Godsdiens
Definisie: ’n Vorm van aanbidding. Dit sluit ’n stelsel van godsdiensgesindhede, -opvattings en -gebruike in; dit kan persoonlike gesindhede, opvattings en gebruike wees of die wat deur ’n organisasie voorgestaan word. Godsdiens behels gewoonlik geloof in God of in ’n aantal gode; of dit bejeën mense, voorwerpe, begeertes of kragte as voorwerpe van aanbidding. Baiekeer word godsdiens gebaseer op die mens se studie van die natuur; daar is ook geopenbaarde godsdiens. Daar is ware en valse godsdiens.
Waarom is daar so baie gelowe?
Volgens een onlangse tabulering is daar 10 hoofgelowe en nagenoeg 10 000 sektes. Bykans 6 000 van hulle kom in Afrika voor, 1 200 in die Verenigde State, en honderde in ander lande.
Baie faktore het bygedra tot die ontwikkeling van nuwe godsdiensgroepe. Sommige sê dat die verskillende gelowe almal verskillende maniere is om godsdienswaarheid aan te bied. Maar wanneer hulle leerstellings en gebruike met die Bybel vergelyk word, toon dit eerder dat daar so ’n verskeidenheid gelowe bestaan omdat mense volgelinge van mense geword het in plaas van na God te luister. Dit is opmerklik dat baie van die leerstellings wat hulle gemeen het, maar wat van die Bybel verskil, in eertydse Babilon ontstaan het. (Kyk bladsye 52, 53, onder “Babilon die Grote”.)
Wie is die aanstigter van sulke godsdiensverwarring? Die Bybel identifiseer Satan die Duiwel as “die god van hierdie wêreld” (2 Kor. 4:4). Dit waarsku ons dat die “volke wat offers . . . bring, besig is om vir duiwels te offer, nie vir God nie” (1 Kor. 10:20, LB). Dit is dus van die allergrootste belang om seker te maak dat ons waarlik die ware God, die Skepper van hemel en aarde, aanbid en dat ons aanbidding hom behaag!
Is alle gelowe vir God aanneemlik?
Rigt. 10:6, 7: “Die kinders van Israel het weer gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE, en hulle het die Baäls en die Astartes gedien, en die gode van Aram en die gode van Sidon en die gode van Moab en die gode van die kinders van Ammon en die gode van die Filistyne, en hulle het die HERE verlaat en Hom nie gedien nie. Daarom het die toorn van die HERE ontvlam teen Israel.” (Indien ’n persoon enigiets of enigiemand benewens die ware God, die Skepper van hemel en aarde, aanbid, is dit duidelik dat sy aanbiddingswyse nie vir Jehovah aanneemlik is nie.)
Mark. 7:6, 7: “Hy [Jesus] antwoord en sê vir hulle [die Joodse Fariseërs en skrifgeleerdes]: Tereg het Jesaja oor julle, geveinsdes, geprofeteer soos geskrywe is: Hierdie volk eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is.” (Ongeag wie ’n groep bely dat hulle aanbid, is hulle aanbidding tevergeefs as hulle leringe van mense aanhang in plaas van die geïnspireerde Woord van God.)
Rom. 10:2, 3: “Ek getuig van hulle dat hulle ’n ywer vir God het, maar sonder kennis. Want omdat hulle die geregtigheid van God nie ken nie en hulle eie geregtigheid probeer oprig, het hulle hul aan die geregtigheid van God nie onderwerp nie.” (Mense besit moontlik God se geskrewe Woord, maar het nie juiste kennis van wat dit bevat nie omdat hulle nie behoorlik geleer is nie. Hulle dink miskien dat hulle ywerig vir God is, maar hulle doen dalk nie wat hy vereis nie. Hulle aanbidding gaan God nie behaag nie, of hoe?)
Is dit waar dat daar iets goeds in alle gelowe steek?
Die meeste gelowe leer wel dat ’n persoon nie moet lieg of steel nie, ensovoorts. Maar is dit voldoende? Sal jy bereid wees om ’n glas besoedelde water te drink omdat iemand jou verseker het dat die meeste van die vloeistof water is?
2 Kor. 11:14, 15: “Die Satan self verander hom in ’n engel van die lig. Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie.” (Hier word ons gewaarsku dat nie alles wat by Satan ontstaan noodwendig afskuwelik voorkom nie. Een van sy vernaamste metodes om die mensdom te mislei, is allerhande vorme van valse godsdiens, waarvan sommige ’n regverdige skyn het.)
2 Tim. 3:2, 5, NAV: “Die mense . . . sal nog die uiterlike skyn van die godsdiens hê, maar die krag van die godsdiens sal hulle nie ken nie. Bly weg van sulke mense af.” (Al bely jou mede-aanbidders dat hulle God liefhet, spoor die Bybel jou aan om omgang met hulle te staak indien hulle nie God se Woord opreg in hulle lewens toepas nie.)
Is dit reg om die geloof van jou ouers te verlaat?
As die dinge wat ons ouers ons geleer het waarlik uit die Bybel kom, moet ons daarby bly. Al stel ons vas dat hulle godsdiensgebruike en -opvattings nie met God se Woord strook nie, verdien ons ouers ons respek. Gestel jy het uitgevind dat ’n sekere gewoonte van jou ouers skadelik vir die gesondheid is en ’n mens se lewe kan verkort. Sou jy hulle navolg en jou kinders aanspoor om dit te doen, of sou jy op eerbiedige wyse vir hulle vertel wat jy geleer het? Kennis van Bybelwaarheid bring eweneens verantwoordelikheid mee. Ons moet, indien moontlik, vir familielede vertel wat ons leer. Ons moet ’n besluit neem: Het ons God werklik lief? Wil ons waarlik God se Seun gehoorsaam? Dit sal dalk verg dat ons ons ouers se geloof moet verlaat ten einde ware aanbidding te beoefen. Dit sou beslis nie gepas wees om toe te laat dat ons gehegtheid aan ons ouers groter is as ons liefde vir God en Christus nie, nie waar nie? Jesus het gesê: “Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie.”—Matt. 10:37.
Jos. 24:14: “Vrees dan nou die HERE en dien Hom in opregtheid en waarheid, en verwyder die gode wat julle vaders gedien het oorkant die Eufraat en in Egipte, en dien die HERE.” (Dit het beteken dat hulle die geloof van hulle voorvaders die rug moes toekeer, nie waar nie? Om Jehovah aanneemlik te dien, moes hulle ontslae raak van enige beelde wat in sulke godsdiens gebruik is en hulle harte suiwer van enige begeerte na daardie dinge.)
1 Pet. 1:18, 19: “Julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ’n lam sonder gebrek en vlekkeloos.” (Die vroeë Christene het hulle dus bekeer van daardie tradisies van hulle voorvaders wat nooit vir hulle die ewige lewe kon gee nie. Dankbaarheid vir die offer van Christus het die begeerte by hulle gewek om ontslae te raak van enigiets wat hulle lewens ydel en sinloos kon maak omdat hulle God nie vereer het nie. Moet ons nie dieselfde gesindheid hê nie?)
Wat is die Bybel se beskouing van godsdiensvermenging?
Hoe het Jesus godsdiensleiers beskou wat voorgegee het dat hulle regverdig is maar God geminag het? “Jesus sê vir hulle: As God julle Vader was, sou julle My liefhê, want Ek het uit God uitgegaan en gekom; want Ek het ook nie uit Myself gekom nie, maar Hy het My gestuur. . . . Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ’n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ’n leuenaar is en die vader daarvan. Maar omdat Ek die waarheid spreek, glo julle My nie. . . . Daarom luister julle nie, omdat julle nie uit God is nie.”—Joh. 8:42-47.
Sou dit lojaliteit aan God en sy regverdige standaarde toon indien sy knegte persone in godsdiensbroederskap aanneem wat dinge bedryf wat God veroordeel of sulke gebruike vergoelik? “Nou skryf ek aan julle om nie om te gaan met iemand wat, al staan hy as ’n broeder bekend, ’n hoereerder is of ’n gierigaard of ’n afgodedienaar of ’n kwaadspreker of ’n dronkaard of ’n rower nie; met so iemand moet julle selfs nie saam eet nie. . . . Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie” (1 Kor. 5:11; 6:9, 10). “Wie . . . ’n vriend van die wêreld wil wees, word ’n vyand van God” (Jak. 4:4). “Julle het die Here lief; haat dan wat sleg is! Hy bewaar die lewe van sy troue dienaars.”—Ps. 97:10, NAV.
2 Kor. 6:14-17: “Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? En watter ooreenstemming het Christus met Belial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige? Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? . . . Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem.”
Openb. 18:4, 5: “Ek het ’n ander stem uit die hemel hoor sê: Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie. Want haar sondes reik tot aan die hemel, en God het haar ongeregtighede onthou.” (Kyk onder “Babilon die Grote” vir besonderhede.)
Is dit nodig om aan ’n georganiseerde godsdiens te behoort?
Die meeste godsdiensorganisasies het slegte vrugte voortgebring. Dit is nie die feit dat groepe georganiseerd is wat sleg is nie. Maar baie staan vorme van aanbidding voor wat op valse leerstellings gebaseer en hoofsaaklik ritualisties is in plaas dat dit ware geestelike leiding bied; dit is gebruik om die lewens van mense vir selfsugtige oogmerke te beheer; hulle is behep met geldkollektes en swierige geboue vir aanbidding in plaas van geestelike waardes; hulle lede is dikwels skynheilig. Dit is duidelik dat niemand wat geregtigheid liefhet tot so ’n organisasie wil behoort nie. Maar ware godsdiens vorm ’n verkwikkende teenstelling hiermee. Om aan die Bybel se vereistes te voldoen, moet dit nietemin georganiseerd wees.
Hebr. 10:24, 25: “Laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.” (Om hierdie Skriftuurlike bevel te gehoorsaam, moet daar Christenvergaderinge wees wat ons gereeld kan bywoon. So ’n reëling spoor ons aan om liefde aan ander te bewys en nie net oor onsself besorg te wees nie.)
1 Kor. 1:10: “Ek vermaan julle, broeders, in die Naam van onse Here Jesus Christus, om almal eenstemmig te wees, en dat daar geen skeuringe onder julle moet wees nie, maar dat julle verenig moet wees in dieselfde gesindheid en in dieselfde mening.” (Sulke eenheid sal nooit bereik word indien die individue nie saam vergader, by dieselfde geestelike voedingsprogram baat vind en die kanaal eerbiedig waardeur sulke onderrig voorsien word nie. Kyk ook Johannes 17:20, 21.)
1 Pet. 2:17: “Julle moet . . . die broederskap liefhê.” (Sluit dit slegs diegene in wat in ’n bepaalde woonhuis vir aanbidding vergader? Glad nie; dit is ’n internasionale broederskap, soos getoon deur Galasiërs 2:8, 9 en 1 Korinthiërs 16:19.)
Matt. 24:14: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.” (Indien al die nasies die geleentheid gebied moet word om daardie evangelie te hoor, moet die predikingswerk op ’n ordelike wyse en met behoorlike toesig gedoen word. Liefde vir God en hulle naaste het mense rondom die aarde laat saamwerk om hierdie werk te doen.)
Kyk ook onder “Organisasie”.
Is naasteliefde die hoofsaak?
Dit ly geen twyfel dat sulke liefde belangrik is nie (Rom. 13:8-10). Maar Christelikheid behels meer as vriendelikheid teenoor ons naaste. Jesus het gesê dat sy ware dissipels veral herken sou word aan hulle liefde vir mekaar, vir medegelowiges (Joh. 13:35). Die belangrikheid daarvan word herhaaldelik in die Bybel beklemtoon (Gal. 6:10; 1 Pet. 4:8; 1 Joh. 3:14, 16, 17). Maar Jesus het getoon dat ons liefde vir God selfs belangriker is, en dit word getoon deur ons gehoorsaamheid aan sy gebooie (Matt. 22:35-38; 1 Joh. 5:3). Om sulke liefde te bewys, moet ons God se Woord bestudeer en toepas en saam met medeknegte van God vir aanbidding vergader.
Is ’n persoonlike verhouding met God die werklik belangrike saak?
