Ons lewe in ’n weggooigemeenskap
MENSE in ontwikkelde lande gooi hope vullis weg. Beskou byvoorbeeld die hoeveelheid vullis wat jaarliks in die Verenigde State opgelewer word. Daar is al gesê dat “water wat gelyk is aan die gewig daarvan, 68 000 Olimpiese swembaddens sou kon vol maak”. ’n Paar jaar gelede is daar geskat dat die inwoners van die stad New York alleen elke jaar genoeg vullis oplewer om die stad se ontsaglike Central Park onder vier meter vullis te begrawe!a
Dit is geen wonder dat die Verenigde State al “’n waarskuwende voorbeeld vir die res van die wêreld” genoem is wat “’n verbruikers- en weggooigemeenskap” betref nie. Maar daardie land is nie uniek in hierdie opsig nie. Na raming sal die vullis wat die mense in Duitsland jaarliks oplewer, maklik ’n goederetrein vol maak wat strek van die hoofstad, Berlyn, tot by die kus van Afrika, sowat 1 800 kilometer daarvandaan. En in Brittanje is daar eenkeer geskat dat die gemiddelde gesin van vier elke jaar soveel papier weggooi as wat van ses bome verkry word.
Ontwikkelende lande is nie vry van die oormaat vullis nie. ’n Bekende nuustydskrif berig: “Die waarlik slegte nuus is dat die meeste van die planeet se 6 miljard mense maar nog net begin om in die VSA en die res van die ontwikkelde wêreld se voetspore te volg deur baie vullis op te lewer.” Ja, of ons nou daarvan hou of nie, die meeste van ons maak vandag deel uit van ’n weggooigemeenskap.
Mense het natuurlik nog altyd goed gehad om weg te gooi. Maar geblikte en verpakte kos is nou algemener beskikbaar as jare gelede, en daarom is weggooiverpakking oral te vinde. Daar is ook baie meer koerante, tydskrifte, strooibiljette en ander drukwerk.
Ons hoogs geïndustrialiseerde en wetenskaplike wêreld het ook nuwe soorte vullis voortgebring. Die Duitse koerant Die Welt sê dat “ongeveer negemiljoen voertuie per jaar in die Europese Unie in onbruik raak”. Dit is nie maklik om daarvan ontslae te raak nie. Nog ’n moeiliker vraag is: Hoe raak jy met veiligheid van kern- of chemiese afvalstowwe ontslae? In 1991 het die Verenigde State volgens berig “hope radioaktiewe afval [gehad] en geen permanente bergplek daarvoor” nie. ’n Miljoen vate dodelike stowwe is glo tydelik geberg met ’n immer teenwoordige “gevaar van verlies, diefstal en omgewingsbeskadiging weens verkeerde behandeling”. In 1999 alleen het sowat 20 000 bronne in die Verenigde State meer as 40 miljoen ton gevaarlike afval opgelewer.
Nog ’n faktor is die wêreldbevolking, wat gedurende die afgelope eeu die hoogte ingeskiet het. Meer mense, meer vullis! En ’n groot deel van die bevolking is behep met die aanskaffing van goedere. Die Worldwatch-instituut het onlangs die gevolgtrekking gemaak: “Ons het sedert 1950 meer goedere en dienste gebruik as in die res van die mensegeskiedenis.”
Min van diegene wat in ontwikkelde lande woon, wil natuurlik sonder al hierdie “goedere en dienste” klaarkom. Dink byvoorbeeld hoe gerieflik dit is om winkel toe te gaan en kruideniersware te koop wat reeds verpak is en dit dan huis toe te bring in papier- of plastieksakke wat deur die winkel verskaf word. As mense skielik hierdie hedendaagse verpakking ontsê word, sal hulle dalk gou besef hoeveel hulle daarop staatmaak. En in die mate dat hierdie verpakking meer higiënies is, dra dit, ten minste onregstreeks, by tot beter gesondheid.
Maar is daar, ondanks hierdie voordele, rede tot kommer dat vandag se weggooigemeenskap te ver gegaan het? Klaarblyklik is daar, want verskeie oplossings wat bedoel was om die oormaat vullis te verminder, het feitlik niks gedoen aan die stortvloed vullis nie. Wat nog erger is, is dat die grondliggende gesindhede van vandag se weggooigemeenskap selfs ontstellender implikasies het.
[Voetnoot]
a Die park strek oor ’n gebied van 341 hektaar.
[Prent op bladsy 4]
Om met veiligheid van gevaarlike afval ontslae te raak, bied ernstige uitdagings