Slaap—Luukse of noodsaaklikheid?
VIR PARTY MENSE is slaap ’n vermorsing van tyd. Omdat hulle dit verkies om ’n baie besige daaglikse rooster van sake- en sosiale bedrywighede te hê, gaan slaap hulle net wanneer hulle doodmoeg is. Dan is daar weer ander wat nag na nag tot die vroeë oggendure lê en rondrol en wát sou gee vir ’n goeie nagrus.
Waarom sukkel party so om te slaap terwyl ander alles in hulle vermoë doen om wakker te bly? Moet ons slaap as ’n luukse of ’n noodsaaklikheid beskou? Om hierdie vrae te beantwoord, moet ons verstaan wat met ons gebeur terwyl ons slaap.
Die raaisels van slaap
Presies wat ’n mens jou bewustheid laat verloor en aan die slaap laat raak, bly ’n raaisel. Navorsers het egter vasgestel dat slaap ’n ingewikkelde proses is wat deur die brein en ’n biologiese klok met ’n siklus van 24 uur beheer word.
Namate ons ouer word, verander ons slaapgewoontes. ’n Pasgebore baba slaap vir kort rukkies—altesaam ongeveer 18 uur per dag. Hoewel party volwassenes volgens slaapspesialiste blykbaar net drie uur slaap per dag nodig het, het ander tot tien uur nodig.
Onlangse navorsing het getoon dat veranderinge in ons biologiese klok ook verklaar waarom party tieners sukkel om soggens uit die bed op te staan. Die biologiese klok skuif blykbaar gedurende puberteit vorentoe, wat maak dat jongmense later wil gaan slaap en later wil wakker word. Hierdie slaapvertraging is iets algemeens en verdwyn blykbaar in die middel- tot laat tienerjare.
Ons biologiese klok word deur chemiese stowwe gereguleer, waarvan baie reeds geïdentifiseer is. Een daarvan is melatonien, ’n hormoon wat moontlik lomerigheid veroorsaak. Melatonien word in die brein afgeskei en party wetenskaplikes meen dat dit verantwoordelik is vir die vertraging van die liggaam se metabolisme net voor ’n mens aan die slaap raak. Terwyl melatonien vrygestel word, verlaag die liggaamstemperatuur sowel as die bloedvloei na die brein en ontspan ons spiere geleidelik. Wat gebeur volgende terwyl die persoon in die geheimsinnige wêreld van die slaap wegsink?
‘Die natuur se hoofgereg’
Omtrent twee uur nadat ons aan die slaap geraak het, begin ons oë vinnig heen en weer beweeg. Hierdie verskynsel het wetenskaplikes slaap in twee basiese fases laat verdeel: REM- (vinnige oogbeweging-) slaap en nie-REM-slaap. Nie-REM-slaap kan onderverdeel word in vier stadiums waarin ’n mens progressief dieper slaap. Gedurende ’n goeie nag se slaap word REM-slaap ’n paar keer met tye van nie-REM-slaap afgewissel.
Die meeste drome vind gedurende REM-slaap plaas. Wanneer ’n mens slaap, ontspan die liggaamspiere tot die maksimum, met die gevolg dat jy fisies verkwik wakker word. Daarbenewens is navorsers van mening dat nuwe inligting gedurende hierdie slaapstadium deel word van ons langtermyngeheue.
Gedurende diep slaap (stadiums 3 en 4 van nie-REM-slaap) daal ons bloeddruk en neem ons hartklop af, wat die bloedsomloopstelsel kans gee om te rus en help om hartvatsiekte te voorkom. Daarbenewens word die meeste groeihormoon gedurende nie-REM-slaap afgeskei, en party tieners produseer snags tot 50 keer meer groeihormoon as bedags.
Dit lyk ook of slaap ’n uitwerking op ons eetlus het. Wetenskaplikes het ontdek dat slaap in werklikheid, soos Shakespeare gesê het, “op groot natuur se feesmaal die . . . hoofgereg” is. Ons brein vertolk ’n gebrek aan slaap as ’n gebrek aan kos. Terwyl ons slaap, word leptien afgeskei, die hormoon wat gewoonlik vir ons liggaam sê dat ons genoeg geëet het. Wanneer ons langer wakker bly as wat ons moet, skei ons liggaam minder leptien af, en ontwikkel ons ’n sterk begeerte na meer koolhidrate. Gevolglik kan ’n gebrek aan slaap tot verhoogde koolhidraatinname lei, wat weer vetsug tot gevolg kan hê.—Sien die venster “’n Middagslapie”, op bladsy 6.
