Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • Wat sal jy by ons Christelike vergaderinge ondervind?
    Wie doen vandag Jehovah se wil?
    • LES 5

      Wat sal jy by ons Christelike vergaderinge ondervind?

      ’n Vergadering van Jehovah se Getuies in Sierra Leone

      Argentinië

      ’n Vergadering van Jehovah se Getuies in Sierra Leone

      Sierra Leone

      ’n Vergadering van Jehovah se Getuies in België

      België

      ’n Vergadering van Jehovah se Getuies in Maleisië

      Maleisië

      Baie mense het opgehou om kerk toe te gaan omdat dit hulle geen geestelike leiding of vertroosting bied nie. Waarom moet jy dan die Christelike vergaderinge bywoon wat deur Jehovah se Getuies gereël word? Wat sal jy daar vind?

      Die vreugde om tussen liefdevolle en goedhartige mense te wees. In die eerste eeu is Christene in gemeentes georganiseer, en hulle het vergaderinge gehou om God te aanbid, die Skrif te bestudeer en mekaar aan te moedig (Hebreërs 10:24, 25). Omdat hulle in ’n liefdevolle atmosfeer bymekaargekom het, het hulle gevoel dat hulle tussen ware vriende is—hulle geestelike broers (2 Tessalonisense 1:3; 3 Johannes 14). Ons volg dieselfde patroon en ervaar soortgelyke vreugde.

      Die voordeel wat dit meebring wanneer jy leer hoe om Bybelbeginsels toe te pas. Soos in Bybeltye, vergader mans, vroue en kinders almal saam. Bekwame onderrigters gebruik die Bybel om ons te help om te sien hoe ons die beginsels daarin in ons daaglikse lewe kan toepas (Deuteronomium 31:12; Nehemia 8:8). Almal mag aan gehoorbesprekings deelneem en saamsing, wat ons die geleentheid bied om aan ons Christelike hoop uiting te gee.—Hebreërs 10:23.

      Die seën dat jou geloof in God versterk word. Die apostel Paulus het vir een van die gemeentes in sy dag gesê: “Ek verlang om julle te sien . . . , dat daar wedersydse aanmoediging onder julle kan wees, deurdat elkeen aangemoedig word deur middel van die ander een se geloof, julle s’n sowel as myne” (Romeine 1:11, 12). Ons gereelde kontak met medegelowiges by vergaderinge versterk ons geloof en ons vasbeslotenheid om ’n Christelike lewe te lei.

      Aanvaar gerus hierdie uitnodiging om ons gemeente se volgende vergadering by te woon en hierdie dinge self te ondervind. Jy sal hartlik verwelkom word. Alle vergaderinge is gratis—geen kollektes word ooit opgeneem nie.

      • Op watter voorbeeld word ons vergaderinge gebaseer?

      • Hoe kan ons onsself bevoordeel deur Christelike vergaderinge by te woon?

      VIND MEER UIT

      As jy graag die binnekant van die plaaslike Koninkryksaal wil sien voordat jy een van ons vergaderinge bywoon, kan jy een van Jehovah se Getuies vra om jou daarheen te neem en jou rond te wys.

  • Hoe strek assosiasie met mede-Christene ons tot voordeel?
    Wie doen vandag Jehovah se wil?
    • LES 6

      Hoe strek assosiasie met mede-Christene ons tot voordeel?

      Jehovah se Getuies assosieer met medegelowiges

      Madagaskar

      Een van Jehovah se Getuies help ’n mede-Christen

      Noorweë

      Christen- ouer manne besoek ’n medegelowige

      Libanon

      Jehovah se Getuies assosieer saam

      Italië

      Selfs al moet ons deur ’n digte woud trek of gure weer trotseer, ons woon ons Christelike vergaderinge gereeld by. Waarom span Jehovah se Getuies hulle in so mate in om met medegelowiges te assosieer, ondanks uitdagings van die lewe en moegheid ná ’n dag se werk?

      Dit is goed vir ons welstand. ‘Gee ag op mekaar’, het Paulus geskryf aangaande diegene met wie ons in die gemeente assosieer (Hebreërs 10:24). Hierdie uitdrukking beteken “om noukeurig te dink aan”, dit wil sê om mekaar te leer ken. Die apostel se woorde spoor ons dus aan om besorg te wees oor ander. Wanneer ons ander Christengesinne leer ken, ontdek ons dat party van hulle probleme soortgelyk aan dié wat ons ervaar, met welslae die hoof gebied het en dat hulle ons kan help om dit ook te doen.

      Dit bou blywende vriendskappe. By ons vergaderinge kom ons nie met blote kennisse bymekaar nie, maar met ’n groep hegte vriende. By ander geleenthede geniet ons heilsame ontspanning saam. Watter voordelige uitwerking het sulke assosiasie? Ons leer om mekaar meer te waardeer, en dit versterk die liefdesband tussen ons. Wanneer ons broers en susters dan met probleme te kampe het, help ons hulle sonder aarseling omdat ons ’n hegte vriendskap opgebou het (Spreuke 17:17). Deur met al die lede van ons gemeente te assosieer, toon ons dat ons ‘dieselfde sorg vir mekaar dra’.—1 Korintiërs 12:25, 26.

      Ons spoor jou aan om diegene wat God se wil doen, as jou vriende te kies. Jy sal sulke vriende onder Jehovah se Getuies vind. Moet asseblief nie dat enigiets jou verhinder om met ons te assosieer nie.

      • Waarom strek dit ons tot voordeel om by die vergaderinge met mekaar te assosieer?

      • Wanneer wil jy ons gemeente leer ken?

  • Wat gebeur by ons vergaderinge?
    Wie doen vandag Jehovah se wil?
    • LES 7

      Wat gebeur by ons vergaderinge?

      ’n Vergadering van Jehovah se Getuies in Nieu-Seeland

      Nieu-Seeland

      ’n Vergadering van Jehovah se Getuies in Japan

      Japan

      ’n Jong Getuie in Uganda lees die Bybel

      Uganda

      Twee Getuies in Litaue demonstreer ’n Bybelbespreking

      Litaue

      Vroeë Christelike vergaderinge het hoofsaaklik bestaan uit liedere, gebede en die voorlesing en bespreking van die Skrif—sonder enige ritueel (1 Korintiërs 14:26). Jy kan iets baie soortgelyks by ons vergaderinge verwag.

      Die onderrigting is op die Bybel gebaseer en prakties. Oor die naweek kom elke gemeente bymekaar om te luister na ’n 30 minuut lange Bybeltoespraak oor hoe die Skrif verband hou met ons lewe en met die tyd waarin ons lewe. Ons word almal aangespoor om in ons Bybel te volg wanneer tekste gelees word. Ná die toespraak is daar ’n uur lange “Wagtoring”-studie, waartydens lede van die gemeente welkom is om deel te neem aan ’n bespreking van ’n artikel in die studie-uitgawe van Die Wagtoring. Hierdie bespreking help ons om die Bybel se riglyne in ons lewe toe te pas. Dieselfde materiaal word in elkeen van die meer as 110 000 gemeentes regoor die aarde bestudeer.

      Ons word gehelp om ons onderrigvaardighede te verbeter. Ons kom ook op ’n aand gedurende die week bymekaar vir ’n driedelige program met die titel Ons Christelike Lewe en Bediening-vergadering. Dit is op inligting in ’n maandelikse Lewe en Bediening-werkboek gebaseer. Die eerste deel van hierdie vergadering, Skatte uit God se Woord, help ons om bekend te word met ’n gedeelte uit die Bybel wat die gemeente vooraf lees. Die deel daarna, Lê Jou Toe op die veldbediening, sluit demonstrasies in wat toon hoe om die Bybel met ander te bespreek. ’n Raadgewer lewer kommentare wat ons help om ons lees- en spraakvaardighede te verbeter (1 Timoteus 4:13). Die laaste deel, Die Christelike Lewenswyse, bespreek die praktiese toepassing van Bybelbeginsels in ons daaglikse lewe. Dit sluit ’n vraag-en-antwoord-bespreking in wat ons begrip van die Bybel verbeter.

      Wanneer jy ons vergaderinge bywoon, sal jy ongetwyfeld beïndruk wees met die gehalte van Bybelonderrig wat jy ontvang.—Jesaja 54:13.

      • Wat kan jy verwag om by die vergaderinge van Jehovah se Getuies te hoor?

      • Watter van ons weeklikse vergaderinge wil jy hierna bywoon?

      VIND MEER UIT

      Kyk na van die materiaal wat by die volgende paar vergaderinge bespreek sal word. Let op wat jy uit die Bybel sal kan leer wat in jou daaglikse lewe nuttig kan wees.

  • Waarom trek ons netjies aan vir ons vergaderinge?
    Wie doen vandag Jehovah se wil?
    • LES 8

      Waarom trek ons netjies aan vir ons vergaderinge?

      ’n Vader en sy seun maak gereed vir ’n gemeentelike vergadering

      Ysland

      ’n Moeder en haar dogter maak gereed vir ’n vergadering

      Mexiko

      Netjies geklede Getuies van Jehovah in Guinee-Bissau

      Guinee-Bissau

      ’n Gesin in die Filippyne stap na ’n vergadering toe

      Filippyne

      Het jy in die prente in hierdie brosjure opgemerk hoe netjies aangetrek Jehovah se Getuies is wanneer hulle hulle gemeentelike vergaderinge bywoon? Waarom skenk ons soveel aandag aan ons kleredrag en persoonsversorging?

      Om respek vir ons God te toon. Dit is waar dat God verder as ons uiterlike voorkoms kyk (1 Samuel 16:7). Maar wanneer ons bymekaarkom om hom te aanbid, is dit ons opregte begeerte om respek vir hom sowel as vir ons mede-aanbidders te toon. As ons voor ’n regter in die hof moet verskyn, sal ons uit agting vir sy posisie waarskynlik aandag skenk aan ons voorkoms. Net so getuig ons voorkoms by die vergaderinge van ons agting vir “die Regter van die hele aarde”, Jehovah God, en vir die plek waar ons hom aanbid.—Genesis 18:25.

      Om te toon volgens watter waardes ons lewe. Die Bybel spoor Christene aan om “met beskeidenheid en gesonde verstand” aan te trek soos diegene wat “God vereer” (1 Timoteus 2:9, 10). As ons “met beskeidenheid” aantrek, beteken dit dat ons kleredrag vermy wat moontlik die aandag op ons sal vestig omdat dit opvallend, verleidelik of gewaagd is. En as ons “gesonde verstand” het, help dit ons om aantreklike klere te kies wat nie slordig of uitspattig is nie. Hierdie beginsels laat nog steeds ruimte vir ’n groot verskeidenheid persoonlike keuses. Sonder om ’n woord te sê, kan ons aantreklike en smaaklike voorkoms ‘die leer van ons Redder versier’ en ‘God verheerlik’ (Titus 2:10; 1 Petrus 2:12). As ons netjies aantrek vir die vergaderinge, het ons dus ’n invloed op hoe ander die aanbidding van Jehovah beskou.

      Moenie dat jou klere verhinder dat jy vergaderinge by die Koninkryksaal bywoon nie. Ons klere hoef nie duur of deftig te wees om gepas, skoon en fatsoenlik te wees nie.

      • Hoe belangrik is ons kleredrag wanneer ons God aanbid?

      • Watter beginsels rig ons keuse van kleredrag en persoonsversorging?

  • Wat is die beste manier om vir die vergaderinge voor te berei?
    Wie doen vandag Jehovah se wil?
    • LES 9

      Wat is die beste manier om vir die vergaderinge voor te berei?

      Een van Jehovah se Getuies berei voor vir ’n gemeentelike vergadering

      Kambodja

      Een van Jehovah se Getuies berei voor vir ’n gemeentelike vergadering
      Een van Jehovah se Getuies neem deel aan ’n gemeentelike vergadering

      Die Oekraïne

      As jy die Bybel saam met een van Jehovah se Getuies studeer, probeer jy waarskynlik om die materiaal voor elke studie deur te gaan. Om die grootste nut uit ’n gemeentelike vergadering te put, is dit goed om dieselfde te doen voordat jy dit bywoon. Die beste resultate word behaal wanneer ons ’n goeie roetine aanleer.

      Besluit wanneer en waar om te studeer. Wanneer konsentreer jy die beste? Vroeg in die oggend voordat jy met jou dag se werk begin of later in die aand nadat die kinders bed toe gegaan het? Selfs al kan jy nie vir lang tydperke studeer nie, besluit hoeveel tyd jy opsy kan sit en probeer verhoed dat enigiets daarop inbreuk maak. Soek ’n stil plek, en raak ontslae van alle afleidings deur die radio, televisie en selfoon af te skakel. As jy bid voordat jy studeer, sal dit verligting van die dag se sorge bied sodat jy op God se Woord kan konsentreer.—Filippense 4:6, 7.

      Merk die materiaal, en berei voor om deel te neem. Begin deur ’n geheelbeeld van die onderwerp te kry. Dink na oor die titel van die artikel of hoofstuk, kyk hoe elke onderhofie met dié titel verband hou, bestudeer die prente en let op die hersieningsvrae wat die hoofgedagtes beklemtoon. Lees dan elke paragraaf, en soek die antwoord op die gedrukte vraag. Slaan die teksverwysings na en lees dit, en dink aan hoe dit die materiaal ondersteun (Handelinge 17:11). Wanneer jy die vraag kan beantwoord, moet jy ’n paar sleutelwoorde of frases in die paragraaf wat jou aan die antwoord sal herinner, onderstreep of met ’n neonpen merk. Dan kan jy by die vergadering jou hand opsteek as jy wil en in jou eie woorde ’n kort antwoord gee.

      Deur die verskillende onderwerpe wat elke week by die vergadering bespreek word, te ondersoek, sal jy nuwe gedagtes by jou “skatkamer” van Bybelkennis voeg.—Matteus 13:51, 52.

      • Watter roetine kan jy aanleer om vir die vergaderinge voor te berei?

      • Hoe kan jy voorberei om by die vergadering ’n antwoord te gee?

      VIND MEER UIT

      Berei vir die Wagtoring-studie of die Gemeentelike Bybelstudie voor deur die metode te gebruik wat hierbo uiteengesit word. Berei, met die hulp van jou Bybelonderrigter, ’n antwoord voor wat jy by die volgende vergadering kan gee.

  • Wat is gesinsaanbidding?
    Wie doen vandag Jehovah se wil?
    • LES 10

      Wat is gesinsaanbidding?

      ’n Gesin geniet gesinsaanbidding

      Suid-Korea

      ’n Egpaar studeer die Bybel saam

      Brasilië

      Een van Jehovah se Getuies bestudeer die Bybel

      Australië

      ’n Gesin bespreek ’n Bybelonderwerp

      Guinee

      Van die vroegste tye af wou Jehovah hê dat elke gesin tyd saam moet deurbring om hulle geestelikheid op te bou en die gesinsband te versterk (Deuteronomium 6:6, 7). Daarom sit Jehovah se Getuies elke week tyd opsy vir die gesin om saam te aanbid—om in ’n ontspanne atmosfeer geestelike sake te bespreek wat in hulle spesifieke behoeftes voorsien. Selfs al woon jy alleen, kan hierdie tyd goed saam met God deurgebring word deur aan ’n Bybelstudieprojek van jou keuse te werk.

      Dit is ’n tyd om nader aan Jehovah te kom. “Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom” (Jakobus 4:8). Ons leer Jehovah beter ken wanneer ons uit sy geskrewe Woord besonderhede oor sy persoonlikheid en sy dade leer. ’n Maklike manier om julle gesinsaanbidding te begin, is onder andere deur die Bybel saam hardop te lees, miskien deur die weeklikse rooster vir die Lewe en Bediening-vergadering te volg. Elke gesinslid kan gevra word om ’n toegewese deel te lees, en dan kan julle bespreek wat julle uit die Skrif geleer het.

      Dit is ’n tyd om as ’n gesin nader aan mekaar te kom. Huweliksmaats, sowel as ouers en kinders, versterk hulle bande met mekaar wanneer hulle die Bybel as ’n gesin bestudeer. Dit moet ’n gelukkige, vreedsame tyd en ’n hoogtepunt van die week wees. Na gelang van die ouderdomme van hulle kinders kan ouers praktiese onderwerpe vir bespreking kies, miskien deur artikels uit Die Wagtoring en Ontwaak!, of ons webwerf jw.org, te gebruik. Julle kan praat oor ’n probleem wat julle kinders by die skool ondervind het en hoe dit te bowe gekom kan word. Julle kan ook ’n program op JW BROADCASTING (tv.jw.org) saam kyk en dit bespreek. Dit sal dalk ook vir julle aangenaam wees om die liedere te oefen wat by die vergaderinge gesing sal word en om verversings ná gesinsaanbidding te geniet.

      Hierdie spesiale tyd wat julle elke week daaraan bestee om Jehovah saam te aanbid, sal almal in die gesin help om behae in God se Woord te skep, en hy sal julle pogings ryklik seën.—Psalm 1:1-3.

      • Waarom sit ons tyd opsy vir gesinsaanbidding?

      • Hoe kan ouers hierdie geleentheid genotvol maak vir almal in die gesin?

      VIND MEER UIT

      Kry ’n paar idees by ander in die gemeente oor wat hulle vir hulle gesinsaanbidding doen. Vind ook uit watter publikasies by die Koninkryksaal beskikbaar is wat gebruik kan word om julle kinders van Jehovah te leer.

  • Waarom woon ons groot byeenkomste by?
    Wie doen vandag Jehovah se wil?
    • LES 11

      Waarom woon ons groot byeenkomste by?

      ’n Streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies in Mexiko

      Mexiko

      ’n Publikasie word by ’n streekbyeenkoms in Duitsland vrygestel

      Duitsland

      Jehovah se Getuies by ’n streekbyeenkoms in Botswana

      Botswana

      ’n Jong man word gedoop in Nicaragua

      Nicaragua

      ’n Drama by ’n streekbyeenkoms in Italië

      Italië

      Waarom is daar soveel vreugde op hierdie mense se gesigte? Hulle woon een van ons byeenkomste by. Soos God se knegte in die ou tyd, wat beveel is om drie keer per jaar te vergader, sien ons daarna uit om in groter groepe bymekaar te kom (Deuteronomium 16:16). Ons het elke jaar drie geleenthede: twee kringbyeenkomste van een dag elk en ’n driedaagse streekbyeenkoms. Hoe vind ons baat by hierdie samekomste?

      Dit versterk ons Christenbroederskap. Net soos dit die Israeliete vreugde verskaf het om Jehovah “onder die versamelde menigtes” te loof, geniet ons dit ook om hom by spesiale geleenthede saam te aanbid (Psalm 26:12; 111:1). Hierdie samekomste skep ’n geleentheid om Getuies van ander gemeentes of selfs van ander lande te ontmoet en met hulle te assosieer. Tydens die middagpouse geniet ons dit om by die byeenkomsterrein saam te eet, wat tot die vriendelike atmosfeer van hierdie geestelike geleenthede bydra (Handelinge 2:42). Daar ervaar ons persoonlik die liefde wat ons “hele gemeenskap van broers” in die wêreld verenig.—1 Petrus 2:17.

      Dit help ons om geestelike vooruitgang te maak. Die Israeliete het ook daarby baat gevind deur ‘die woorde van die Skrif te verstaan’ wat vir hulle uitgelê is (Nehemia 8:8, 12). Ons waardeer ook die Bybelonderrig wat ons by ons byeenkomste ontvang. Elke program is op ’n skriftuurlike tema gebaseer. Deur middel van interessante toesprake, simposiums en demonstrasies leer ons hoe om God se wil in ons lewe te doen. Ons word aangemoedig wanneer ons die ondervindinge hoor van diegene wat die uitdaging om in hierdie moeilike tye as Christene te lewe, met welslae die hoof bied. By streekbyeenkomste laat kostuumdramas Bybelverslae lewe, en dit leer ons praktiese lesse. By elke byeenkoms is daar ’n doopgeleentheid vir diegene wat hulle toewyding aan God wil simboliseer.

      • Waarom is die byeenkomste vreugdevolle geleenthede?

      • Hoe kan jy daarby baat vind om ’n byeenkoms by te woon?

      VIND MEER UIT

      As jy ons broederskap beter wil leer ken, kan jy gerus ons volgende byeenkoms bywoon. Jou Bybelonderrigter kan vir jou die gedrukte program van die vorige byeenkoms wys sodat jy kan sien watter soort onderwerpe bespreek word. Teken op jou kalender aan wanneer en waar die volgende byeenkoms gehou sal word, en woon dit by as jy kan.

  • Hoe word ons Koninkrykspredikingswerk georganiseer?
    Wie doen vandag Jehovah se wil?
    • LES 12

      Hoe word ons Koninkrykspredikingswerk georganiseer?

      Jehovah se Getuies preek van huis tot huis

      Spanje

      Een van Jehovah se Getuies preek in ’n park

      Belarus

      Een van Jehovah se Getuies preek oor die telefoon

      Hongkong

      Jehovah se Getuies in die openbare bediening

      Peru

      Kort voor sy dood het Jesus aangekondig: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Matteus 24:14). Maar hoe sou hierdie wêreldwye predikingswerk uitgevoer word? Deur die voorbeeld te volg wat Jesus gestel het toe hy op die aarde was.—Lukas 8:1.

      Ons probeer met mense in aanraking kom by hulle huis. Jesus het sy dissipels opgelei om die goeie nuus van huis tot huis te verkondig (Matteus 10:11-13; Handelinge 5:42; 20:20). Daardie eerste-eeuse evangeliedienaars is spesifieke gebiede toegewys om in te preek (Matteus 10:5, 6; 2 Korintiërs 10:13). Vandag word ons predikingswerk ook goed georganiseer, en elke gemeente word ’n toegewese gebied gegee om te dek. Dit stel ons in staat om Jesus se opdrag uit te voer om “vir die volk te preek en om ’n deeglike getuienis te gee”.—Handelinge 10:42.

      Ons probeer mense bereik waar hulle ook al gevind kan word. Jesus het ook die voorbeeld gestel deur vir mense in openbare plekke te preek, soos op die seestrand of by ’n gemeenskaplike put (Markus 4:1; Johannes 4:5-15). Ons praat ook met mense oor die Bybel oral waar ons kan—op straat, by besigheidsplekke, in parke of oor die telefoon. Ons getuig ook vir ons bure, werksmaats, klasmaats en familielede wanneer ’n gepaste geleentheid hom voordoen. Al hierdie gesamentlike pogings het dit moontlik gemaak vir miljoene mense regoor die aarde om “die goeie nuus van redding” te hoor.—Psalm 96:2.

      Kan jy aan iemand dink vir wie jy graag wil vertel van die goeie nuus van God se Koninkryk en wat hierdie nuus vir hulle toekoms beteken? Moenie stilbly oor hierdie boodskap van hoop nie. Vertel hulle so gou moontlik daarvan!

      • Watter “goeie nuus” moet verkondig word?

      • Hoe volg Jehovah se Getuies Jesus se predikingsmetode na?

      VIND MEER UIT

      Vra jou Bybelonderrigter om te demonstreer hoe jy een van jou kennisse op taktvolle wyse kan vertel van iets wat jy uit die Bybel geleer het.

  • Wat is ’n pionier?
    Wie doen vandag Jehovah se wil?
    • LES 13

      Wat is ’n pionier?

      ’n Voltydse evangeliedienaar in die openbare bediening

      Kanada

      Voltydse evangeliedienaars in die predikingswerk

      Huis tot huis

      Pionierbedienaars hou ’n Bybelstudie

      Bybelstudie

      ’n Pionierbedienaar bestudeer die Bybel

      Persoonlike studie

      Die woord “pionier” verwys dikwels na diegene wat nuwe gebiede verken en die weg baan vir ander om te volg. Jesus was in sekere sin ’n pionier deurdat hy na die aarde gestuur is om ’n lewegewende bediening uit te voer en die weg tot redding te baan (Matteus 20:28). Vandag volg sy volgelinge hom na deur soveel tyd moontlik daaraan te wy om ‘dissipels te maak’ (Matteus 28:19, 20). Party is in staat om deel te neem aan wat ons die pionierdiens noem.

      ’n Pionier is ’n voltydse evangeliedienaar. Al Jehovah se Getuies is verkondigers van die goeie nuus. Maar party het hulle lewe gereël sodat hulle as gewone pioniers kan dien, wat elke maand 70 uur in die predikingswerk deurbring. Om dit te doen, doen baie net deeltydse sekulêre werk. Ander word gekies om as spesiale pioniers te dien in gebiede waar meer Koninkryksverkondigers nodig is, en hulle wy elke maand 130 uur of meer aan die bediening. Die pioniers is tevrede met ’n beskeie lewenstyl, in die vertroue dat Jehovah hulle van die lewensbenodigdhede sal voorsien (Matteus 6:31-33; 1 Timoteus 6:6-8). Diegene wat nie voltyds kan pionier nie, kan as hulppioniers dien wanneer dit moontlik is en hulle predikingswerk tot 30 of 50 uur per maand uitbrei.

      ’n Pionier word deur liefde vir God en vir mense beweeg. Soos Jesus, sien ons die benarde geestelike toestand waarin baie hulle vandag bevind (Markus 6:34). Maar ons het kennis wat hulle nou kan help en hulle ’n vaste hoop vir die toekoms kan gee. Naasteliefde beweeg ’n pionier om mildelik van sy tyd en energie te gee om ander geestelik te help (Matteus 22:39; 1 Tessalonisense 2:8). Gevolglik word sy geloof versterk, kom hy nader aan God en ervaar hy groot geluk.—Handelinge 20:35.

      • Hoe sal jy ’n pionier beskryf?

      • Wat beweeg party om voltyds te pionier?

  • Watter opleiding ontvang pioniers?
    Wie doen vandag Jehovah se wil?
    • LES 14

      Watter opleiding ontvang pioniers?

      Voltydse bedienaars neem aan die bediening deel

      Verenigde State

      Studente woon die Wagtoring-Bybelskool Gilead by
      Studente berei vir sendingdiens voor

      Die Gileadskool, Patterson, New York

      ’n Sendelingegpaar preek in Panama

      Panama

      Teokratiese opleiding was nog altyd ’n kenmerk van Jehovah se Getuies. Spesiale opleiding word voorsien aan diegene wat al hulle tyd aan die Koninkrykspredikingswerk wy sodat hulle hulle ‘bediening ten volle kan uitvoer’.—2 Timoteus 4:5.

      Pionierdiensskool. Teen die einde van ’n gewone pionier se eerste jaar van voltydse diens word hy of sy genooi om ’n ses dae lange skool by te woon wat dalk by ’n nabygeleë Koninkryksaal gehou word. Die doel daarvan is om die pionier te help om nader aan Jehovah te kom, doeltreffender in alle aspekte van die bediening te word en getrou te volhard in sy of haar diens.

      Skool vir Koninkrykspredikers. Hierdie skool, wat twee maande duur, is bedoel om ervare pioniers op te lei wat bereid is om hulle tuiste te verlaat sodat hulle kan dien waar daar ook al meer hulp nodig is. Hulle sê as ’t ware: “Hier is ek! Stuur my” in navolging van die grootste Koninkryksprediker wat nog ooit op die aarde gedien het, Jesus Christus (Jesaja 6:8; Johannes 7:29). Om ver van die huis af te trek, behels dalk dat iemand by ’n eenvoudiger lewenswyse moet aanpas. Die kultuur, klimaat en kos is dalk heeltemal anders as waaraan ’n mens gewoond is. Dit is dalk selfs nodig om ’n nuwe taal te leer. Hierdie skool help ongetroude broers en susters en getroude paartjies tussen die ouderdomme van 23 en 65 om die geestelike eienskappe aan te kweek wat hulle in hulle toewysing nodig sal hê, asook die vaardighede wat hulle in staat sal stel om in groter mate deur Jehovah en sy organisasie gebruik te word

      Wagtoring-Bybelskool Gilead. In Hebreeus beteken “Gilead” “hoop getuienis”. Sedert Gilead in 1943 gestig is, is meer as 8 000 gegradueerdes van die skool as sendelinge uitgestuur om tot “aan die einde van die aarde” te getuig—met groot sukses (Hand. 13:47). Toe die eerste gegradueerdes in Peru aangekom het, was daar geen gemeentes in die land nie. Nou is daar meer as 1 000 gemeentes. Toe ons sendelinge in Japan begin dien het, was daar minder as tien Getuies in die land. Nou is daar meer as 200 000. Die vyf maande lange Gileadkursus sluit ’n deeglike studie van God se Woord in. Diegene wat as spesiale pioniers of veldsendelinge dien of by ’n takkantoor of in die kringwerk is, word na hierdie skool genooi sodat hulle intensiewe opleiding kan ontvang wat sal help om die wêreldwye werk te stabiliseer en te versterk.

      • Wat is die doel van die Pionierdiensskool?

      • Vir wie word die Skool vir Koninkrykspredikers gehou?

Afrikaanse publikasies (1975-2025)
Meld af
Meld aan
  • Afrikaans
  • Deel
  • Voorkeure
  • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
  • Gebruiksvoorwaardes
  • Privaatheidsbeleid
  • Privaatheidsinstellings
  • JW.ORG
  • Meld aan
Deel