Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g05 10/8 bl. 31
  • Tieners het “kommunikasietyd” nodig

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Tieners het “kommunikasietyd” nodig
  • Ontwaak!—2005
Ontwaak!—2005
g05 10/8 bl. 31

Tieners het “kommunikasietyd” nodig

ALLE ouers wat lief is vir hulle kinders, weet dat kleuters op liefdevolle aandag floreer en dat hulle op hulle ouer se skoot sal klouter wanneer hulle getroetel wil word. Maar teen die tyd dat hulle adolessensie bereik, is dit waarskynliker dat hulle hulle ouers sal wegstoot, sê dr. Barbara Staggers, hoof van adolessentegeneeskunde by die Kinderhospitaal en -navorsingsentrum in Oakland, Kalifornië, VSA. En tog is dit die tyd in hulle lewe wanneer hulle die aandag van hulle ouers die nodigste het. Waarom is dit die geval?

Gedurende adolessensie het kinders vrye tyd wanneer daar nie toesig oor hulle gehou word nie, en volgens Staggers is dit een van die grootste gevare waarvoor tieners te staan kom. “Adolessensie”, sê sy in ’n berig in die koerant Toronto Star, “is ’n tyd wanneer kinders leer wie hulle is en hoe hulle in die wêreld om hulle inpas. As ’n mens die neiging om roekeloos te wees en die invloed van portuurdruk daarby voeg, kan die gevare ontsaglik wees.” Adolessensie bestaan uit verskillende stadiums en het niks met ouderdom te doen nie. Volgens Staggers het dit eerder “te doen met hoe [tieners] funksioneer en inligting verwerk en eksperimenteer”. Vroeë adolessensie is ’n tyd wanneer jongmense selfbehep, besorg oor liggaamsveranderinge en impulsief is. Middel-adolessensie word meer gekenmerk deur eksperimentering, en laat adolessensie deur onafhanklike denke.

Ja, die tienerjare kan opwindend wees, maar dit kan ook verwarrend wees—vir ouers sowel as vir tieners. Staggers, wat adolessente al meer as 20 jaar lank behandel, sê dat die meeste van hulle “kommunikasietyd nodig het met ’n volwassene wat vir hulle omgee”. Hoe kan daar in hierdie behoefte voorsien word?

Behou goeie kommunikasie! Ouers, verseker julle kinders dat julle vir hulle omgee deur goeie luisteraars te wees. Wys dat julle omgee deur vrae te vra wat julle tieners sal help om gedagtes en idees bymekaar te bring en om te sien wat die gevolge sal wees van enige slegte besluite wat hulle dalk neem. Wees bemoedigend oor die goeie resultate van regte besluite. Help hulle om te weet watter gedrag aanvaarbaar is.

As ouers die algemene mening volg dat kinders moet leer om probleme op hulle eie die hoof te bied, stel dit jongmense bloot aan die skadelike invloed van beginsellose en gewetenlose mense (Spreuke 13:20). Daarenteen sal ouers wat Bybelraad toepas, hulle kinders die heel beste geleentheid gee om gedurende adolessensie hulle weg suksesvol te maak en verantwoordelike volwassenes te word. Ouers moet dus leer om ‘’n seun op te lei volgens die weg vir hom’.—Spreuke 22:6.

Praktiese raad oor doeltreffende kommunikasie en die opleiding van tienerkinders kan gevind word in die boek Die geheim van gesinsgeluk.a Dit bied ook praktiese skriftuurlike raad vir elke lid van die gesin.

[Voetnoot]

a Uitgegee deur Jehovah se Getuies.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel