‘’n Laai wat net Jehovah kan oopmaak’
◼ In 2007 het die sesjarige Erika en die vierjarige Mattia hulle pa aan die dood afgestaan. Die kinders se pyn is egter in ’n mate deur die opstandingshoop verlig.—Handelinge 24:15.
Erika praat graag met ander oor haar Bybelse hoop, veral met dié by haar skool in Sisilië. Toe haar skoolmaat, Beatrice, byvoorbeeld gesê het dat Erika se pa nou in die hemel is, het Erika vriendelik geantwoord dat die Bybel iets anders sê. “Waar is hy dan?” het Beatrice gevra.
“In die graf”, het Erika geantwoord. Toe wou Beatrice weet wat ’n graf is.
“Dis soos ’n laai wat kan oop- en toemaak”, het Erika verduidelik. “Maar wanneer die laai eers toe is, kan ’n mens dit nie oopmaak nie. Net Jehovah kan dit oopmaak wanneer die nuwe wêreld kom.”
Erika het toe vir haar vriendinnetjie verduidelik dat Jehovah die naam van God is, dat hy ’n paradysaarde tot stand gaan bring, dat daar geen siekte meer sal wees nie en dat die dooies weer lewend sal word. Toe het Erika vir Beatrice gevra om by haar ma te hoor of sy vir haar ’n boek as geskenk kan gee wat hierdie dinge bespreek.
Toe Beatrice gesê het dat haar ma toestemming gegee het, het Erika vir haar ’n eksemplaar van die boek Leer by die Groot Onderwyser gegee. Erika hou aan om met ander te praat oor die dinge wat sy uit die Bybel leer en het selfs ’n eksemplaar van hierdie boek vir haar onderwyseres gegee.
Daar is natuurlik nog steeds tye wanneer Erika en haar boetie hartseer voel oor hulle pa se dood. Maar die opstandingshoop laat hulle beter voel. Hierdie kinders, soos baie ander regoor die wêreld, is dankbaar teenoor Jehovah, die God van ware vertroosting.—Matteus 21:16; 2 Korintiërs 1:3, 4.
Jy kan hierdie pragtig geïllustreerde boek met 256 bladsye, dieselfde bladsygrootte as hierdie tydskrif, aanvra. Vul eenvoudig die bygaande koepon in en pos dit na die adres op die koepon of na die gepaste adres op bladsy 5 van hierdie tydskrif.
□ Lewer asseblief ’n eksemplaar van hierdie boek by my af, sonder enige verpligting.
□ Tree asseblief met my in verbinding in verband met ’n gratis tuisbybelstudie.