Hoe om die verlies te aanvaar
“Toe ek hoor van my pa se dood, was ek geskok en verslae. Ek is deur skuldgevoelens oorweldig omdat ek nie by hom was toe hy gesterf het nie. Niks kan vergelyk met die intense pyn wat met die verlies van ’n geliefde gepaardgaan nie. Ek mis my pa verskriklik baie!”—Sara.
DIT is vir die meeste mense onaangenaam om oor die dood te praat, ongeag hulle kultuur of godsdiens. Party tale het ’n aantal eufemismes, oftewel versagtende uitdrukkings, om dit makliker te maak om daaroor te praat. In Afrikaans sê mense dat iemand “heengegaan het”, “ontslaap het” of “nie meer daar is nie”, eerder as om te sê dat hy “dood” is.
Maar selfs die mees versagtende uitdrukkings help nie veel om die intense hartseer te verlig wat mense dikwels ondervind wanneer hulle ’n geliefde verloor nie. Vir party is die droefheid so erg dat hulle die werklikheid van wat gebeur het, eenvoudig nie kan aanvaar nie.
As jy ’n geliefde aan die dood afgestaan het, sukkel jy dalk ook om jou verlies te aanvaar. Miskien gee jy selfs voor dat dit goed gaan, terwyl jy weet dat dit nie die geval is nie. Almal treur natuurlik nie op dieselfde manier nie. As jy jou droefheid dus nie uiterlik wys nie, beteken dit nie dat jy jou gevoelens onderdruk nie.a Probleme kan egter ontstaan as jy verplig voel om jou ware gevoelens vir ander weg te steek—dalk vir gesinslede wat ook treur.
“Daar was nie tyd vir my om te treur nie”
Kyk na die ondervinding van Nathaniel, ’n jong man wie se ma oorlede is toe hy 24 was. “Eers was ek verbysterd”, sê hy. “Ek het gevoel dat ek my pa en baie van my ma se bedroefde vriende moet ondersteun. Daar was nie tyd vir my om te treur nie.”
Ná meer as ’n jaar het Nathaniel gevind dat hy nog steeds nie sy verlies verwerk het nie. “My pa bel my nog steeds af en toe om oor sy hartseer te praat”, sê hy, “en dis ’n goeie ding. Hy moet daaroor praat, en ek is bly dat ek kan help. Dit voel net of daar niemand is wat my kan ondersteun wanneer ek ondersteuning nodig het nie.”
Versorgers—insluitende dié in die mediese wêreld wat dikwels voor die werklikheid van die dood te staan kom—voel dalk ook verplig om hulle gevoelens te onderdruk. Neem die geval van Heloisa, wat al meer as 20 jaar lank ’n dokter is. Sy het in ’n hegte gemeenskap gewerk en het ’n band met haar pasiënte gehad. “Ek was by baie van hulle toe hulle gesterf het”, sê sy, “en party van hulle was dierbare vriende.”
Heloisa het besef dat huil ’n natuurlike manier is om verligting te kry. “Maar dit was vir my moeilik om te huil”, vertel sy. “Dit was vir my so belangrik om ter wille van ander sterk te wees dat ek gedink het dat ek my gevoelens moet onderdruk. Ek het gedink dat ander dit van my verwag.”
“Die huis het leeg gevoel sonder haar”
Eensaamheid is miskien een van die grootste uitdagings vir diegene wat ’n geliefde verloor het. Byvoorbeeld, Ashley was 19 toe haar ma dood is aan kanker. “Ek het agterna heeltemal verlore en alleen gevoel”, sê sy. “My ma was my beste vriendin. Ons het baie tyd saam deurgebring!”
Dit was vir Ashley natuurlik moeilik om elke dag by die huis te kom en te besef dat haar ma nie daar is nie. “Die huis het leeg gevoel sonder haar”, sê sy. “Ek het dikwels net na my kamer toe gegaan en gehuil terwyl ek na foto’s van haar gekyk het en gedink het aan alles wat ons saam gedoen het.”
As jy ’n gesinslid of ’n dierbare vriend verloor het, moet jy altyd onthou dat ander soortgelyke droefheid ervaar. Baie het doeltreffende maniere gevind om droefheid te verwerk, soos ons sal sien.
[Voetnoot]
a Aangesien elke persoon op ’n ander manier treur, sal dit onregverdig wees as ander hulle eie gevolgtrekkings maak oor dié wat nie hulle emosies wys ná die dood van ’n geliefde nie.
[Lokteks op bladsy 5]
“Ek het . . . heeltemal verlore en alleen gevoel. My ma was my beste vriendin”—Ashley