Koninkryksverkondigers berig
“Die skape luister na sy stem”
◻ JESUS het gesê: “Die skape luister na die herder se stem. Hy roep sy skape op hulle name en lei hulle uit” (Johannes 10:3, NAV). Hy het voorts gesê: “Ek ken my skape, en my skape ken My” (Johannes 10:14, NAV). Skaapgeaarde mense luister na Jesus se stem wanneer hy deur die Bybel met hulle praat. Let op hoe twee regskape mense in Italië dienooreenkomstig opgetree het.
Hy het eindelik geluister
◻ Alberto skryf: “Ek was 16 toe ek dagga begin rook en LSD begin gebruik het, en toe ek 18 was, het ek heroïen begin gebruik. Ek het enigiets denkbaar gedoen om die dwelms in die hande te kry. Ek het gesteel, ek het met dwelms gesmous, ek het bedrog gepleeg, ek het al my besittings verkoop. Ek kon net nie ophou nie. Vakansies in die buiteland, lang tydperke op die platteland of politieke betrokkenheid by ekstremistiese groepe wat daarop uit was om onreg te bekamp—nie een van hierdie dinge het gehelp nie. Ek het selfs getrou in die hoop dat dit my sou help, maar na ’n rukkie was ek weer waar ek begin het. Selfs nie eers die geboorte van ’n babadogter het my verhinder om dwelms te gebruik nie. Trouens, dinge het vererger omdat ek nou meer geld nodig gehad het. Toe het my vrou my verlaat, en gedurende die twee jaar wat ek op my eie gewoon het, het ek my dogter net twee keer gesien. Ek het gevlug vir dwelmsmouse vir wie ek geld geskuld het, en ek het dikwels onttrekkingsimptome gekry.
“Toe het ek onthou van ’n boek wat Jehovah se Getuies my ’n paar jaar tevore gegee het. Ek het dit nog gehad en dit saam met die Bybel begin lees. Sodoende het ek die ware God, Jehovah, leer ken, en ek het tot hom om hulp gebid. Namate ek die dinge wat ek geleer het, begin toepas het, het my onttrekkingsimptome minder pynlik geword. Ek het werk gekry, en met Jehovah se hulp het ek my gesin weer bymekaargebring. Ek het na die Koninkryksaal gegaan en daar het ek besef dat Jehovah se Getuies die waarheid het. Ek en my vrou, wat nou herenig was, het die Bybel saam met die Getuies studeer en ons is mettertyd gedoop. Wat ’n vreugde is dit nou om as gewone pioniers met ander oor ons hoop te praat!”
’n Godsdienstige vrou se gebed word verhoor
◻ ’n Vrou vertel: “In 1958 was ek aktief betrokke by gemeentelike bedrywighede, en veral by die pelgrimsreise na die Heiligdom van die Maagd van Goddelike Liefde in Rome. Ek het mettertyd goed bevriend geraak met ’n kardinaal wat die vikaris van Rome was en ek het baie persoonlike gesprekke met pous Paulus VI en Johannes Paulus II gehad. Nadat ek 25 jaar lank pelgrimsreise gereël het, het ek ’n merietediploma gekry. Maar my geloof as ’n ywerige Katoliek het mettertyd begin wankel. Ek het gesien dat daar diefstal, swendelary, nepotisme en vreemde handelstransaksies plaasvind. Ek het met ander oë na die kerk begin kyk namate ek besef het dat God se wet alte dikwels vertrap word. Sulke dinge het my ontstel, en ek het God gevra om my te help omdat ek besig was om my geloof te verloor. Ek het dikwels gehuil.
“Toe, vier jaar gelede, het my seun my ’n paar nommers van Die Wagtoring en die Ontwaak! gebring wat hy by Getuies van Jehovah gekry het. Die tydskrifte was so interessant dat ek hom gevra het om vir my nog daarvan te kry. Ek het kort daarna ’n Koninkryksaal van Jehovah se Getuies gevind en ’n briefie op die deur gelaat waarin ek gevra het dat iemand my moet besoek. Die Getuies het vier dae later gekom. Ek het ’n Bybelstudie begin en mettertyd so gevorder dat ek gedoop kon word. Ek is nou seker dat ek eindelik gevind het waarna ek nog altyd gesoek het—die waarheid!”
Hierdie mense het na die stem van die Goeie Herder, Jesus Christus, geluister, en ‘die waarheid het hulle vrygemaak’.—Johannes 8:32.
[Foto-erkenning op bladsy 14]
Garo Nalbandian