-
Hoe dien die ouer manne die gemeente?Wie doen vandag Jehovah se wil?
-
-
LES 15
Hoe dien die ouer manne die gemeente?
Finland
Onderrigting
Herderswerk
Getuieniswerk
Ons het nie ’n betaalde geestelikeklas in ons organisasie nie. Maar soos die geval was toe die Christengemeente ontstaan het, word bekwame opsieners aangestel “om as herders toesig te hou oor die gemeente van God” (Handelinge 20:28). Hierdie ouer manne is geestelik volwasse manne wat die leiding in die gemeente neem en as herders toesig hou, “nie onder dwang nie, maar gewillig; ook nie uit liefde vir oneerlike gewin nie, maar gretig” (1 Petrus 5:1-3). Watter werk verrig hulle ten behoewe van ons?
Hulle sien om na ons en waak oor ons. Die ouer manne bied leiding en help om die gemeente se geestelikheid te beskerm. Omdat die ouer manne daarvan bewus is dat God hierdie belangrike rol aan hulle toevertrou het, speel hulle nie baas oor sy volk nie, maar dra hulle eerder by tot ons welstand en vreugde (2 Korintiërs 1:24). Net soos ’n herder nougeset na elkeen van sy skape omsien, probeer die ouer manne om elke lid van die gemeente persoonlik te leer ken.—Spreuke 27:23.
Hulle leer ons hoe om God se wil te doen. Die ouer manne neem elke week die leiding in die gemeentelike vergaderinge om ons geloof te versterk (Handelinge 15:32). Hierdie toegewyde manne neem ook die leiding in die evangelisasiewerk, terwyl hulle saam met ons werk en ons in al die aspekte van die bediening oplei.
Hulle gee ons persoonlike aanmoediging. Om in ons individuele geestelike behoeftes te voorsien, besoek plaaslike ouer manne ons moontlik by die huis of praat hulle met ons by die Koninkryksaal om hulp en vertroosting uit die Skrif te bied.—Jakobus 5:14, 15.
Benewens hulle werk in die gemeente het die meeste ouer manne ook sekulêre werk en gesinsverantwoordelikhede wat hulle tyd en aandag vereis. Hierdie hardwerkende broers verdien ons respek.—1 Tessalonisense 5:12, 13.
Watter rol speel die gemeentelike ouer manne?
Hoe toon die ouer manne persoonlike belangstelling in ons?
-
-
Watter rol speel die bedieningsknegte?Wie doen vandag Jehovah se wil?
-
-
LES 16
Watter rol speel die bedieningsknegte?
Mianmar
Vergaderingdeel
Velddiensgroep
Instandhouding van die Koninkryksaal
Die Bybel beskryf twee groepe Christenmanne wat na gemeentelike verantwoordelikhede omsien—“opsieners en bedieningsknegte” (Filippense 1:1). Oor die algemeen dien ’n aantal van hierdie broers in elke gemeente. Watter werk doen die bedieningsknegte ten behoewe van ons?
Hulle help die liggaam van ouer manne. Die bedieningsknegte is geestelikgesinde, betroubare en pligsgetroue manne, van wie party jonger en ander ouer is. Hulle sien om na die belangrike maar dikwels roetinetake van organisatoriese en fisiese aard wat in die gemeente verrig moet word. Dit stel die ouer manne in staat om hulle op onderrigtings- en herdersverantwoordelikhede toe te lê.
Hulle lewer praktiese dienste. Party bedieningsknegte word aangewys as saalwagters om almal wat by die vergaderinge opdaag, te verwelkom. Ander bedien die klanktoerusting, sien om na lektuur, behartig die gemeentelike rekeninge en wys getuienisgebied aan lede van die gemeente toe. Hulle help ook met die instandhouding van die Koninkryksaal. Ouer manne vra hulle moontlik om bejaardes te help. Bedieningsknegte se bereidwilligheid om enige verantwoordelikheid wat hulle gegee word, na te kom, wen hulle die respek van almal.—1 Timoteus 3:13.
