-
Wat gebeur met ons wanneer ons sterf?Wat kan die Bybel ons leer?
-
-
HOOFSTUK SES
Wat gebeur met ons wanneer ons sterf?
1-3. Watter vrae vra mense oor die dood, en hoe beantwoord party godsdienste dit?
DIE Bybel belowe dat daar ’n tyd sal kom wanneer ‘die dood nie meer daar sal wees nie’ (Openbaring 21:4). In Hoofstuk 5 het ons geleer dat die losprys dit vir ons moontlik maak om die ewige lewe te hê. Maar mense sterf nog steeds (Prediker 9:5). Daarom wil ons weet: Wat gebeur met ons wanneer ons sterf?
2 Ons stel veral belang in die antwoord op hierdie vraag wanneer iemand sterf vir wie ons lief is. Ons wonder dalk: ‘Waar is hy nou? Hou hy ons dop? Kan hy ons help? Sal ons hom ooit weer sien?’
3 Godsdienste gee verskillende antwoorde op hierdie vrae. Party leer dat jy hemel toe sal gaan as jy ’n goeie persoon is en dat jy in die hel sal brand as jy ’n slegte persoon is. Sommige sê dat jy ’n gees word wanneer jy sterf en dat jy saam met jou familielede wat alreeds gesterf het, gaan woon. En ander sê dat jy, nadat jy gesterf het en geoordeel is, weer gebore sal word in ’n ander liggaam, miskien as ’n ander persoon of selfs as ’n dier.
4. Wat leer die meeste godsdienste oor die dood?
4 Dit lyk asof godsdienste verskillende dinge oor die dood leer. Maar amper almal van hulle het een ding in gemeen. Hulle leer dat ’n deel van die mens aanhou lewe wanneer hy sterf. Is dit waar?
WAT GEBEUR MET ONS WANNEER ONS STERF?
5, 6. Wat gebeur met ons wanneer ons sterf?
5 Jehovah weet wat met ons gebeur wanneer ons sterf, en hy sê vir ons dat ’n persoon se lewe eindig wanneer hy sterf. Dood is die teenoorgestelde van lewe. Wanneer iemand sterf, lewe sy gevoelens en herinneringe dus nie iewers anders voort nie.a Wanneer ons sterf, kan ons nie meer sien, hoor of dink nie.
6 Die Bybel sê dat ‘die dooies absoluut niks weet nie’. Die dooies kan nie liefhê of haat nie, en “daar is geen werk of beplanning of kennis of wysheid in die Graf” nie. (Lees Prediker 9:5, 6, 10.) En in Psalm 146:4 sê die Bybel vir ons dat ’n mens se “gedagtes” tot ’n einde kom wanneer hy sterf.
WAT JESUS OOR DIE DOOD GESÊ HET
Jehovah het mense geskep om vir ewig op die aarde te lewe
7. Wat het Jesus oor die dood gesê?
7 Toe sy goeie vriend Lasarus gesterf het, het Jesus vir sy dissipels gesê: “Lasarus, ons vriend, het gaan slaap.” Maar Jesus het nie bedoel dat Lasarus rus nie. Jesus het verder gesê: “Lasarus het gesterf” (Johannes 11:11-14). Jesus het dus die dood met slaap vergelyk. Hy het nie gesê dat Lasarus in die hemel was nie. Hy het ook nie gesê dat Lasarus by sy familielede was wat gesterf het nie. En hy het nie gesê dat Lasarus in die hel ly of weer gebore is as ’n ander mens of ’n dier nie. Nee, dit was asof Lasarus in ’n diep slaap was. Dit was nie die enigste keer dat Jesus die dood met slaap vergelyk het nie. Toe die dogter van ’n man met die naam Jaïrus gesterf het, het Jesus gesê: “Sy het nie gesterf nie. Sy slaap.” – Lukas 8:52, 53.
8. Hoe weet ons dat God mense nie geskep het om te sterf nie?
8 Het God Adam en Eva geskep om uiteindelik te sterf? Nee! Jehovah het hulle geskep om vir ewig te lewe en volmaakte gesondheid te geniet. Toe Jehovah mense geskep het, het hy hulle die begeerte gegee om vir ewig te lewe (Prediker 3:11). Ouers wil nie hê hulle kinders moet oud word en sterf nie, en Jehovah voel ook so oor ons. Maar as God ons geskep het om vir ewig te lewe, hoekom sterf ons dan?
HOEKOM STERF ONS?
9. Hoekom kan ons sê dat Jehovah se bevel aan Adam en Eva redelik was?
9 Jehovah het in die tuin van Eden vir Adam gesê: “Jy mag van al die bome van die tuin eet totdat jy versadig is. Maar jy mag nie eet van die boom van die kennis van wat goed en wat sleg is nie, want die dag as jy daarvan eet, sal jy beslis sterf” (Genesis 2:9, 16, 17). Daardie duidelike bevel was nie moeilik om te gehoorsaam nie, en Jehovah het die reg gehad om vir Adam en Eva te sê wat goed en wat sleg is. As hulle gehoorsaam was aan Jehovah, sou hulle vir hom wys dat hulle sy gesag respekteer. Hulle sou ook vir hom wys hoe dankbaar hulle is vir alles wat hy vir hulle gegee het.
10, 11. (a) Hoe is Adam en Eva deur Satan mislei? (b) Hoekom is daar geen verskoning vir wat Adam en Eva gedoen het nie?
10 Ongelukkig het Adam en Eva gekies om aan Jehovah ongehoorsaam te wees. Satan het vir Eva gesê: “Het God werklik gesê dat julle nie van al die bome van die tuin mag eet nie?” Eva het geantwoord: “Ons mag van die vrugte van die bome van die tuin eet. Maar van die vrugte van die boom wat in die middel van die tuin is, het God gesê: ‘Julle mag nie daarvan eet nie, nee, julle mag nie daaraan raak nie, anders sal julle sterf.’” – Genesis 3:1-3.
11 Toe het Satan gesê: “Julle sal beslis nie sterf nie. Want God weet dat die dag as julle daarvan eet, julle oë geopen sal word en julle soos God sal wees omdat julle kennis sal hê van wat goed en wat sleg is” (Genesis 3:4-6). Satan wou hê dat Eva moes dink dat sy self kon besluit wat goed en wat sleg is. Hy het ook gelieg oor wat met haar sou gebeur as sy ongehoorsaam sou wees. Satan het gesê dat Eva nie sou sterf nie, en daarom het Eva van die vrugte geëet en toe vir haar man daarvan gegee. Adam en Eva het geweet dat Jehovah vir hulle gesê het om nie van die vrugte te eet nie. Toe hulle daarvan geëet het, het hulle gekies om ongehoorsaam te wees aan ’n duidelike en redelike bevel. Deur daarvan te eet, het hulle gewys dat hulle nie hulle liefdevolle hemelse Vader respekteer nie. Daar is geen verskoning vir wat hulle gedoen het nie!
12. Hoekom het dit Jehovah baie hartseer gemaak toe Adam en Eva ongehoorsaam was?
12 Dit het Jehovah baie hartseer gemaak toe ons eerste ouers ongehoorsaam was. Hoe kon hulle so min respek vir hulle Skepper gehad het? Hoe sou jy gevoel het as jy hard gewerk het om ’n seun en ’n dogter groot te maak en hulle dan teen jou in opstand kom en die teenoorgestelde doen van wat jy hulle gevra het om te doen? Sou dit nie jou hart gebreek het nie?
Adam was van stof gemaak en hy het tot stof teruggekeer
13. Wat het Jehovah bedoel toe hy gesê het “tot stof sal jy terugkeer”?
13 Toe Adam en Eva ongehoorsaam was, het hulle die geleentheid verloor om vir ewig te lewe. Jehovah het vir Adam gesê: “Stof is jy en tot stof sal jy terugkeer.” (Lees Genesis 3:19.) Dit het beteken dat Adam weer stof sou word, asof hy nooit geskep is nie (Genesis 2:7). Nadat Adam gesondig het, het hy gesterf en nie meer bestaan nie.
14. Hoekom sterf ons?
14 As Adam en Eva gehoorsaam was aan God, sou hulle vandag nog gelewe het. Maar toe hulle ongehoorsaam was aan hom, het hulle gesondig en uiteindelik gesterf. Sonde is soos ’n verskriklike siekte wat ons van ons eerste ouers geërf het. Ons word almal as sondaars gebore, en dit is waarom ons sterf (Romeine 5:12). Maar dit is nie wat God vir die mens in gedagte gehad het nie. God wou nooit hê dat mense moes sterf nie, en die Bybel noem die dood ’n “vyand”. – 1 Korintiërs 15:26.
DIE WAARHEID MAAK ONS VRY
15. Hoe maak die waarheid oor die dood ons vry?
15 Die waarheid oor die dood maak ons vry van baie verkeerde idees. Die Bybel leer dat die dooies nie pyn kan voel of hartseer kan wees nie. Ons kan nie met hulle praat nie, en hulle kan nie met ons praat nie. Ons kan nie die dooies help nie, en die dooies kan ons nie help nie. Hulle kan ons nie seermaak nie, en daarom hoef ons nie vir hulle bang te wees nie. Maar baie godsdienste sê vir ons dat die dooies iewers lewe en dat ons hulle kan help as ons geld betaal aan priesters of ander godsdiensleiers. Maar wanneer ons weet wat die waarheid oor die dood is, word ons nie deur sulke leuens mislei nie.
16. Watter leuen leer baie godsdienste oor die dood?
16 Satan gebruik valse godsdiens om vir ons te lieg en om ons te laat dink dat die dooies nog lewe. Party godsdienste leer byvoorbeeld dat ’n deel van ons iewers voortleef wanneer ons sterf. Is dit wat jou godsdiens jou leer, of leer dit jou wat die Bybel oor die dood sê? Satan gebruik leuens om mense van Jehovah af weg te keer.
17. Hoekom is die lering dat mense in die hel brand ’n belediging vir Jehovah?
17 Baie godsdienste leer skokkende dinge. Party leer byvoorbeeld dat slegte mense vir ewig in die hel sal brand. Hierdie leuen is ’n belediging vir Jehovah. Hy sal nooit toelaat dat mense só ly nie! (Lees 1 Johannes 4:8.) Hoe sou jy oor iemand voel wat ’n kind straf deur die kind se hande in ’n vuur te brand? Jy sou dink dat hy baie wreed is. Jy sou hom nie wou leer ken nie. En dit is presies hoe Satan wil hê ons oor Jehovah moet voel!
18. Hoekom moet ons nie bang wees vir die dooies nie?
18 Party godsdienste sê vir ons dat mense geeste word wanneer hulle sterf. Sulke godsdienste leer dat ons respek moet hê vir daardie geeste en selfs vir hulle bang moet wees omdat hulle magtige vriende of verskriklike vyande kan word. Baie mense glo hierdie leuen. Hulle is bang vir die dooies, en daarom aanbid hulle eerder die dooies as om Jehovah te aanbid. Onthou dat die dooies niks kan voel en niks weet nie, en daarom hoef ons nie vir hulle bang te wees nie. Jehovah is ons Skepper. Hy is die ware God en ons moet hom alleen aanbid. – Openbaring 4:11.
19. Hoe help dit ons as ons weet wat die waarheid oor die dood is?
19 As ons weet wat die waarheid oor die dood is, sal ons die leuens wat godsdienste vertel, nie meer glo nie. En dit sal ons ook help om die wonderlike beloftes te verstaan wat Jehovah oor die toekoms gemaak het.
20. Wat sal ons in die volgende hoofstuk bespreek?
20 Lank gelede het ’n kneg van God met die naam Job gevra: “As ’n man sterf, kan hy weer lewe?” (Job 14:14). Is dit werklik moontlik vir iemand wat gesterf het om weer te lewe? Die antwoord wat God ons in die Bybel gee, is baie interessant. Ons sal dit in die volgende hoofstuk bespreek.
a Sommige mense glo dat ’n siel of gees aanhou lewe nadat iemand gesterf het. Vir meer inligting, sien Eindnota 17 en 18.
-
-
Daar sal ’n opstanding wees!Wat kan die Bybel ons leer?
-
-
HOOFSTUK SEWE
Daar sal ’n opstanding wees!
1-3. Wat hou ons almal gevange, en hoe sal Jehovah ons bevry?
STEL jou voor dat jy lewenslank tronk toe gestuur word vir ’n misdaad wat jy nie gepleeg het nie. Daar is geen kans dat jy ooit vrygelaat sal word nie. Jou toekoms lyk hopeloos en daar is niks wat jy daaraan kan doen nie. Maar net wanneer jy alle hoop verloor, vind jy uit dat iemand die mag het om jou vry te laat en dat hy belowe het om jou te help! Hoe sou jy voel?
2 Ons is almal gevangenes van die dood. Maak nie saak wat ons doen nie, ons kan nie ontsnap nie. Maar Jehovah het die mag om ons van die dood te bevry. En hy het belowe: “Die laaste vyand, die dood, sal vernietig word.” – 1 Korintiërs 15:26.
3 Dink net hoe wonderlik dit sal wees as jy nie bekommerd hoef te wees dat jy sal sterf nie! Maar Jehovah sal nie net die dood wegneem nie. Hy sal ook die mense wat reeds gesterf het, opwek. Dink aan wat dit vir jou sal beteken. Hy belowe dat diegene wat “magteloos is in die dood”, weer sal lewe (Jesaja 26:19). Dit is wat die Bybel die opstanding noem.
WANNEER ’N GELIEFDE STERF
4. (a) Wat kan ons vertroos wanneer ’n familielid of ’n vriend sterf? (b) Wie was party van Jesus se goeie vriende?
4 Wanneer ’n familielid of ’n goeie vriend sterf, kan dit vir ons voel asof die pyn en droefheid vir ons te veel is. Ons voel hulpeloos. Daar is niks wat ons kan doen om daardie persoon weer te laat lewe nie. Maar die Bybel gee ons ware vertroosting. (Lees 2 Korintiërs 1:3, 4.) Kom ons kyk na een voorbeeld wat wys hoe graag Jehovah en Jesus ons geliefdes wil opwek. Toe Jesus op die aarde was, het hy dikwels vir Lasarus en sy susters, Marta en Maria, gaan besoek. Hulle al drie was goeie vriende van Jesus. Die Bybel sê: “Jesus was lief vir Marta en haar suster en Lasarus.” Maar op ’n dag het Lasarus gesterf. – Johannes 11:3-5.
5, 6. (a) Wat het Jesus gedoen toe hy sien hoe hartseer Lasarus se familie en vriende is? (b) Hoekom is dit vertroostend om te weet hoe Jesus oor die dood gevoel het?
5 Jesus het Marta en Maria gaan vertroos. Toe Marta hoor dat Jesus op pad is, het sy uit die stad uitgegaan om hom te gaan ontmoet. Sy was bly om Jesus te sien, maar sy het vir hom gesê: “As u hier was, sou my broer nie gesterf het nie.” Marta het gedink dat Jesus te laat was. Daarna het Jesus haar suster, Maria, sien huil. Toe hy sien hoe hartseer hulle is, het dit hom hartseer gemaak, en hy het begin huil (Johannes 11:21, 33, 35). Hy het die intense pyn gevoel wat ’n mens ervaar wanneer iemand vir wie jy lief is, sterf.
6 Jesus se droefheid vertroos ons. Dit wys vir ons dat Jesus die dood haat. En Jesus is net soos sy Vader (Johannes 14:9). Jehovah het die mag om die dood vir ewig te verwyder, en dit is wat hy binnekort sal doen.
“LASARUS, KOM UIT!”
7, 8. Hoekom wou Marta nie hê dat die klip voor Lasarus se graf weggerol moes word nie, maar wat het Jesus gedoen?
7 Jesus het na Lasarus se graf gegaan. Daar was ’n groot klip voor die ingang. Jesus het gesê: “Neem die klip weg.” Maar Marta wou nie hê dat hulle dit moes doen nie. Lasarus se liggaam was alreeds vier dae lank in die graf (Johannes 11:39). Sy het nie geweet wat Jesus kort daarna sou doen nie.
Stel jou voor hoe bly Lasarus se familie en vriende was toe hy opgewek is! – Johannes 11:38-44
8 Jesus het vir Lasarus gesê: “Kom uit!” Wat Marta en Maria toe gesien het, was ongelooflik. “Die man wat dood was, het uitgekom. Sy hande en voete was met grafdoeke gebind” (Johannes 11:43, 44). Lasarus is weer lewend gemaak! Hy is weer met sy familie en vriende verenig. Hulle kon hom vashou, aan hom raak en met hom praat. Dit was beslis ’n wonderwerk! Jesus het Lasarus opgewek.
“MEISIE, EK SÊ VIR JOU, STAAN OP!”
9, 10. (a) Wie het vir Jesus die krag gegee om mense op te wek? (b) Hoekom is dit goed om Bybelverslae van opstandings te lees?
9 Het Jesus sy eie krag gebruik om mense weer lewend te maak? Nee. Voordat Jesus Lasarus opgewek het, het hy tot Jehovah gebid, en Jehovah het hom die krag gegee om Lasarus op te wek. (Lees Johannes 11:41, 42.) Lasarus is nie die enigste persoon wat opgewek is nie. Die Bybel vertel ons van ’n 12-jarige meisie wat baie siek was. Haar pa, Jaïrus, was desperaat, en hy het Jesus gesmeek om haar gesond te maak. Sy was sy enigste kind. Terwyl hy met Jesus gepraat het, het ’n paar mans na hulle toe gekom en gesê: “U dogter het gesterf! Hoekom sou u die Leermeester nog langer lastig val?” Maar Jesus het vir Jaïrus gesê: “Moenie bekommerd wees nie. Betoon net geloof, en sy sal gered word.” Hy het toe saam met Jaïrus na sy huis toe gestap. Toe hulle naby die huis kom, kon Jesus sien en hoor hoe mense huil. Jesus het vir hulle gesê: “Hou op huil, want sy het nie gesterf nie. Sy slaap.” Haar pa en ma het seker gewonder wat Jesus bedoel het. Jesus het almal uitgestuur en haar pa en ma in die kamer ingeneem waar hulle dogtertjie gelê het. Jesus het haar hand saggies geneem en vir haar gesê: “Meisie, ek sê vir jou, staan op!” Stel jou voor hoe bly haar ouers was toe sy dadelik opgestaan en begin loop het! Jesus het hulle dogter opgewek (Markus 5:22-24, 35-42; Lukas 8:49-56). Van daardie dag af sou hulle, elke keer wanneer hulle hulle dogtertjie sien, dink aan wat Jehovah deur Jesus vir hulle gedoen het.a
10 Die mense wat deur Jesus opgewek is, het later weer gesterf. Maar dit is goed om hierdie verhale te lees, want dit gee ons ware hoop. Jehovah wil mense opwek en hy sal dit doen.
WAT ONS UIT DIE VERSLAE VAN OPSTANDINGS LEER
Die apostel Petrus het die Christenvrou Dorkas opgewek. – Handelinge 9:36-42
Elia het ’n weduwee se seun opgewek. – 1 Konings 17:17-24
11. Wat leer Prediker 9:5 ons oor Lasarus?
11 Die Bybel sê duidelik: “Die dooies weet absoluut niks nie.” Dit was ook die geval met Lasarus (Prediker 9:5). Dit was asof Lasarus geslaap het, net soos Jesus gesê het (Johannes 11:11). Terwyl Lasarus in die graf was, het hy “absoluut niks” geweet nie.
12. Hoe weet ons dat Lasarus regtig uit die dood opgewek is?
12 Baie mense het gesien toe Jesus Lasarus opgewek het. Selfs Jesus se vyande het geweet dat hy hierdie wonderwerk gedoen het. Lasarus het gelewe, en dit het bewys dat hy regtig opgewek is (Johannes 11:47). Baie mense het Lasarus ook gaan besoek, en daarom het hulle begin glo dat Jesus deur God gestuur is. Jesus se vyande het nie daarvan gehou nie, en daarom het hulle beplan om Jesus sowel as Lasarus dood te maak. – Johannes 11:53; 12:9-11.
13. Hoekom kan ons seker wees dat Jehovah die dooies sal opwek?
13 Jesus het gesê dat “almal wat in die gedenkgrafte is”, opgewek sal word (Johannes 5:28). Dit beteken dat almal wat deur Jehovah onthou word, opgewek sal word. Maar as Jehovah iemand opwek, moet hy alles omtrent daardie persoon onthou. Kan hy dit regtig doen? Wel, daar is duisendmiljoene sterre in die heelal. Die Bybel sê dat Jehovah die naam van elke ster ken. (Lees Jesaja 40:26.) As hy die naam van elke ster kan onthou, sal dit beslis vir hom maklik wees om alles te onthou omtrent al die mense wat hy sal opwek. En wat meer is, Jehovah het alles geskep, en daarom weet ons dat hy die mag het om mense weer op te wek.
14, 15. Wat leer Job se woorde ons oor die opstanding?
14 Die getroue man Job het in die opstanding geglo. Hy het gevra: “As ’n man sterf, kan hy weer lewe?” Toe het hy vir Jehovah gesê: “U sal roep, en ek sal u antwoord. Na die werk van u hande sal u verlang.” Ja, Job het geweet dat Jehovah uitsien na die tyd wanneer hy die dooies sal opwek. – Job 14:13-15.
15 Hoe laat die hoop dat daar ’n opstanding gaan wees, jou voel? Jy wonder dalk: ‘Maar wat van my familie en vriende wat gesterf het? Sal hulle ook opgewek word?’ Dit vertroos ons om te weet dat Jehovah die dooies werklik wil opwek. Kom ons kyk na wat die Bybel sê oor wie opgewek sal word en waar hulle sal woon.
HULLE SAL ‘SY STEM HOOR EN UITKOM’
16. Watter soort lewe sal die mense geniet wat op die aarde opgewek word?
16 In die verlede is die mense wat opgewek is, weer hier op die aarde met hulle familie en vriende verenig. Dit sal ook in die toekoms gebeur, maar dit sal baie beter wees. Hoekom? Want die mense wat op die aarde opgewek word, sal die geleentheid hê om vir ewig te lewe en nooit weer te sterf nie. En hulle sal in ’n wêreld lewe wat baie anders is as die een waarin ons vandag lewe. Daar sal nie oorlog, misdaad of siekte wees nie.
17. Wie sal opgewek word?
17 Wie sal opgewek word? Jesus het gesê dat “almal wat in die gedenkgrafte is, sy stem sal hoor en sal uitkom” (Johannes 5:28, 29). En Openbaring 20:13 sê vir ons: “Die see het die dooies gegee wat daarin was, en die dood en die Graf het die dooies gegee wat in hulle was.” Ja, duisendmiljoene mense sal weer lewe. Die apostel Paulus het ook gesê dat “die regverdiges en die onregverdiges” opgewek sal word. (Lees Handelinge 24:15.) Wat beteken dit?
In die Paradys sal die dooies opgewek word en weer met hulle geliefdes verenig word
18. Wie is “die regverdiges” wat opgewek sal word?
18 “Die regverdiges” sluit getroue knegte van Jehovah in wat gelewe het voordat Jesus na die aarde toe gekom het. Mense soos Noag, Abraham, Sara, Moses, Rut en Ester sal opgewek word om hier op die aarde te lewe. Jy kan in Hebreërs hoofstuk 11 lees oor party van hierdie mans en vrouens. Wat van Jehovah se getroue knegte wat in ons tyd sterf? Hulle is ook “regverdiges”, en daarom sal hulle ook opgewek word.
19. Wie is “die onregverdiges”? Watter geleentheid sal Jehovah hulle gee?
19 “Die onregverdiges” sluit duisendmiljoene mense in wat nie die geleentheid gehad het om Jehovah te leer ken nie. Al het hulle gesterf, het Jehovah nie van hulle vergeet nie. Hy sal hulle opwek, en hulle sal die geleentheid hê om van hom te leer en hom te dien.
20. Hoekom sal nie almal opgewek word nie?
20 Beteken dit dat almal wat gesterf het, opgewek sal word? Nee. Jesus het gesê dat party mense nie opgewek sal word nie (Lukas 12:5). Wie sal besluit of ’n persoon opgewek word of nie? Jehovah is die finale Regter, maar hy het ook vir Jesus die gesag gegee “om regter van die lewendes en die dooies te wees” (Handelinge 10:42). Enigiemand wat volgens hom goddeloos is en nie wil verander nie, sal nie opgewek word nie. – Sien Eindnota 19.
DIE HEMELSE OPSTANDING
21, 22. (a) Wat beteken dit om tot lewe in die hemel opgewek te word? (b) Wie was die eerste persoon wat tot lewe in die hemel opgewek is?
21 Die Bybel sê ook vir ons dat sommige mense in die hemel sal woon. Wanneer iemand tot lewe in die hemel opgewek word, word hy nie lewend gemaak as ’n mens met ’n menseliggaam nie. Hy word as ’n geespersoon tot lewe in die hemel opgewek.
22 Jesus was die eerste persoon wat hierdie soort opstanding gekry het (Johannes 3:13). Drie dae nadat Jesus doodgemaak is, het Jehovah hom opgewek (Psalm 16:10; Handelinge 13:34, 35). Jesus is nie met ’n menseliggaam opgewek nie. Die apostel Petrus verduidelik dat Jesus ‘doodgemaak is in die vlees, maar lewend gemaak is in die gees’ (1 Petrus 3:18). Jesus is opgewek as ’n magtige geespersoon! (1 Korintiërs 15:3-6). Maar die Bybel sê dat hy nie die enigste een sou wees wat so ’n opstanding sou kry nie.
23, 24. Wie is die “klein kuddetjie” waarvan Jesus gepraat het, en uit hoeveel persone sal dit bestaan?
23 Net voordat Jesus gesterf het, het hy vir sy getroue dissipels gesê: “Ek gaan om vir julle ’n plek voor te berei” (Johannes 14:2). Dit beteken dat party van sy volgelinge opgewek sou word om saam met hom in die hemel te woon. Hoeveel van hulle? Jesus het gesê dat dit ’n klein groepie, ’n “klein kuddetjie”, sou wees (Lukas 12:32). Die apostel Johannes het die presiese getal gegee toe hy Jesus sien staan het “op die [hemelse] berg Sion . . . en saam met hom 144 000”. – Openbaring 14:1.
24 Wanneer sou die 144 000 Christene opgewek word? Die Bybel sê vir ons dat dit sou gebeur nadat Christus in die hemel begin regeer het (1 Korintiërs 15:23). Ons lewe nou in daardie tyd, en die meerderheid van die 144 000 is alreeds tot lewe in die hemel opgewek. Dié van hulle wat nog op die aarde is en wat in ons tyd sterf, sal oombliklik tot hemelse lewe opgewek word. Maar die meeste ander mense sal in die toekoms opgewek word en in die Paradys hier op die aarde lewe.
25. Waaroor sal ons in die volgende hoofstuk leer?
25 Jehovah sal binnekort alle mense van die dood bevry, en die dood sal vir ewig vernietig word! (Lees Jesaja 25:8.) Maar wat sal diegene wat hemel toe gaan, daar doen? Die Bybel sê dat hulle saam met Jesus in ’n Koninkryksregering sal regeer. Ons sal in die volgende hoofstuk meer oor hierdie regering leer.
a In ander verslae vertel die Bybel ons van die opstandings van jong en ou persone, mans en vrouens asook Israeliete en nie-Israeliete. Jy kan die verslae lees in 1 Konings 17:17-24; 2 Konings 4:32-37; 13:20, 21; Matteus 28:5-7; Lukas 7:11-17; 8:40-56; Handelinge 9:36-42; 20:7-12.
-