Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • ce hfst. 18 bl. 216-231
  • Is die Bybel werklik deur God geïnspireer?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Is die Bybel werklik deur God geïnspireer?
  • Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die val van Tirus
  • Kores en die val van Babilon
  • Medo-Persië en Griekeland
  • Die Messias is voorspel
  • Die vernietiging van Jerusalem
  • Profesieë wat nou vervul word
  • Wat maak dit anders?
  • 1914—Die keerpunt in die geskiedenis
  • ’n Volk wat profesie vervul
  • Profesieë wat bewaarheid is
    Die Bybel—God se woord of die mens s’n?
  • Wanneer sal die voorspelde wêreldvernietiging kom?
    Ware vrede en veiligheid—Hoe kan jy dit vind?
  • Hoe lank sal die huidige stelsel voortbestaan?
    Oorlewing tot in ’n nuwe aarde
  • Wat 1914 vir jou kan beteken
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
Sien nog
Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?
ce hfst. 18 bl. 216-231

Hoofstuk 18

Is die Bybel werklik deur God geïnspireer?

1. Watter vermoë besit die Skepper wat mense nie besit nie?

GEEN mens kan die toekoms akkuraat tot in die fynste besonderhede voorspel nie. Dit is nie menslik moontlik nie. Maar die Skepper van die heelal beskik oor al die nodige feite en kan selfs gebeure beheer. Daar word dus van hom gepraat as die Een “wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie”.—Jesaja 46:10; 41:22, 23.

2. Watter treffende getuienis sou toon dat die Bybel deur God geïnspireer is?

2 Die Bybel bevat honderde profesieë. Is hulle tot op hede akkuraat vervul? In daardie geval sal dit ’n treffende aanduiding wees dat die Bybel “deur God ingegee” of geïnspireer is (2 Timotheüs 3:16, 17). En dit sal vertroue wek in verdere profesieë oor gebeure wat nog voorlê. Dit sal dus nuttig wees om enkele profesieë wat reeds vervul is, te hersien.

Die val van Tirus

3. Wat is aangaande Tirus voorspel?

3 Tirus was ’n belangrike seehawe van Fenicië wat verraderlik opgetree het teenoor eertydse Israel, sy suidelike buurvolk wat Jehovah aanbid het. Deur ’n profeet genaamd Esegiël het Jehovah meer as 250 jaar voor die tyd sy algehele vernietiging voorspel. Jehovah het gesê: “Ek laat baie nasies teen jou optrek . . . Húlle sal die mure van Tirus verwoes en sy torings afbreek; ja, Ek sal sy puin van hom af wegvee en hom ’n kaal rots maak. Hy sal binne-in die see ’n droogmaakplek van nette wees.” Esegiël het ook vooraf die eerste nasie wat Tirus sou beleër, en die leier van daardie nasie, by name genoem: “Kyk, Ek laat Nebukadresar, die koning van Babel, . . . teen Tirus kom.”—Esegiël 26:3-5, 7.

4. (a) Hoe is die profesie oor Babilon se verowering van Tirus vervul? (b) Waarom het die Babiloniërs geen buit weggevoer nie?

4 Net soos voorspel is, het Nebukadresar [Nebukadnesar] Tirus op die vasteland verwoes. The Encyclopædia Britannica berig dat dit “13 jaar lank deur Nebukadresar beleër is”.⁠1 Na die beleëring is daar berig dat hy geen buit weggevoer het nie: “Maar hy en ook sy leër het van Tirus geen loon ontvang . . . nie” (Esegiël 29:18). Waarom nie? Omdat ’n deel van Tirus op ’n eiland oorkant ’n smal kanaal geleë was.⁠2 Die meeste van Tirus se skatte is van die vasteland af vervoer na daardie deel van die stad wat op die eiland geleë was en wat nie vernietig is nie.

5, 6. Hoe het Alexander die Grote die eilandstad Tirus verwoes en die profesieë tot in die fynste besonderhede vervul?

5 Maar Nebukadresar se verowering het nie Tirus se ‘puin van hom af weggevee en hom ’n kaal rots gemaak’ soos Esegiël voorspel het nie. Ook Sagaria se profesie, wat gesê het dat Tirus “in die see” gewerp sou word, is nie vervul nie (Sagaria 9:4). Was hierdie profesieë onjuis? Glad nie. Meer as 250 jaar ná Esegiël se profesie en byna 200 jaar ná Sagaria s’n, is Tirus in 332 v.G.J. totaal deur Griekse leërs onder aanvoering van Alexander die Grote verwoes. “Met die puin van die deel van die stad op die vasteland”, verduidelik The Encyclopedia Americana, “het hy in 332 ’n groot [verhoogde pad] gebou om die eiland met die vasteland te verbind. Ná ’n beleëring van sewe maande . . . het hy Tirus verower en vernietig.”⁠3

6 Net soos Esegiël en Sagaria voorspel het, het Tirus se stof en puin wel in die water beland. Dit is omgeskep in ’n kaal rots, “’n plek om nette op uit te sprei”, soos ’n besoeker aan die terrein gesê het.⁠4 Profesieë wat honderde jare tevore geuiter is, is dus tot in die fynste besonderhede vervul!

Kores en die val van Babilon

7. Wat het die Bybel oor die Jode en Babilon voorspel?

7 Die profesieë oor die Jode en Babilon is ook merkwaardig. Die geskiedenis deel ons mee dat die Babiloniërs die Jode in gevangenskap weggevoer het. Maar ongeveer 40 jaar voordat dit gebeur het, het Jeremia dit voorspel. Jesaja het dit ongeveer 150 jaar voordat dit gebeur het, voorspel. Hy het ook voorspel dat die Jode uit gevangenskap sou terugkeer. So ook Jeremia, wat gesê het dat hulle ná 70 jaar na hulle land sou terugkeer.—Jesaja 39:6, 7; 44:26; Jeremia 25:8-12; 29:10.

8, 9. (a) Wie het Babilon verower, en hoe? (b) Hoe bevestig die geskiedenis die profesie oor Babilon?

8 Hierdie terugkeer is moontlik gemaak deur die verowering van Babilon deur die Meders en Perse in 539 v.G.J. Dit is deur Jesaja voorspel byna 200 jaar voordat dit gebeur het, en deur Jeremia ongeveer 50 jaar voordat dit plaasgevind het. Jeremia het gesê dat Babiloniese soldate geen weerstand sou bied nie. Jesaja sowel as Jeremia het voorspel dat Babilon se beskermende waters, die Eufraatrivier, sou “uitdroog”. Jesaja het selfs die naam van die verowerende Persiese generaal, Kores, verstrek en gesê dat Babilon se ‘poorte nie voor hom gesluit sou bly nie’.—Jeremia 50:38; 51:11, 30; Jesaja 13:17-19; 44:27; 45:1.

9 Die Griekse geskiedskrywer Herodotus het verduidelik dat Kores in werklikheid die Eufraat verlê het en dat “die rivier se watervlak so gedaal het dat die natuurlike stroombedding deurwaadbaar geword het”.⁠5 Gedurende die nag het vyandelike soldate met die rivierbedding langs opgetrek en die stad binnegegaan deur die poorte wat onverskillig oopgelaat is. “Indien die Babiloniërs bewus was van Kores se planne”, het Herodotus voorts gesê, “sou hulle al die straatpoorte langs die rivier gesluit het . . . Maar soos dit was, het die Perse hulle verras en so die stad ingeneem.”⁠6 Die Babiloniërs was in werklikheid besig om te fuif, soos die Bybel verduidelik, en soos Herodotus bevestig⁠7 (Daniël 5:1-4, 30). Jesaja sowel as Jeremia het voorspel dat Babilon mettertyd ’n verlate woesteny sou word. En dit is wat gebeur het. Babilon is vandag verlate kliphope.—Jesaja 13:20-22; Jeremia 51:37, 41-43.

10. Watter getuienis bevestig dat die Jode deur Kores vrygelaat is?

10 Kores het die Jode ook na hulle tuisland laat terugkeer. Meer as twee eeue tevore het Jehovah omtrent Kores voorspel: “Hy sal alles volbring wat My behaag” (Jesaja 44:28). Net soos voorspel is, het Kores die gevangenes ná 70 jaar, in 537 v.G.J., na hulle tuisland laat terugkeer (Esra 1:1-4). ’n Ou Persiese inskripsie, genaamd die Kores-silinder, is gevind, en dit sit Kores se beleid om gevangenes te repatrieer duidelik uiteen. “Wat die bewoners van Babilon betref”, het Kores volgens die verslag gesê, “ek het (ook) al hulle (voormalige) inwoners versamel en hulle woonplekke (aan hulle) teruggegee.”⁠8

Medo-Persië en Griekeland

11. Hoe het die Bybel Medo-Persië se opkoms en verowering deur Griekeland voorspel?

11 Terwyl Babilon nog ’n wêreldmoondheid was, het die Bybel voorspel dat dit verower sou word deur ’n simboliese ram met twee horings wat “die konings van die Meders en die Perse” voorgestel het (Daniël 8:20). Net soos voorspel is, het Medo-Persië die volgende wêreldmoondheid geword toe hy Babilon in 539 v.G.J. verower het. Mettertyd het “’n bokram”, wat as Griekeland geïdentifiseer is, egter “die ram [ge]stoot en sy twee horings verbreek” (Daniël 8:1-7). Dit was in 332 v.G.J. toe Griekeland Medo-Persië verslaan en die nuwe wêreldmoondheid geword het.

12. Wat het die Bybel oor die heerskappy van Griekeland gesê?

12 Let op wat voorspel is om daarop te volg: “En die bok het uitermate magtig geword; maar toe hy sterk was, het die groot horing afgebreek, en vier aansienlike horings het in sy plek uitgekom” (Daniël 8:8). Wat beteken dit? Die Bybel verduidelik: “Die harige bok is die koning van Griekeland; en die groot horing wat tussen sy oë was, dit is die eerste koning. En dat dit gebreek is en vier in sy plek ontstaan het—vier koninkryke sal uit sy volk ontstaan, maar nie met sy krag nie.”—Daniël 8:21, 22.

13. Hoe is die profesie oor Griekeland vervul meer as 200 jaar nadat dit opgeteken is?

13 Die geskiedenis toon dat hierdie “koning van Griekeland” Alexander die Grote was. Maar na sy dood in 323 v.G.J. is sy ryk eindelik tussen vier generaals verdeel—Seleukos Nikator, Cassander, Ptolemaios Lagus en Lysimachus. Net soos die Bybel voorspel het, het “vier in sy plek ontstaan”. Maar net soos daar ook voorspel is, het nie een van hulle ooit die mag gehad wat Alexander gehad nie. Meer as 200 jaar nadat hierdie profesie opgeteken is, het dit dus in vervulling begin gaan—nog ’n treffende bevestiging dat die Bybel geïnspireer is!

Die Messias is voorspel

14. Wat het een geleerde gesê oor die talle profesieë wat deur Jesus Christus vervul is?

14 Die talle Bybelprofesieë oor Jesus Christus is veral merkwaardig. Professor J. P. Free het gesê: “Die kans dat al hierdie profesieë deur een man vervul sou word, is so oneindig klein dat dit hoegenaamd nie die skerpsinnige gissings van blote mense kon wees nie.”⁠9

15. Wat is sommige van die profesieë wat deur Christus vervul is maar wat buite sy beheer was?

15 Die vervulling van baie van hierdie profesieë was heeltemal buite Jesus se beheer. Hy kon byvoorbeeld nie gereël het om in die stam van Juda, of as ’n afstammeling van Dawid, gebore te word nie (Genesis 49:10; Jesaja 9:5, 6; 11:1, 10; Mattheüs 1:2-16). Hy kon sake ook nie so bewerk het dat hy in Betlehem gebore word nie (Miga 5:1; Lukas 2:1-7). En hy kon ook nie gereël het dat hy vir 30 silwerstukke verraai word (Sagaria 11:12; Mattheüs 26:15); dat sy vyande op hom spuug (Jesaja 50:6; Mattheüs 26:67); dat hy gesmaad word terwyl hy aan die folterpaal hang (Psalm 22:8, 9; Mattheüs 27:39-43); dat hy deurboor word, maar dat nie een van die bene in sy liggaam gebreek word nie (Sagaria 12:10; Psalm 34:21; Johannes 19:33-37); en dat soldate die lot oor sy klere werp nie (Psalm 22:19; Mattheüs 27:35). Dit is maar net enkele van die talle profesieë wat deur die man Jesus vervul is.

Die vernietiging van Jerusalem

16. Wat het Jesus oor Jerusalem geprofeteer?

16 Jesus was Jehovah se grootste Profeet. Let eerstens op wat hy gesê het met Jerusalem sou gebeur: “Daar sal dae oor jou kom dat jou vyande ’n skans [met spits pale] rondom jou sal opwerp en jou omsingel en jou van alle kante insluit. En hulle sal jou en jou kinders in jou teen die grond verpletter; en hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die gunstige tyd toe God jou besoek het, nie opgemerk het nie” (Lukas 19:43, 44, vgl. NW). Jesus het ook gesê: “Wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingeld sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby is. Dan moet die wat in Judea is, na die berge vlug.”—Lukas 21:20, 21.

17. Hoe is Jesus se profesie oor leërs wat Jerusalem sou omsingel, vervul, en hoe kon mense dan uit die stad vlug?

17 Getrou aan die profesie het Romeinse leërs onder Cestius Gallus Jerusalem in 66 G.J. aangeval. Hy het vreemd genoeg nie die beleëring end-uit gevoer nie. Die eerste-eeuse geskiedskrywer Flavius Josephus het berig: “Hy het hom geheel en al sonder rede aan die stad onttrek.”⁠10 Daar die beleëring onverwags beëindig is, is mense die geleentheid gebied om ag te slaan op Jesus se bevel om uit Jerusalem te vlug. Die geskiedskrywer Eusebius het berig dat dit die Christene was wat gevlug het.⁠11

18. (a) Wat het in 70 G.J., minder as vier jaar nadat die Romeinse leërs hulle aan Jerusalem onttrek het, gebeur? (b) Hoe volkome was Jerusalem se vernietiging?

18 Minder as vier jaar later, in 70 G.J., het Romeinse leërs onder generaal Titus teruggekeer en Jerusalem omsingel. Hulle het al die bome kilometers ver afgekap en “’n skans met spits pale” gebou wat soos ’n muur rondom die stad gestrek het. Josephus het gesê wat die gevolg was: “Alle hoop om te ontsnap is die Jode nou ontneem.”⁠12 Benewens drie torings en ’n deel van die muur is die res ná ’n beleëring van ongeveer vyf maande “so deeglik met die grond gelykgemaak . . . dat daar niks oorgebly het om diegene wat soontoe gekom het te laat glo dat dit ooit bewoon is nie”, aldus Josephus.⁠13

19. (a) Hoe ernstig was die benoudheid wat Jerusalem moes verduur? (b) Waarvan is die Titusboog nou ’n stille herinnering?

19 Ongeveer 1 100 000 het gedurende die beleëring gesterf, en 97 000 is gevange geneem.⁠14 ’n Bewys van die vervulling van Jesus se profesie kan tot vandag toe in Rome gesien word. Dit is die Titusboog, wat in 81 G.J. deur die Romeine opgerig is om die suksesvolle verowering van Jerusalem te gedenk. Daardie boog is ’n stille herinnering aan die feit dat versuim om op die waarskuwings in Bybelprofesieë ag te slaan tot ’n ramp kan lei.

Profesieë wat nou vervul word

20. In antwoord op watter vraag het Jesus die “teken” gegee waaraan ons kan weet dat ’n groot wêreldverandering naby is?

20 Volgens die Bybel is ’n verstommende wêreldverandering ophande. Net soos Jesus gebeure voorspel het waaraan mense in die eerste eeu kon weet dat die vernietiging van Jerusalem ophande is, so het hy ook gebeure voorspel waaraan mense vandag kan weet dat ’n wêreldverandering naby is. Jesus het hierdie “teken” gegee in antwoord op die volgende vraag van sy dissipels: “Wat is die teken van u teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel?”—Mattheüs 24:3, NW.

21. (a) Wat is Christus se “teenwoordigheid”, en wat is “die voleinding van die stelsel”? (b) Waar kan ons van die teken lees wat Jesus gegee het?

21 Volgens die Bybel sou Christus nie in menslike gedaante “teenwoordig” wees nie, maar sou hy eerder ’n magtige heerser in die hemel wees wat die verdrukte mensdom verlos (Daniël 7:13, 14). Sy “teenwoordigheid” sou wees gedurende wat hy “die voleinding van die stelsel” genoem het. Wel, wat was dan die teken wat Jesus gegee het om die tyd aan te dui wanneer hy onsigbaar teenwoordig sou wees as heerser en wanneer die einde van hierdie stelsel naby sou wees? Jy kan die gebeure wat hierdie teken uitmaak in die Bybel inMattheüs hoofstuk 24, Markus hoofstuk 13 en Lukas hoofstuk 21 hersien. Die volgende is van die belangrikstes:

22. Hoe was oorloë sedert 1914 ’n deel van die teken, en hoe vernietigend was hulle?

22 GROOT OORLOË: “Die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander” (Mattheüs 24:7). Sedert 1914 is hierdie profesie op oorweldigende wyse vervul. Die Eerste Wêreldoorlog, wat in 1914 uitgebreek het, het die grootskaalse gebruik van masjiengewere, tenks, duikbote, vliegtuie en ook gifgas ingevoer. Teen die tyd dat dit in 1918 geëindig het, het dit die lewens van ongeveer 14 miljoen soldate en burgerlikes geëis. Een geskiedskrywer het gesê: “Die Eerste Wêreldoorlog was die eerste ‘totale’ oorlog.”⁠15 Die Tweede Wêreldoorlog van 1939 tot 1945 het selfs meer verwoesting gesaai, daar militêre en burgerlike ongevalle tot sowat 55 miljoen toegeneem het. En dit het ’n heeltemal nuwe verskrikking bekend gestel—atoombomme! Sedertdien is meer as 30 miljoen in ’n menigte groot en klein oorloë gedood. Die Duitse nuustydskrif Der Spiegel sê: “Sedert 1945 was daar nie ’n enkele dag lank enige ware vrede in die wêreld nie.”⁠16

23. In watter mate het hongersnode die wêreld sedert 1914 geteister?

23 HONGERSNODE: “Daar sal hongersnode wees” (Mattheüs 24:7). Die Eerste Wêreldoorlog is deur algemene hongersnood gevolg. Ná die Tweede Wêreldoorlog was die hongersnood erger. En vandag? “Vandag kom honger op ’n heeltemal nuwe skaal voor. . . . Tot 400 miljoen lewe voortdurend op die randjie van verhongering”, sê Londen se Times.⁠17 The Globe and Mail van Toronto sê: “Meer as 800 miljoen mense is ondervoed.”⁠18 En die Wêreldgesondheidsorganisasie berig dat “12 miljoen kinders elke jaar voor hulle eerste verjaarsdag sterf” weens die gevolge van ondervoeding.⁠19

24. Watter vermeerdering van aardbewings was daar sedert 1914?

24 AARDBEWINGS: “Daar sal groot aardbewings . . . wees” (Lukas 21:11). ’n Deskundige op die gebied van aardbewingbestande geboue, George W. Housner, het die aardbewing van 1976 in Tangsjan, China, wat honderdduisende lewens geëis het, “die grootste aardbewingramp in die geskiedenis van die mensdom” genoem.⁠20 Die Italiaanse tydskrif Il Piccolo het berig: “Ons geslag lewe in ’n gevaarlike tydperk van hoë seismiese bedrywigheid, soos die statistiek toon.”⁠21 Sedert 1914 het daar gemiddeld elke jaar tien keer meer mense in aardbewings omgekom as in vorige eeue.

25. Watter rampspoedige epidemies was daar sedert 1914 om ’n deel van die teken te vervul?

25 SIEKTE: “Epidemies sal op baie plekke voorkom” (Lukas 21:11, NAV). Science Digest het berig: “Die Spaansegriepepidemie van 1918 het oor die aarde gesnel [en] 21 miljoen lewens geëis.” Dit het bygevoeg: “In die ganse geskiedenis was daar geen strawwer, vinniger doder nie. . . . indien die epidemie sy versnellingstempo gehandhaaf het, sou die mensdom in ’n paar maande uitgewis gewees het.”⁠22 Sedertdien het hartkwaal, kanker, veneriese siekte en talle ander plae honderdmiljoene vermink en gedood.

26. Hoe het die ongeregtigheid sedert 1914 vermeerder?

26 MISDADIGHEID: “Die ongeregtigheid vermeerder” (Mattheüs 24:12). Moord, diefstal, verkragting, terrorisme, korrupsie—die lys is lank en goed bekend. Op baie plekke is mense bang om dit op straat te waag. Hierdie wettelose neiging ná 1914 word bevestig deur wat ’n deskundige op die gebied van terrorisme gesê het: “Die tydperk voor die Eerste Wêreldoorlog was oor die algemeen mensliker.”⁠23

27. Hoe word die profesie oor vrees vandag vervul?

27 VREES: “Daar sal vreesaanjaende gesigte wees” (Lukas 21:11, NW). Hamburg se Die Welt het ons tyd “die eeu van vrees” genoem.⁠24 Heeltemal nuwe bedreigings vul die mensdom met vrees soos nooit tevore nie. Vir die eerste keer in die geskiedenis dreig dinge soos kernuitwissing en besoedeling om “die aarde te verderf” (Openbaring 11:18). Verergerende misdadigheid, inflasie, kernwapens, honger, siekte en ander euwels vergroot mense se vrees aangaande hulle sekuriteit en hulle lewens.

Wat maak dit anders?

28. Waarom identifiseer die aspekte van die teken wat nou waargeneem word ons tyd as “die voleinding van die stelsel”?

28 Maar sommige mense wys daarop dat baie van hierdie dinge in vorige eeue plaasgevind het. Wat maak die voorkoms daarvan dan nou enigsins anders? Eerstens, al die gebeure wat deel van die teken uitmaak, is deur een geslag waargeneem—die geslag wat in 1914 gelewe het en waarvan miljoene nog lewe. Jesus het gesê: “Hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat alles gebeur het nie” (Lukas 21:32). Tweedens, die uitwerking van die teken word wêreldwyd, “op verskillende plekke”, waargeneem (Mattheüs 24:3, 7, 9; 25:32). Derdens, toestande het gedurende hierdie tydperk progressief vererger: “Al hierdie dinge is ’n begin van die smarte”; “goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger” (Mattheüs 24:8; 2 Timotheüs 3:13). En vierdens, al hierdie dinge het gepaard gegaan met ’n verandering in mense se gesindhede en dade, soos Jesus gewaarsku het: “Die liefde van die meeste [sal] verkoel.”—Mattheüs 24:12.

29. Hoe kom die Bybel se beskrywing van “die laaste dae” met die morele toestand van mense vandag ooreen?

29 Ja, een van die sterk bewyse dat ons nou in die voorspelde, kritieke tyd van die einde lewe, is te sien in die morele verval onder mense. Vergelyk wat jy in die wêreld waarneem met hierdie profetiese woorde oor ons tyd: “Dít moet jy weet: in die laaste dae sal daar swaar tye kom. Die mense sal selfsugtig wees, geldgierig, grootpraterig en verwaand, beledigend teenoor hulle medemense en ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar en ongodsdienstig; hulle sal liefdeloos en onversoenlik wees, kwaadpraters, bandeloos en wreed, sonder liefde vir die goeie; hulle sal verraaiers wees, roekeloos en hooghartig. Hulle sal eerder liefde vir genot hê as liefde vir God. Hulle sal nog die uiterlike skyn van die godsdiens hê, maar die krag van die godsdiens sal hulle nie ken nie.”—2 Timotheüs 3:1-5, NAV.

1914—Die keerpunt in die geskiedenis

30, 31. (a) Hoe het diegene wat voor 1914 gelewe het wêreldtoestande beskou, en wat het hulle gedink hou die toekoms in? (b) Wat benewens die teken verstrek die Bybel om te toon dat ons in “die laaste dae” lewe?

30 Uit die menslike standpunt was die wêreldmoeilikhede en globale oorloë wat in die Bybel voorspel is ver van die gedagtes van die wêreld voor 1914. Duitse staatsman Konrad Adenauer het gesê: “Gedagtes en beelde kom by my op, . . . gedagtes uit die jare voor 1914 toe daar ware vrede, rus en veiligheid op hierdie aarde was—’n tyd toe ons nie vrees geken het nie . . . Veiligheid en rus het sedert 1914 uit die lewens van mense verdwyn.”⁠25 Mense wat voor 1914 gelewe het, het gedink dat die toekoms ‘voortdurend sou verbeter’, het Britse staatsman Harold Macmillan berig.⁠26 Die boek 1913: America Between Two Worlds het gesê: “Minister van Buitelandse Sake Bryan het [in 1913] gesê dat ‘toestande wat wêreldvrede beloof nog nooit gunstiger as nou was nie’.”⁠27

31 Reg tot op die drempel van die Eerste Wêreldoorlog het wêreldleiers dus ’n eeu van maatskaplike vooruitgang en verligting voorspel. Maar die Bybel het die teenoorgestelde voorspel—dat die ongeëwenaarde oorlog van 1914 tot 1918 die begin van “die laaste dae” sou aankondig (2 Timotheüs 3:1). Die Bybel het ook chronologiese getuienis verstrek dat God se hemelse Koninkryk in 1914 opgerig sou word, en dat dit deur ongeëwenaarde wêreldmoeilikheid gevolg sou word.⁠28 Maar was enigiemand wat destyds gelewe het daarvan bewus dat 1914 so ’n keerpunt in die geskiedenis sou wees?

32. (a) Wat het diegene wat met Bybelchronologie vertroud was dekades lank voor 1914 oor daardie jaar gesê? (b) Wat het ander volgens die bygaande tabel oor 1914 gesê?