Hulle stel ’n goeie voorbeeld as Christenmanne. Bedieningsknegte word gekies weens hulle voortreflike geestelike eienskappe. Wanneer hulle vergaderingdele behartig, versterk hulle ons geloof. Deur ’n goeie voorbeeld in die predikingswerk te stel, spoor hulle ons aan om yweriger te wees. Deur hulle gees van samewerking bevorder hulle vreugde en eenheid (Efesiërs 4:16). Ná verloop van tyd sal hulle moontlik ook kwalifiseer om as ouer manne te dien.
Watter soort manne is die bedieningsknegte?
Hoe help die knegte die gemeente om glad te funksioneer?
-
-
Hoe help kringopsieners ons?Wie doen vandag Jehovah se wil?
-
-
LES 17
Hoe help kringopsieners ons?
Malawi
Velddiensgroep
Veldbediening
Ouermanvergadering
Die Christelike Griekse Geskrifte maak dikwels melding van Barnabas en die apostel Paulus. Hierdie manne het as reisende opsieners gedien en die vroeë gemeentes besoek. Waarom? Hulle was opreg besorg oor die welsyn van hulle geestelike broers. Paulus het gesê dat hy wil “terugkeer en die broers besoek” om te sien hoe dit met hulle gaan. Hy was bereid om honderde kilometers af te lê om hulle te gaan versterk (Handelinge 15:36). Ons reisende opsieners het vandag dieselfde begeerte.
Hulle kom om ons aan te moedig. Elke kringopsiener besoek sowat 20 gemeentes en bring twee keer per jaar ’n week saam met elke gemeente deur. Ons kan grootliks baat vind by die ondervinding van hierdie broers en dié van hulle vrouens, indien hulle getroud is. Hulle probeer om jonk sowel as oud te leer ken, en hulle is gretig om ons in die veldbediening en na ons Bybelstudies te vergesel. Hierdie opsieners doen herdersbesoeke saam met die ouer manne, en hulle hou aanmoedigende toesprake by vergaderinge en byeenkomste om ons te versterk.—Handelinge 15:35.
Hulle toon belangstelling in almal. Kringopsieners stel baie belang in die geestelike toestand van die gemeentes. Hulle vergader met die ouer manne en bedieningsknegte om die vordering wat gemaak is, te bespreek en om hulle praktiese raad te gee in verband met die nakoming van hulle verantwoordelikhede. Hulle help die pioniers om ’n sukses van hulle bediening te maak, en hulle geniet dit om nuwelinge te leer ken en van hulle geestelike vordering te hoor. Elkeen van hierdie broers gee vryelik van homself as “’n medewerker in [ons] belang” (2 Korintiërs 8:23). Ons moet hulle geloof en toegewydheid aan God navolg.—Hebreërs 13:7.
Waarom besoek kringopsieners die gemeentes?
Hoe kan jy by hulle besoeke baat vind?
-
-
Hoe help ons ons broers in nood?Wie doen vandag Jehovah se wil?
-
-
LES 18
Hoe help ons ons broers in nood?
Dominikaanse Republiek
Japan
Haïti
Wanneer ’n ramp plaasvind, reël Jehovah se Getuies onmiddellik dat hulp aan hulle broers in die geteisterde gebied voorsien word. Hierdie pogings lewer bewys van die egtheid van ons liefde vir mekaar (Johannes 13:34, 35; 1 Johannes 3:17, 18). Op watter maniere help ons?
Ons skenk geld. Toe ’n groot hongersnood Judea getref het, het vroeë Christene in Antiogië finansiële hulp aan hulle geestelike broers gestuur (Handelinge 11:27-30). Wanneer ons uitvind dat ons broers in ’n sekere deel van die wêreld ontberinge verduur, stuur ons eweneens bydraes deur middel van ons plaaslike gemeente om materiële hulp te voorsien aan dié wat in ernstige nood verkeer.—2 Korintiërs 8:13-15.