Dit is beslis belangrik. Die blote formalistiese bywoning van dienste kan nie die plek daarvan inneem nie. Maar ons moet versigtig wees. Waarom? In die eerste eeu was daar mense wat gemeen het dat hulle ’n goeie verhouding met God het, maar wat Jesus getoon het dit heeltemal mis gehad het (Joh. 8:41-44). Die apostel Paulus het geskryf oor sommige wat klaarblyklik ywerig in hulle geloof was en wat klaarblyklik gemeen het dat hulle ’n goeie verhouding met God het, maar wat nie verstaan het wat werklik nodig was om God se goedkeuring weg te dra nie.—Rom. 10:2-4.
Kan ons ’n goeie persoonlike verhouding met God geniet as ons sy gebooie lig opneem? Een van hulle is dat ons gereeld met medegelowiges moet vergader.—Hebr. 10:24, 25.
Is dit voldoende as ons die Bybel op ons eie lees?
Dit is waar dat mense baie kan leer deur die Bybel op hul eie te lees. As dit hulle beweegrede is om die waarheid aangaande God en sy voornemens te leer, is hulle handelwyse baie prysenswaardig (Hand. 17:11). Maar laat ons eerlik met onsself wees. Gaan ons waarlik sonder hulp die volle betekenis van alles snap? Die Bybel vertel van ’n man wat ’n hoë posisie beklee het maar wat nederig genoeg was om te erken dat hy hulp nodig het om Bybelprofesie te verstaan. Daardie hulp is deur ’n lid van die Christengemeente verleen.—Hand. 8:26-38; vergelyk ander verwysings na Filippus in Handelinge 6:1-6; 8:5-17.
As ’n persoon die Bybel lees maar dit nie in sy lewe toepas nie, is dit natuurlik vir hom van weinig nut. As hy dit glo en daarvolgens handel, sal hy by gereelde gemeentelike vergaderinge met God se knegte assosieer (Hebr. 10:24, 25). Hy sal ook die “evangelie” saam met hulle aan ander mense verkondig.—1 Kor. 9:16; Mark. 13:10; Matt. 28:19, 20.
Hoe kan ’n mens weet watter geloof reg is?
(1) Waarop is sy leerstellings gebaseer? Kom die leerstellings van God, of hoofsaaklik van mense? (2 Tim. 3:16; Mark. 7:7). Vra byvoorbeeld: Waar leer die Bybel dat God ’n Drie-eenheid is? Waar sê dit dat die mensesiel onsterflik is?
(2) Kyk of dit die naam van God bekend maak. Jesus het in gebed tot God gesê: “Ek het u Naam geopenbaar aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het” (Joh. 17:6). Hy het gesê: “Die Here [“Jehovah”, NW] jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien” (Matt. 4:10). Het jou geloof vir jou geleer dat ‘jy Jehovah moet aanbid’? Het jy die Persoon wat deur daardie naam geïdentifiseer word, leer ken—sy voornemens, sy werke, sy eienskappe—sodat jy voel dat jy hom met vertroue kan nader?
(3) Word ware geloof in Jesus Christus geopenbaar? Dit sluit waardering in vir die waarde van die offer wat Jesus gebring het deur sy menselewe af te lê en vir sy hedendaagse posisie as hemelse Koning (Joh. 3:36; Ps. 2:6-8). Sulke waardering word getoon deur Jesus te gehoorsaam—deur persoonlik en ywerig deel te neem aan die werk wat hy aan sy volgelinge opgedra het. Die ware godsdiens het sulke geloof wat met werke gepaard gaan.—Jak. 2:26.
(4) Is dit hoofsaaklik ritualistiese vormdiens of is dit ’n lewenswyse? God keur godsdiens wat bloot vormdiens is sterk af (Jes. 1:15-17). Ware godsdiens handhaaf die Bybel se standaard van sedelikheid en rein spraak in plaas van gewilde neigings lamsakkig te vergoelik (1 Kor. 5:9-13; Ef. 5:3-5). Die aanhangers daarvan openbaar die vrug van God se gees in hulle lewens (Gal. 5:22). Diegene wat ware aanbidding beoefen, kan dus geïdentifiseer word omdat hulle opreg probeer om Bybelstandaarde in hulle lewens toe te pas, nie alleen by hulle vergaderplekke nie, maar in hulle gesinslewe, by hulle sekulêre werk, by die skool en wanneer hulle ontspan.
