardes aan kinders oorgedra word en is dalk die enigste manier waarop hulle . . . self kan besluit.” Trouens, die treurige toestand waarin jongmense hulle vandag bevind, gee te kenne dat persoonlike godsdiens nie werklik gehelp het om gesinne te verenig op grond van gesonde waardes wat van een geslag na die ander oorgedra kan word nie.
Dit lyk dus of persoonlike godsdiens nie betroubare, konsekwente antwoorde op die lewe se vrae kan voorsien nie, en dit kan mense ook nie verenig of in die mensdom se behoefte aan sedelike leiding voorsien nie. Die artikel in Svenska Dagbladet, wat vroeër aangehaal is, het die volgende oor persoonlike godsdiens gesê: “Wanneer ‘geloof’ allesomvattend is, bevat dit eintlik niks. En wanneer vryheid nooit gedefinieer hoef te word nie, word dit verswak.”
Dit is duidelik dat persoonlike godsdiens in baie opsigte nie die geestelike behoeftes van mense kan bevredig nie. Ja, hoe kan ’n mens redelikerwys verwag om hierdie behoeftes te bevredig deur eenvoudig opvattings uit verskillende tradisies te kies, asof ’n mens die lekkerste geregte op ’n buffettafel kies? Dit is ook duidelik dat georganiseerde godsdiens nie daarin geslaag het om hierdie behoeftes te bevredig nie. Waarnatoe kan ons ons dan wend?
[Voetnoot]
a Jesus het nie geleer dat die dooies gereïnkarneer word nie. Hy het eerder geleer dat die dooies in ’n toestand van niebestaan soortgelyk aan slaap is en op ’n toekomstige opstanding wag.—Johannes 5:28, 29; 11:11-14.
[Prent op bladsy 8, 9]
Moet ons godsdiens as ’n blote buffetete beskou waar ons kan uitsoek wat ons wil glo?