Ons verleen praktiese hulp. Die ouer manne in die rampgebied wend ’n poging aan om uit te vind waar elke gemeentelid is en om te verseker dat hulle veilig is. ’n Noodlenigingskomitee koördineer moontlik die voorsiening van voedsel, skoon drinkwater, klere, skuiling en mediese hulp. Baie Getuies met die nodige vaardighede bied vrywillig aan om op eie koste aan die noodlenigingswerk te gaan deelneem of om beskadigde huise en Koninkryksale te herstel. Die eenheid wat ons as ’n organisasie geniet en die ondervinding wat ons opgedoen het deur saam te werk, stel ons in staat om in tye van nood gou hulp te voorsien. Ons reik ’n helpende hand uit na “dié wat in die geloof aan ons verwant is”, maar ons help ook ander wanneer moontlik, ongeag aan watter godsdiens hulle behoort.—Galasiërs 6:10.
Ons bied geestelike en emosionele ondersteuning. Slagoffers van ’n ramp het vertroosting baie nodig. Gedurende hierdie tye vertrou ons op Jehovah, “die God van alle vertroosting”, vir krag (2 Korintiërs 1:3, 4). Ons vertel diegene wat in wanhoop verkeer, graag van die Bybel se beloftes en verseker hulle dat God se Koninkryk binnekort ’n einde sal maak aan al die tragedies wat pyn en lyding veroorsaak.—Openbaring 21:4.
Waarom kan die Getuies gedurende rampe vinnig reageer?
Watter geestelike vertroosting kan ons aan die oorlewendes gee?
-
-
Wie is die getroue en verstandige slaaf?Wie doen vandag Jehovah se wil?
-
-
LES 19
Wie is die “getroue en verstandige slaaf”?
Ons vind almal baat by ons geestelike voedsel
Kort voor sy dood het Jesus ’n private gesprek met vier van sy dissipels—Petrus, Jakobus, Johannes en Andreas—gehad. Terwyl Jesus die teken van sy teenwoordigheid in die laaste dae voorspel het, het hy ’n baie belangrike vraag geopper: “Wie is werklik die getroue en verstandige slaaf vir wie sy heer oor sy huisknegte aangestel het om hulle hulle voedsel op die regte tyd te gee?” (Matteus 24:3, 45; Markus 13:3, 4). Jesus het sy dissipels verseker dat hy, as hulle “heer”, diegene sou aanstel wat gedurende die tyd van die einde aan sy volgelinge ’n bestendige voorraad geestelike voedsel sou voorsien. Wie sou hierdie slaaf uitmaak?
Hulle is ware geesgesalfde volgelinge van Jesus. Die “slaaf” voorsien tydige geestelike voedsel aan mede-aanbidders van Jehovah. Ons maak staat op hierdie getroue slaafklas om ons “op die regte tyd [ons] deel van die voedsel” te bly gee.—Lukas 12:42.
Hulle bestuur die huisgesin van God (1 Timoteus 3:15). Jesus het die slaaf die gewigtige verantwoordelikheid gegee om die werk van die aardse deel van Jehovah se organisasie te bestuur—om na die materiële bates daarvan om te sien, die predikingswerk te rig en ons deur middel van ons gemeentes te onderrig. Om ons te voorsien van wat ons nodig het wanneer ons dit nodig het, stel “die getroue en verstandige slaaf” dus geestelike voedsel beskikbaar deur middel van die publikasies wat ons in die bediening gebruik, asook deur middel van die programme wat by ons vergaderinge en byeenkomste aangebied word.
Die slaaf is getrou aan Bybelwaarhede en aan die opdrag wat hulle ontvang het om die goeie nuus te verkondig, en hulle is verstandig met betrekking tot die manier waarop hulle wyslik na Christus se belange op die aarde omsien (Handelinge 10:42). Jehovah seën die slaaf se werk met vermeerdering en oorvloedige geestelike voorsienings.—Jesaja 60:22; 65:13.
Wie is deur Jesus aangestel om sy dissipels geestelik te voed?
In watter opsigte is die slaaf getrou en verstandig?
-
-
Hoe funksioneer die Bestuursliggaam vandag?Wie doen vandag Jehovah se wil?
-
-
LES 20
Hoe funksioneer die Bestuursliggaam vandag?
Die eerste-eeuse bestuursliggaam
Die bestuursliggaam se brief word gelees
In die eerste eeu het ’n klein groepie, “die apostels en ouer manne in Jerusalem”, as ’n bestuursliggaam gedien om belangrike besluite namens die hele gesalfde Christengemeente te neem (Handelinge 15:2). Wanneer hulle ’n eenparige besluit geneem het, was dit die gevolg van ’n bespreking van wat die Skrif sê en onderworpenheid aan die invloed van God se gees (Handelinge 15:25). Hierdie voorbeeld word vandag gevolg.