(5) Het die lede daarvan mekaar waarlik lief? Jesus het gesê: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Joh. 13:35). Sulke liefde strek oor rasse-, maatskaplike en landsgrense en verenig mense in ware broederskap. Hierdie liefde is so sterk dat dit hulle waarlik onderskei. Wie het genoeg liefde vir hulle Christenbroers in ander lande om te weier om die wapens op te neem en hulle dood te maak wanneer nasies oorlog voer? Dit is wat die vroeë Christene gedoen het.
(6) Is dit waarlik afgeskeie van die wêreld? Jesus het gesê dat sy ware volgelinge “nie van die wêreld” sou wees nie (Joh. 15:19). As ons God wil aanbid op ’n wyse wat hy goedkeur, moet ons ons ‘vlekkeloos bewaar van die wêreld’ (Jak. 1:27). Is dit waar van die gelowe wie se geestelikes en ander lidmate hulle met die politiek bemoei of wie se lewens hoofsaaklik om materialistiese en vleeslike begeertes gebou is?—1 Joh. 2:15-17.
(7) Getuig die lede daarvan daadwerklik vir God se Koninkryk? Jesus het voorspel: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Matt. 24:14). Watter geloof verkondig werklik God se Koninkryk as die hoop vir die mensdom in plaas van mense aan te spoor om op menseheerskappy te vertrou om hulle probleme op te los? Het jou geloof jou toegerus om hierdie werk te doen, en om dit van huis tot huis te doen soos Jesus sy apostels geleer het om te doen?—Matt. 10:7, 11-13; Hand. 5:42; 20:20.
Glo Jehovah se Getuies dat hulle geloof die enigste regte geloof is?
Kyk bladsye 224, 225, onder “Jehovah se Getuies”.
Waarom het sommige mense geloof en ander nie?
Kyk onder “Geloof”.
As iemand sê—
‘Ek stel nie in godsdiens belang nie’
Jy kan antwoord: ‘Dit verbaas my nie. Baie mense voel so. Mag ek vra: Het u nog altyd so gevoel?’ Dan kan jy byvoeg: ‘Iets wat my beïndruk het, is die feit dat feitlik elke belangrike leerstelling wat vandag in die kerke geleer word nie in die Bybel aangetref word nie. (Gebruik moontlik die materiaal op bladsye 224, 225, onder “Jehovah se Getuies”, met spesiale klem op die Koninkryk. Wys, by wyse van teenstelling, wat Jehovah se Getuies glo, soos uiteengesit op bladsye 219-221.)’
Kyk ook bladsy 17.
‘Daar is te veel skynheiligheid in die kerke’
Jy kan antwoord: ‘Ja, ek stem met u saam. Baie se woorde strook nie met hulle dade nie. Maar sê vir my: Hoe beskou u die Bybel? (Ps. 19:8-11).’
‘Ek lei ’n goeie lewe. Ek behandel my naaste goed. Dis genoeg godsdiens vir my’
Jy kan antwoord: ‘U sê dat u ’n goeie lewe lei. Dan geniet u ook seker die lewe, nie waar nie? . . . Hoe sou u daarvan hou om onder die toestande te lewe wat hier in Openbaring 21:4 beskryf word? . . . Let op wat Johannes 17:3 sê nodig is om ’n deel daaraan te hê.’
Kyk ook bladsye 176, 177.
‘Ek stel nie belang in georganiseerde godsdiens nie. Ek meen dat ’n persoonlike verhouding met God die belangrike saak is’
Jy kan antwoord: ‘Dis interessant. Het u nog altyd so gevoel? . . . Het u ooit in die verlede tot ’n godsdiensgroep behoort? . . . (Gebruik dan moontlik die materiaal op bladsye 175-178.)’
