-
Hoe kan ek goeie vriende maak?Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 1
-
-
Hoofstuk 8
Hoe kan ek goeie vriende maak?
“As ek kwaad is, het ek iemand nodig met wie ek oor my gevoelens kan praat. As ek hartseer is, wil ek hê dat iemand vir my moet sê dat dit beter sal gaan. As ek gelukkig is, wil ek dit met iemand deel. Vir my is dit noodsaaklik om vriende te hê.”—Brittany.
DAAR is al gesê dat klein kindertjies speelmaats nodig het, terwyl adolessente vriende nodig het. Wat is die verskil?
’n Speelmaat is iemand wat jou geselskap hou.
’n Vriend is iemand wat ook dieselfde waardes as jy het.
Verder sê die Bybel: “’n Ware metgesel het te alle tye lief en is ’n broer wat gebore word vir die tyd wanneer daar benoudheid is” (Spreuke 17:17). Dit beskryf waarskynlik ’n dieper soort vriendskap as wat jy as kind op die speelgrond gevind het!
Feit: Terwyl jy tot volwassenheid groei, het jy vriende nodig wat
1. Bewonderenswaardige eienskappe het
2. Prysenswaardige standaarde volg
3. ’n Positiewe invloed op jou het
Vraag: Hoe kan jy vriende vind wat aan hierdie vereistes voldoen? Kom ons ondersoek hierdie faktore een vir een.
Vriendskapsfaktor #1—Bewonderenswaardige eienskappe
Wat jy moet weet. Nie elkeen wat sê dat hy ’n vriend is, het die vermoë om ’n ware vriend te wees nie. Die Bybel sê selfs: “Daar is metgeselle wat geneig is om mekaar te verpletter” (Spreuke 18:24). Dit klink dalk na ’n oordrywing. Maar dink hieraan: Het jy al ooit ’n “vriend” gehad wat van jou misbruik gemaak het? Wat van iemand wat agter jou rug gepraat het of valse stories oor jou versprei het? So ’n ondervinding kan jou vertroue vernietig.a Onthou altyd dat dit belangriker is om ’n paar goeie vriende te hê as om baie vriende te hê!
Wat jy kan doen. Kies as jou vriende persone wat navolgenswaardige eienskappe het.
“Almal het altyd iets positiefs om van my vriendin Fiona te sê. Ek wil hê mense moet ook van my goed praat. Ek wil dieselfde goeie reputasie as sy hê. Dis iets wat ek bewonder.”—Yvette, 17.
Probeer hierdie oefening.
1. Lees Galasiërs 5:22, 23.
2. Vra jou af: ‘Het my vriende die eienskappe wat deel vorm van die vrug van die gees?’
3. Skryf die name van jou beste vriende hieronder neer. Skryf langs elke naam die eienskap neer wat die persoon die beste beskryf.
Naam Eienskap
․․․․․ ․․․․․
Wenk: As jy net aan negatiewe eienskappe kan dink, is dit dalk tyd om beter vriende te soek!
Vriendskapsfaktor #2—Prysenswaardige standaarde
Wat jy moet weet. Hoe desperater jy is om vriende te hê, hoe waarskynliker is dit dat jy tevrede sal wees met die verkeerde soort vriende. Die Bybel sê: “Hy wat hom met die sotte inlaat, met hom sal dit sleg gaan” (Spreuke 13:20). Die woord “sotte” verwys nie na mense wat swak vaar op skool of selfs dom is nie. Dit beskryf eerder diegene wat gesonde oordeel die rug toekeer en ’n sedelik onverstandige weg volg. Dít is die soort vriende waarsonder jy kan klaarkom!
Wat jy kan doen. Moenie vriende maak met sommer net enigiemand nie; wees eerder kieskeurig (Psalm 26:4). Dit beteken nie dat jy bevooroordeeld moet wees nie. In hierdie konteks beteken kieskeurigheid dat jy genoeg insig het om “die onderskeid [te] sien tussen ’n regverdige en ’n goddelose, tussen iemand wat God dien en iemand wat hom nie gedien het nie”.—Maleagi 3:18.
“Ek is dankbaar dat my ouers my gehelp het om vriende te vind—mense van my ouderdom wat goed doen op geestelike gebied.”—Christopher, 13.
Beantwoord die volgende vrae:
Is ek, wanneer ek saam met my vriende is, bang dat hulle druk op my sal plaas om iets te doen wat ek weet verkeerd is?
□ Ja
□ Nee
Is ek huiwerig om my vriende aan my ouers voor te stel omdat ek bang is dat my ouers hulle dalk nie sal goedkeur nie?
□ Ja
□ Nee
Wenk: As jy ja geantwoord het op die vrae hierbo, moet jy vriende soek wat hoër standaarde het—dié wat ’n voorbeeldige Christelike lewe lei.
Vriendskapsfaktor #3—’n Positiewe invloed
Wat jy moet weet. Die Bybel sê: “Slegte metgeselle bederf ’n goeie karakter” (1 Korintiërs 15:33, Today’s English Version). ’n Jong persoon met die naam Lauren sê: “My skoolmaats het my aanvaar solank ek gedoen het wat hulle wou hê ek moes doen. Ek was eensaam, en daarom het ek besluit om soos hulle op te tree net sodat ek kan inpas.” Lauren het uitgevind dat ’n mens, wanneer jy volgens ander se standaarde lewe, soos ’n pion op ’n skaakbord is wat hulle rondskuif soos hulle wil. Jy verdien beter as dit!
Wat jy kan doen. Beëindig jou vriendskappe met diegene wat daarop aandring dat jy hulle lewenswyse moet volg. As jy dit doen, sal jy dalk minder vriende hê; maar jy sal beter omtrent jouself voel en jy sal beter vriendskappe kan smee—die soort wat jou positief sal beïnvloed.—Romeine 12:2.
“Clint, ’n goeie vriend van my, is verstandig en medelydend, en daarom is hy vir my ’n baie groot bron van aanmoediging.”—Jason, 21.
Vra jou die volgende vrae af:
Verander ek die manier waarop ek aantrek, praat of optree om by my vriende se laer standaarde aan te pas net omdat ek hulle tevrede wil stel?
□ Ja
□ Nee
Gaan ek na sedelik bedenklike plekke wat ek nie sou besoek het as dit nie vir my vriende was nie?
□ Ja
□ Nee
Wenk: As jy ja geantwoord het op hierdie vrae, moet jy jou ouers of ’n ander verantwoordelike volwassene vir raad gaan vra. As jy een van Jehovah se Getuies is, kan jy ook ’n Christen- ouer man nader en vir hom sê dat jy graag hulp wil hê om vriende te kies wat ’n beter invloed op jou sal hê.
LEES MEER OOR HIERDIE ONDERWERP IN DEEL 2, HOOFSTUK 9
Oefen ’n sogenaamde vriend—of dalk jou hart—druk op jou uit om te doen wat sleg is? Vind uit hoe jy dit kan weerstaan!
[Voetnoot]
a Almal maak natuurlik foute (Romeine 3:23). Wanneer ’n vriend jou dus seermaak, maar dan opreg om verskoning vra, moet jy onthou dat ‘die liefde ’n menigte sondes bedek’.—1 Petrus 4:8.
SLEUTELTEKSTE
“Daar is ’n vriend wat sterker aanhang as ’n broer.”—Spreuke 18:24.
WENK
As jy volgens regverdige standaarde lewe, sal dit die kanse vergroot dat ander wat dieselfde probeer doen, jou sal vind. Hulle sal die beste soort vriende wees!
HET JY GEWEET . . . ?
God is nie partydig nie, maar hy is baie selektief wanneer dit kom by wie hy as ‘’n gas in sy tent’ verwelkom.—Psalm 15:1-5.
AKSIEPLAN!
Om goeie vriende te vind, sal ek ․․․․․
Ek wil graag die volgende mense wat ouer is as ek, beter leer ken ․․․․․
Wat ek graag vir my ouer(s) hieroor wil vra ․․․․․
WAT DINK JY?
● Watter eienskappe sal jy die meeste in ’n vriend waardeer, en waarom?
● Aan watter eienskappe moet jy werk om ’n beter vriend te wees?
[Lokteks op bladsy 60]
Toe my ouers my van ’n sekere groep vriende wou wegkry, het ek vir myself gesê dat hulle die enigste mense is met wie ek wil assosieer. Maar my ouers het vir my goeie raad gegee, en nadat ek my oogklappe afgehaal het, het ek besef dat daar baie mense is wat beter vriende sal wees.’’—Cole
[Venster op bladsy 61]
Probeer hierdie wenke
Praat met jou ouers oor vriendskappe. Vra hulle watter soort vriende hulle gehad het toe hulle jou ouderdom was. Is hulle spyt oor hulle keuse van vriende? Indien wel, waarom? Vra hulle hoe jy van die probleme kan vermy wat hulle ondervind het.
Stel jou vriende aan jou ouers voor. As jy huiwerig is om dit te doen, vra jou af: ‘Waarom voel ek so?’ Is daar iets omtrent jou vriende wat jy weet jou ouers nie sal goedkeur nie? As dit die geval is, moet jy dalk meer selektief wees in jou keuse van vriende.
Wees ’n goeie luisteraar. Toon belangstelling in jou vriende se welsyn en bekommernisse.—Filippense 2:4.
Wees vergewensgesind. Moenie volmaaktheid verwag nie. “Ons almal struikel dikwels.”—Jakobus 3:2.
Gee jou vriend ruimte. Daar is geen rede om aan hom of haar vas te klou nie. Ware vriende sal jou ondersteun wanneer jy hulle nodig het.—Prediker 4:9, 10.
[Prent op bladsy 63]
Wanneer ’n mens volgens ander se standaarde lewe net om in te pas, is jy soos ’n pion op ’n skaakbord wat hulle rondskuif soos hulle wil
-
-
Hoe kan ek versoeking weerstaan?Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 1
-
-
Hoofstuk 9
Hoe kan ek versoeking weerstaan?
Karen is skaars tien minute by die partytjie toe sy twee seuns sien instap met ’n hele klomp inkopiesakke. Die inhoud van daardie sakke is geen geheim nie. Vroeër het sy gehoor hoe dieselfde seuns sê dat daar “oorgenoeg dop” by hierdie partytjie gaan wees.
Karen hoor skielik ’n bekende stem agter haar. “Vir wat staan jy net daar, jou nat vadoek?” Karen draai om en sien haar vriendin Jessica met twee oop bottels bier in die hand. Jessica druk een onder Karen se neus in en sê: “Komaan, moenie vir my sê jy’s te jonk om ’n bietjie pret te hê nie!”
Karen wil nee sê. Maar die druk om dit te aanvaar, is groter as wat sy verwag het. Jessica is haar vriendin, en Karen wil nie die indruk skep dat sy . . . ’n “nat vadoek” is, soos Jessica haar genoem het nie. Boonop is Jessica een van die goeie meisies. En as sy drink, wat is dan so erg daaromtrent? ‘Dis net ’n bier’, sê Karen vir haarself. ‘Dis nie soos om dwelms te gebruik of seks te hê nie.’
JONGMENSE kom voor allerhande versoekings te staan. Dit behels dikwels die teenoorgestelde geslag. “Die meisies by die skool is baie opdringerig”, sê die 17-jarige Ramon. “Hulle hou daarvan om aan jou te vat en te sien hoe ver hulle kan gaan. Hulle aanvaar nie nee vir ’n antwoord nie!” Deanna, ook 17, het dit ook ondervind. “Een seun het na my toe gekom en sy arm om my gesit”, sê sy. “Ek het hom op sy arm geslaan en gesê: ‘Wat maak jy? Ek ken jou nie eers nie!’”
Dalk kom jy ook te staan voor versoekings en voel dit vir jou asof die druk net nie wil ophou nie. Voortdurende versoeking kan soos iemand wees wat aanhoudend aan jou deur klop, al het jy gevra om nie gesteur te word nie. Hoor jy daardie geklop meer dikwels as wat jy graag sou wou? Byvoorbeeld, is enige van die volgende vir jou ’n versoeking?
□ Rook
□ Pornografie
□ Drank
□ Seks
□ Dwelms
□ Ander ․․․․․
As jy ’n ✔ langs enige van die bogenoemde gemaak het, moet jy nie dink dat jy eenvoudig nie uitgeknip is om ’n Christen te wees nie. Jy kan leer om verkeerde begeertes te beheer en om versoeking te weerstaan. Hoe? Dit help om te weet wat die oorsake van versoekings is. Kyk na drie faktore.
1. Onvolmaaktheid. Alle onvolmaakte mense het die neiging om verkeerde dinge te doen. Selfs die apostel Paulus—’n geestelik volwasse Christen—het eerlik erken: “Wanneer ek wil doen wat reg is, is die slegte by my aanwesig” (Romeine 7:21). Dit is duidelik dat selfs die ordentlikste persoon nou en dan bewus sal word van “die begeerte van die vlees en die begeerte van die oë” (1 Johannes 2:16). Maar om aanhoudend aan verkeerde dinge te dink, sal dinge net vererger, want die Bybel sê: “Wanneer die begeerte vrugbaar geword het, baar dit sonde.”—Jakobus 1:15.
2. Eksterne invloede. Versoeking is oral waar jy kyk. “By die skool en by die werk praat mense heeltyd oor seks”, sê Trudy. “Op TV en in flieks laat hulle dit altyd so romanties en opwindend lyk. Maar jy sien bitter selde die negatiewe gevolge!” Trudy weet uit ondervinding watter kragtige invloed portuurs en die media kan hê. “Op 16 het ek gedink dat ek verlief is”, sê sy. “My ma het ernstig met my gepraat en vir my gesê dat ek binnekort swanger sal wees as dinge so aangaan. Ek was geskok dat my ma so iets sou dink! Twee maande later was ek swanger.”
3. “Die begeertes wat eie is aan die jeug” (2 Timoteus 2:22). Hierdie frase kan enige begeerte insluit wat kenmerkend is van jongmense, soos die begeerte om aanvaar te word of jou eie identiteit te hê. Hierdie begeertes is nie op sigself verkeerd nie, maar as ’n mens dit nie beheer nie, kan dit moeiliker wees om versoeking te weerstaan. As jy daarna smag om jou eie identiteit te hê, kan dit jou byvoorbeeld beweeg om die goeie waardes te verwerp wat jy by die huis geleer het. Dit is wat met Steve gebeur het toe hy 17 was. Hy sê: “Ek het teen my ouers gerebelleer en het enigiets en alles gedoen wat hulle my geleer het om nie te doen nie—en dit kort nadat ek gedoop is.”
Hoe om versoeking te weerstaan
Ja, die invloede wat hierbo beskryf word, is kragtig. Nietemin kan jy versoeking weerstaan. Hoe?
● Identifiseer eerstens die versoeking wat vir jou die moeilikste is om te weerstaan. (Jy het dit dalk reeds op bladsy 65 gedoen.)
● Vra jou dan af: ‘Wanneer sal ek heel waarskynlik voor hierdie versoeking te staan kom?’ Maak ’n ✔ langs een van die volgende:
□ By die skool
□ Wanneer ek alleen is
□ By die werk
□ Ander ․․․․․
As jy weet wanneer jy heel moontlik voor ’n versoeking te staan sal kom, kan dit jou help om dit selfs heeltemal te vermy. Dink byvoorbeeld aan die scenario aan die begin van hierdie hoofstuk. Watter waarskuwing het Karen gehad dat daar moeilikheid sou wees by die partytjie wat sy bygewoon het?
․․․․․
Hoe kon sy die versoeking in die eerste plek vermy het?
․․․․․
● Noudat jy die versoeking geïdentifiseer het en vasgestel het wanneer jy heel moontlik daarvoor te staan sal kom, is jy gereed om iets daaromtrent te doen. Jou eerste prioriteit is om uit te vind hoe jy blootstelling aan die versoeking tot ’n minimum kan beperk of dit heeltemal kan vermy. Skryf hieronder neer wat jy kan doen.
․․․․․
(Voorbeelde: As jy ná skool gereeld skoolmaats teëkom wat wil hê dat jy saam met hulle moet rook, kan jy dalk ’n ander pad huis toe neem sodat jy hulle nie raakloop nie. As jy dikwels ongevraagde Internetpornografie ontvang, kan jy dit oorweeg om programme te installeer wat die bron daarvan en alle soortgelyke webwerwe blokkeer. Jy kan ook meer spesifiek wees wanneer jy sleutelwoorde in ’n soekenjin intik.)
Jy kan natuurlik nie alle versoekings vermy nie. Jy sal vroeër of later moontlik voor ’n baie groot versoeking te staan kom—dalk wanneer jy dit die minste verwag. Wat kan jy daaromtrent doen?
Wees voorbereid
Toe Jesus “deur Satan versoek is”, het hy die versoekings onmiddellik verwerp (Markus 1:13). Waarom? Omdat hy reeds geweet het wat sy standpunt is in verband met die geskille wat geopper is. Jesus het hom reeds vas voorgeneem om sy Vader te alle tye te gehoorsaam (Johannes 8:28, 29). Hy het dit werklik bedoel toe hy gesê het: “Ek het uit die hemel neergedaal, nie om my wil te doen nie, maar die wil van hom wat my gestuur het.”—Johannes 6:38.
Skryf op die volgende bladsy twee redes neer waarom jy die versoeking waarvoor jy die meeste te staan kom, moet weerstaan, asook twee dinge wat jy kan doen om dit te weerstaan.
Waarom jy die versoeking moet weerstaan:
1 ․․․․․
2 ․․․․․
Wat jy kan doen om dit te weerstaan:
1 ․․․․․
2 ․․․․․
Onthou, wanneer jy voor versoeking swig, word jy ’n slaaf van jou begeertes (Titus 3:3). Waarom sou jy toelaat dat jou begeertes jou beheer? Wees volwasse genoeg om jou drange te beheer en nie toe te laat dat jou drange jou beheer nie (Kolossense 3:5). En bid vir hulp sodat jy kan aanhou om dit te doen.—Matteus 6:13.a
LEES MEER OOR HIERDIE ONDERWERP IN DEEL 2, HOOFSTUK 15
Voel jy die afgelope tyd lusteloos? Vind uit hoe jy jou gesondheid kan verbeter en jou energie kan terugkry!
[Voetnoot]
a Sien ook Hoofstukke 33 en 34 van hierdie boek.
SLEUTELTEKSTE
“God is getrou, en hy sal nie toelaat dat julle versoek word bo wat julle kan verdra nie, maar saam met die versoeking sal hy ook die uitweg gee, sodat julle dit sal kan verduur.”—1 Korintiërs 10:13.
WENK
Gebruik die “Portuurdrukplan” op bladsye 132 en 133 van Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 2, om te beplan wat jy gaan sê wanneer iemand jou in die versoeking probeer bring om iets verkeerds te doen.
HET JY GEWEET . . . ?
God het voorspel dat Jesus getrou sou bly, maar dit beteken nie dat Jesus soos ’n robot was wat geprogrammeer is om gehoorsaam te wees nie. Jesus het eerder wilsvryheid gehad. Sy getrouheid was ’n keuse—nie ’n uitgemaakte saak nie. Dit is een rede waarom hy vurig gebid het toe hy beproef is.—Hebreërs 5:7.
AKSIEPLAN!
Om my meer vasbeslote te maak om versoeking te weerstaan, sal ek ․․․․․
Mense, plekke en omstandighede wat ek moet vermy, is ․․․․․
Wat ek graag vir my ouer(s) hieroor wil vra ․․․․․
WAT DINK JY?
● Kan volmaakte skepsele voor versoeking te staan kom?—Genesis 6:1-3; Johannes 8:44.
● Watter uitwerking het jou getrouheid op ander wanneer jy versoeking weerstaan?—Spreuke 27:11; 1 Timoteus 4:12.
[Lokteks op bladsy 68]
Wat my help, is die wete dat ek die kragtigste Persoon in die heelal aan my kant het en dat ek enige tyd sy hulp kan vra!’’—Christopher
[Venster/Prent op bladsy 67]
Probeer die volgende!
Neem ’n kompas en draai dit sodat die naald noord wys. Plaas nou ’n magneet langs die kompas. Wat gebeur? Die naald gee nie meer ’n akkurate lesing nie. Dit wys eerder na die magneet toe.
Jou gewete is soos hierdie kompas. As dit goed opgelei is, sal dit “noord” wys en jou help om wyse besluite te neem. Maar slegte assosiasie is soos ’n magneet—die invloed daarvan kan jou sedelike oordeel belemmer. Die les? Probeer mense en situasies vermy wat ’n negatiewe invloed op jou sedelike oordeel kan hê!—Spreuke 13:20.
[Prent op bladsy 69]
Wanneer jy voor versoeking swig, word jy ’n slaaf van jou begeertes
-