Dit word deur God gebruik om sy wil te doen. Die gesalfde broers wat op die Bestuursliggaam dien, stel intens belang in God se Woord en is baie ervare in die hantering van praktiese en geestelike sake. Hulle vergader elke week om die behoeftes van die wêreldwye broederskap te bespreek. Soos in die eerste eeu, word Bybelse instruksies deur briewe of deur middel van reisende opsieners en ander voorsien. Dit bevorder eenheid in denke en dade onder God se volk (Handelinge 16:4, 5). Die Bestuursliggaam hou toesig oor die voorbereiding van geestelike voedsel, bevorder die Koninkrykspredikingswerk en hou toesig oor die aanstelling van broers in verantwoordelike posisies.
Dit reageer op die leiding van God se gees. Die Bestuursliggaam vertrou op die Universele Soewerein, Jehovah, en op die Hoof van die gemeente, Jesus, vir leiding (1 Korintiërs 11:3; Efesiërs 5:23). Die lede van die Bestuursliggaam beskou hulleself nie as die leiers van God se volk nie. Hulle, tesame met al die gesalfde Christene, ‘bly die Lam [Jesus] volg ongeag waar hy gaan’ (Openbaring 14:4). Die Bestuursliggaam waardeer ons gebede ten behoewe van hulle.
Wie het in die eerste eeu die bestuursliggaam uitgemaak?
Hoe streef die hedendaagse Bestuursliggaam daarna om God se leiding te verkry?
-
-
Wat is Bethel?Wie doen vandag Jehovah se wil?
-
-
LES 21
Wat is Bethel?
Kunsafdeling, VSA
Duitsland
Kenia
Colombia
Bethel, ’n Hebreeuse naam, beteken “huis van God” (Genesis 28:17, 19). Dit is ’n gepaste benaming vir die komplekse wat Jehovah se Getuies regoor die wêreld opgerig het en waarvandaan die predikingswerk gerig en ondersteun word. Die Bestuursliggaam dien by die wêreldhoofkwartier in die staat New York, VSA, en daarvandaan hou dit toesig oor die werk van die takkantore in baie lande. Diegene wat by hierdie fasiliteite dien, staan gesamentlik bekend as die Bethelgesin. Soos ’n gesin, lewe en werk hulle saam, eet hulle saam en bestudeer hulle die Bybel in eenheid saam.—Psalm 133:1.
’n Unieke plek waar gesinslede van hulleself gee. By elke Bethel is daar Christenmans en -vroue wat hulle voltyds daaraan wy om God se wil te doen en Koninkryksbelange te bevorder (Matteus 6:33). Nie een van hulle ontvang ’n loon of salaris nie, maar almal word voorsien van kos en verblyf en ’n toelaag om hulle met persoonlike uitgawes te help. Elkeen by Bethel het ’n toewysing, hetsy in ’n kantoor, ’n kombuis of ’n eetsaal. Party dien in ’n drukkery of ’n boekbindery, doen skoonmaakwerk, werk in ’n wassery of doen instandhoudingswerk of iets anders.
’n Besige plek wat die Koninkrykspredikingswerk ondersteun. Die vernaamste oogmerk van elke Bethel is om Bybelwaarheid aan soveel mense moontlik beskikbaar te stel. Hierdie brosjure is ’n voorbeeld hiervan. Dit is onder toesig van die Bestuursliggaam geskryf, elektronies na honderde vertaalspanne regoor die wêreld gestuur, op hoëspoedperse in etlike Betheldrukkerye gedruk en na meer as 110 000 gemeentes versend. Gedurende elke deel van hierdie proses voorsien Bethelgesinne noodsaaklike ondersteuning aan die allerdringendste taak—die verkondiging van die goeie nuus.—Markus 13:10.
Wie dien by Bethel, en waarvan word hulle voorsien?
Watter dringende werk word deur die bedrywighede by elke Bethel ondersteun?