Noodsaaklik vir gesondheid
Maar dit is nie al nie. Slaap vergemaklik die metabolisering van vry radikale—molekules wat na bewering ’n uitwerking het op die veroudering van selle en selfs kanker veroorsaak. In ’n onlangse studie deur die Universiteit van Chicago is 11 gesonde jong mans toegelaat om ses dae lank net vier uur per dag te slaap. Teen die einde van hierdie tydperk het hulle liggaamselle gefunksioneer soos dié van 60-jariges en die insulienvlak in hulle bloed kon met dié van ’n suikersiektelyer vergelyk word! Slaapontneming het selfs ’n uitwerking op die produksie van witbloedselle en die hormoon kortisol, wat ’n mens vatbaarder maak vir infeksies en siektes van die bloedsomloopstelsel.
Slaap is ongetwyfeld noodsaaklik vir ’n gesonde liggaam en gees. Volgens die navorser William Dement, stigter van die eerste slaapnavorsingsentrum, by die Stanford-universiteit, VSA, “lyk dit of slaap die belangrikste aanwyser is van hoe lank jy sal lewe”. Deborah Suchecki, ’n navorser by ’n slaapnavorsingsentrum in Sao Paulo, Brasilië, sê: “As mense weet wat dit aan die liggaam doen as hulle nie genoeg slaap kry nie, sal hulle twee keer dink voor hulle die gevolgtrekking maak dat slaap ’n vermorsing van tyd of net vir lui mense is.”—Sien die venster hierbo.
Maar is slaap altyd verkwikkend? Waarom slaap party mense die hele nag lank en voel hulle nog steeds moeg? Die volgende artikel sal jou help om van die belangrikste slaapversteurings te identifiseer en verduidelik hoe jy ’n goeie nagrus kan geniet.
[Venster/Prent op bladsy 6]
DIE GEVOLGE VAN SLAAPONTNEMING
KORTTERMYNGEVOLGE
◼ Lomerigheid
◼ Skielike luimwisselinge
◼ Verlies van korttermyngeheue
◼ Verlies van vermoë om skeppend te wees, te beplan en take uit te voer
◼ Verlies van konsentrasievermoë
LANGTERMYNGEVOLGE
◼ Vetsug
◼ Voortydige veroudering
◼ Uitputting
◼ Groter risiko van infeksies, diabetes, hartvat- en spysverteringsiektes
◼ Chroniese geheueverlies
[Venster op bladsy 6]
’N MIDDAGSLAPIE
Het jy al ooit ná middagete so lomerig gevoel dat jy nie jou oë kon oophou nie? Dit is nie noodwendig ’n teken dat jy aan slaapontneming ly nie. Dit is normaal om vroegmiddag lomerig te voel as gevolg van ’n natuurlike daling in liggaamstemperatuur. Daarbenewens het wetenskaplikes onlangs hipokretien, of oreksien, ontdek, ’n proteïen wat in die brein afgeskei word en ons help om wakker te bly. Wat is die verband tussen hipokretien en kos?
Wanneer ons eet, skei die liggaam leptien af wat ons laat voel dat ons versadig is. Maar leptien onderdruk die afskeiding van hipokretien. Met ander woorde, hoe meer leptien daar in die brein is, hoe minder hipokretien is daar en hoe lomeriger voel ons. Dit is moontlik waarom mense in party lande ’n siësta geniet—’n rustyd wat mense die geleentheid gee om ’n rukkie ná middagete te slaap.
[Grafiek op bladsy 5]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
DIE SLAAPSTADIUMS
Vereenvoudigde grafiek
Slaap-stadiums
Wakker
REM
Nie-REM
Ligte slaap 1
2
3
Diep slaap 4
1 2 3 4 5 6 7 8
Ure slaap
[Prent op bladsy 4, 5]
Genoeg slaap is noodsaaklik vir ’n gesonde liggaam en gees
[Prent op bladsy 5]
Die meeste groeihormoon word gedurende slaap afgeskei