Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g02 4/22 bl. 10-11
  • Die beste manier om jou geestelike behoeftes te bevredig

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die beste manier om jou geestelike behoeftes te bevredig
  • Ontwaak!—2002
  • Soortgelyke materiaal
  • Het jy die regte godsdiens gevind?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Die waarheid—Wil jy dit graag vind?
    Die waarheid—Wil jy dit graag vind?
  • Wat is die waarheid omtrent God?
    Wat leer die Bybel werklik?
  • Godsdiens
    Redenering uit die Skrif
Sien nog
Ontwaak!—2002
g02 4/22 bl. 10-11

Die beste manier om jou geestelike behoeftes te bevredig

WAAROM HET MENSE godsdiens nodig? Party sal sê dat mense hulle tot geestelike sake wend om sekuriteit in ’n onveilige wêreld te vind. Maar meer is daarby betrokke. ’n Artikel in die tydskrif American Sociological Review het gesê: “Die behoefte aan sekuriteit is nie die enigste rede waarom mense na godsdiens aangetrek word nie. Mense wou nog altyd antwoorde hê op vrae soos: Waar kom ons vandaan? Waarheen gaan ons? Waarom is ons hier?”

Jy sal ongetwyfeld saamstem dat dit uiters belangrike vrae is. Verg hierdie vrae dan nie betroubare antwoorde nie? Hierdie vrae is te belangrik, te betekenisvol om beantwoord te word deur eenvoudig godsdiensopvattings uit verskeie tradisies te kies omdat dit by ons byval vind. As ons grondige, betroubare antwoorde op die dieper vrae van die lewe wil kry, het ons tog sekerlik ’n beter metode nodig.

Is daar ’n beter metode? Ferrar Fenton, ’n vertaler van die Bybel, het iets merkwaardigs omtrent daardie boek gesê. Hy het gesê dat dit “die enigste sleutel is wat die Raaisel van die Heelal vir die Mens ontsluit en wat die Mens in staat stel om Homself te verstaan”. Ja, die Bybel beantwoord vrae oor die verlede, die hede en die toekoms. Dit sê vir ons waar ons vandaan kom, wat die betekenis van die lewe is, hoe ons geluk kan vind en wat die toekoms vir ons inhou. Geen ander boek in die geskiedenis was so invloedryk soos die Bybel nie; en geen ander boek het ondanks soveel genadelose aanvalle behoue gebly nie. Maar waarom verwerp soveel mense dan hierdie unieke boek in hulle soeke na antwoorde op die lewe se vrae?

Baie mense het nie die tyd geneem om na te dink oor die ontsaglike verskille wat bestaan tussen die Bybel en die kerke wat hulle ken nie. Hulle het gesien hoe sogenaamde Christene mekaar in God se naam doodmaak. Baie het al, soos The Guardian gesê het, gekla dat “priesters deesdae meer daarin belangstel om geld in te samel as om huisbesoek te doen”. Hulle dink miskien dat die Bybel sulke gedrag goedkeur of vergoelik. In werklikheid beveel die Bybel Christene om ‘mekaar lief te hê’, en dit sê vir diegene wat die woord verkondig: “Julle het verniet ontvang, verniet moet julle gee” (Johannes 13:34; Matteus 10:8). Is dit dan redelik om die Bybel te oordeel op grond van die dade van mense wat beweer dat hulle dit respekteer, maar nie in ooreenstemming daarmee optree nie?

Baie glo dat die Bybel onwetenskaplik is, baie teenstrydighede bevat en outyds is. Maar ’n deeglike ondersoek toon die teenoorgestelde. Die Bybel is weliswaar nie ’n wetenskaphandboek nie. Maar wanneer dit wel sake aanroer wat met die wetenskap verband hou—soos die volgorde waarin lewende dinge op aarde verskyn het, die vorm van die aarde of die behoorlike behandeling van aansteeklike siektes—is die Bybel heeltemal akkuraat. Trouens, dit bevat stellings wat die tyd eeue vooruit was. En hoewel die Bybel uit 66 boeke bestaan wat oor ’n tydperk van 1 600 jaar geskryf is, is hulle almal in harmonie met mekaar. Daarbenewens toon die Bybel buitengewone insig in die menslike natuur, wat dit vandag nog net so prakties maak as in die verlede.

Hierdie merkwaardige boek sê iets baie belangriks oor die aanbidding van God. Dit sê dat sulke aanbidding nie op die mens se voorwaardes beoefen moet word nie, maar op God se voorwaardes (Johannes 5:30; Jakobus 4:13-15; 2 Petrus 1:21). Maar min mense het werklik by daardie beginsel gebly. Van die vroegste tye af het die mens godsdienste geskep om by hulle eie oogmerke te pas. Dit is waar wanneer mense hulle gode uit stukke hout sny en hulle aanbid. Dit is waar wanneer godsdiensinstellings leerstellings leer wat hulle uitgedink het. En is dit nie ook waar wanneer mense ’n persoonlike godsdiens volgens hulle eie voorkeure skep nie?

Beskou ’n ander benadering. Waarom doen jy nie wat ’n hoofregter van die Verenigde State se Hooggeregshof gedoen het nie? Hy het, net soos hy sake in die hof sou verhoor, die bewyse teen en ten gunste van die waaragtigheid van die Bybel onbevooroordeeld ondersoek. Wat was die uiteinde? Hy het gesê: “Ek het tot die gevolgtrekking gekom dat die Bybel ’n bonatuurlike boek is, dat dit van God af gekom het.”

Hoe kan jy self ’n soortgelyke ondersoek doen? Miskien kan jy die Bybel stelselmatig bestudeer en die antwoorde ondersoek wat dit op die vrae voorsien wat aan die begin van hierdie artikel genoem is. Daar is ongeveer sesmiljoen Getuies van Jehovah in 235 lande wat so ’n studie gemaak het. Hulle bied hulle tyd vrywillig aan om met ander te praat oor wat hulle geleer het. Die gratis tuisbybelstudiekursus wat hulle aanbied, het miljoene mense al gehelp om ’n geloof te vind wat meer as net ’n gier of ’n kwessie van smaak is. Die ware, suiwer Christelike geloof wat in die Bybel uiteengesit word, is nie net nog ’n godsdiens nie. Dit verteenwoordig die waarheid omtrent God en sy voornemens. Waarom moet jy dan met minder tevrede wees?—Johannes 17:17.

[Prente op bladsy 10]

Die beste manier waarop jy jou geestelike behoeftes kan bevredig, is deur te leer wat die Bybel oor God sê en met ware aanbidders te assosieer

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel