Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • ce hfst. 15 bl. 179-187
  • Waarom aanvaar baie evolusie?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom aanvaar baie evolusie?
  • Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Gesagsdwang
  • Godsdiens se mislukking
  • ‘Sien is glo’
  • Nog ’n belangrike rede vir ongeloof
  • Meningsverskille oor evolusie—Waarom?
    Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?
  • Bedrog in die wetenskap—’n Groter bedrog
    Ontwaak!—1990
  • Is evolusie versoenbaar met die Bybel?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Evolusie staan tereg
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
Sien nog
Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?
ce hfst. 15 bl. 179-187

Hoofstuk 15

Waarom aanvaar baie evolusie?

1, 2. Wat is een rede waarom baie mense evolusie glo?

SOOS ons gesien het, is die getuienis vir die skepping oorweldigend. Waarom verwerp baie mense dan die skepping en aanvaar hulle evolusie? Een rede is wat hulle op skool geleer is. Wetenskapleerboeke staan feitlik altyd die evolusionistiese beskouing voor. Die leerling hoor selde, indien ooit, teenargumente. Trouens, argumente teen evolusie word gewoonlik uit skoolleerboeke geweer.

2 In die tydskrif American Laboratory het ’n biochemikus die volgende oor sy kinders se skoolopleiding geskryf: “Evolusie word nie as ’n teorie vir die kind aangebied nie. Subtiele verklarings word reeds in wetenskapleerboeke vir graad twee gemaak (gebaseer op wat ek in my kinders se leerboeke gesien het). Evolusie word as die werklikheid aangebied, nie as ’n begrip wat bevraagteken kan word nie. Die gesag van die onderwysstelsel dwing dan geloof af.” Aangaande evolusieonderrig in hoër standerds het hy gesê: “’n Leerling word nie toegelaat om persoonlike opvattings te huldig of te lug nie: indien die leerling dit doen, word hy deur die onderwyser gespot en gekritiseer. Die leerling loop dikwels die gevaar van akademiese verlies omdat sy of haar beskouings nie ‘korrek’ is nie en punte afgetrek word.”⁠1

3. Hoe word sommige mense gekondisioneer om evolusie te aanvaar?

3 Nie alleen die skole nie, maar alle ander terreine van die wetenskap en ander vakke soos geskiedenis en filosofie is deurtrek van evolusionistiese beskouings. Boeke, tydskrifartikels, rolprente en televisieprogramme behandel dit asof dit ’n bewese feit is. Ons hoor of lees dikwels uitdrukkings soos: ‘Toe die mens uit die laer diere geëvolueer het’, of: ‘Miljoene jare gelede, toe lewe in die oseane geëvolueer het.’ Mense word gevolglik gekondisioneer om evolusie as ’n feit te aanvaar, en getuienis van die teendeel bly onopgemerk.

Gesagsdwang

4. Hoe word gesagsdwang ten behoewe van evolusie uitgeoefen?

4 Hoeveel leke gaan vername opvoedkundiges en wetenskaplikes weerspreek wanneer laasgenoemdes beweer dat evolusie ’n feit is en te kenne gee dat slegs die onkundiges weier om dit te glo? Hierdie gesagsdwang wat ten behoewe van evolusie toegepas word, is ’n belangrike rede waarom baie mense dit aanvaar.

5. (a) Watter voorbeeld toon hoe wetenskaplikes dikwels gesagsdwang toepas? (b) Waarom is sulke bewerings verkeerd?

5 ’n Tipiese voorbeeld van beskouings wat leke dikwels intimideer, is die volgende bewering van Richard Dawkins: “Darwin se teorie word nou deur al die beskikbare, relevante getuienis gestaaf, en geen ernstige, hedendaagse bioloog twyfel aan die waarheid daarvan nie.”⁠2 Maar is dit werklik die geval? Glad nie. ’n Bietjie navorsing sal toon dat talle wetenskaplikes, waaronder ‘ernstige, hedendaagse bioloë’, nie net aan evolusie twyfel nie, maar dit glad nie glo nie.⁠3 Hulle meen dat die getuienis vir die skepping veel sterker is. Veralgemenings soos dié van Dawkins is dus verkeerd. Maar dit is tipies van pogings om die opposisie met sulke taal te oorweldig. Een persoon wat hierdie neiging waargeneem het, het in New Scientist geskryf: “Het Richard Dawkins so min geloof in die getuienis vir evolusie dat hy gewaagde veralgemenings moet maak om teenstanders van sy opvattinge af te skrik?”⁠4

6. Hoe is evolusionistiese dogmatisme strydig met die aanvaarde wetenskaplike metode?

6 Die boek A View of Life, deur evolusioniste Luria, Gould en Singer, sê in soortgelyke trant dat “evolusie ’n feit is”, en beweer: “Ons kan net sowel daaraan twyfel dat die aarde om die son wentel, of dat water uit waterstof en suurstof bestaan.”⁠5 Dit sê ook dat evolusie net so seker is soos die bestaan van swaartekrag. Maar daar kan eksperimenteel bewys word dat die aarde om die son wentel, dat water uit waterstof en suurstof bestaan en dat swaartekrag bestaan. Evolusie kan nie eksperimenteel bewys word nie. Hierdie selfde evolusioniste erken inderdaad dat “’n hewige debat oor evolusieteorieë voortduur”.⁠6 Maar word daar steeds hewige debatte gevoer oor die kwessie of die aarde om die son wentel, of water uit waterstof en suurstof bestaan, en of swaartekrag bestaan? Nee. Hoe redelik is dit dan om te sê dat evolusie net so seker soos hierdie dinge is?

7. Waarom baseer wetenskaplikes nie altyd hulle gevolgtrekkings op feite nie?

7 In ’n voorwoord tot John Reader se boek Missing Links toon David Pilbeam dat wetenskaplikes nie altyd hulle gevolgtrekkings op feite baseer nie. Volgens Pilbeam is een rede die feit dat wetenskaplikes “ook mense is en omdat daar baie op die spel is, want daar is blink pryse in die vorm van roem en publisiteit”. Die boek erken dat evolusie “’n wetenskap is wat deur individuele ambisies aangedrywe word en daarom vir vooropgesette opvattinge vatbaar is”. Dit sê byvoorbeeld: “Wanneer vooropgesette menings . . . so geesdriftig verwelkom en so lank geduld word soos in die geval van die Piltdown-mens, toon die wetenskap ’n onrusbarende neiging tot geloof vóór ondersoek.” Die skrywer voeg by: “Hedendaagse [evolusioniste] sal eweseer verkeerde gegewens wat hulle vooropgesette menings staaf, aanhang as vroeëre navorsers . . . [wat] objektiewe oordeel verwerp het ten gunste van die idees wat hulle wou glo.”⁠7 Omdat hulle hulle tot evolusie verbind het en graag hulle loopbane wil bevorder, sal sommige wetenskaplikes nie erken dat die moontlikheid van dwaling bestaan nie. Hulle lê hulle eerder daarop toe om vooropgesette menings te regverdig in plaas van moontlik skadelike feite te erken.

8. Waarom het W. R. Thompson die grootskaalse omkering na geloof in evolusie betreur?

8 In sy voorwoord tot die honderdjarige uitgawe van Darwin se The Origin of Species het W. R. Thompson van hierdie onwetenskaplike gesindheid melding gemaak en dit betreur. Thompson het gesê: “As argumente nie ontleding kan deurstaan nie, moet dit nie bekragtig word nie, en ’n grootskaalse omkering op grond van onjuiste argument moet as laakbaar beskou word.” Hy het gesê: “Die feite en vertolkings waarop Darwin staatgemaak het, is nie meer oortuigend nie. Die langdurige navorsing op die gebied van erflikheid en variasie het die Darwinistiese posisie ondermyn.”⁠8

9. Wat het Thompson gesê oor wetenskaplikes se onderdrukking van kritiek op evolusie?

9 Thompson het ook gesê: “’n Langdurige en betreurenswaardige uitwerking van die sukses van die Origin was bioloë se verslawing aan onbewysbare bespiegeling. . . . Die welslae van Darwinisme het gepaard gegaan met ’n afname in wetenskaplike integriteit.” Hy het die gevolgtrekking gemaak: “Hierdie situasie, waar wetenskaplikes ’n leerstelling verdedig wat hulle nie wetenskaplik kan definieer nie, wat nog te sê met wetenskaplike nougesetheid kan toelig, en probeer om die geloofwaardigheid daarvan by die publiek te handhaaf deur kritiek te onderdruk en moeilikhede uit te skakel, is abnormaal en onwenslik in die wetenskap.”⁠9

10. Waarom aanvaar baie wetenskaplikes evolusie as ’n “feit”?

10 ’n Professor in die antropologie, Anthony Ostric, het sy wetenskapkollegas eweneens gekritiseer omdat hulle gesê het dat die mens se afstamming van aapagtige wesens “’n feit” is. Hy het gesê dat dit “hoogstens ’n hipotese is, en boonop een wat nie goed gestaaf is nie”. Hy het gesê dat “daar geen getuienis is dat die mens nie wesenlik dieselfde gebly het sedert hy die eerste keer verskyn het nie”. Die antropoloog het gesê dat die ontsaglike menigte beroepsmense hulle geskaar het aan die kant van diegene wat evolusie voorstaan “uit vrees dat hulle nie as ernstige geleerdes beskou sal word nie of dat hulle uit ernstige akademiese kringe verwerp sal word”.⁠10 In hierdie verband sê Hoyle en Wickramasinghe ook: “Òf jy glo die begrippe òf jy sal noodwendig as ’n ketter gebrandmerk word.”⁠11 Een gevolg hiervan was ’n onwilligheid aan die kant van baie wetenskaplikes om die skeppingsbeskouing onbevooroordeeld te ondersoek. ’n Brief aan die redakteur van Hospital Practice het gesê: “Die wetenskap het homself nog altyd beroem op sy objektiwiteit, maar ongelukkig is ons wetenskaplikes vinnig besig om die slagoffers te word van die bevooroordeelde, bekrompe denke wat ons al so lank verafsku.”⁠12

Godsdiens se mislukking

11. Hoe was godsdiens se mislukking ’n faktor by die aanvaarding van evolusie?

11 ’n Bykomende rede waarom evolusie aanvaar word, is omdat konvensionele godsdiens in leer en daad misluk het, en omdat dit versuim het om die Bybel se skeppingsverhaal behoorlik weer te gee. Ingeligte persone is terdeë bewus van godsdiens se reputasie van skynheiligheid, verdrukking en inkwisisies. Hulle het gesien hoedat geestelikes moorddadige diktators steun. Hulle weet dat lede van dieselfde geloof mekaar in oorlogstyd by die miljoene afgemaai het, terwyl geestelikes albei kante gesteun het. Hulle sien dus geen rede waarom hulle die God wat daardie gelowe dan glo verteenwoordig in aanmerking moet neem nie. Hierdie vervreemding word ook deur onsinnige en onskriftuurlike leerstellings vererger. Opvattings soos ewige foltering—dat God mense vir ewig in ’n letterlike helvuur gaan braai—is vir denkende mense afstootlik.

12. Wat toon die mislukking van hierdie wêreld se gelowe in werklikheid?

12 Dit is egter nie net denkende mense wat deur sulke godsdiensleerstellings en -dade afgestoot word nie. Die getuienis in die Bybel toon dat God ook daardeur afgestoot word. Trouens, die Bybel stel die skynheiligheid van sekere godsdiensleiers onomwonde aan die kaak. Dit sê byvoorbeeld van hulle: “So lyk julle ook van buite vir die mense wel regverdig, maar van binne is julle vol geveinsdheid en ongeregtigheid” (Mattheüs 23:28). Jesus het vir die gewone mense gesê dat hulle geestelikes “blinde leiers” is wat “gebooie van mense” as leringe leer in plaas van wat van God af kom (Mattheüs 15:9, 14). Die Bybel veroordeel eweneens godsdiensbeoefenaars wat ‘bely dat hulle God ken, maar Hom deur die werke verloën’ (Titus 1:16). Ondanks hulle bewerings is gelowe wat skynheiligheid en bloedvergieting voorstaan of vergoelik nie uit God nie, en hulle verteenwoordig hom ook nie. Hulle word eerder “valse profete” genoem en vergelyk met bome wat “slegte vrugte” dra.—Mattheüs 7:15-20; Johannes 8:44; 13:35; 1 Johannes 3:10-12.

13. Watter gebrek aan leiding kan in godsdiens gesien word?

13 Talle gelowe het ook gekapituleer waar dit by evolusie kom en sodoende geen alternatief vir hulle lidmate voorsien nie. Die New Catholic Encyclopedia sê byvoorbeeld: “Dit wil voorkom of algemene evolusie, selfs van die liggaam van die mens, die waarskynlikste wetenskaplike oorsprongverhaal is.”⁠13 Tydens ’n Vatikaanse vergadering het 12 geleerdes wat die hoogste wetenskaplike liggaam van die Katolieke Kerk verteenwoordig het hierdie gevolgtrekking gemaak: “Ons is daarvan oortuig dat die massa getuienis die toepassing van die evolusiebegrip op die mens en ander primate bo ernstige twyfel verhef.”⁠14 Is dit, met sulke godsdiensbekragtiging, waarskynlik dat oningeligte lidmate weerstand sal bied selfs wanneer “die massa getuienis” in werklikheid nie evolusie nie, maar wel die skepping steun?

14. Hoe word die leemte wat deur valse godsdiens geskep word dikwels gevul?

14 Die leemte wat dit skep, word dikwels deur agnostisisme en ateïsme gevul. Wanneer mense ophou om aan God te glo, aanvaar hulle evolusie as die alternatief. In ’n aantal lande is ateïsme wat op evolusie gebaseer is vandag selfs die amptelike staatsbeleid. Hierdie wêreld se gelowe dra die skuld vir ’n groot deel van hierdie ongeloof.

15. Watter ander verkeerde godsdiensopvattinge werk geloof in God en die Bybel teë?

15 Sommige godsdiensleerstellings laat mense ook dink dat die Bybel dinge leer wat strydig met die wetenskaplike feite is, sodat hulle die God van die Bybel verwerp. Soos in ’n vroeëre hoofstuk gemeld, beweer sommige verkeerdelik dat die Bybel leer dat die aarde in ses letterlike dae van 24 uur elk geskape is en dat dit slegs 6 000 jaar oud is. Maar die Bybel leer nie so iets nie.

‘Sien is glo’

16. Waarom verwerp sommige mense die begrip van ’n Skepper?

16 Sommige mense verwerp opreg die begrip van ’n Skepper omdat hulle meen, soos daar al gesê is, ‘sien is glo’. As iets nie op die een of ander manier gesien of gemeet kan word nie, meen hulle dat dit nie bestaan nie. Hulle erken weliswaar in die daaglikse lewe die bestaan van talle dinge wat nie gesien kan word nie, soos elektrisiteit, magnetisme, radio- of televisiegolwe en swaartekrag. Maar dit verander nie hulle beskouing nie, aangesien al hierdie dinge op ’n ander fisiese manier gemeet of waargeneem kan word. Maar daar is geen fisiese manier om ’n Skepper of God te sien of te meet nie.

17, 18. (a) Watter getuienis wat ons kan sien, bewys dat ’n onsigbare Skepper bestaan? (b) Waarom moet ons nie verwag om God te kan sien nie?

17 Soos ons egter in vorige hoofstukke gesien het, bestaan daar gegronde rede om te glo dat ’n onsigbare Skepper wel bestaan, aangesien ons die getuienis, die fisiese resultate van sy handewerk, kan sien. Ons sien dit in die tegniese volmaaktheid en ingewikkeldheid van die atoomstruktuur, in die pragtig georganiseerde heelal, in die unieke planeet Aarde, in die verbasende ontwerpe van lewende dinge en in die mens se ontsagwekkende brein. Dit is gevolge wat ’n voldoende oorsaak moet hê om hulle bestaan te verklaar. Selfs materialiste aanvaar hierdie wet van oorsaak en gevolg op alle ander terreine. Waarom dan nie ook ten opsigte van die fisiese heelal self nie?