-
-
Wat word by ’n takkantoor gedoen?Wie doen vandag Jehovah se wil?
-
-
LES 22
Wat word by ’n takkantoor gedoen?
Salomonseilande
Kanada
Suid-Afrika
Bethelgesinslede dien in ’n verskeidenheid afdelings wat na die predikingswerk in een of meer lande omsien. Hulle is moontlik lede van ’n vertaalspan, druk tydskrifte, bind boeke, versend lektuur, doen oudio-video-opnames of sien om na ander aangeleenthede vir daardie gebied.
’n Takkomitee hou toesig oor die werk. Die Bestuursliggaam vertrou die werking van elke takkantoor toe aan ’n Takkomitee wat uit drie of meer baie bekwame ouer manne bestaan. Die komitee hou die Bestuursliggaam op hoogte van die vordering van die werk in elke land wat onder hierdie komitee val en van enige probleme wat ontstaan. Hierdie verslae help die Bestuursliggaam om te besluit watter onderwerpe in toekomstige publikasies en by vergaderinge en byeenkomste bespreek moet word. Verteenwoordigers van die Bestuursliggaam word gereeld uitgestuur om die takkantore te besoek en die Takkomitees te voorsien van leiding in die uitvoering van hulle toewysings (Spreuke 11:14). ’n Spesiale program wat ’n toespraak deur die hoofkwartierverteenwoordiger insluit, word gereël om diegene wat in die takkantoor se gebied woon, aan te moedig.
Ondersteuning word aan die plaaslike gemeentes gegee. Verantwoordelike broers by die takkantoor keur die stigting van nuwe gemeentes goed. Broers organiseer ook die werk van die pioniers, sendelinge en kringopsieners wat in die takkantoor se gebied dien. Hulle reël byeenkomste, koördineer die oprigting van nuwe Koninkryksale en sien toe dat lektuur na die gemeentes versend word om in hulle behoeftes te voorsien. Alles wat by ’n takkantoor gedoen word, dra by tot die ordelike uitvoering van die predikingswerk.—1 Korintiërs 14:33, 40.
Hoe help Takkomitees die Bestuursliggaam?
Na watter verantwoordelikhede word daar by ’n takkantoor omgesien?
-
-
Hoe word ons lektuur geskryf en vertaal?Wie doen vandag Jehovah se wil?
-
-
LES 23
Hoe word ons lektuur geskryf en vertaal?
Skryfafdeling, VSA
Suid-Korea
Armenië
Burundi
Sri Lanka
In ’n poging om die “goeie nuus” so goed moontlik aan “elke nasie en stam en taal en volk” bekend te maak, gee ons lektuur in sowat 750 tale uit (Openbaring 14:6). Hoe verrig ons hierdie moeilike taak? Ons doen dit met die hulp van ’n internasionale skryfpersoneel en ’n groep toegewyde vertalers—almal Jehovah se Getuies.
Die oorspronklike teks word in Engels voorberei. Die Bestuursliggaam hou toesig oor die werk van die Skryfafdeling by ons wêreldhoofkwartier. Hierdie afdeling koördineer die toewysings van die skrywers wat by die hoofkwartier en by sekere takkantore dien. Hierdie verskeidenheid van skrywers stel ons in staat om multikulturele onderwerpe te bespreek wat ons publikasies by mense van verskillende nasionaliteite byval laat vind.
Die teks word na die vertalers gestuur. Nadat die geskrewe materiaal geredigeer en goedgekeur is, word dit elektronies na vertaalspanne regoor die aarde gestuur, wat die teks vertaal, nagaan en proeflees. Hulle probeer die “korrekte woorde van waarheid” kies wat die volle betekenis van die Engels in hulle doeltaal sal weergee.—Prediker 12:10.
Rekenaars bespoedig die proses. ’n Rekenaar kan nie menseskrywers en -vertalers vervang nie. Maar hulle take kan bespoedig word met behulp van elektroniese woordeboeke, taalhulpmiddels en navorsingsmateriaal. Jehovah se Getuies het ’n Veeltalige Elektroniese Setstelsel (MEPS) ontwerp deur middel waarvan teks in honderde tale ingetik, met gepaardgaande kunswerk gekombineer en in bladsye opgemaak kan word, gereed om gedruk te word.
Waarom doen ons al hierdie moeite, selfs vir tale wat deur net ’n paar duisend mense gepraat word? Omdat dit Jehovah se wil is dat “alle soorte mense gered moet word en tot juiste kennis van die waarheid moet kom”.—1 Timoteus 2:3, 4.
Hoe word ons publikasies geskryf?
Waarom vertaal ons ons lektuur in soveel tale?
-
-
Hoe word ons wêreldwye werk gefinansier?Wie doen vandag Jehovah se wil?
-
-
LES 24
Hoe word ons wêreldwye werk gefinansier?
Nepal
Togo
Brittanje
Ons organisasie publiseer en versprei elke jaar honderdmiljoene Bybels en ander publikasies kosteloos. Ons bou Koninkryksale en takkantore en hou dit in stand. Ons ondersteun duisende Betheliete en sendelinge, en ons verleen noodleniging wanneer rampe plaasvind. Dit laat jou dalk wonder: ‘Hoe word dit alles gefinansier?’
Ons samel nie tiendes in, vra nie ledegeld en neem nie kollektes op nie. Hoewel dit baie kos om ons evangelisasiewerk te ondersteun, bedel ons nooit vir geld nie. Meer as ’n eeu gelede het die tweede nommer van Die Wagtoring gesê dat ons glo dat Jehovah ons ondersteuner is en dat ons ‘nooit sal bedel of mense om ondersteuning sal smeek nie’—en ons het ook nooit nie!—Matteus 10:8.
Ons bedrywighede word deur vrywillige bydraes ondersteun. Baie mense waardeer ons Bybelonderrigtingswerk en gee bydraes hiervoor. Die Getuies self dra met graagte hulle tyd, energie, geld en ander middele by sodat God se wil op die hele aarde gedoen kan word (1 Kronieke 29:9). By die Koninkryksaal en by ons byeenkomste is daar bydraebussies waar diegene wat bydraes wil gee, dit kan doen. Of bydraes kan op ons webwerf jw.org gemaak word. Die geld wat ontvang word, kom hoofsaaklik van persone wat dit nie breed het nie, baie soos die arm weduwee wat twee muntstukkies in die tempelskatkis gegooi het en deur Jesus geprys is (Lukas 21:1-4). Enigiemand kan dus gereeld “iets opsysit” om te gee “net soos hy hom in sy hart voorgeneem het”.—1 Korintiërs 16:2; 2 Korintiërs 9:7.
Ons is daarvan oortuig dat Jehovah sal voortgaan om die harte te beweeg van diegene wat hom ‘met hulle waardevolle dinge wil eer’ deur die Koninkrykswerk te ondersteun, sodat sy wil gedoen kan word.—Spreuke 3:9.
Hoe verskil ons organisasie van ander godsdienste?
Hoe word die vrywillige bydraes gebruik?
-
-
Koninkryksale—Waarom en hoe word dit gebou?Wie doen vandag Jehovah se wil?
-
-
LES 25
Koninkryksale—Waarom en hoe word dit gebou?
Bolivia
Nigerië, ou en nuwe Koninkryksaal
Tahiti
Soos die naam Koninkryksaal te kenne gee, is die vernaamste Bybellering wat daar bespreek word, God se Koninkryk—die tema van Jesus se bediening.—Lukas 8:1.
Dit is sentrums van ware aanbidding in die gemeenskap. Hiervandaan word die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk uitgevoer (Matteus 24:14). Koninkryksale verskil in grootte en ontwerp, maar almal is beskeie geboue, waarvan baie deur meer as een gemeente gebruik word. In onlangse jare het ons tienduisende nuwe Koninkryksale gebou (gemiddeld vyf per dag) om met die toename in ons gemeentes tred te hou. Hoe is dit moontlik?—Matteus 19:26.
Dit word gebou met bydraes wat tot ’n sentrale fonds gemaak word. Hierdie bydraes word na die takkantoor gestuur sodat geld beskikbaar gestel kan word aan gemeentes wat ’n Koninkryksaal moet bou of opknap.
Dit word gebou deur onbetaalde vrywilligers uit alle agtergronde. In baie lande is Koninkryksaalbougroepe georganiseer. Spanne bouknegte en vrywilligers gaan in ’n land, selfs in afgeleë gebiede, van een gemeente na die ander om plaaslike gemeentes te help om hulle eie Koninkryksaal te bou. In ander lande is bekwame Getuies aangestel om toesig te hou oor die bou en opknapping van Koninkryksale in ’n toegewese gebied. Hoewel talle bedrewe ambagsmanne in die gebied hulle dienste by elke bouterrein vrywillig aanbied, bestaan die grootste deel van die vrywillige werkers uit lede van die plaaslike gemeente. Jehovah se gees en die heelhartige pogings van sy volk maak dit alles moontlik.—Psalm 127:1; Kolossense 3:23.
Waarom word ons plekke van aanbidding Koninkryksale genoem?
Hoe is dit moontlik om Koninkryksale wêreldwyd te bou?
-
-
Hoe kan ons help om ons Koninkryksaal in stand te hou?Wie doen vandag Jehovah se wil?
-
-
LES 26
Hoe kan ons help om ons Koninkryksaal in stand te hou?
Estland
Zimbabwe
Mongolië
Puerto Rico
Elke Koninkryksaal van Jehovah se Getuies dra God se heilige naam. Daarom voel ons dat dit ’n voorreg en ’n belangrike deel van ons heilige aanbidding is om te help om die gebou skoon, netjies en in ’n goeie toestand te hou. Almal kan daarmee help.
Bied aan om ná ’n vergadering te help skoonmaak. Ná elke vergadering maak broers en susters met graagte ’n bietjie skoon om die Koninkryksaal op te ruim. Een keer per week word dit deegliker skoongemaak. ’n Ouer man of ’n bedieningskneg koördineer die werk, gewoonlik deur ’n lys te volg van dinge wat gedoen moet word. Na gelang van wat nodig is, bied persone aan om die vloer te vee, te mop of te stofsuig, af te stof, die stoele reg te skuif, die badkamers skoon te maak en te ontsmet, vensters en spieëls te was, die vullis weg te gooi of buite skoon te maak en die erf op te ruim. Ten minste een keer per jaar word ’n groot skoonmaakdag gereël. As ons ons kinders by party pligte betrek, leer ons hulle om ons plek van aanbidding te respekteer.—Prediker 5:1.
Help met enige herstelwerk wat nodig is. Elke jaar word die binnekant sowel as die buitekant van die Koninkryksaal deeglik geïnspekteer. Op grond van hierdie inspeksie word gereelde instandhoudingswerk gedoen om die saal in ’n goeie toestand te hou, wat help om onnodige uitgawes te vermy (2 Kronieke 24:13; 34:10). ’n Koninkryksaal wat skoon en goed in stand gehou word, is ’n waardige plek om ons God te aanbid. Deur met hierdie werk te help, toon ons hoe na Jehovah en ons plek van aanbidding ons aan die hart lê (Psalm 122:1). Dit skep ook ’n goeie indruk in die gemeenskap.—2 Korintiërs 6:3.
Waarom moet ons nie ons plek van aanbidding verwaarloos nie?
Watter reëlings word getref om die Koninkryksaal skoon te hou?
-
-
Hoe kan ons baat vind by die Koninkryksaal se biblioteek?Wie doen vandag Jehovah se wil?
-
-
LES 27
Hoe kan ons baat vind by die Koninkryksaal se biblioteek?
Israel
Tsjeggiese Republiek
Benin
Kaaimanseilande
Wil jy navorsing doen om jou kennis van die Bybel uit te brei? Wil jy meer weet oor ’n sekere teks of ’n persoon, plek of ding wat in die Bybel gemeld word? Of het jy gewonder of God se Woord jou met ’n vraag van persoonlike belang kan help? Besoek dan die Koninkryksaal se biblioteek.