‘Ek stem nie saam met alles wat my kerk leer nie, maar ek sien geen nodigheid om te verander nie. Ek sal my liewer beywer om my kerk te verbeter’
Jy kan antwoord: ‘Ek is bly dat u dit vir my gesê het. Ek is seker dat u sal saamstem dat die werklik belangrike saak vir ons almal is om God se goedkeuring te geniet, nie waar nie?’ Dan kan jy byvoeg: (1) ‘Hier in Openbaring 18:4, 5 gee God ons almal stof tot ernstige nadenke. . . . Al doen ons nie self die verkeerde dinge nie, toon die Bybel dat ons daaraan aandadig is as ons hierdie organisasies steun. (Kyk ook onder “Babilon die Grote”.)’ (2) (Gebruik moontlik ook materiaal op bladsye 178, 179.) (3) ‘God soek na mense wat die waarheid liefhet en bring hulle bymekaar vir verenigde aanbidding (Joh. 4:23, 24).’
‘Alle gelowe is goed; jy het joune en ek het myne’
Jy kan antwoord: ‘U het klaarblyklik ’n oop gemoed. Maar u besef ook dat ons almal die leiding nodig het wat God se Woord bied, en dit is waarom u aan ’n kerk behoort, nie waar nie?’ Dan kan jy byvoeg: ‘Hier in Mattheüs 7:13, 14 bied die Bybel vir ons baie waardevolle leiding in Jesus se woorde. (Lees dit.) . . . Waarom sou dit die geval wees?’
Kyk ook bladsy 172.
‘Solank ’n mens net aan Jesus glo, maak dit nie werklik saak aan watter kerk jy behoort nie’
Jy kan antwoord: ‘Dit ly geen twyfel dat geloof in Jesus noodsaaklik is nie. En ek neem aan dat u daarmee bedoel dat ’n mens alles moet aanneem wat hy geleer het. U het ongetwyfeld ook opgemerk dat baie wat sê dat hulle Christene is nie werklik daardie naam gestand doen nie.’ Dan kan jy byvoeg: (1) ‘Kyk wat het Jesus hier in Mattheüs 7:21-23 gesê.’ (2) ‘Daar wag ’n wonderlike toekoms op diegene wat genoeg omgee om uit te vind wat God se wil is en dit dan doen (Ps. 37:10, 11; Openb. 21:4).’
‘Wat laat jou dink dat daar net een geloof is wat reg is?’
Jy kan antwoord: ‘Daar is ongetwyfeld opregte mense in feitlik elke geloof. Maar dit is wat God se Woord sê wat werklik belangrik is. Van hoeveel ware gelowe praat dit? Kyk wat staan geskrywe hier in Efesiërs 4:4, 5.’ Dan kan jy byvoeg: (1) ‘Dit stem ooreen met wat ander tekste sê (Matt. 7:13, 14, 21; Joh. 10:16; 17:20, 21).’ (2) ‘Die uitdaging wat aan ons gerig is, is dus om daardie geloof te identifiseer. Hoe kan ons dit doen? (Gebruik moontlik materiaal op bladsye 178, 179.)’ (3) (Kyk ook bladsye 219-221, onder “Jehovah se Getuies”.)
‘Ek lees my Bybel tuis en bid tot God vir insig, en dit is genoeg vir my’
Jy kan antwoord: ‘Het u al daarin geslaag om die hele Bybel te lees?’ Dan kan jy byvoeg: ‘In die proses sal u iets baie interessants in Mattheüs 28:19, 20 vind. . . . Dit is betekenisvol, want dit toon dat Christus ander mense gebruik om ons te help verstaan wat dit beteken om ’n ware Christen te wees. Jehovah se Getuies bied dienooreenkomstig aan om mense elke week ’n uur of wat gratis tuis te besoek om die Bybel te bespreek. Mag ek kortliks vir u wys hoe ons dit doen?’
Kyk ook bladsye 177, 178.
‘Godsdiens is myns insiens ’n persoonlike saak’
Jy kan antwoord: ‘Dit is deesdae ’n algemene beskouing, en as mense werklik nie in die Bybel se boodskap belangstel nie, gaan ons met graagte na ander huise. Maar het u geweet dat ek u besoek omdat Jesus sy volgelinge aangesê het om hierdie werk te doen? . . . (Matt. 24:14; 28:19, 20; 10:40).’