18 In hierdie verband stel die Bybel se eenvoudige argument dit die beste: “[Die Skepper se] onsigbare hoedanighede word van die skepping van die wêreld af duidelik gesien, omdat hulle waargeneem word deur middel van die dinge wat gemaak is” (Romeine 1:20, NW). Met ander woorde, die Bybel redeneer van gevolg tot oorsaak. Die sigbare skepping, die ontsagwekkende “dinge wat gemaak is”, is ’n duidelike gevolg wat ’n intelligente oorsaak moet hê. Daardie onsigbare oorsaak is God. As die Maker van die ganse heelal besit die Skepper ongetwyfeld krag wat so geweldig is dat mense van vlees en bloed nie moet verwag om God te sien en aan die lewe te bly nie. Die Bybel sê: “Geen mens kan [God] sien en bly lewe nie.”—Exodus 33:20.

Nog ’n belangrike rede vir ongeloof

19. Wat is nog ’n belangrike rede waarom baie evolusie aanvaar?

19 Daar is nog ’n belangrike rede waarom baie mense ophou om aan God te glo en evolusie aanvaar. Dit is omdat lyding so algemeen is. Eeue lank al is ongeregtigheid, verdrukking, misdadigheid, oorlog, siekte en sterfte aan die orde van die dag. Baie mense verstaan nie waarom die mensdom al hierdie ontberinge moet verduur nie. Hulle meen dat ’n almagtige Skepper nie sulke dinge sou toegelaat het nie. Aangesien hierdie toestande wel bestaan, meen hulle dat God nie kan bestaan nie. Wanneer evolusie aangebied word, aanvaar hulle dit gevolglik as die enigste alternatief, dikwels sonder veel ondersoek.

20. Watter vrae moet beantwoord word?

20 Waarom sou ’n almagtige Skepper soveel lyding toelaat? Sal dit vir ewig so wees? Wanneer jy die oplossing vir hierdie probleem verstaan, sal dit jou ook help om die dieper, onderliggende rede waarom die evolusieteorie in ons dag so algemeen is, te verstaan.

[Lokteks op bladsy 179]

Die leerling hoor selde teenargumente

[Lokteks op bladsy 180]

Die wetenskap en ander vakgebiede is deurtrek van evolusionistiese beskouings

[Lokteks op bladsy 180]

Talle opvoedkundiges en wetenskaplikes sê of gee voor dat slegs die onkundiges nie aan evolusie glo nie

[Lokteks op bladsy 182]

‘Die [evolusionêre] wetenskap toon ’n onrusbarende neiging tot geloof vóór ondersoek’

[Lokteks op bladsy 182]

“Die feite en vertolkings waarop Darwin staatgemaak het, is nie meer oortuigend nie”

[Lokteks op bladsy 183]

‘Die onderdrukking van kritiek is abnormaal en onwenslik in die wetenskap’

[Lokteks op bladsy 185]

Die leemte wat deur godsdiensdwaling geskep is, lei dikwels tot die aanvaarding van evolusie

[Lokteks op bladsy 187]

Baie verwerp geloof in God en aanvaar evolusie omdat daar soveel lyding is

[Prente op bladsy 181]

Word daar steeds debatte gevoer oor die kwessie of die aarde om die son wentel, of water uit waterstof en suurstof bestaan, en of swaartekrag bestaan?

Baan

Water

Swaartekrag

[Prent op bladsy 184]

Die geestelikes se steun aan albei kante in oorlogstyd, onverdraagsaamheid en valse leerstellings soos die helvuur stoot baie af

[Prente op bladsy 186]

“Die dinge wat gemaak is”, getuig van die bestaan van ’n Skepper

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel