-
Sy het opgekom vir God se volkVolg hulle geloof na
-
-
HOOFSTUK VYFTIEN
Sy het opgekom vir God se volk
1-3. (a) Waarom was dit moontlik vir Ester ’n intimiderende vooruitsig om na haar man toe te gaan? (b) Watter vrae aangaande Ester sal ons bespreek?
ESTER het haar bonsende hart probeer kalmeer terwyl sy na die voorhof in die paleis in Susan loop. Dit was nie maklik nie. Alles omtrent die kasteel was bedoel om ontsag te wek—die veelkleurige reliëfafbeeldings van gevleuelde bulle, boogskutters en leeus van glasuursteen, die gegroefde klippilare en indrukwekkende standbeelde, selfs die ligging van die gebou op groot platforms naby die sneeubedekte Zagros-gebergte, met ’n uitsig oor die skoon waters van die Choaspes-rivier. Alles sou besoekers herinner aan die ontsaglike mag van die man na wie Ester op pad was, die een wat homself “die groot koning” genoem het. Hy was ook haar man.
2 Haar man! Hoe het Ahasveros tog verskil van die soort man wat enige getroue Joodse meisie dalk verwag het om te hê!a Hy het nie voorbeelde gevolg soos Abraham, ’n man wat nederig God se instruksie gehoorsaam het om na Sara, sy vrou, te luister nie (Gen. 21:12). Die koning het min of niks van Ester se God, Jehovah, of van Sy Wet, geweet nie. Ahasveros het egter die Persiese wet geken, insluitende ’n wet wat verbied het juis wat Ester op die punt gestaan het om te doen. Wat was dit? Wel, die wet het gesê dat enigiemand wat voor die Persiese monarg verskyn sonder om deur die koning ontbied te word, tereggestel kan word. Ester is nie ontbied nie, maar sy was in elk geval op pad na die koning toe. Toe sy naby die binneste voorhof kom, waar sy van die koning se troon sigbaar sou wees, het sy dalk gevoel dat sy haar dood tegemoetloop.—Lees Ester 4:11; 5:1.
3 Waarom het sy haar aan hierdie gevaar blootgestel? En wat kan ons uit die geloof van hierdie merkwaardige vrou leer? Kom ons kyk eers hoe Ester in die buitengewone situasie beland het dat sy ’n koningin in Persië was.
Ester se agtergrond
4. Wat was Ester se agtergrond, en waarom het sy by haar neef Mordegai gewoon?
4 Ester was ’n weeskind. Ons weet baie min van die ouers wat haar Hadassa genoem het, ’n Hebreeuse woord vir “mirt”, ’n mooi struik met wit blomme. Toe Ester se ouers gesterf het, het ’n familielid, ’n goedhartige man met die naam Mordegai, hom oor die kind ontferm. Mordegai was haar neef, maar hy was baie ouer as sy. Hy het Ester ingeneem en haar soos sy eie dogter behandel.—Est. 2:5-7, 15.
Mordegai het goeie rede gehad om trots te wees op sy aangenome dogter
5, 6. (a) Hoe het Mordegai Ester grootgemaak? (b) Watter soort lewe het Ester en Mordegai in Susan gelei?
5 Mordegai en Ester het as Joodse ballinge in daardie Persiese hoofstad gewoon, waar daar waarskynlik op hulle neergesien is weens hulle godsdiens en die Wet wat hulle probeer volg het. Maar Ester het sekerlik nader aan haar neef gekom terwyl hy haar geleer het van Jehovah, die barmhartige God wat Sy volk dikwels in die verlede uit die moeilikheid gered het—en dit weer sou doen (Lev. 26:44, 45). ’n Band van liefde en lojaliteit het ongetwyfeld tussen Ester en Mordegai ontwikkel.
6 Mordegai het blykbaar as ’n amptenaar by die kasteel in Susan gewerk, waar hy gereeld saam met ander knegte van die koning in die poort gesit het (Est. 2:19, 21; 3:3). Ons weet nie hoe die jong Ester haar tyd deurgebring het terwyl sy grootgeword het nie, maar ons kan met redelike sekerheid sê dat sy goed na haar ouer neef en sy huis omgesien het, wat waarskynlik in die meer beskeie buurt oorkant die rivier van die koninklike kasteel geleë was. Miskien het sy dit geniet om na die mark in Susan te gaan, waar goudsmede, silwersmede en ander handelaars hulle ware ten toon gestel het. Ester het sekerlik nooit gedink dat sulke luukshede later vir haar iets alledaags sou word nie; sy het geen idee gehad van wat die toekoms vir haar ingehou het nie.
“Pragtig in voorkoms”
7. Waarom is Vasti as koningin onttroon, en wat was die gevolg?
7 Eendag het Susan gegons van skinderpraatjies oor moeilikheid in die koning se huishouding. By ’n groot fees, waartydens Ahasveros sy edelmanne met heerlike kos en wyn onthaal het, het die koning besluit om sy pragtige koningin, Vasti, wat elders saam met die vroue feesgevier het, te ontbied. Maar Vasti het geweier om te kom. Verneder en woedend het die koning sy raadgewers gevra hoe Vasti gestraf moet word. Die gevolg? Sy is as koningin onttroon. Die koning se knegte het oral in die land na pragtige jong maagde begin soek; een van hulle sou deur die koning as sy nuwe koningin gekies word.—Est. 1:1–2:4.
8. (a) Waarom was Mordegai dalk besorg oor Ester terwyl sy grootgeword het? (b) Hoe dink jy kan ons die Bybel se gebalanseerde beskouing van fisiese skoonheid toepas? (Sien ook Spreuke 31:30.)
8 Ons kan ons voorstel hoe Mordegai van tyd tot tyd liefdevol na Ester gekyk het en met gemengde gevoelens van trots en besorgdheid opgemerk het dat sy jong niggie nie meer ’n kind is nie—sy het ’n beeldskone vrou geword. “Die jong vrou was mooi van gestalte en pragtig in voorkoms”, lees ons (Est. 2:7). Die Bybel bied ’n gebalanseerde beskouing van fisiese skoonheid—dit is iets pragtigs, maar dit moet met wysheid en nederigheid gepaardgaan. Andersins kan dit tot verwaandheid, trots en ander lelike eienskappe van die hart lei. (Lees Spreuke 11:22.) Het jy dit al ooit sien gebeur? Wat sou skoonheid in Ester se geval wees—’n voordeel of ’n nadeel? Die tyd sou leer.
9. (a) Wat het gebeur toe die koning se knegte Ester opgemerk het, en waarom moes haar afskeid van Mordegai moeilik gewees het? (b) Waarom het Mordegai Ester toegelaat om met ’n heidense ongelowige te trou? (Sluit die venster in.)
9 Die koning se knegte het Ester opgemerk. Hulle het haar dus van Mordegai af weggeneem, na die groot paleis oorkant die rivier (Est. 2:8). Dit moes ’n moeilike afskeid gewees het, want die twee was soos vader en dogter. Mordegai sou nie wou gehad het dat sy aangenome dogter met ’n ongelowige moet trou nie, nie eens ’n koning nie, maar dit was buite sy beheer.b Hoe aandagtig moes Ester tog na Mordegai se raad geluister het voordat sy weggeneem is! Terwyl sy na die kasteel Susan geneem is, het baie vrae deur haar gedagtes gemaal. Watter soort lewe het op haar gewag?
Sy het “guns gevind in die oë van almal wat haar gesien het”
10, 11. (a) Watter uitwerking kon Ester se nuwe milieu maklik op haar gehad het? (b) Hoe het Mordegai getoon dat hy besorg is oor Ester se welsyn?
10 Ester is in ’n wêreld ingebring wat vir haar heeltemal nuut en vreemd was. Sy was een van “talle jong vroue” wat van heinde en verre in die Persiese Ryk bymekaargebring is. Hulle gebruike, tale en gesindhede het ongetwyfeld grootliks verskil. Die jong vroue, wat onder die toesig van ’n amptenaar met die naam Hegai geplaas is, sou ’n jaar lank intensiewe skoonheidsbehandeling ondergaan, wat massering met welriekende olies ingesluit het (Est. 2:8, 12). So ’n milieu en lewenstyl kon maklik by hierdie jong vroue ’n obsessie met hulle voorkoms laat ontstaan het en hulle ook verwaand en mededingend laat word het. Watter uitwerking het dit op Ester gehad?
11 Niemand op aarde was meer besorg oor Ester as Mordegai nie. Ons lees dat hy dag ná dag tot so naby moontlik aan die huis van die vroue gegaan het en probeer uitvind het hoe dit met Ester gaan (Est. 2:11). Wanneer hy af en toe iets van haar gehoor het, moontlik deur middel van behulpsame knegte in die huishouding, het hy ongetwyfeld gestraal van vaderlike trots. Waarom?
12, 13. (a) Watter indruk het Ester op die mense om haar gemaak? (b) Waarom sou Mordegai bly gewees het om uit te vind dat Ester nie haar Joodse herkoms geopenbaar het nie?
12 Ester het Hegai so beïndruk dat hy haar met groot liefderyke goedhartigheid behandel het en haar sewe diensmeisies sowel as die beste plek in die huis van die vroue gegee het. Die verslag sê selfs: “Die hele tyd het Ester steeds guns gevind in die oë van almal wat haar gesien het” (Est. 2:9, 15). Sou skoonheid alleen almal so diep beïndruk het? Nee, daar het baie meer in Ester gesteek.
Ester het geweet dat nederigheid en wysheid baie belangriker is as fisiese voorkoms
13 Ons lees byvoorbeeld: “Ester het niks vertel van haar volk of haar familielede nie, want Mordegai het haar beveel om dit nie te vertel nie” (Est. 2:10). Mordegai het vir die jong vrou gesê om te swyg oor haar Joodse herkoms; hy het ongetwyfeld gesien dat daar in die Persiese koningshuis groot vooroordeel teenoor sy volk was. Hoe bly moes dit hom tog gemaak het om uit te vind dat Ester nog net so wys en gehoorsaam was soos altyd, al was sy nie meer onder sy toesig nie!
14. Hoe kan jongmense vandag Ester se voorbeeld volg?
14 Jongmense kan vandag ook hulle ouers en voogde se hart verbly. Wanneer hulle nie by hulle ouers is nie—selfs al is hulle omring deur oppervlakkige, onsedelike of boosaardige mense—kan hulle slegte invloede weerstaan en bly by die standaarde wat hulle weet reg is. Wanneer hulle dit doen, maak hulle, net soos Ester, die hart van hulle hemelse Vader bly.—Lees Spreuke 27:11.
15, 16. (a) Hoe het Ester die koning se liefde gewen? (b) Waarom was die veranderinge in Ester se lewe moontlik vir haar ’n uitdaging?
