Stap 1
Kry goeie raad
Waarom is hierdie stap nodig? Die eerste keer dat ouers ’n pasgebore baba in hulle arms vashou, word hulle dalk deur teenstrydige emosies oorweldig. “Ek was vervul met vreugde en verwondering”, sê Brett, ’n vader wat in Brittanje woon. “Maar ek is ook oorweldig deur ’n verantwoordelikheidsgevoel en het onvoorbereid vir die taak gevoel.” Monica, ’n moeder in Argentinië, sê: “Wat my bekommer het, was of ek in my babadogtertjie se behoeftes kon voorsien. Ek het gewonder: ‘Sal ek haar kan grootmaak om ’n verantwoordelike volwassene te word?’”
Kan jy jou vereenselwig met die vreugdes en vrese van hierdie ouers? Om ’n kind groot te maak, is sonder twyfel een van die veeleisendste dog bevredigendste, en frustrerendste dog lonendste take wat enige mens kan aanpak. Soos een vader dit gestel het: “Jy kry net een kans om jou kind groot te maak.” Aangesien ouers so ’n ontsaglike invloed op die gesondheid en geluk van hulle kinders het, voel jy dalk dat jy betroubare raad oor hoe om ’n beter ouer te wees, dringend nodig het.
Die uitdaging: Dit lyk asof almal raad het oor hoe om kinders groot te maak. In die verlede het nuwe ouers op húlle ouers se voorbeeld of op hulle godsdiensoortuigings staatgemaak om hulle te lei. Maar in verskeie lande verbrokkel die gesinseenheid, en godsdiens het sy invloed verloor. Gevolglik wend baie ouers hulle tot professionele beraders vir raad in verband met die grootmaak van kinders. Van die raad wat hierdie deskundiges gee, is op betroubare beginsels gegrond. In ander gevalle is die raad van sulke deskundiges teenstrydig en word dit dalk kort voor lank as verouderd beskou.
Die oplossing: Kry raad van die een Persoon wat die meeste weet oor hoe om kinders groot te maak—die Skepper van menselewe, Jehovah God (Handelinge 17:26-28). Sy Woord, die Bybel, bevat spesifieke raad sowel as praktiese voorbeelde wat jou kan help om ’n beter ouer te word. “Ek sal raad gee met my oog op jou”, belowe hy.—Psalm 32:8.
Watter raad gee God aan ouers wat hulle kan help om gelukkige kinders groot te maak?
[Lokteks op bladsy 3]
“Vertrou op Jehovah met jou hele hart en moenie op jou eie begrip steun nie.”—Spreuke 3:5