Raak ons water op?
’n Oesbekiese gesegde lui: “As jou water opraak, raak jou lewe kort.” Party deskundiges sou sê dat hierdie woorde meer na ’n profesie as ’n gesegde klink. Elke jaar sterf sowat tweemiljoen mense as gevolg van onvoldoende sanitasie en besoedelde water, en 90 persent van die slagoffers is kinders.
WAARVANDAAN kry jy water? Draai jy eenvoudig ’n kraan oop en dit loop uit? Of moet jy, soos in baie lande algemeen is, ver loop, in ’n ry staan en dan ’n swaar emmer met die kosbare vloeistof huis toe dra? Neem dit jou elke dag ’n hele paar uur net om genoeg water te kry om mee te was en te kook? Dít is hoe skaars en moeilik bekombaar water in baie lande is! In haar boek Water Wars—Drought, Flood, Folly, and the Politics of Thirst sê Diane Raines Ward dat 40 persent van die wêreld se bevolking “hulle water vanaf putte, riviere, damme of poele buite hulle huis aandra”. In party lande neem dit vroue tot ses uur lank om water vir hulle gesinne aan te dra, en hulle dra dit huis toe in houers wat meer as 20 kilogram weeg wanneer dit vol is.
Die feit is dat daar ’n water- en sanitasiekrisis is wat ’n ernstige uitwerking het op meer as ’n derde van die wêreld se bevolking. Die probleem is besonder ernstig in Afrika, waar 6 uit 10 mense nie eers ’n behoorlike toilet het nie—’n faktor wat, volgens ’n verslag deur die Wêreldgesondheidsorganisasie, bydra tot “die oordrag van bakterieë, virusse en parasiete wat in menslike ontlasting gevind word en . . . waterbronne, grond en voedsel besoedel”. Hierdie besoedeling, sê die verslag, “is ’n vername oorsaak van diarree, die tweede grootste oorsaak van kindersterftes in ontwikkelende lande, en lei tot ander vername siektes soos cholera, bilharzia en tragoom”.
Water is al vloeibare goud genoem, die olie van die 21ste eeu. En tog vermors nasies die kosbare hulpbron in so ’n mate dat hulle grootste riviere byna niks meer water inhet teen die tyd dat dit die see bereik nie. Namate besproeiing en verdamping hulle tol eis, droog vername riviere op, insluitende die Coloradorivier in die weste van die Verenigde State, die Jangtse in China, die Indus in Pakistan, die Ganges in Indië en die Nyl in Egipte. Wat word gedoen om die krisis te verlig? Wat is die uiteindelike oplossing?
[Venster/Prent op bladsy 3]
WATERBRONNE WORD BEDREIG
◼ “Die Aralmeer in Sentraal-Asië was in 1960 die vierde grootste meer op die planeet. Teen 2007 het dit gekrimp tot 10 persent van sy oorspronklike grootte.”—Scientific American.
◼ Die vyf Groot Mere van die Verenigde State en Kanada—die Erie-, Huron-, Michigan-, Ontario- en Bowemeer—krimp “skrikwekkend vinnig”.—The Globe and Mail.
◼ Op ’n stadium het Australië se Deniliquin-meule genoeg graan verwerk om in die behoeftes van 20 miljoen mense te voorsien. Maar nou het die rysoes met 98 persent verminder, en die meule het in Desember 2007 toegemaak. Wat was die oorsaak? “Ses lang jare van droogte.”—The New York Times.
[Prent]
’n Boot lê hoog en droog in die Aralmeer
[Erkenning]
© Marcus Rose/Insight/Panos Pictures
[Venster/Kaarte op bladsy 4]
DIT “LAAT DIE RIVIERE EN STROME LEEGLOOP”
“Afrika se Tsjadmeer, wat eens op ’n tyd ’n landmerk was vir ruimtevaarders wat die aarde omwentel, is nou vir hulle moeilik om op te spoor. Die meer, wat deur [Kameroen,] Tsjad, Niger en Nigerië omring word, . . . het sedert die 1960’s met 95 persent gekrimp. Die toenemende aanvraag na besproeiingswater in daardie gebied laat die riviere en strome waarvan die meer se bestaan afhanklik is, leegloop. Gevolglik sal die Tsjadmeer dalk binnekort heeltemal verdwyn en sal sy ligging vir toekomstige geslagte ’n raaisel wees.”—Plan B 2.0—Rescuing a Planet Under Stress and a Civilization in Trouble, deur Lester R. Brown.
[Kaarte]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
■ Water
☒ Plantegroei
□ Land
1963
NIGER
TSJAD
Tsjadmeer
NIGERIË
KAMEROEN
2007
NIGER
TSJAD
Tsjadmeer
NIGERIË
KAMEROEN
[Erkenning]
NASA/U.S. Geological Survey