“As mense maar net geweet het!”
NADAT hy met skool klaargemaak het, toe baie ander jongmense net materiële doelwitte wou bereik, het David ander doelwitte gehad. In September 2003 het hy en ’n vriend van Illinois, in die Verenigde State, na die Dominikaanse Republiek verhuis.a Davey, soos sy vriende en familie hom genoem het, het besluit om Spaans te leer en by die Navas-gemeente van Jehovah se Getuies in hulle Bybelonderrigtingswerk aan te sluit. Die gemeente het hom met ope arms ontvang. “Wat ook al van hom gevra was, het Davey gedoen”, sê Juan, die enigste ouer man in daardie gemeente. “Hy was altyd bereid om uit sy pad te gaan vir ander, en die broers was lief vir hom.”
Davey was lief vir sy toewysing. “Ek geniet dit gate uit om hier te wees”, het hy aan ’n vriend in die Verenigde State geskryf. “Die bediening is so verkwikkend! Ons praat omtrent 20 minute by elke deur omdat die mense alles wil hoor wat jy hulle kan vertel. Ek hou al ses Bybelstudies, maar ons het nog steeds hulp nodig. By een vergadering het ons gemeente van 30 Koninkryksverkondigers ’n bywoningsyfer van 103 gehad!”
Ongelukkig is Davey en ’n ander jong man van dieselfde gemeente op 24 April 2004 in ’n ongeluk dood. Tot sy dood toe het Davey oorgeloop van entoesiasme vir die werk wat hy gedoen het, en hy het ander in sy tuisdorp aangemoedig om by hom aan te sluit. “Dit sal die manier verander waarop jy na dinge kyk”, het hy vir een jong Getuie gesê.
Een van Davey se eie beskouings wat verander het, was in verband met materiële dinge. “Tydens ’n besoek aan ons”, sê sy pa, “is Davey genooi om te gaan ski. Hy het gevra hoeveel dit sou kos. Toe hulle vir hom die bedrag noem, het Davey gesê dat hy nooit soveel sou spandeer om te gaan ski terwyl hy vir dieselfde bedrag maande lank in die Dominikaanse Republiek kon bly nie!”
Davey se ywer het ander beïnvloed. “Toe ek van alles hoor wat Davey doen en hoe gelukkig hy is”, het een jeugdige in sy tuisdorp gesê, “het dit my laat besef dat ek ook sulke dinge kan doen. Davey se dood het my laat nadink oor wat mense van my sal sê as ek doodgaan en of ek so ’n positiewe invloed op hulle lewens sal hê.”
Omdat Davey se ouers en sy broers en susters Getuies van Jehovah is, het hulle alle vertroue dat God Davey sal opwek in die komende nuwe wêreld van geregtigheid (Johannes 5:28, 29; Openbaring 21:1-4). Intussen put hulle vertroosting uit die wete dat Davey sy lewe op die beste manier moontlik gebruik het—om sy Skepper te dien (Prediker 12:1). Terwyl hy nagedink het oor sy besluit om te dien waar daar hulp nodig is, het Davey eenkeer gesê: “Ek wens net dat elke jongmens so iets kan doen en dieselfde gevoelens kan ervaar. Daar is niks beters as om Jehovah met alles wat ons het, te dien nie. As mense maar net geweet het!”
[Voetnoot]
a Net soos David, bied baie van Jehovah se Getuies hulle vrywillig aan om na ’n gebied te verhuis waar daar meer Koninkryksverkondigers nodig is, en party leer selfs ’n ander taal om mense die waarhede van God se Woord te leer. Meer as 400 van hierdie vrywilligers dien tans in die Dominikaanse Republiek.