15 Toe die tyd aangebreek het vir Ester om voor die koning te verskyn, is sy toegelaat om enigiets te kies wat sy gedink het sy nodig het, moontlik om haarself nog mooier te maak. Maar uit beskeidenheid het sy niks meer gevra as wat Hegai vir haar genoem het nie (Est. 2:15). Sy het waarskynlik besef dat skoonheid alleen nie die koning se hart sou wen nie; ’n beskeie en nederige gees sou ’n baie seldsamer eienskap in daardie hof wees. Was sy reg?
16 Die verslag antwoord: “Die koning het Ester meer liefgekry as al die ander vroue, sodat sy meer guns en liefderyke goedhartigheid voor hom gevind het as al die ander maagde. En hy het die koninklike hooftooisel op haar kop gesit en haar koningin gemaak in die plek van Vasti” (Est. 2:17). Dit moes vir hierdie nederige Joodse meisie moeilik gewees het om by die verandering in haar lewe aan te pas—sy was die nuwe koningin, die vrou van die magtigste koning op die aarde in daardie tyd! Het haar nuwe posisie na haar kop toe gegaan en haar trots gemaak? Glad nie!
17. (a) Hoe het Ester gehoorsaam gebly aan haar pleegvader? (b) Waarom is Ester se voorbeeld vandag vir ons belangrik?
17 Ester het gehoorsaam gebly aan haar pleegvader, Mordegai. Sy het haar verwantskap met die Joodse volk geheim gehou. En toe Mordegai ’n sameswering om Ahasveros dood te maak, ontdek het, het Ester sy waarskuwing gehoorsaam oorgedra aan die koning, en die samesweerders is gefnuik (Est. 2:20-23). Sy het steeds geloof in haar God getoon deur ’n nederige, gehoorsame gees te openbaar. Hoe nodig het ons tog Ester se voorbeeld in ons dag, wanneer daar selde waarde aan gehoorsaamheid geheg word en ongehoorsaamheid en opstandigheid aan die orde van die dag is! Maar mense met ware geloof beskou gehoorsaamheid as iets kosbaars, net soos Ester gedoen het.
Ester se geloof word op die proef gestel
18. (a) Waarom het Mordegai moontlik geweier om voor Haman neer te buig? (Sien ook die voetnoot.) (b) Hoe volg manne en vroue van geloof vandag Mordegai se voorbeeld?
18 ’n Man met die naam Haman het ’n prominente posisie in Ahasveros se hof verkry. Die koning het hom as eerste minister aangestel, wat beteken het dat Haman sy hoofraadgewer en tweede in bevel in die ryk was. Die koning het selfs beveel dat almal wat hierdie amptenaar sien, voor hom moet neerbuig (Est. 3:1-4). Hierdie wet het vir Mordegai ’n probleem geskep. Hy het geglo dat hy aan die koning gehoorsaam moet wees, maar nie ten koste van eerbied teenoor God nie. Hou in gedagte dat Haman ’n Agagiet was. Dit beteken blykbaar dat hy ’n nakomeling was van Agag, die Amalekitiese koning wat deur God se profeet Samuel tereggestel is (1 Sam. 15:33). Die Amalekiete was so goddeloos dat hulle vyande van Jehovah en Israel geword het. As ’n volk is die Amalekiete deur God veroordeel (Deut. 25:19).c Hoe kon ’n getroue Jood voor ’n Amalekiet neerbuig? Mordegai kon nie. Hy het voet by stuk gehou. Vandag nog plaas manne en vroue van geloof hulle lewe op die spel deur getrou te bly aan hierdie beginsel: “Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense.”—Hand. 5:29.
19. Wat wou Haman doen, en hoe het hy die koning oorreed?
19 Haman was woedend. Maar dit was nie vir hom genoeg om ’n manier te vind om Mordegai dood te maak nie. Hy wou Mordegai se hele volk uitwis! Haman het die koning oorreed deur ’n negatiewe beeld van die Jode te skilder. Sonder om hulle by name te noem, het hy te kenne gegee dat hulle onbeduidend is, ’n volk “verstrooid en afgesonderd . . . onder die volke”. Nog erger, hy het gesê dat hulle nie die koning se wette gehoorsaam nie; gevolglik was hulle gevaarlike rebelle. Hy het aangebied om ’n groot som geld aan die koning se skatkamer te skenk om die onkoste te dek om al die Jode in die ryk dood te maak.d Ahasveros het die koning se seëlring aan Haman gegee om enige bevel wat hy in gedagte het, te bekragtig.—Est. 3:5-10.
20, 21. (a) Watter uitwerking het Haman se proklamasie op die Jode in die hele Persiese Ryk, insluitende Mordegai, gehad? (b) Wat het Mordegai Ester gesmeek om te doen?
20 Kort voor lank het boodskappers hulle te perd na elke uithoek van die uitgestrekte ryk gehaas om die nuus van die doodsvonnis wat oor die Joodse volk uitgespreek is, te versprei. Stel jou voor watter uitwerking so ’n proklamasie moes gehad het toe dit die vergeleë Jerusalem bereik het, waar ’n oorblyfsel Jode wat uit ballingskap in Babilon teruggekeer het, gesukkel het om ’n stad te herbou wat nog steeds geen beskermende muur gehad het nie. Dalk het Mordegai aan hulle sowel as aan sy eie vriende en familie in Susan gedink toe hy die verskriklike nuus gehoor het. Hewig ontsteld het hy sy klere geskeur, hom in saklinne geklee, as op sy kop gegooi en hard geskreeu in die middel van die stad. Haman het egter saam met die koning gesit en drink, min gepla oor die droefheid wat hy onder al die Jode en hulle vriende in Susan veroorsaak het.—Lees Ester 3:12–4:1.
21 Mordegai het geweet dat hy iets moes doen. Maar wat kon hy doen? Ester het gehoor hoe ontsteld hy is en het vir hom klere gestuur, maar Mordegai het geweier om vertroos te word. Miskien het hy reeds lank gewonder waarom sy God, Jehovah, toegelaat het dat sy geliefde Ester van hom weggeneem word en die koningin van ’n heidense heerser gemaak word. Nou het die rede vir hom begin duidelik word. Mordegai het ’n boodskap aan die koningin gestuur en Ester gesmeek om by die koning voorspraak te doen, om vir “haar volk” op te kom.—Est. 4:4-8.
22. Waarom was Ester bang om voor haar man, die koning, te verskyn? (Sien ook die voetnoot.)
22 Ester se hart het sekerlik in haar skoene gesak toe sy hierdie boodskap hoor. Hier was die grootste toets van haar geloof. Sy was bang, en sy het dit openlik erken in haar antwoord aan Mordegai. Sy het hom aan die koning se wet herinner. Om voor die koning te verskyn sonder om ontbied te word, het ’n doodsvonnis beteken. Slegs as die koning sy goue septer uitgesteek het, is die oortreder gespaar. En het Ester enige rede gehad om sulke genade te verwag, veral met die oog op wat met Vasti gebeur het toe sy die koning se bevel om voor hom te verskyn, geïgnoreer het? Ester het vir Mordegai gesê dat dit al 30 dae is sedert die koning haar genooi het om na hom toe te kom! Hierdie gebrek aan aandag het haar genoeg rede gegee om te wonder of sy die wispelturige monarg se guns verloor het.—Est. 4:9-11.e
23. (a) Wat het Mordegai gesê om Ester se geloof te versterk? (b) Waarom is Mordegai ’n navolgenswaardige voorbeeld?
23 Mordegai het ferm geantwoord om Ester se geloof te versterk. Hy het haar verseker dat as sy niks doen nie, redding vir die Jode uit ’n ander oord sou kom. Maar hoe kon sy verwag om gespaar te word wanneer die vervolging toeneem? Hier het Mordegai sy vaste geloof in Jehovah getoon, wat nooit sou toelaat dat Sy volk uitgewis word en Sy beloftes onvervuld bly nie (Jos. 23:14). Toe het Mordegai vir Ester gevra: “Wie weet of jy nie met die oog op ’n tyd soos hierdie tot koninklike waardigheid gekom het nie?” (Est. 4:12-14). Is Mordegai nie ’n navolgenswaardige voorbeeld nie? Hy het ten volle op sy God, Jehovah, vertrou. Doen ons dit?—Spr. 3:5, 6.
Geloof sterker as vrees vir die dood
24. Hoe het Ester geloof en moed aan die dag gelê?
24 Vir Ester het die tyd aangebreek om ’n besluit te neem. Sy het vir Mordegai gevra om te reël dat haar landgenote drie dae lank saam met haar vas, en sy het haar boodskap afgesluit met woorde wat vandag nog weerklink weens die sterk geloof en moed waarvan dit getuig: “As ek moet omkom, dan moet ek omkom” (Est. 4:15-17). Sy het ongetwyfeld in daardie drie dae vuriger gebid as ooit tevore in haar lewe. Maar uiteindelik het die oomblik aangebreek. Sy het haar mooiste koninklike klere aangetrek—sy het alles in haar vermoë gedoen om die koning se guns te wen. Toe het sy gegaan.
Ester het haar lewe op die spel geplaas om God se volk te beskerm
25. Beskryf hoe gebeure ontvou het toe Ester voor haar man verskyn het.
25 Soos aan die begin van hierdie hoofstuk beskryf is, het Ester na die koning se hof gegaan. Ons kan ons net voorstel hoe angstige gedagtes en vurige gebede haar verstand en hart moes gevul het. Sy het in die voorhof ingekom, waar sy Ahasveros op sy troon kon sien. Miskien het sy die uitdrukking op sy gesig probeer lees—die gesig wat geraam is deur die goed versorgde, simmetriese krulle van sy hare en van sy vierkantige baard. As sy moes wag, het dit seker soos ’n ewigheid gevoel. Maar die oomblik het verstryk—haar man het haar gesien. Hy was ongetwyfeld verbaas, maar sy gesigsuitdrukking het versag. Hy het sy goue septer uitgesteek!—Est. 5:1, 2.
26. Waarom het ware Christene moed soos dié van Ester nodig, en waarom het sy nog baie gehad om te doen?
26 Ester het ’n horende oor verkry. Sy het haar standpunt ingeneem vir haar God en vir haar volk, waardeur sy ’n pragtige voorbeeld van geloof gestel het vir al God se knegte deur die eeue heen. Ware Christene van vandag waardeer sulke voorbeelde. Jesus het gesê dat sy ware volgelinge deur selfopofferende liefde gekenmerk sou word. (Lees Johannes 13:34, 35.) Om hierdie liefde te toon, verg dikwels moed soos dié van Ester. Maar selfs nadat Ester daardie dag haar standpunt vir God se volk ingeneem het, het sy nog baie gehad om te doen. Hoe sou sy die koning oortuig dat sy gunstelingraadgewer, Haman, ’n bose konkelaar is? Hoe kon sy help om haar volk te red? Ons sal hierdie vrae in die volgende hoofstuk bespreek.
a Daar word algemeen geglo dat Ahasveros Xerxes I was, wat vroeg in die vyfde eeu VHJ oor die Persiese Ryk regeer het.
b Sien die venster “Vrae oor Ester”, in Hoofstuk 16.
c Haman was moontlik een van die allerlaaste Amalekiete, aangesien “die oorblyfsel” van hulle in die dae van koning Hiskia uitgeroei is.—1 Kron. 4:43.
d Haman het 10 000 talente silwer aangebied, wat vandag honderdmiljoene rande werd is. As Ahasveros Xerxes I was, het die geld Haman se aanbod moontlik aantrekliker gemaak. Xerxes het ’n fortuin nodig gehad om sy lang voorgenome maar uiteindelik rampspoedige oorlog teen Griekeland te voer.
e Xerxes I was bekend vir sy onvoorspelbare, vreeslike humeur. Die Griekse geskiedskrywer Herodotus het voorbeelde hiervan opgeteken uit Xerxes se oorlog teen Griekeland. Die koning het beveel dat ’n pontonbrug van skepe oor die Straat van Hellespont gebou word. Toe ’n storm die brug verwoes het, het Xerxes beveel dat die ingenieurs onthoof word en het hy selfs sy manskappe die Hellespont laat “straf” deur die water met swepe te slaan terwyl ’n beledigende verklaring voorgelees is. Toe ’n ryk man gedurende dieselfde krygstog gesmeek het dat sy seun van militêre diens vrygestel word, het Xerxes die seun middeldeur laat sny en sy liggaam as ’n waarskuwing laat ten toon stel.
-
-
Sy het verstandig, moedig en onselfsugtig opgetreeVolg hulle geloof na
-
-
HOOFSTUK SESTIEN
Sy het verstandig, moedig en onselfsugtig opgetree
1-3. (a) Hoe was dit vir Ester om haar man se troon te nader? (b) Hoe het die koning op Ester se besoek gereageer?
ESTER het met ’n bonsende hart stadig na die troon toe gestap. Stel jou voor hoe ’n stilte oor die groot troonsaal in die Persiese paleis in Susan neerdaal, so ’n groot stilte dat Ester haar sagte voetstappe en die geritsel van haar koninklike klere kon hoor. Sy kon nie haar aandag laat aflei deur die prag van die koninklike hof, die sierlike pilare, die ryklik gegraveerde plafon van sederhout wat uit die vergeleë Libanon ingevoer is nie. Sy het al haar aandag toegespits op die man wat op die troon sit, die man in wie se hande haar lewe is.
2 Die koning het stip na haar gekyk terwyl sy nader gekom het en hy sy goue septer na haar uitgehou het. Dit was ’n eenvoudige gebaar, maar dit het Ester se lewe beteken, want hierdeur het die koning haar die oortreding vergewe wat sy so pas gepleeg het—om sonder ’n koninklike uitnodiging voor hom te verskyn. Toe Ester by die troon kom, het sy haar hand uitgesteek en dankbaar aan die punt van die septer geraak.—Est. 5:1, 2.
Ester het die koning se barmhartigheid nederig erken
3 Alles omtrent koning Ahasveros het van sy ontsaglike rykdom en mag getuig. Die koninklike klere van die destydse Persiese monarge was na bewering in waarde gelykstaande aan honderdmiljoene rande. Maar Ester kon tekens van geneentheid in haar man se oë sien; hy het haar op sy eie manier liefgehad. Hy het gesê: “Wat het jy, o koningin Ester, en wat is jou versoek? Tot die helfte van die koningskap—laat selfs dit aan jou gegee word!”—Est. 5:3.
4. Watter uitdagings het vir Ester voorgelê?
4 Ester het reeds merkwaardige geloof en moed aan die dag gelê; sy het voor die koning verskyn om haar volk te beskerm teen ’n komplot om hulle almal uit te wis. Tot dusver was sy suksesvol, maar groter uitdagings het voorgelê. Sy moes hierdie trotse monarg oortuig dat sy mees vertroude raadgewer ’n bose man is wat hom op slinkse wyse gekry het om Ester se volk ter dood te veroordeel. Hoe sou sy hom oorreed, en wat kan ons uit haar geloof leer?
Sy het wyslik “’n tyd om te praat”, gekies
5, 6. (a) Hoe het Ester die beginsel in Prediker 3:1, 7 toegepas? (b) Hoe het Ester wysheid aan die dag gelê in die manier waarop sy haar man genader het?
5 Moes Ester die hele probleem voor die koninklike hof aan die koning bekend gemaak het? Dit sou hom dalk verneder het en sy raadgewer Haman moontlik tyd gegee het om haar aanklagte te betwis. Wat het Ester dus gedoen? Eeue vroeër is die wyse koning Salomo geïnspireer om te skryf: “Vir alles is daar ’n vasgestelde tyd, . . . ’n tyd om stil te bly en ’n tyd om te praat” (Pred. 3:1, 7). Ons kan ons voorstel dat Ester se pleegvader, die getroue man Mordegai, die jong vrou sulke beginsels geleer het terwyl sy onder sy sorg grootgeword het. Ester het beslis verstaan hoe belangrik dit is om die “tyd om te praat”, versigtig te kies.
6 Ester het gesê: “As die koning dit goedvind, laat die koning vandag saam met Haman na die feesmaal kom wat ek vir hom berei het” (Est. 5:4). Die koning het ingestem en het Haman ontbied. Kan jy sien hoe verstandig Ester was in wat sy gesê het? Sy het haar man sy waardigheid laat behou en ’n geskikter geleentheid geskep om met hom te praat oor wat haar kwel.—Lees Spreuke 10:19.
7, 8. Hoe was Ester se eerste feesmaal, maar waarom het sy nie toe die saak met die koning bespreek nie?
7 Ester het daardie fees ongetwyfeld met groot sorg voorberei en toegesien dat alles presies na haar man se smaak is. Daar was ook goeie wyn by die feesmaal om ’n gemoedelike atmosfeer te bevorder (Ps. 104:15). Ahasveros het die feesmaal geniet, en hy het Ester weer gevra wat haar versoek is. Was dit nou die tyd om te praat?
8 Ester het nie so gedink nie. Sy het eerder die koning en Haman genooi om die volgende dag na ’n tweede feesmaal te kom (Est. 5:7, 8). Waarom het sy gewag? Hou in gedagte dat Ester se hele volk die dood in die gesig gestaar het as gevolg van die koning se bevel. Met soveel op die spel moes Ester seker maak dat sy die regte oomblik kies. Daarom het sy gewag en nog ’n geleentheid geskep om vir haar man te wys watter hoë agting sy vir hom het.
9. Waarom is geduld voordelig, en hoe kan ons Ester se voorbeeld in hierdie opsig volg?
9 Geduld is ’n seldsame en kosbare eienskap. Hoewel Ester ontsteld was en graag wou sê wat sy op die hart het, het sy geduldig vir die regte oomblik gewag. Ons kan baie uit haar voorbeeld leer, want ons almal het waarskynlik al onregte gesien wat reggestel moet word. As ons iemand in ’n gesagsposisie wil oortuig om ’n probleem te hanteer, moet ons moontlik, soos Ester, geduldig wees. Spreuke 25:15 sê: “Deur geduld word ’n aanvoerder oorgehaal, en ’n sagte tong kan die gebeente breek.” As ons geduldig vir die regte oomblik wag en, soos Ester, op sagmoedige wyse praat, kan selfs teenstand wat so hard soos been is, gebreek word. Het Ester se God, Jehovah, haar geduld en wysheid geseën?
Geduld baan die weg vir geregtigheid
10, 11. Waarom het Haman se stemming verander nadat hy die eerste feesmaal verlaat het, en wat het sy vrou en vriende hom aangespoor om te doen?
10 Ester se geduld het die weg gebaan vir ’n merkwaardige reeks gebeure. Haman het die eerste feesmaal in ’n baie opgewekte stemming verlaat, “vreugdevol en vrolik van hart” omdat hy soveel guns in die oë van die koning en koningin gevind het. Maar toe Haman deur die kasteel se poort stap, het hy Mordegai gesien, daardie Jood wat nog steeds geweier het om spesiale eer aan hom te bewys. Soos ons in die vorige hoofstuk gesien het, het Mordegai se redes niks te doen gehad met ’n gebrek aan respek nie, maar eerder met sy gewete en sy verhouding met Jehovah God. Maar Haman is ‘onmiddellik met woede vervul’.—Est. 5:9.
11 Toe Haman sy vrou en vriende van hierdie minagting vertel, het hulle hom aangespoor om ’n groot paal, meer as 22 meter hoog, te laat maak en dan die koning se toestemming te vra om Mordegai daaraan te hang. Haman het gehou van hulle idee en onmiddellik die paal laat maak.—Est. 5:12-14.
12. Waarom het die koning die amptelike staatsverslae aan hom laat voorlees, en wat het hy gevolglik uitgevind?
12 Intussen het die koning ’n ongewone nag gehad. “Die koning se slaap [het] gewyk”, sê die Bybel vir ons, en daarom het hy die amptelike staatsverslae aan hom laat voorlees. Die voorlesing het die verslag van ’n sluipmoordkomplot teen Ahasveros ingesluit. Hy het die saak onthou; die voornemende moordenaars is gevang en tereggestel. Maar wat van die man wat die komplot onthul het—Mordegai? Die koning was skielik wawyd wakker en wou weet hoe Mordegai beloon is. Die antwoord? Hoegenaamd niks is vir die man gedoen nie.—Lees Ester 6:1-3.
13, 14. (a) Hoe het dinge vir Haman begin skeef loop? (b) Wat het Haman se vrou en vriende vir hom gesê?
13 Ontsteld het die koning gevra watter hofbeamptes beskikbaar is om hom te help om hierdie oorsig reg te stel. Ironies genoeg was Haman in die koning se voorhof—hy het blykbaar vroeg gekom omdat hy gretig was om toestemming te verkry om Mordegai tereg te stel. Maar voordat Haman sy versoek kon rig, het die koning hom gevra wat die beste manier sal wees om ’n man te vereer wat die koning se guns gewen het. Haman het aangeneem dat die koning van hom praat. Gevolglik het Haman iets baie besonders uitgedink om hierdie man te vereer: Klee die man in koninklike klere, en laat ’n hooggeplaaste amptenaar hom op die koning se perd in Susan rondlei terwyl hy die man se lof besing sodat almal dit kan hoor. Stel jou die uitdrukking op Haman se gesig voor toe hy hoor dat Mordegai die man is wat vereer moet word! En wie het die koning aangewys om Mordegai se lof te besing? Haman!—Est. 6:4-10.
14 Haman het hierdie taak, wat vir hom iets verskrikliks was, teësinnig uitgevoer en toe ontsteld reguit huis toe gegaan. Sy vrou en vriende het gesê dat hierdie wending niks goeds voorspel nie; hy sou sekerlik die onderspit delf in sy stryd teen die Jood Mordegai.—Est. 6:12, 13.
15. (a) Watter goeie gevolg het Ester se geduld gehad? (b) Waarom is dit verstandig van ons om ’n “wagtende houding” in te neem?
15 Omdat Ester geduldig was en daardie een dag langer gewag het om haar versoek tot die koning te rig, is Haman tyd gegee om die grondslag vir sy eie ondergang te lê. En was Jehovah God nie dalk verantwoordelik vir die koning se slapeloosheid nie? (Spr. 21:1). Geen wonder dat God se Woord ons aanspoor om ’n “wagtende houding” in te neem nie! (Lees Miga 7:7.) Wanneer ons op God wag, vind ons moontlik dat sy oplossings vir ons probleme baie beter is as enigiets waarmee ons dalk self vorendag sou gekom het.
Sy het haar moedig uitgespreek
16, 17. (a) Wanneer het Ester se “tyd om te praat”, aangebreek? (b) Hoe het Ester verskil van Vasti, die koning se vorige vrou?
16 Ester kon dit nie waag om die koning se geduld verder op die proef te stel nie; by haar tweede feesmaal moes sy met alles uitkom. Maar hoe? Wel, die koning het haar die geleentheid gegee toe hy haar weer vra wat haar versoek is (Est. 7:2). Ester se “tyd om te praat”, het aangebreek.
17 Ons kan dink dat Ester moontlik ’n stille gebed tot haar God gedoen het voordat sy gesê het: “As ek guns in u oë gevind het, o koning, en as die koning dit goedvind, laat my siel aan my gegee word op my bede en my volk op my versoek” (Est. 7:3). Let op dat sy die koning verseker het dat sy sy oordeelsvermoë respekteer. Hoe het Ester tog verskil van Vasti, die koning se vorige vrou, wat haar man opsetlik verneder het! (Est. 1:10-12). Ester het die koning ook nie gekritiseer omdat hy so dwaas was om Haman te vertrou nie. Sy het die koning eerder gesmeek om haar lewe te beskerm.
18. Hoe het Ester die probleem aan die koning geopenbaar?
18 Hierdie versoek moes sekerlik die koning se hart geraak het, en dit moes hom ook verbaas het. Wie sou dit waag om sy koningin se lewe te bedreig? Ester het verder gesê: “Ons is verkoop, ek en my volk, om verdelg, doodgemaak en uitgeroei te word. En as ons as blote slawe en as blote diensmeisies verkoop is, sou ek stilgebly het. Maar die benoudheid is nie gepas wanneer dit met skade vir die koning gepaardgaan nie” (Est. 7:4). Let op dat Ester reguit gesê het wat die probleem is, maar bygevoeg het dat sy sou stilgebly het as die gevaar bloot slawerny was. Maar omdat hierdie volksmoord die koning self te veel sou kos, kon sy nie stilbly nie.
19. Wat kan ons by Ester leer oor die oorredingskuns?
19 Ester se voorbeeld leer ons baie oor die oorredingskuns. As jy ooit ’n ernstige probleem onder die aandag van ’n geliefde of selfs iemand in ’n gesagsposisie moet bring, kan ’n kombinasie van geduld, respek en openhartigheid grootliks help.—Spr. 16:21, 23.
20, 21. (a) Hoe het Ester Haman ontmasker, en watter reaksie het dit by die koning uitgelok? (b) Hoe het Haman gereageer toe hy as ’n slinkse lafaard ontmasker is?
20 Ahasveros wou weet: “Wie is dit, en presies waar is die een wat so vermetel was om dit te doen?” Stel jou voor hoe Ester met ’n vinger na Haman wys terwyl sy sê: “Die man, die teenstander en vyand, is hierdie slegte Haman.” Die aantyging het in die lug gehang. Groot vrees het Haman beetgepak. Stel jou voor hoe die opvlieënde monarg rooi in die gesig word wanneer hy besef dat sy vertroude raadgewer hom mislei het om ’n bevel te onderteken wat sy eie geliefde vrou se lewe sal kos! Die koning het uitgestorm na die tuin om af te koel.—Est. 7:5-7.
Ester het Haman se boosheid moedig blootgelê
21 Haman, wat as ’n slinkse lafaard ontmasker is, het hom by die koningin se voete neergewerp. Toe die koning in die vertrek terugkom en Haman op Ester se slaapbank sien terwyl hy by haar pleit, het hy Haman woedend daarvan beskuldig dat hy die koningin in die koning se eie huis probeer verkrag. Dit het die doodsklok vir Haman gelui. Sy gesig is bedek, en hy is weggeneem. Een van die koning se amptenare het die koning toe vertel van die groot paal wat Haman vir Mordegai laat maak het. Ahasveros het dadelik beveel dat Haman daaraan gehang word.—Est. 7:8-10.
22. Hoe kan Ester se voorbeeld ons leer om nooit moed op te gee, sinies te word of ons geloof te verloor nie?
22 In vandag se onregverdige wêreld is dit maklik om te dink dat reg nooit sal geskied nie. Het jy al ooit so gevoel? Ester het nooit moed opgegee nie, nooit sinies geword nie, nooit haar geloof verloor nie. Toe die tyd daarvoor aangebreek het, het sy moedig opgekom vir wat reg is, en sy het op Jehovah vertrou om die res te doen. Laat ons dit ook doen! Jehovah het nie sedert Ester se dag verander nie. Hy is nog steeds heeltemal in staat om die goddelose en slinkse mense in hulle eie strikke te laat trap, net soos hy in die geval van Haman gedoen het.—Lees Psalm 7:11-16.
Sy het onselfsugtig vir Jehovah en sy volk opgetree
23. (a) Hoe het die koning Mordegai en Ester beloon? (b) Hoe is Jakob se sterfbedprofesie oor Benjamin vervul? (Sien die venster “’n Vervulde profesie”.)
23 Uiteindelik het die koning uitgevind wie Mordegai is—nie net die een wat hom lojaal teen ’n sluipmoordpoging beskerm het nie, maar ook Ester se pleegvader. Ahasveros het Haman se posisie as eerste minister aan Mordegai gegee. Haman se huis—met inbegrip van sy ontsaglike fortuin—het die koning aan Ester gegee, en sy het Mordegai daaroor aangestel.—Est. 8:1, 2.
24, 25. (a) Waarom kon Ester nie ontspan nadat Haman se komplot onthul is nie? (b) Hoe het Ester weer haar lewe gewaag?
24 Kon koningin Ester ontspan, noudat sy en Mordegai veilig was? Net as sy selfsugtig was. Op daardie oomblik was Haman se opdrag om al die Jode dood te maak, op pad na elke uithoek van die ryk. Haman het die lot, of die Pur, gewerp—klaarblyklik ’n vorm van spiritisme—om die beste tyd vir hierdie wrede aanval vas te stel (Est. 9:24-26). Dit was nog maande voor daardie dag, maar dit het vinnig nader gekom. Kon die ramp nog afgeweer word?
25 Ester het weer haar lewe op onselfsugtige wyse gewaag en nog ’n keer sonder ’n amptelike uitnodiging voor die koning verskyn. Hierdie keer het sy oor haar volk gehuil en haar man gesmeek om die verskriklike verordening te herroep. Maar wette wat in die naam van die Persiese koning uitgevaardig is, kon nie herroep word nie (Dan. 6:12, 15). Gevolglik het die koning Ester en Mordegai die gesag gegee om ’n nuwe wet uit te vaardig. ’n Tweede proklamasie is uitgestuur waarin die Jode die reg gegee is om hulle te verdedig. Ruiters het hulle na elke deel van die ryk gehaas om hierdie goeie nuus na die Jode te neem. Hoop het weer in baie harte opgeflikker (Est. 8:3-16). Ons kan ons voorstel hoe die Jode oral in daardie uitgestrekte ryk hulle bewapen het en gereedgemaak het om te veg, iets wat hulle nooit sonder daardie nuwe verordening sou kon doen nie. Maar nog belangriker, sou “Jehovah van die leërs” met sy volk wees?—1 Sam. 17:45.
Ester en Mordegai het proklamasies aan die Jode van die Persiese Ryk gestuur
26, 27. (a) Hoe groot en volkome was die oorwinning wat Jehovah sy volk oor hulle vyande gegee het? (b) Watter profesie is vervul toe Haman se seuns doodgemaak is?
26 Toe die aangewese dag uiteindelik aanbreek, was God se volk gereed. Selfs baie Persiese amptenare was nou aan hulle kant, aangesien die nuus in verband met die nuwe eerste minister, die Jood Mordegai, wyd en syd versprei het. Jehovah het sy volk ’n groot oorwinning gegee. Hy het ongetwyfeld sy volk teen vreeslike weerwraak beskerm deur hulle vyande ’n algehele nederlaag te laat ly.a—Est. 9:1-6.
27 Verder sou dit nooit vir Mordegai veilig gewees het om Haman se huis te bestuur terwyl die tien seuns van daardie bose man nog gelewe het nie. Hulle is ook doodgemaak (Est. 9:7-10). ’n Bybelprofesie is sodoende vervul, want God het vroeër die algehele uitwissing van die Amalekiete voorspel, wat bose vyande van sy volk was (Deut. 25:17-19). Die seuns van Haman was heel moontlik van die allerlaaste lede van daardie veroordeelde nasie.
28, 29. (a) Waarom was dit Jehovah se wil dat Ester en haar volk by oorlogvoering betrokke raak? (b) Waarom is Ester se voorbeeld vandag vir ons ’n seën?
28 Ester moes swaar laste op haar jong skouers neem—soos koninklike verordeninge in verband met oorlog en teregstelling. Dit kon nie maklik gewees het nie. Maar Jehovah se wil het vereis dat sy volk teen uitwissing beskerm word; die nasie Israel moes die beloofde Messias voortbring, die een bron van hoop vir die hele mensdom! (Gen. 22:18). Hedendaagse knegte van God is verheug om te weet dat toe die Messias, Jesus, aarde toe gekom het, hy sy volgelinge verbied het om van daardie tyd af aan fisiese oorlogvoering deel te neem.—Matt. 26:52.
29 Christene neem egter wel aan geestelike oorlogvoering deel; Satan is baie gretig om ons geloof in Jehovah God te vernietig. (Lees 2 Korintiërs 10:3, 4.) Wat ’n seën is dit tog om Ester as ’n voorbeeld te hê! Mag ons, soos sy, geloof toon deur ons verstandige en geduldige gebruik van oorredingsvermoë, deur ons moed en deur ons onselfsugtige bereidwilligheid om vir God se volk op te kom.
a Die koning het die Jode ’n tweede dag gegee om hulle verowering van hulle vyande te voltooi (Est. 9:12-14). Die Jode vier vandag nog hierdie oorwinning elke jaar in die maand Adar, wat met einde Februarie en begin Maart ooreenstem. Hierdie fees staan bekend as Purim en is vernoem na die lot wat Haman gewerp het in sy poging om Israel uit te wis.
-