HOOFSTUK 5
“Dit is my Seun”
WANNEER kinders goeie dinge doen, maak dit die mense wat vir hulle sorg, bly. Wanneer ’n meisie iets goed doen, is haar pa trots om vir ander mense te kan sê: “Dit is my dogter.” Of as ’n seun goeie dinge doen, is sy pa bly om te kan sê: “Dit is my seun.”
Jesus doen altyd wat sy Vader bly maak. Daarom is sy Vader trots op hom. Onthou jy wat Jesus se Vader eendag gedoen het toe Jesus saam met drie van sy volgelinge was?— Ja, God het uit die hemel gepraat en vir hulle gesê: “Dit is my Seun, die geliefde, wat ek goedgekeur het.”—Matteus 17:5.
Jesus doen altyd graag die dinge wat sy Vader bly maak. Weet jy hoekom? Omdat hy sy Vader regtig liefhet. As iemand dinge net doen omdat hy dit moet doen, is dit vir hom moeilik. Maar wanneer hy gewillig is, is dit makliker. Weet jy wat dit beteken om gewillig te wees?— Dit beteken dat jy iets regtig wil doen.
Selfs voordat Jesus aarde toe gekom het, was hy gewillig om enigiets te doen wat sy Vader hom gevra het. Dit is omdat hy sy Vader, Jehovah God, liefhet. Jesus het ’n wonderlike plek in die hemel by sy Vader gehad. Maar God wou hê dat Jesus ’n spesiale werk moes doen. Om daardie werk te doen, moes Jesus die hemel verlaat. Hy moes as ’n baba op die aarde gebore word. Jesus was gewillig om dit te doen omdat Jehovah wou hê dat hy dit moes doen.
Wat het die engel Gabriël vir Maria gesê?
Om as ’n baba op die aarde gebore te word, moes Jesus ’n ma hê. Weet jy wie sy was?— Haar naam was Maria. Jehovah het sy engel Gabriël uit die hemel gestuur om met Maria te praat. Gabriël het vir haar gesê dat sy ’n babaseuntjie gaan hê. Die baba se naam sou Jesus wees. En wie sou die baba se pa wees?— Die engel het gesê dat Jehovah God die baba se Vader sou wees. Dit is hoekom Jesus die Seun van God genoem sou word.
Hoe dink jy het Maria hieroor gevoel?— Het sy gesê: “Ek wil nie Jesus se ma wees nie”? Nee, Maria was bereid om te doen wat God wou hê. Maar hoe kon God se Seun wat in die hemel was, as ’n baba op die aarde gebore word? Hoe was Jesus se geboorte anders as die geboorte van alle ander babas? Weet jy?—
Wel, God het ons eerste ouers, Adam en Eva, só gemaak dat hulle op ’n wonderlike manier bymekaar kon kom. Daarna kon ’n babatjie binne-in sy ma begin groei. Mense sê dit is ’n wonderwerk! Ek is seker jy dink ook so.
God het iets gedoen wat nog ’n groter wonderwerk was. Hy het die lewe van sy Seun uit die hemel geneem en dit binne-in Maria gesit. God het dit nog nooit vantevore gedoen nie, en hy het dit ook nog nooit weer gedoen nie. As gevolg van hierdie wonderwerk het Jesus binne-in Maria begin groei net soos ander babatjies binne-in hulle ma’s groei. Daarna het Maria met Josef getrou.
Toe dit tyd was vir Jesus om gebore te word, was Maria en Josef in die stad Betlehem. Maar dit was vol mense. Daar was nie eens ’n kamer vir Maria en Josef nie, en daarom moes hulle in ’n plek bly waar diere gehou word. Daar het Maria haar baba gehad, en Jesus is in ’n krip neergelê, soos jy hier kan sien. ’n Krip is ’n plek waarin kos vir koeie en ander diere gesit word.
Hoekom word Jesus in ’n krip neergelê?
Opwindende dinge het gebeur die nag toe Jesus gebore is. Naby Betlehem het ’n engel aan ’n paar herders verskyn. Hy het vir hulle gesê dat Jesus ’n belangrike persoon is. Die engel het gesê: ‘Kyk! Ek vertel vir julle goeie nuus wat mense gelukkig sal maak. Vandag is iemand gebore wat die mense sal red.’—Lukas 2:10, 11.
Watter goeie nuus het een van hierdie engele vir die herders vertel?
Die engel het vir die herders vertel dat hulle Jesus in Betlehem sou kry waar hy in ’n krip lê. Toe, ewe skielik, was daar ander engele in die hemel wat God saam met die eerste engel geloof het. “Heerlikheid aan God”, het die engele gesing, “en op aarde vrede onder mense van welwillendheid.”—Lukas 2:12-14.
Toe die engele weggegaan het, het die herders na Betlehem toe gegaan en Jesus gekry. Daar het hulle vir Josef en Maria al die goeie dinge vertel wat hulle gehoor het. Kan jy dink hoe bly Maria was dat sy gewillig was om Jesus se ma te wees?
Later het Josef en Maria vir Jesus na die stad Nasaret geneem. Dit is waar Jesus grootgeword het. Toe hy groot was, het hy met sy groot onderrigtingswerk begin. Dit was ’n deel van die werk wat Jehovah God wou hê sy Seun op die aarde moes doen. Jesus was gewillig om daardie werk te doen, want hy het sy hemelse Vader baie liefgehad.
Voordat Jesus met sy werk as die Groot Onderwyser begin het, het Johannes die Doper hom in die Jordaanrivier gedoop. Toe het iets wonderliks gebeur! Terwyl Jesus uit die water opgekom het, het Jehovah uit die hemel gepraat en gesê: “Dit is my Seun, die geliefde, wat ek goedgekeur het” (Matteus 3:17). Maak dit jou nie bly as jou ouers vir jou sê dat hulle vir jou lief is nie?— Ons kan seker wees dat dit Jesus ook bly gemaak het.
Jesus het altyd gedoen wat reg is. Hy het nie gemaak asof hy iemand is wat hy nie was nie. Hy het nie vir mense gesê dat hy God is nie. Die engel Gabriël het vir Maria gesê dat Jesus die Seun van God genoem sou word. Jesus self het gesê dat hy God se Seun is. En hy het nie vir mense gesê dat hy meer as sy Vader weet nie. Hy het gesê: “Die Vader is groter as ek.”—Johannes 14:28.
Selfs in die hemel, wanneer Jesus se Vader vir hom werk gegee het om te doen, het Jesus dit gedoen. Hy het nie gesê dat hy dit sal doen, maar dan iets anders gedoen nie. Hy het sy Vader liefgehad. Daarom het hy geluister na wat sy Vader gesê het. En toe Jesus na die aarde toe gekom het, het hy gedoen wat sy hemelse Vader hom gestuur het om te doen. Hy het nie iets anders gedoen nie. Geen wonder Jehovah is trots op sy Seun nie!
Ons wil Jehovah mos ook bly maak, nè?— Dan moet ons wys dat ons regtig na God luister, soos Jesus gedoen het. God praat deur middel van die Bybel met ons. Dit sou nie reg wees om te maak asof ons na God luister, maar dan dinge te glo en te doen wat die Bybel sê verkeerd is nie, nè?— En onthou, dit sal vir ons lekker wees om Jehovah bly te maak as ons hom regtig liefhet.
Lees nou hierdie ander Bybeltekste wat wys wat ons omtrent Jesus moet weet en glo: Matteus 7:21-23; Johannes 4:25, 26 en 1 Timoteus 2:5, 6.