Bevorder godsdiens vrede?
DIE Heilige Grafkerk in Jerusalem, wat deur party mense as die heiligste kerk in die Christendom beskou word, het ook ’n simbool van godsdiensonenigheid en -vyandigheid geword. Volgens oorlewering staan die kerk op die plek “waar Christus glo begrawe is en uit die dood verrys het”. Maar op hierdie plek wat deur mense as heilig beskou word, het daar ook al talle gewelddadige konfrontasies plaasgevind. Monnike en priesters van ses verskillende “Christelike” gelowe het mekaar aangeval weens geskille oor wie die reg het om die kerk te gebruik en wanneer hulle dit mag doen. Die mededinging het in onlangse jare vererger. Oproerpolisie met aanvalsgewere moes al tussenbeide tree en tydelik beheer van die kerk oorneem.
’n Geskiedenis van geweld
Die gebeure by die Heilige Grafkerk vorm deel van ’n lang geskiedenis van bloedvergieting en slagting wat met godsdiensywer verband hou. In ’n oorsig van onlangse konflikte in verskillende wêrelddele sê die boek Violence in God’s Name: “Van Indonesië tot Noord-Ierland, die Midde-Ooste tot Kasjmir, Indië tot Nigerië, die Balkan tot Sri Lanka, regverdig Christene, Boeddhiste, Hindoes, Moslems en Sikhs die gebruik van geweld deur te beweer dat hulle hulle godsdiensidentiteit en -belange beskerm.”
En tog is vrede en eenheid deel die meeste godsdienste se grondbeginsels. Deur die eeue heen is onselfsugtige beginsels soos liefde vir naaste en die heiligheid van menselewe ywerig deur godsdiens bevorder. Behoort godsdiens dan nie sy groot invloed te gebruik om vrede te bevorder nie? Opregte aanbidders kan hierdie vraag gerus ondersoek.