Rehabilitasie in Mexiko se gevangenisse
Deur Ontwaak!-medewerker in Mexiko
REHABILITASIE word soms as ’n rede aangegee waarom misdadigers in die gevangenis gesit word. Maar opsluiting op sigself kan nie ’n gevangene rehabiliteer nie. Die motivering om te verander moet uit die persoon se verstand en hart kom en gevolg word deur opregte berou oor oortredinge van die verlede en ’n begeerte om sy gedrag te verander. In baie gevangenisse regoor die wêreld is gevangenes suksesvol gerehabiliteer deur die Bybelonderrig van Jehovah se Getuies. Kom ons kyk na hulle program in Mexiko.
Jehovah se Getuies besoek 150 gevangenisse in Mexiko en bied ’n program van Bybellees sowel as onderrigting in sedes en Bybelleerstellings aan. Bedienaars van Jehovah se Getuies getuig byvoorbeeld gereeld vir die sowat 1 200 gevangenes in die strafgevangenis in Ciudad Juárez, Chihuahua. Die gevangenes het groot respek vir hulle en beskerm hulle selfs wanneer gevaarlike situasies ontstaan. Toe ’n oproer eenkeer in daardie gevangenis uitgebreek het, het sommige van die gewelddadigste gevangenes die skare gekalmeer sodat die Getuies die gevangenis veilig kon verlaat.
Die Ontwaak! van 8 Mei 2001, met die voorbladreeks “Kan gevangenes gerehabiliteer word?” het die belangstelling van gevangenes sowel as gevangenisowerhede gewek. Twaalf Getuies het 2 149 eksemplare van dié tydskrif by die strafgevangenis in San Luis Río Colorado, Sonora, versprei.
Wanneer opregte belangstelling in die Bybel gevind word, keer Jehovah se Getuies week na week terug om Bybelklasse aan te bied en godsdiensvergaderinge te hou. Hoe doeltreffend was hierdie Bybelonderrigtingsprogram om gevangenes se lewens te verander?
Gevangenes word Christenbedienaars
Voordat hy 20 jaar oud was, het Jorge alreeds ’n lewe van misdaad begin lei. Nadat hy ’n vonnis van 13 jaar in die strafgevangenis op Islas Marías uitgedien het, is hy vrygelaat. Maar hy het kort voor lank weer met dwelms begin handeldryf. As ’n huurmoordenaar het hy geleer om bevele uit te voer om ander dood te maak en was hy uiteindelik verantwoordelik vir die moord op 32 mense. Nadat hy weer in die gevangenis beland het, het sy prokureurs vir hom gesê dat sy vorige misdaadbase bereid was om ’n groot som geld te betaal om hom te bevry. Die misdaadbase wou hom uit die gevangenis hê sodat hulle hom kon beveel om nog een persoon te vermoor. Maar teen dié tyd het Jorge die Bybel saam met Jehovah se Getuies gestudeer. Hy het geestelike vooruitgang gemaak, is gedoop en het ’n voltydse bedienaar, of pionier, in die gevangenis geword. Sou hy vryheid aanvaar en weer vir die dwelmbase werk, of sou hy in die gevangenis bly en Jehovah dien? “Ek verkies om in die tronk te bly en te boet vir die slegte dinge wat ek gedoen het”, het Jorge geantwoord. “Nou dien ek Jehovah God, die Soewereine Heer.” Jorge het getrou aan God gebly en met die hoop op ’n opstanding gesterf. Sy geestelike metgeselle sê van hom: “Hy ‘het die waarheid geken, en die waarheid het hom vrygemaak’.”—Johannes 8:32.
David, wat ’n vonnis van 110 jaar vir manslag, ontvoering en diefstal uitdien, word in ’n hoësekuriteitseenheid vir gevaarlike misdadigers aangehou. Maar weens die merkwaardige veranderinge in sy gedrag sedert hy die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer het, het hy spesiale toestemming ontvang om onder bewaking ’n vergadering buite sy eenheid by te woon. Hy het sy lewe in ooreenstemming met die Bybel se vereistes verander, sodat hy nou aan die predikingswerk deelneem en agt Bybelstudies met ander gevangenes in die eenheid hou. Sy eie familie is só beïndruk deur die veranderinge wat hy gemaak het, dat hulle na hom toe kom vir Bybellesse. David sê: “Ek word nooit daarvoor moeg om vir Jehovah dankie te sê dat hy vir my geestelike vryheid gegee het nie.”
As gevolg van Jehovah se Getuies se Bybelonderrigtingsprogram het 175 gerehabiliteerde gevangenes in 79 gevangenisse in Mexiko gekwalifiseer om aan die predikingswerk deel te neem, en 80 van hulle is gedoop. Hulle hou altesaam 703 Bybelstudies met ander gevangenes. Daarbenewens woon ongeveer 900 gevangenes die Christelike vergaderinge by wat in die gevangenisse gehou word.
Lof van die owerheid
Gevangenisowerhede erken die werk wat Jehovah se Getuies doen. Byvoorbeeld, die amptenare by die strafgevangenis in Tekax, Yucatán, het vir hulle ’n sertifikaat van erkenning gegee vir hulle “waardevolle onbaatsugtige en humanitêre ondersteuning” van die gevangenes gedurende 2002.
Toe die Getuies by hierdie gevangenis met die Bybelonderrigtingsprogram begin het, is hulle groepvergaderinge onder die streng toesig van etlike wagte gehou. Maar met verloop van tyd, namate die gevangenes se persoonlikhede verbeter het, het die groep die wagte se respek gewen, en uiteindelik is daar net een toegewys om oor hulle wag te hou.
Die strafgevangenis in Ciudad Juárez het sy eie Koninkryksaal. Toestemming is verleen om boumateriaal in te bring om ’n ongebruikte staalstruktuur in ’n plek van aanbidding te omskep. Die 13 gedoopte gevangenes en hulle Bybelstudente wat in die gevangenis is, het al die bouwerk gedoen. Die saal het ’n klankstelsel, ’n badkamer en teatersitplekke vir sowat 100 mense. Ongeveer 50 woon gereeld die vyf weeklikse vergaderinge by.
Ja, rehabilitasie is moontlik deur middel van Bybelonderrig. Net soos die Bybelkarakter Manasse—’n Judese koning wat baie slegte dinge gedoen het en ’n gevangene in Babilon was—berou gehad het en om vergifnis gebid het, kan gevangenes vandag hulle persoonlikhede verander en godvresende mense word.—2 Kronieke 33:12, 13.
[Prent op bladsy 20, 21]
Doop in ’n gevangenis
[Prent op bladsy 20, 21]
Voltydse bedienaars en hulle instrukteurs by ’n Pionierdiensskool in ’n gevangenis