32 Dekades voor daardie jaartal was daar ’n groep mense wat die betekenis van 1914 bekend gemaak het. New York se World van 30 Augustus 1914 verduidelik: “Die verskriklike oorlog wat in Europa uitgebreek het, het ’n buitengewone profesie vervul. Deur predikers en deur die pers verkondig die ‘Internasionale Bybelstudente’ [Jehovah se Getuies] die afgelope kwarteeu . . . aan die wêreld dat die Dag van Wraak wat in die Bybel voorspel is in 1914 sou aanbreek. ‘Pas op vir 1914!’ was die uitroep van die . . . evangeliste.”⁠29

’n Volk wat profesie vervul

33. Watter bykomende deel van die teken vervul Jehovah se Getuies?

33 Die Bybel het ook voorspel dat mense uit alle nasies “aan die einde van die dae” figuurlik “na die berg van die HERE” sou optrek waar hy hulle “sy weë kan leer”. Die profesie sê dat hulle, as gevolg van sulke onderrig, “van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse . . . en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Jesaja 2:2-4). Die alom-bekende reputasie van Jehovah se Getuies ten opsigte van oorlog is ’n duidelike vervulling van hierdie profesie.

34. Watter getuienis is daar dat Jehovah se Getuies ‘van hul swaarde pikke gesmee het’?

34 Martin Niemöller, ’n Protestantse leier in Duitsland voor en na die Tweede Wêreldoorlog, het van Jehovah se Getuies gepraat as “ernstige Bybelstudente, wat by die honderde en duisende na konsentrasiekampe gegaan en gesterf het omdat hulle geweier het om oorlog te voer en nie op mense wou skiet nie”. Maar hy het ook geskryf: “Die Christelike Kerke het deur die eeue heen ingestem om oorlog, troepe en wapens te seën en . . . hulle het op ’n baie onchristelike manier gebid dat hulle vyand uitgewis moet word.”⁠30 Wie het dus die kenmerk wat Jesus gesê het ware Christene sou hê? Hy het gesê: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:35). Soos1 Johannes 3:10-12 duidelik toon, maak God se knegte mekaar nie dood nie. Dit is Satan se kinders wat dit doen.

35. (a) Wat verenig Jehovah se Getuies? (b) Is hulle trou aan God se Koninkryk Skriftuurlik geregverdig?

35 Dit is gemeenskaplike trou aan die Koninkryk van God en die getroue toepassing van Bybelbeginsels wat Jehovah se Getuies in ’n wêreldwye broederskap verenig. Hulle aanvaar volkome wat die Bybel leer: dat die Koninkryk ’n ware regering met wette en gesag is, en dat dit binnekort oor die hele aarde gaan regeer. Dit het reeds toenemende miljoene onderdane op aarde wat opgelei word as die fondament vir die beskawing van die toekoms. Aangaande die Koninkryk is die profeet Daniël geïnspireer om te skryf: “Die God van die hemel [sal] ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, . . . dit sal al daardie koninkryke [wat nou bestaan] verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan” (Daniël 2:44). Jesus het die voorkeur aan die Koninkryk gegee toe hy ons beveel het: “Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele is, . . . laat u koninkryk kom.”—Mattheüs 6:9, 10.

36. (a) Wat wil God bekend gemaak hê? (b) Wie doen dit?

36 Die talle gebeure ter vervulling van Bybelprofesie sedert 1914 toon dat God se hemelse Koninkryk binnekort ‘alle ander regerings gaan verbrysel en daar ’n einde aan maak’. En God wil hê dat hierdie feit bekend gemaak moet word, soos die volgende belangrike deel van die teken toon: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Mattheüs 24:14). Miljoene van Jehovah se Getuies, ’n wêreldwye broederskap, vervul nou hierdie profesie.

37. Waarom sal die einde van hierdie stelsel by Armageddon goeie nuus wees?

37 Wanneer die Koninkryk verkondig is in die mate wat God wil hê, sal die wêreld, volgens Jesus, ’n “groot verdrukking [beleef] soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie”. Dit sal uitloop op die slag van Armageddon, en dit sal ’n einde aan Satan se bose invloed maak. Dit sal die ganse aarde reinig van goddelose nasies en mense en die weg baan vir die inkomende Paradys waar ‘geregtigheid sal woon’.—Mattheüs 24:21; 2 Petrus 3:13; Openbaring 16:14-16; 12:7-12; 2 Korinthiërs 4:4.

38. (a) Wat het al die Bybel se vervulde profesieë bewys? (b) Wat verdien die profesieë oor die toekoms?

38 Met soveel van sy profesieë wat reeds vervul is, het die Bybel inderdaad bewys dat dit ’n boek is wat “deur God geïnspireer” is (2 Timotheüs 3:16, NAV). Aanvaar dit dus, “nie as die woord van mense nie, maar, soos dit waarlik is, as die woord van God” (1 Thessalonicense 2:13). En aangesien sy Outeur, Jehovah God, die Een is wat “van die begin af verkondig die einde”, kan jy volkome vertrou op profesieë wat nog in die toekoms vervul moet word (Jesaja 46:10). En die dinge wat voorlê, is waarlik wonderlik. Dit sal jou verbeelding aangryp terwyl jy in die volgende hoofstuk daaroor lees.

[Lokteks op bladsy 216]

Vervulde profesieë wek vertroue

[Lokteks op bladsy 222]

Jerusalem se vernietiging is deur Jesus voorspel

[Lokteks op bladsy 226]

Al die gebeure wat deel van die teken uitmaak, is deur een geslag waargeneem

[Lokteks op bladsy 227]

‘Voor 1914 was daar ware vrede, rus en veiligheid op hierdie aarde’

[Lokteks op bladsy 229]

“Hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie”

[Lokteks op bladsy 231]

Die Bybel het sy geloofwaardigheid bewys as ’n boek wat deur die Skepper geïnspireer is

[Venster op bladsy 228]

1914—’N KEERPUNT IN DIE GESKIEDENIS

Selfs na ’n tweede wêreldoorlog praat baie nog steeds van 1914 as die groot keerpunt in eietydse geskiedenis:

“Dit is inderdaad die jaar 1914 eerder as dié van Hirosjima wat die keerpunt in ons tyd is.”—René Albrecht-Carrié, The Scientific Monthly, Julie 1951.

“Sedert 1914 is almal wat van neigings in die wêreld bewus is diep verontrus oor wat na ’n gedoemde en voorbestemde opmars na immer groter onheil lyk. Talle ernstige mense meen nou dat niks gedoen kan word om die ongeluk af te wend nie. Vir hulle kom die mensdom ooreen met die held van ’n Griekse tragedie wat deur woedende gode voortgedryf word en nie langer beheer oor sy lot het nie.”—Bertrand Russell, The New York Times Magazine, 27 September 1953.

“Die hedendaagse tydvak . . . het in 1914 begin, en niemand weet wanneer of hoe dit gaan eindig nie. . . . Dit kan op massa-uitwissing uitloop.”—The Seattle Times, 1 Januarie 1959.

“In die jaar 1914 het die wêreld, soos dit destyds bekend en aanvaar was, geëindig.”—James Cameron, 1914, uitgegee in 1959.

“Die hele wêreld het werklik om en by die Eerste Wêreldoorlog ontplof en ons weet nog steeds nie waarom nie. . . . Utopia was in sig. Daar was vrede en voorspoed. Toe het alles ontplof. Ons is sedertdien in ’n toestand van skyndood.”—Dr. Walker Percy, American Medical News, 21 November 1977.

“In 1914 het die wêreld ’n koherensie verloor wat dit nog nie weer teruggekry het nie. . . . Dit is ’n tyd van buitengewone wanorde en geweld, oor landsgrense heen sowel as daarbinne.”—The Economist, Londen, 4 Augustus 1979.

“In 1914 het die beskawing ’n wrede en moontlik ongeneeslike siekte gekry.”—Frank Peters, St. Louis Post-Dispatch, 27 Januarie 1980.

“Alles het voortdurend verbeter. Dit was die wêreld waarin ek gebore is. . . . Alles het skielik, onverwags, een oggend in 1914 geëindig.”—Britse staatsman Harold Macmillan, The New York Times, 23 November 1980.

[Prent op bladsy 217]

Bybelprofesie is vervul toe ’n verhoogde pad gebou is om die eilandstad Tirus te bereik

[Prent op bladsy 218]

Bybelprofesie is vervul toe die Eufraatrivier drooggelê is

[Prent op bladsy 219]

Hierdie Kores-silinder van klei (vertikaal vertoon) vertel van Kores se gebruik om gevangenes te repatrieer

[Prent op bladsy 220]

’n Goue gedenkpenning wat Alexander die Grote afbeeld. Sy wapenfeite is in profesieë voorspel

[Prente op bladsy 221]

Jesus kon dit nie bewerk het dat talle van die profesieë oor hom vervul word nie

[Prent op bladsy 223]

Hierdie muurreliëf binnekant die Titusboog, wat toon hoe skatte ná Jerusalem se vernietiging weggevoer word, is ’n stille herinnering

[Prent op bladsy 230]

Wanneer hierdie stelsel eindig, sal oorlewendes ’n nuwe stelsel van geregtigheid binnegaan

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel