Die New World Translation—vakkundig en eerlik
“VOL vervalsings!” Dit is wat teenstanders in die 16de eeu van Martin Luther se vertaling van die Bybel gesê het. Hulle het gemeen dat hulle kon bewys dat Luther se Bybel “1 400 ketterse foute en leuens” bevat. Vandag word Luther se Bybel beskou as ’n mylpaal in Bybelvertaling. Die boek Translating the Bible noem dit selfs “die werk van ’n genie”!
Die New World Translation is ook in hierdie 20ste eeu van vervalsing beskuldig. Waarom? Omdat dit van die tradisionele weergawe van baie verse afwyk en die gebruik van God se naam, Jehovah, beklemtoon. Dit is gevolglik onkonvensioneel. Maar beteken dit dat dit vals is? Nee. Dit is met baie sorg en aandag aan besonderhede voorberei, en dit wat dalk ongewoon voorkom, verteenwoordig ’n opregte poging om die nuanses van die oorspronklike tale noukeurig weer te gee. Teoloog C. Houtman verduidelik waarom die New World Translation so onortodoks is: “Daar is weggedoen met verskeie tradisionele vertalings van belangrike terme in die oorspronklike teks, blykbaar om die bes moontlike begrip te verseker.” Kom ons ondersoek ’n paar voorbeelde hiervan.
Verskillend—maar nie verkeerd nie
Om een punt te noem, na verwante woorde in die oorspronklike Bybeltale word waar moontlik met verskillende Engelse woorde vertaal om die Bybelstudent sodoende op sy hoede te stel vir moontlike fyn betekenisverskille. Sun·teʹlei·a word dus as “voleinding” weergegee en teʹlos as “einde”, hoewel albei die woorde in baie ander vertalings as “einde” vertaal word (Mattheüs 24:3, 13). Die woord koʹsmos word as “wêreld” weergegee, ai·onʹ as “stelsel van dinge” en oi·kou·meʹne as “bewoonde aarde”. Daarenteen gebruik baie Bybelvertalings bloot die woord “wêreld” om òf twee òf al drie hierdie Griekse woorde te verteenwoordig, hoewel daar in werklikheid verskille tussen hulle bestaan.—Mattheüs 13:38, 39; 24:14.
Net so neem die New World Translation ook noukeurig kennis van die verskil tussen gnoʹsis (“kennis”) en e·piʹgno·sis (vertaal as “juiste kennis”)—’n verskil wat deur baie ander oor die hoof gesien word (Filippense 1:9; 3:8). Hy onderskei ook tussen taʹfos (“graf”, ’n persoonlike begraafplek), mneʹma (“grafkelder”), mne·meiʹon (“gedenkgraf”) en haiʹdes (“hades”, wat in die Bybel na die gemeenskaplike graf van die gestorwe mensdom verwys) (Mattheüs 27:60, 61; Johannes 5:28; Handelinge 2:29, 31). Verskeie Bybelvertalings tref in Mattheüs 23:29 ’n onderskeid tussen taʹfos en mne·meiʹon, maar doen dit nie konsekwent op ander plekke nie.—Sien Mattheüs 27:60, 61.
Werkwoordtye word noukeurig en presies weergegee. In die Afrikaanse Bybel lui 1 Johannes 2:1 byvoorbeeld soos volg: “As iemand gesondig het, ons het ’n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige.” Net verder gee dieselfde vertaling 1 Johannes 3:6 soos volg weer: “Elkeen wat in [Jesus] bly, sondig nie.” As geen volgeling van Jesus dan sondig nie, hoe moet 1 Johannes 2:1 verstaan word?
Die New World Translation los hierdie skynbare weerspreking op. In 1 Johannes 2:1 lui dit: “Ek skryf hierdie dinge aan julle dat julle nie miskien ’n sonde sal begaan nie. En as iemand nietemin ’n sonde begaan, het ons ’n helper by die Vader, Jesus Christus, ’n regverdige.” Johannes het in hierdie vers die onbepaalde verlede tyd gebruik, wat op die pleeg van ’n geïsoleerde sonde dui, iets wat ons almal van tyd tot tyd doen omdat ons onvolmaak is. Maar 1 Johannes 3:6 lui: “Elkeen wat met hom verenig bly, beoefen nie sonde nie; elkeen wat sonde beoefen, het hom nie gesien of geleer ken nie.” Hier het Johannes die teenwoordige tyd gebruik, wat voortgesette, gevestigde sondige gedrag aandui wat enigiemand se bewering dat hy ’n Christen is, kragteloos sal maak.
Ander geleerdes stem saam
Sekere ongewone terme wat kwansuis deur Jehovah se Getuies versin is, word deur ander Bybelvertalings of naslaanwerke ondersteun. In Lukas 23:43 teken die New World Translation Jesus se woorde aan die kwaaddoener wat saam met hom tereggestel is, soos volg op: “Waarlik ek sê vandag vir jou, jy sal saam met my in die Paradys wees.” In die oorspronklike Grieks was daar nie leestekens soos kommas nie; leestekens word gewoonlik deur vertalers ingevoeg om lees te vergemaklik. Die meeste vertalings laat Lukas 23:43 egter klink asof Jesus en die kwaaddoener nog dáárdie dag vir die Paradys bestem was. Die Afrikaanse Bybel lui: “Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met my in die Paradys wees.” Nie almal dra egter hierdie gedagte oor nie. Professor Wilhelm Michaelis gee die vers só weer: “Waarlik, ek gee jou reeds vandag die versekering: (eendag) sal jy saam met my in die paradys wees.” Hierdie weergawe is baie logieser as dié van die Afrikaanse Bybel. Die sterwende kwaaddoener kon nie daardie selfde dag saam met Jesus na die Paradys gegaan het nie. Jesus is eers op die derde dag ná sy dood opgewek. Intussen was hy in Hades, die mensdom se gemeenskaplike graf.—Handelinge 2:27, 31; 10:39, 40.
Volgens die New World Translation se weergawe van Mattheüs 26:26 sê Jesus van die brood wat hy tydens die instelling van die herdenking van die Here se Aandmaal aan sy dissipels gee: “Dit beteken my liggaam.” Die meeste ander vertalings gee hierdie vers weer as: “Dit is my liggaam”, en dit word gebruik om die leerstelling te ondersteun dat die brood tydens die herdenking van die Here se Aandmaal letterlik Christus se vlees word. Die woord wat in die New World Translation as “beteken” (es·tinʹ, ’n vorm van ei·miʹ) vertaal word, kom van die Griekse woord wat beteken “om te wees”, maar dit kan ook die begrip “om te beteken” aandui. Daarom sê Thayer se Greek-English Lexicon of the New Testament dat die werkwoord “dikwels [ekwivalent aan] om aan te dui, om te beteken, betekenis is”. “Beteken” is in hierdie geval inderdaad ’n logiese vertaling. Toe Jesus die Laaste Aandmaal ingestel het, was sy vlees steeds aan sy gebeente. Hoe kon die brood dan sy letterlike vlees gewees het?a
In Johannes 1:1 lui die New World Translation: “Die Woord was ’n god.” In baie vertalings lui hierdie uitdrukking eenvoudig: “Die Woord was God”, en dit word gebruik om die Drie-eenheidsleer te ondersteun. Dit is dan te wagte dat Trinitariërs nie van die weergawe in die New World Translation sal hou nie. Maar Johannes 1:1 is nie vervals om te bewys dat Jesus nie die almagtige God is nie. Jehovah se Getuies, onder baie andere, het die gebruik om “god” met hoofletters te skryf bevraagteken lank voor die verskyning van die New World Translation, wat daarna strewe om die oorspronklike taal akkuraat weer te gee. Vyf Duitse vertalers gebruik soortgelyk die term “’n god” in daardie vers.b Minstens 13 ander het uitdrukkings soos “van goddelike aard” of “godgelyke aard” gebruik. Hierdie weergawes stem met ander dele van die Bybel ooreen wat toon dat Jesus wel in die hemel ’n god is in die sin dat hy goddelik is. Maar Jehovah en Jesus is nie dieselfde wese, dieselfde God, nie.—Johannes 14:28; 20:17.
God se persoonlike naam
Volgens die New World Translation het Jesus in Lukas 4:18 ’n profesie in Jesaja op homself toegepas wat lui: “Jehovah se gees is op my” (Jesaja 61:1). Baie maak beswaar teen die gebruik van die naam Jehovah hier. Dit is egter net een van die meer as 200 plekke waar dié naam in die New World Translation van die Christelike Griekse Geskrifte, die sogenaamde Nuwe Testament, verskyn. Nie een van die oorblywende vroeë Griekse manuskripte van die “Nuwe Testament” bevat weliswaar die persoonlike naam van God nie. Maar die naam is om gegronde redes in die New World Translation ingesluit, en nie bloot vanweë ’n gier nie. En ander het ’n soortgelyke weg gevolg. Net in Duits is daar minstens 11 vertalings wat “Jehovah” (of die transliterasie van die Hebreeus, “Jahweh”) in die teks van die “Nuwe Testament” gebruik, terwyl vier vertalers die naam tussen hakies ná “Here” plaas.c Meer as 70 Duitse vertalings gebruik dit in voetnote of kommentare.
In Israel is God se naam meer as duisend jaar lank sonder verbod uitgespreek. Dit is die naam wat die algemeenste in die Hebreeuse Geskrifte (“Ou Testament”) voorkom, en daar is geen afdoende bewys dat dit onbekend was onder die algemene publiek, of dat die uitspraak daarvan vergete was in die eerste eeu van ons Gewone Jaartelling, toe Joodse Christene geïnspireer is om die boeke van die “Nuwe Testament” te skryf nie.—Rut 2:4.
Wolfgang Feneberg verklaar in die Jesuïetetydskrif Entschluss/Offen (April 1985): “Hy [Jesus] het nie sy vader se naam JHWH van ons weerhou nie, maar hy het dit aan ons toevertrou. Anders is dit onverklaarbaar waarom die eerste versoek in die Gebed van die Here sou lui: ‘Mag u naam geheilig word!’” Feneberg sê voorts dat “God se naam nie in voorchristelike manuskripte vir Griekssprekende Jode met kúrios [Here] geparafraseer is nie, maar dat dit in die vorm van die tetragram [JHWH] in Hebreeuse of argaïese Hebreeuse letters geskryf is. . . . Ons vind oorblyfsels van die naam in die geskrifte van die Kerkvaders; maar hulle stel nie daarin belang nie. Deur hierdie naam as kúrios (Here) te vertaal, het die Kerkvaders meer daarin belanggestel om die grootsheid van die kúrios aan Jesus Christus toe te skryf.” Die New World Translation herstel die naam in die Bybelteks op al die plekke waar daar gegronde, vakkundige rede bestaan om dit te doen.—Sien aanhangsel 1D in die NW-naslaanuitgawe.
Party kritiseer die vorm “Jehovah” waarmee die New World Translation God se naam weergee. In Hebreeuse manuskripte verskyn die naam slegs as vier konsonante, JHWH, en baie dring daarop aan dat die regte uitspraak “Jahweh” is en nie “Jehovah” nie. Hulle meen dus dat dit verkeerd is om “Jehovah” te gebruik. Maar in werklikheid is daar geensins eenstemmigheid onder geleerdes dat die vorm “Jahweh” die oorspronklike uitspraak verteenwoordig nie. Om die waarheid te sê, terwyl God die spelling van sy naam “JHWH” meer as 6 000 keer in die Bybel bewaar het, het hy nie die uitspraak daarvan bewaar wat Moses op die berg Sinai gehoor het nie (Exodus 20:2). Die uitspraak is dus nie nou van die grootste belang nie.
In Europa het die vorm “Jehovah” eeue lank wye erkenning geniet en word dit in baie Bybels, met inbegrip van Joodse vertalings, gebruik. Dit verskyn tallose kere op geboue, op muntstukke en ander voorwerpe en in gedrukte stukke, sowel as in baie kerkliedere. Pleks van die oorspronklike Hebreeuse uitspraak te probeer weergee, gebruik die New World Translation in al sy verskillende tale die vorm van God se naam wat algemeen aanvaar word. Dit is presies wat ander Bybelvertalings met al die ander name in die Bybel doen.
Waarom die heftige kritiek?
Luther se Bybel is gekritiseer omdat dit deur ’n man voorberei is wat die tekortkominge van die tradisionele godsdiens van sy tyd blootgelê het. Sy vertaling het die weg gebaan vir gewone mense om die waarheid in te sien van baie van die dinge wat hy gesê het. Net so word die New World Translation gekritiseer omdat dit deur Jehovah se Getuies gepubliseer word, wat onomwonde verklaar dat baie van die Christendom se leerstellings nie in die Bybel gevind word nie. Die New World Translation—om die waarheid te sê, enige Bybel—maak dit duidelik.
Trouens, die New World Translation is ’n vakkundige werk. In 1989 het professor Benjamin Kedar van Israel gesê: “Ek raadpleeg dikwels die Engelse uitgawe van wat as die New World Translation bekend staan tydens my taalkundige navorsing in verband met die Hebreeuse Bybel en vertalings. Sodoende vind ek dat my mening herhaaldelik bevestig word dat hierdie werk ’n opregte poging weerspieël om so ’n akkuraat moontlike begrip van die teks weer te gee. Dit gee blyk van groot meesterskap oor die oorspronklike taal en gee die oorspronklike woorde op verstaanbare wyse in ’n tweede taal weer sonder dat dit onnodig van die spesifieke struktuur van die Hebreeus afwyk. . . . Enige verklaring, in watter taal ook al, laat ’n sekere mate van vryheid in vertolking of vertaling toe. Die taalkundige oplossing in enige gegewe geval kan dus vatbaar wees vir bespreking. Maar ek het nog nooit in die New World Translation enige bevooroordeelde opset ontdek om meer uit die teks af te lei as wat dit bevat nie.”
Wêreldwyd gebruik miljoene Bybellesers die New World Translation omdat dit ’n vertaling in hedendaagse tale is wat Bybelbegrippe akkuraat weergee. Die hele Bybel is nou in 9 tale beskikbaar, en net die Christelike Griekse Geskrifte in nog 2 ander; dit word tans in nog 20 tale voorberei. Akkurate vertaling vereis jare se sorgsame werk, maar ons sien daarna uit om die New World Translation uiteindelik in al hierdie verskillende tale te hê sodat dit talle ander kan help om tot ’n beter begrip van “die woord van die lewe” te kom (Filippense 2:16). Omdat die New World Translation reeds miljoene gehelp het om dit te doen, kan dit waarlik aanbeveel word.
[Voetnote]
a In Openbaring 1:20 het Duitse vertaler Curt Stage dieselfde werkwoord soos volg weergegee: “Die sewe lampstanders beteken [ei·sinʹ] die sewe gemeentes.” Fritz Tillman en Ludwig Thimme gee dit in Mattheüs 12:7 soortgelyk weer as “beteken” [es·tinʹ].
b Jürgen Becker, Jeremias Felbinger, Oskar Holtzmann, Friedrich Rittelmeyer en Siegfried Schulz. Emil Bock sê “’n goddelike wese”. Sien ook die Engelse vertalings Today’s English Version, The New English Bible, Moffatt, Goodspeed.
c Johann Babor, Karl F. Bahrdt, Petrus Dausch, Wilhelm M. L. De Wette, Georg F. Griesinger, Heinrich A. W. Meyer, Friedrich Muenter, Sebastian Mutschelle, Johann C. F. Schulz, Johann J. Stolz en Dominikus von Brentano. August Dächsel, Friedrich Hauck, Johann P. Lange en Ludwig Reinhardt plaas die naam tussen hakies.
[Lokteks op bladsy 28]
Die New World Translation word nou in nog 20 tale vertaal
[Venster op bladsy 29]
’N VERTALING WAT HOMSELF AANBEVEEL
Een van Jehovah se Getuies in Duitsland het ’n gesprek met ’n bejaarde vrou gevoer, vir wie sy Habakuk 1:12 gelees het: “Is u nie van oudsher nie, o Jehovah? O my God, my Heilige, u sterwe nie.” Die vrou het beswaar gemaak omdat haar Bybel gesê het: “Ons sal nie sterwe nie.” Die Getuie het haar daarop gewys dat die New World Translation baie getrou is aan die oorspronklike manuskripte. Aangesien die bejaarde vrou Hebreeus kon praat, het sy haar Hebreeuse Bybel gaan haal en tot haar verbasing ontdek dat die New World Translation reg is. Die Soferim (Joodse skrifgeleerdes) het hierdie teks lank gelede verander omdat hulle van mening was dat die oorspronklike gedeelte oneerbiedig teenoor God is. Op enkele uitsonderings na maak Duitse Bybelvertalings geen aanpassing om hierdie teksverbetering deur die skrifgeleerdes reg te stel nie. Die New World Translation het egter die oorspronklike teks herstel.
[Prent op bladsy 26]
Die volledige New World Translation is nou beskikbaar in: Deens, Duits, Engels, Frans, Italiaans, Japannees, Nederlands, Portugees en Spaans.