Dit het nuttige navorsingshulpe. Jy het self waarskynlik nie al die Bybelpublikasies van Jehovah se Getuies wat in jou taal beskikbaar is nie. Maar die biblioteek by die Koninkryksaal bevat die meeste van die jongste publikasies. Dit het moontlik ook ’n verskeidenheid Bybelvertalings, ’n goeie woordeboek en ander nuttige naslaanwerke. Jy is welkom om die biblioteek voor en ná vergaderinge te gebruik. As ’n rekenaar geïnstalleer is, is die Watchtower Library moontlik daarop. Dit is ’n elektroniese program wat baie van ons publikasies bevat, asook ’n gebruikersvriendelike soekfunksie deur middel waarvan jy ’n onderwerp, ’n woord of ’n teks kan opsoek.
Dit is nuttig vir studente in die Teokratiese Bedieningskool. Jy kan goed gebruik maak van die Koninkryksaal se biblioteek wanneer jy jou toewysings voorberei. Die opsiener van die Lewe en Bediening-vergadering hou toesig oor die biblioteek. Dit is sy verantwoordelikheid om seker te maak dat dit die jongste publikasies bevat en dat dit goed gerangskik is. Hy of jou Bybelonderrigter kan vir jou wys hoe om die inligting te vind wat jy nodig het. Maar geen boek moet uit die Koninkryksaal geneem word nie. En ons wil die boeke natuurlik versigtig hanteer en nie daarin skryf nie.
Die Bybel verduidelik dat ons, as ons “die kennis van God” wil vind, bereid moet wees om daarna te soek soos na “verborge skatte” (Spreuke 2:1-5). Die Koninkryksaal se biblioteek kan jou help om met jou soektog te begin.
Watter navorsingshulpe is beskikbaar in die Koninkryksaal se biblioteek?
Wie kan jou help om die beste gebruik te maak van die biblioteek?
-
-
Wat kan op ons webwerf gevind word?Wie doen vandag Jehovah se wil?
-
-
LES 28
Wat kan op ons webwerf gevind word?
Frankryk
Pole
Rusland
Jesus Christus het vir sy volgelinge gesê: “Laat julle lig . . . voor die mense skyn, sodat hulle julle goeie werke kan sien en heerlikheid kan gee aan julle Vader wat in die hemele is” (Matteus 5:16). Met dié doel maak ons goed gebruik van moderne tegnologie, insluitende die Internet. Ons webwerf, jw.org, is die amptelike aanlyn bron van inligting oor die godsdiensoortuigings en bedrywighede van Jehovah se Getuies. Wat is daar beskikbaar?
Die Bybel se antwoorde op algemene vrae. Jy kan die antwoorde vind op party van die belangrikste vrae wat mense nog gevra het. Byvoorbeeld, die traktate Sal lyding ooit tot ’n einde kom? en Kan die dooies werklik weer lewe? is aanlyn beskikbaar in meer as 600 tale. Jy kan ook die Nuwe Wêreld-vertaling in meer as 130 tale vind, asook ’n aantal Bybelstudiehulpe, insluitende die boek Wat leer die Bybel werklik? en die jongste nommers van Die Wagtoring en Ontwaak! Jy kan baie van hierdie publikasies aanlyn lees of daarna luister of dit in gewilde formate soos MP3, PDF of EPUB aflaai. Jy kan selfs vir ’n belangstellende ’n paar bladsye in sy eie taal uitdruk! Videopublikasies is in baie gebaretale beskikbaar. Jy kan gedramatiseerde Bybelvoorlesings, Bybeldramas en pragtige musiek aflaai waarna jy kan luister wanneer jy die tyd het.
Feitelike inligting oor Jehovah se Getuies. Die jongste nuus en videogrepe van ons wêreldwye werk, gebeure wat Jehovah se Getuies raak en ons humanitêre noodleniging word ook op die webwerf gesit. Jy kan kennisgewings van komende streekbyeenkomste en kontakbesonderhede van ons takkantore daar vind.
Só laat ons die lig van waarheid tot in die uithoeke van die aarde skyn. Mense op elke vasteland, selfs Antarktika, vind hierby baat. Ons bid dat “die woord van Jehovah voortdurend vinnig sal voortbeweeg” tot in alle wêrelddele, tot heerlikheid van God.—2 Tessalonisense 3:1.
Hoe help jw.org meer mense om Bybelwaarheid te leer?
Waarna wil jy graag op ons webwerf gaan kyk?
-