Jongmense vra
Waarom moet ek Christelike vergaderinge bywoon?
GENIET JY CHRISTELIKE VERGADERINGE?
JA → HOU SO AAN
NEE → WAT KAN JY DAAROMTRENT DOEN?
DIE Bybel beveel Christene om vir aanbidding te vergader (Hebreërs 10:25). Maar sê nou jy geniet dit eenvoudig nie om daar te wees nie? Sê nou jy dagdroom oor wat jy kon gedoen het as jy tog maar net iewers anders was? Jy kan dit verander deur een of meer van die volgende wenke te probeer toepas.
1. WEES GEREELD
Sleutelteks: “Party mense het uit die gewoonte geraak om vir aanbidding te vergader, maar ons moet dit nie doen nie.”—Hebreërs 10:25, Contemporary English Version.
Waarom sou jy iets wat jy blykbaar nie geniet nie, gereeld wou doen? Eenvoudig gestel, omdat dit juis die manier is waarop jy sal leer om dit te geniet! Dink so daaraan: Hoe goed sal jy vaar in ’n sportsoort—en hoeveel sal jy dit geniet—as jy net nou en dan gaan oefen? Dieselfde beginsel geld vir Christelike vergaderinge. Hoe gereelder jy dit bywoon, hoe “fikser” sal jy in geestelike sin word. Dan sal jy by elke vergadering wil wees!—Matteus 5:3.
Wenke: Ná elke vergadering kan jy vir ten minste een spreker sê wat jy omtrent sy aanbieding waardeer het. Skryf in ’n dagboek een manier neer waarop jy by die vergadering baat gevind het. En aangesien baie van die materiaal wat by die vergaderinge bespreek word, oor die Christelike bediening handel, sal dit goed wees as jy dit jou doelwit maak om in die veldbediening te verbeter. Dit sal die inligting wat by die vergaderinge bespreek word, vir jou nuttiger maak.
“Ek is van kleins af geleer dat die bywoning van vergaderinge nie opsioneel is nie. Selfs toe ek ’n kind was, het dit nooit by my opgekom dat ek sommer net van die vergadering kan wegbly nie. En dit is hoe ek tot vandag toe daaroor voel.”—Kelsey.
Die slotsom: Diegene wat vergaderinge gereeld bywoon, geniet dit meer—en vind meer daarby baat!
2. SKENK AANDAG
Sleutelteks: “Skenk . . . aandag aan hoe julle luister.”—Lukas 8:18.
Navorsers sê dat die gemiddelde luisteraar teen die einde van die dag omtrent 60 persent van wat hy of sy tydens ’n toespraak gehoor het, vergeet het. Sê nou jou geld het so vinnig verdwyn? Jy sou beslis iets daaromtrent gedoen het!
Wenke: Sit saam met jou ouers naby die voorkant van die saal, waar jou aandag dalk nie so maklik afgelei sal word nie. Maak aantekeninge. Almal leer nou wel nie op dieselfde manier nie, maar as jy aantekeninge maak, kan dit jou help om beter te konsentreer op wat die spreker sê—en dit is baie nuttig wanneer jy later hersiening wil doen.
“In die verlede was dit vir my moeilik om by vergaderinge aandag te skenk, maar ek doen nou beter. Ek probeer onthou waarom ek daar is. Dis nie net ’n ritueel, soos om kerk toe te gaan nie. Ek woon vergaderinge by om te aanbid en te leer. Ek wil iets vind wat ek in my lewe kan toepas.”—Kathleen.
Die slotsom: Om na ’n vergadering te gaan en nie aandag te skenk nie, is soos om na ’n feesmaal te gaan en niks te eet nie.
3. NEEM DEEL
Sleutelteks: “Mense leer by mekaar, net soos yster deur yster geslyp word.”—Spreuke 27:17, Good News Translation.
As ’n jongmens speel jy ’n belangrike rol by gemeentelike vergaderinge. Moet nooit die waarde van jou teenwoordigheid en deelname onderskat nie, hetsy jy gedurende ’n vraag-en-antwoord-bespreking kommentaar lewer of met medegelowiges assosieer.
Wenke: Stel jou dit ten doel om tydens ’n vraag-en-antwoord-bespreking ten minste een kommentaar te lewer. Bied aan om te help met skoonmaakwerk of enige ander takies wat voor, gedurende of ná die vergadering gedoen moet word. Gesels met iemand met wie jy nie gewoonlik kans kry om te praat nie.
“Gedurende my middeltienerjare het ek by die vergaderinge gehelp om die mikrofone te dra en die verhoog gereed te kry. Hierdie verantwoordelikhede het my laat voel dat ek nodig is, en dit was vir my ’n motivering om daar te wees en betyds te wees. Dit het my gehelp om groter belangstelling in geestelike dinge te ontwikkel.”—Miles.
Die slotsom: Moenie net daar sit nie—doen iets! Dit hou altyd groter voordele in om ’n deelnemer te wees as om net ’n toeskouer te wees.
Nog artikels uit die reeks “Jongmense vra” kan gevind word op die webwerf www.watchtower.org/ype
[Venster/Prente op bladsy 21]
JY WORD UITGENOOI!
Wil jy graag
● Die waarheid omtrent God leer?
● ’n Beter persoon word?
● Die beste soort vriende vind?
Die vergaderinge van Jehovah se Getuies kan jou help om dit te doen—en nog meer! Jehovah se Getuies kom twee keer per week by hulle Koninkryksale bymekaar om te aanbid. Geen kollektes word geneem nie, en besoekers is altyd welkom.
Aanvaar gerus hierdie uitnodiging! Die Koninkryksale verskil heeltemal van enige ander kerk waar jy al was. By die vergaderinge van Jehovah se Getuies word die aandag gevestig op Bybelonderrig, en jy sal leer hoe God se Woord jou kan help om die allerbeste lewe te hê!—Deuteronomium 31:12; Jesaja 48:17.
Sai—Toe ek die eerste keer in ’n Koninkryksaal ingestap het, was ek verbaas dat daar geen beelde was nie, niemand soos ’n priester aangetrek was nie en niemand my gevra het om geld te gee nie. Almal het my verwelkom, en ek het veilig gevoel. Die dinge wat by die vergadering bespreek is, was maklik om te verstaan, en dit het sin gemaak. Dit was die waarheid waarna ek gesoek het!
Deyanira—Ek was 14 jaar oud toe ek die eerste keer ’n vergadering van Jehovah se Getuies bygewoon het. Ek is onmiddellik deur almal verwelkom. Dit het gelyk asof hulle werklik bly was om my daar te sien, en hulle het opreg in my belanggestel. Omdat ek so ’n positiewe ondervinding gehad het, was ek nie skaam om weer te gaan nie!
[Venster op bladsy 22]
Vind uit watter materiaal by die volgende gemeentelike vergadering bespreek gaan word. Kies een deel van die program wat jou interesseer en . . .
KNIP UIT EN MAAK ’N AFSKRIF
Voltooi die volgende voordat jy die vergadering bywoon.
Titel van die deel:
․․․․․
⇩
Wat ek graag omtrent hierdie onderwerp wil weet:
․․․․․
Voltooi die volgende nadat jy na die deel geluister het.
Wat ek geleer het:
․․․․․
⇩
Wat ek vir die spreker kan sê ek omtrent sy deel geniet het:
․․․․․